ñ Houer vol stories.

(skildery:Google Images)9ac735927b406a6be33f817a2b1aae84

So baie verhale, saamgepak in een houer. Geseël.

Vandag sit daar so ñ verlatenheid in my binnekant. Nie regtig woorde om dit met iemand te deel nie. Net die weet van die paadjies wat ek geloop het voor die deure vanoggend finaal verseël is, en ek my foto kry.

Elke enkele van die tweehonderd-plus items is iewers uitgesoek. By ñ huisie of ñ winkel opgelaai. Iemand het ure lank, dae lank aan dit gewerk. Dalk gewonder oor die mens wat dit gaan raaksien en koop.

En vreemd genoeg, daardie mens voel vanoggend redelik alleen. Duisende kilometers van die hawe af, en ek wil grens.

Tweehonderd-plus stukkies van myself is in daardie container gelaai. ñ Boek vol aantekeninge lê hier op my skoot. Die laaste paar maande van my lewe.

Eers die beplanning en besluite, gelde bymekaar kry en som op som maak. Kliënte se prentjies probeer verstaan. Dan die oorvlieg, die soek na ander se drome. Kophou oor hoeveel artikels om aan te koop sodat niks agter bly nie. Die terugkom en wag. Probleme van hier af oplos, planne maak as dinge daar verkeerd loop.

My kop en emosies heen en weer laat swerf. Tot vanoggend.

(skildery:Google Images)b0e745ced4d11c99dd6677d3758383e4

Die vlegsel se rekkie is aangesit. Vasgedraai. Klaar.

En ek. Ek wil net grens.

Ai.

As ek na jou kyk.

20170720_113819

Jy lyk anders.

Jy is steeds my man met die onblusbare energie. Die projekte ou wat lééf terwyl hy sy ‘moet doen’ lysies nakom.

Maar jy lyk anders. Ek kyk in jou oë en ek weet. Jy het ons God gesien.

Die lamp van die liggaam is die oog. Jy vertel my van die naweek. Tog, nie soos altyd nie. ñ Stilte het in jou binneste gaan sit. Al praat jy.

En ek weet. Jou sms aan my, ‘daai gebeds oomblik…ek het rerig my Here aan die kruis sien hang en na my kyk, met geen woorde nie, maar met ñ volle verhaal van omgee en liefde en onbaatsugtigheid…en vergifnis vir ALLES en ALMAL.’

God moes Sy Hand voor Moses se oë hou sodat hy kon bly leef. Maar hier, nou, kyk ek in jóú oë en sien ek die brandende bos. Die lig van die vuur wat ingebrand is.

Jy het ons God gesien.

(ñ naweek in Bloemies saam met oom Angus…)

Uiteindelik.

wp-1493021450543.jpg

My deure is klaar!

Sulis het die fotos net na drie vanoggend deurgestuur, reeds agt uur by hulle. So toe my oë oopgaan, is my bestelde deure daar. Kan ñ mens se tone omkrul van lekkerte? Oor deure?

Defnitief. As jy deel was van die ontwerp, die beplanning. As jy ure lank in die boendoes moes rondry op soek na die regte kerwer. Gesien het hoe hulle daaraan begin werk. En vol spanning was of jy dit reg doen; hoog genoeg, breed genoeg.

Houtkerfwerk is ñ integrale deel van Indonesië. Muur panele, dakke, alles land onder die messie. En die eindresultaat…Jy wat skaars asem haal soos jy inneem en waardeer.

(fotos:Google Images)villa-citakara-sari-4d92f26d

Badtyd raak ñ “event” op sy eie. Gelukkig het die eiland nie ñ tekort aan water nie, want die uwe spandeer ure in só ñ prentjie plek.

martyn-lawrence-bullard-malibu-home-global-decor-interior-design-wood-carved-bathroom-ideas-copper-tub-lots-of-traditional-balinese-style_bali-style-interior-design_interior-design_kitch

Selfs die mees ver’afgeleë plekke bederf jou met ñ anderste bad-ondervinding. Dit raak ñ lafenis vir die siel.

IMG_1122

Ja, my deure is gereed. Die “container” word Donderdag gepak, en ñ maand later is dit in ons winkel. Lang skeepsreis; van die hawe in Semerang, Java, na Singapore. ñ “Stop-over” in Mauritius en Madagaskar, en dan Durban.

Op Durban hawe word só ñ besending omtrent deursoek. Net vir ingeval daar iets in is wat onwettig is. Dan die tog met ñ trok tot in Harties. Oppad hierheen kan die verkeerspolisie ook besluit om hul nuuskierigheid te bevredig, en die trok ‘tronk’ toe stuur vir verdere ondersoeke.

My arme Bali eende gaan hoeka getraumatiseerd by my aankom, ‘Welkom bordjie’ of te nie. As iemand so aanmekaar agterdogtig jeens jou is, voel jy mos op die ou end totaal skuldig…

WB14095b

 

O nee. Nie vandag nie.

(foto:Google Images)finger-4

Ek glo ons het almal ñ eie taal, en ek praat nou nie van ñ geestelike een nie.

ñ Taal waarmee jy kan saamleef, en wees wie jy is.

Ek verdra baie. Regtig. Ek vergewe vinnig, vergeet dalk bietjie moeiliker. Maak my seer, en ek probeer jou kant insien. Meestal.

Maar moenie. Moenie my laat voel of ek misbruik word nie. Sekere woorde, saamgestel op ñ sekere manier, en “that’s it. No more.”

Vanoggend is ek daar. Op daardie punt waar my mercy-mens plek maak vir ñ bloedige verergdheid. MOENIE MY SAGTHEID MISBRUIK NIE.

ñ Oulike kliënt. Ons kom al ñ lang pad saam.

Ek lees jou sms oor jou bestelling, en ek bereik die punt. Ek weet ek het die hef in die hande. Ek is ook baie ouer as jy. En ñ besigheids-vrou, al lankal.

So jy dink jy gaan my afpers? Jy dink jou sarkasme gaan enige iets met my uitrig.

O nee.

Jou elke boodskap be-antwoord ek met ñ stil bedonnerde, maar flymskerp brein. Ek weet jou huislike omstandighede het van jou gemaak wie jy is. Ek het begrip as jy ordentlik met my praat.

Maar vandag, vanoggend op my nugter maag, “you overstepped that line”.

Ek gaan wel nou hier buite rondstap en ñ paar klippe skop. Ja, sommer so met my fyn skoentjies aan. Vêr en hard skop. Dan op die swaai ry, hoog. Tot ek oor die dak kan sien. Daarna gaan ek ñ pak slapchips koop, en ALLES  op-eet.

…ag tog, daar begin hulle weer met Grease liedjies… Sal miskien liewer net gaan luister, en van jou crap vergeet.

Dalk weer oor die swart katpak wonder. Sou ek ooit in een gepas het???☺☺☺

 

Hoef ek meer te sê?

IMG-20170429-WA0014

“Welcome to my World”. Hoef ek enigsins iets meer te sê? Ek sing op die oomblik saam, praat saam, lag saam en dans selfs saam. Nou wel hier eenkant waar hulle my nie raaksien nie, maar dis mý tyd se musiek hierdie. Ons woorde. Ons danspassies.

Oor twee naweke is dit die Grease opvoering. Hier. Op ons dorpie en in ons kompleksie. Die dekor is gedoen; die baie “snazzy” kar tot op die verhoog gery. ‘Grease’ musiek weergalm van alle kante af. Hare is gekleur en gesny. Die opwinding is voelbaar. Oral oor.

Bring so baie herinneringe terug. Van ons in matriek, 1978, toe die fliek in Suid-Afrika begin wys het. Ons prefek groep is spesiaal Johannesburg toe aangery om te gaan kyk. ñ Groot stap vir ons BAIE streng Meisiesskool. En na die tyd, die BAIE kwaai juffrouens wat saam met ons ons eie passies in Hilbrow se strate uithaal.

Die musiekgroepie oefen hard; heeldag, soms tot laat in die nagte. Kitskos word afgelaai. Soms sien ek, is daar glasies wyn ook betrokke. Groot pret.

Gisternag droom ek ek is Sandy, maar ek pas nie in haar leer ‘katpak’ in nie! Tot Bertus my verergd moet wakker stamp, want die gekreun en gewoel! Net te erg. Hoe moet ñ man nou geslaap kry.

Goeie ou tye. Heerlike onthoue.

Wonder net hoe gaan ek oor nege dae van nou af voel. Moeg ge-‘Grease?’

IMG-20170429-WA0021

 

 

Ek het jou nodig.

(foto:Google Images)African-animals-wallpaper-background

Waar ek nou in my lewe is, weet ek een ding. Ek kan nie alleen stap nie. En as ek sê ‘ek’, bedoel ek ek en manlief as ñ eenheid. Ons het ons mense nodig. Nie net familie nie, nee. Ons mense soos in hulle wat saam met ons in dieselfde rigting wandel.

Daar was ñ tyd in my lewe, jonk getroud, toe my man en ons ouers en “siblings” genoeg was. Soms te veel was. Die lewe het gebeur, en ander mense het deel van ons trop begin raak. Sommige is weer weg, sommige het vir rukke gekies om ñ ander pad te gaan uitprobeer.

Tog, die meeste van ons het dieselfde koers gekies. Kontak gehou. Gebel in goeie en slegte tye.

O ja, ons het mekaar soms seergemaak. Selfs verraai. Dan is daar laer getrek, en beskerm. Dalk kante gekies. Rotse gegooi.

Maar die rigting het dieselfde gebly, en iewers, iewers het ons mekaar weer raakgestap. En dit was goed en dit was reg. Vergifnis is uitgespreek. Treetjie vir treetjie kon ons weer nader aan mekaar beweeg. Versigtig, bang vir teleurstellings.

Ander het langs die pad aangesluit, en die trop kon sterker staan. Insig in mekaar se menswees het almal gehelp groei. Ons ken vandag mekaar se swak en sterk punte. Ons weet wie om op watter stadium te nader vir raad. Vir hulp. Wie om wanneer te vermy.

ñ Trop help hul siekes en beseerdes. Wanneer een ñ geliefde verloor, treur hulle saam. Takke en blare word aangedra, die dooie toegepak. En onthou.

Ja. Ek het jou nodig.

En jy vir my. Dis ñ lewensfeit.

Puntstop.

So partykeer…

Het ek nie ń prentjie om te deel nie. Nie ń rede om te sê nie. Net die weet. Dat ek verlang, maar jy is weg. En al reik ek uit na ander wat dalk die woorde het.

Hulle is nie daar nie.

So dit los my, my boet. Met net ek en jy. Ek hier. Jy by Jesus. Jy weet hoe lyk my wêreld. Maar ek moet net raai oor joue.

Jy is veilig. En ok, ek weet.

Sê vir Ma hello. En vir tannie Ronsie. Sê Boeta is ok. En ek. En Bert. Ook die meisies, en almal hier. Hoop julle kuier vandag lekker bymekaar.

En verlang bietjie na my?