My kleinboet. Vandag moet ek van jou sê…

toheaven

ñ Maandag middag 4 uur.

Ek staan langs jou bed, gestroop van myself. Nou is dit net jy. Jou grote kleinboet lyf vol pype, die monitors wat ritmies tik.

Soos ñ drenkeling klou ek jou hand vas, en soek ek na die Dood wat tasbaar oor jou waghou.

Help my net, my God. Hy kan nie nou gaan nie.

Ek gryp in my geheue na iets, iets om aan jou gees te gee. ‘Ek moet sing’, weet ek. En ek sing. In die ICU, terwyl jy met jou koma-asem hortende geluide maak, sing ek vir jou.

‘Jesus min my, salig lot, ek weet dit uit die Woord van God. Al is ek ook swak en blind, nogtans noem Hy my Sy kind. Ja, Jesus min my. Ja, Jesus min my. Ja, Jesus min my, ek weet dit uit Gods Woord.’

Die susters kom versigtig nader, vra of ek ñ stoel nodig het. Nee, nee dankie, ek moet staan. Ek moet vir my boet sing.

‘Laat ons skyn vir Jesus met ñ helder glans. Skitter soos die stêrre, aan die hemel trans. In die donker wêreld, skyn dan skyn. Jy in jou klein hoekie, en ek in myn.’ Ons kleintyd liedjies.

Tussen-in het ek saggies met jou kleinboet gees gepraat. ‘Gees van Benno, draai jou gesig na die lig. God se lig’. En dan weer sing. Oor en oor, asof herhaling die doodsgreep kan losmaak.

Ek het die uur gehad, net die een.

Ses-uur se kant is jy weg.

Die Dinsdag oggend bring ñ jong vriendin van ons oudste dogter vir my ñ papiertjie. ‘Una, ek het hierdie vir Benno gekry’. Ek kyk, maar ek kyk ook nie. Druk dit met Prestic teen die nota bord agter my toonbank vas.

Ek gaan maak myself in ñ agterkamer toe.

‘God, nou is dit net ek en Jy. Jy het hom laat gaan, Jy het ook opgegee. Waar is hy. Want ek sal nie na die mense se stemme luister nie. Hulle probeer troos, maar ek wil nie. Net Jy, net vir Jou sal ek glo. Het Satan hom gekry? Die gif wat hy bo Jou gekies het… waar is hy heen!’

In daardie vertrek, daardie uur, was selfverwyt nog nie by nie. Eers later.

En God het geweet, Ek gaan haar moet wys, moet sê. ‘Jy weet reeds, my kind. Ek het dit vir jou neergeskryf’.

Die briefie, die jong vrou se boodskap.

En daar, teen die nota bord, antwoord God my.

‘Una, ek is so jammer oor julle verlies. God het gesê ek moet vir jou hierdie boodskap bring.’ Jesaja 9:2. The people who walked in darkness HAVE seen the light; Those who dwelt in the land of the shadow of death, Upon them a light HAS shined.

Ons het my kleinboet ñ paar dae later begrawe, almal in wit gekleë.

Ten spyte van sy besluite, ten spyte van sy lewenswyse, ten spyte van die feit dat ek jare reeds opgegee het om hom na Jesus te lei. Ten spyte van al dit, het ons twee se Pa hom self kom haal.

Benno hét die lig gesien, in sy doodsuur, en Sy God erken.

Advertisements

Skrywer: travel460

Ek was reeds 32 keer op die Bali eiland, meestal om vir ons invoer maatskappy aankope te doen. Daar is so baie wat ek met mense kan deel; mense wat beplan om oor te gaan, of net ouens wat droom oor n eiland vakansie. Ek is nou in my middeljare, en vlieg reeds van 2004 af Indonesië toe. Ons het 3 dogters, 2 seuns en 6 kleinkinders.

34 thoughts on “My kleinboet. Vandag moet ek van jou sê…”

      1. Ek kan jou nie eers antwoord hierop nie. Ek voel jammer vir jou, maar ek dink almal van ons doen wat ons doen op ‘n gegewe tyd en besef nie dat dit dalk later tot selfverwyt gaan uitloop nie, omdat dit op daai oomblik al was wat ons kon doen. Moenie te hard wees op jouself nie.

        Liked by 2 people

  1. Het jy geweet mense wat in die skaduwee lewe het almal een ding in gemeen? Ongeag watter geloof (of gebrek daaraan) wéét elkeen van hulle dat wat hierna kom gaan beter wees. Die besluit om aktief daardie verlossing te gaan soek word ook baie selde impulsief geneem. Skrale troos vir die wat agterbly, maar wees in elke geval tog maar sag op jouself.

    Liked by 3 people

  2. Aaaah my liewe Traveller…sekere wonde kan nie pleisters op kry nie, nie woorde pleisters nie, nie liefde pleisters nie…hulle moet net oopgelaat word om self stadig te heel! Lewe en dood behoort aan God…niks wat jy kon doen of nie doen kon hierdie stop nie! Ek sit stil by jou en laat jou toe om te pyn! Net God het trooskomberse! Skiestog Suster, skiestog vir jou pyn! Hys fine, baie fine…dis die agterbly ding wat so bitter is!

    Liked by 3 people

      1. Ag ou Traveller…ek weet nie eers of dit al geskryf is nie…maar ek het al wilde danse gedans! Ex nie so goed met my eie dermtrek nie…hou daarvan om dit eers te verteer en dan vir ander op te dis as iets wat kan byvoeg…nie skrikmaak nie! Maar dankie vir jou…!

        Liked by 1 person

  3. Oe Una.
    Ek pyn saam met jou.
    Ek het ook langs so ‘n bed gestaan. Gestaan en kyk hoe my broer daar lê en veg vir sy lewe, onherkenbaar opgeswel, met sy lyf wat ruk en ruk en ruk.
    Ek glo jou as jy sê hy is op die regte plek.
    Maar baie baie sterkte.

    Liked by 1 person

  4. Ousus…
    Ben-Boon lees vannaand saam aan hierdie wat jy geskryf het en hy vee groot trane weg. Jy weet waar hy is en hy is veilig. Ek dink baie aan jou en kan nie eens dink hoe baie jy hom mis nie. Weet net, hy weet dit.
    Love you stukkend,xxx

    Liked by 1 person

  5. Dankie Anneli. Hierdie hele storie vandag het nou ou wonde oopgekrap. Ek tjank steeds, want my boetie se vrou het vir my geskryf op reaksie van my post. Mooi geskryf. Dit was nodig. Ek wag vir jou post.

    Like

  6. Sjoe ek kry saam met jou swaar vandag. Daar is ook maar dae wat ons moet erken, ek het gedoen wat ek kon, dit is tog al wat mens kan doen. Ja ek het gewens ek kon meer maar ek is toe ook maar net ‘n mens, ek word hartseer, kwaad, ongeduldig, opgewonde, kry af-dae en al daai dinge maar dan is dit ook wat my maak wie ek is. Een ou dingetjie wat ek wel met myself uitgeklaar het dat geen enkele keer wat ek myself uitgekryt, verwyt het, sleg gese het of gemeen was met myself het een blou duit se verbetering of selfs verandering in my lewe gebring nie.

    Mag jou hart en siel rus en vrede vind. Wees goed vir en genadig met jouself.

    Liked by 1 person

  7. So ry ons in die kar oppad na n fliek-verjaardag viering van my kleine Lisa toe ek jou post lees en daar rol die trane…
    Ek onthou die tyd so goed! My maatjie ek weet die eina van ons geliefdes se weg wees gaan nooit weg nie, maar selfs in dit is daar n stuk vrede van weet….
    Daardie vrede kan net Abba gee. Ek weet jy het dit al gekry.
    Tog, bly die eina maar altyd daar

    Liked by 1 person

  8. ‘n Bejaarde Italiaanse liewe vriend sê altyd vir my die hartseermooiste goed wat my telkens laat huil waarvoor ek dan omverskoning vra. ‘Cara mia’, sê hy dan – ‘don’t ever apologize for crying, for crying is the leaking of the soul’. Ek kom vandag eers af op hierdie hartroerende storie van jou Una. Dankie vir die deel. x

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s