As mens jou eie smaak ontwikkel.

20170630_132914.jpg

ñ Agtjarige kleindogter is ñ baie groot lekkerte vir ñ ouma.

Ek kyk soms in haar ogies, en ‘sien diep terug’ na die tyd toe haar mamma so ñ astrante klein japsnoet was. Dan kyk ek nog verder terug, en sien myself. Iewers in die verlede.

Jongste dogter se tweetjies het ñ gesamentlike verjaarsdagpartytjie gehad, so ñ paar weke gelede. Met middeldogter en skoonseun op daardie stadium in Frankryk, het sus en boet per geleentheid by die partytjie aangekom. Met hul eie, eie klere keuses aan.

Talisa is op hierdie stadium defnitief ñ “free spirit”. ñ Pocahontas dogtertjie met ñ kunsstreep.

Ander-ouma het ter voorbereiding van die partytjie opdrag gekry om asseblief ñ ouwêreldse rokkie uit Bali vir haar wat Talisa is, kleiner te maak. Die rok het ek oorspronklik vir haar mamma saamgebring, van handgeverfde batik materiaal. Maar mamma het nie daarvan gehou nie. So ander-ouma, maak dit kleiner, ek wil soos Pocahontas lyk. En kan ouma vir my ñ pyl en boog ook maak?

Groot was my verbasing dus toe sus by ons afgelaai word, met mamma se rok aan. En ñ paar stewels. Plus ñ baadjie wat al veertien jaar lank tussen niggies en nou kleinkinders rondtoer. Al die pad van Hong Kong af. Oorspronklik vir my kleinboet se dogtertjie gekoop. Tilla het dit gaan opdiep.

wp-1498824021571.jpg

Oumas groei weer saam met die kleinkinders, dit weet ek. Van voor af. Ek vermoed dat die intensiteit waarmee mens hulle ervaar, drie lae het. Jy sien ñ stukkie van jouself, jou kind, en dan jou kleinkind. Drie dieptes.

As jy stilsit en waarneem, vloei jou gedagtes heen en terug. Jou gevoelens ook. Jy voel weer die sagte koestering van ñ eie klein lyfie in jou mamma arms. Raak dan ongesiens aan die uitvloeisel van die verdere liefde…vee ñ lastige haartjie uit ñ ogie, maak ñ neusie skoon. Al die tyd bewus van ñ diepe oerwêreldse liefde.

Boet het in sy ‘wanzie’ opgedaag. Want dit is koud en hy voel siek. En dis gemaklik. Wat is die probleem?

wp-1498825912162.jpg

Om jou eie smaak te ontwikkel, om self jou voorkeure te begin uitleef, dít is vir ouma op sigself ñ wonderwerk. Maak nie saak wat ander daarvan dink nie. Die blote feit dat jy keuses uitoefen is meesterlik.

Jy bly die slimste en mooiste en oulikste wat die Here kon skape!

 

 

Advertisements

Die week van die deur.

Dit klink amper soos iets uit Deon Meyer se boek Koors, sy baie vreemde boek wat ek op die oomblik lees. Daarin praat hy van Die Jaar van die Hond.

Maandag olie ek hierdie enorme Bali deure wat in die winkel staan, van bo tot onder. Vir ñ ietwat onfikse lyf, is dit harde werk. Dinsdag kom sit ñ kliënt by my met prentjies van deure, en ons twee werk presies uit wat sy wil bestel.

Gister skryf ek op my blog oor die nuwe deure. En vanoggend vroeg gaan verdwaal ek vir ñ wyle op Booking.com, met my beplande oortog later vanjaar in gedagte. Haak toe vas by ñ lieflike blyplek in Penestanan, Ubud.

Hoekom trek dit my aandag…?

(fotos:Google Images)19971294

Sowaar. Stap by ontvangs in, ja mevrou, jy sal sien, daar by die blou deur. Trek asb agter jou toe, as jy nie omgee nie…

Die gesprek sal natuurlik in ñ amper onverstaanbare Engels geskied, en omdat jy so moet konsentreer op wat gesê word, kom jy nie die komiese agter nie.

Maar meer nog as hierdie twee deure, die vyf klip-musiekante wat daar sit. Eendag gaan ek hulle nog vir ons eie plekkie huis toe bring. Egte Balinese musiekmakers.

DSC03367

Hulle het jare gelede al my hart gesteel. Kon net ñ foto van drie opgespoor kry.

Om terug te kom na ‘die week van die deure’, hierdie verblyf lyk vandag vir my baie aantreklik.

19968200

Tot jou eie swembad ook op die koop toe. En natuurlik jou deur…vir privaatheid???☺

25458925

Die uitsig op die reislande, en dit wat alles daarmee gepaard gaan, wat meer kan jy vra? Na ñ dag van aankope; al wat jy hoef te doen is om met ñ glasie wyn jouself buite gemaklik te gaan maak, en siedaar.

25459191

Laaste, maar nie die minste nie, glad nie, ñ snoesige kamer met ñ mooie hemelbed in die vooruitsig.

19934601

Veral as jy weet die bed gaan sy taak deur die nag verrig, naamlik om gediertetjies en hulle mis op te vang sodat jy rustig kan slaap.(hier skimp ek nou op ñ vorige storie wat oor hemelbeddens gegaan het). En jy weet jou deur is gesluit…

Soos Poerdez in haar kommentaar op my blog skryf: die deure in ons winkel is so mooi, dit laat jou voel asof jy na ander wêrelde kan ontsnap. 

Ja. Die week van die deur.

 

 

Om nie woorde te wil sê nie.

As ‘jok’ ñ sonde is, is eerlikheid altyd reg? Die waarheid? Selfs jou waarheid?

Vandag gaan ek ñ stukkie van mý waarheid neerskryf, en sit en wag om te kyk of dit sonde is.

Ek wil nie hoef te praat nie. Gesels ja, enige tyd.

Maar nie berading nie.

Daar. Dit is uit.

Ek sit nou en kyk na hierdie woorde, en wonder of ek moet “back space”, of ek moet uitwis. Is dit veiliger op papier? Lyk dit minder verkeerd as wat dit klink?

My woorde is nie op nie, ook nie weg nie. Ek twyfel in niks; ek ken die Gawes van die Gees. Ek vloei in die Gawes van die Gees. Ek hoor God se stem. Ek ken Sy hart. Hy het myne, ten volle.

Ek sal langs jou sit. Ek sal langs jou kniel. Jou hand vashou, jou ophelp.

Ek sal na jou woorde luister, so lank as wat jy wil.

Maar ek wil nie meer geluide maak nie. Ek wil nie kurses inhoud herroep sodat ek dit vir jou moet sê nie. Ek wil nie vir jou die stappe opnoem, of selfs versies opsê nie.

Ek wil nie meer my eie stem hoor nie.

My gedagtes neerskryf, ja. Dit oorlees en verander, ja. Dit teen die Woord van God gaan toets, ja. My ‘dink’ vat en vir God gee, en glo dat Hy my sal lei. Ja.

My praat het minder geword. My reageer op ander, selfs met ons kinders, het anders geword. Die woorde kom lê binne my, en dit bly. Lê.

Lank.

Soms los dit op. Meestal halveer dit, en raak sag.

Daarom dat ek dink. Nie sê nie. Dink.

Ek wil nie meer berading doen nie. 

 

 

As ek ñ keuse kon hê…

wp-1498226673687.jpg

Dit is vandag ñ stil Vrydag hier by die winkel. Te stil. In die agtergrond word ge-oefen vir die kinderopvoering wat tydens die skoolvakansie aangebied word.

Ietwat uit my diepte op die oomblik, so sonder rede. Toe besluit ek om die meubels bietjie rond te skuif, ñ nuwe prentjie te skep.

Dis gedoen, en als lyk goed. Kom sit op my stoel in die hoekie met ñ koppie tee, en sien die esel in sy nuwe spasie raak. Staan eers op om ñ skildery uit te soek wat bo-op pas; kom weer sit.

d40ec84f2fe4b9afb61c5e53cd065a77

Nou dink ek so… As daar ñ keuse was, as ek kon kies om binne-in ñ nuwe werklikheid in te stap, en weer kon ‘uitklim’, waarheen sou ek wou gaan?

Onbeperkte keuse.

Die prentjie op hierdie esel lyk ewe skielik vir my baie aanloklik. “Imagine that!” As ek daagliks hier kon instap, ñ skildery op Google Images uitkies, op my ‘tower esel’ sit, en vir ñ paar uur mag wegraak. Die moontlikhede! Die verskillende tydsreise wat ek kan onderneem!

Nie die Middeleeue nie. Nee. Ek sal wel vir ñ rukkie by ñ Voortrekker gesin wou koffie drink. ñ Indiaan gesin wou gade slaan, sonder dat hulle van my weet. Die oorloë sal ek vermy, maar dalk op ñ skip op soek na nuwe wêrelddele. ñ Portugese skip.

Wat van die Titanic! Die eerste paar ure, nie te lank nie.

And_The_Band_Played_On.5462939_large

Soveel keuses. Sê nou maar. Ag. Sê nou maar…

Maar mens weet nooit. As ek lank genoeg kyk; as ek konsentreer, diep asem haal en die tree neem?

-font-b-ships-b-font-fantasy-font-b-art-b-font-artwork-medieval-royal-war

 

 

Vertel my. Ek wil weet.

508289358

Ons kom ñ lang pad saam; ek en Bertus en sy.

Ons ‘Woestynkind’-vriendin.

IMG-20170622-WA0001

Kort na haar egskeiding, het sy en haar drie jong kinders deel van ons lewe geword. Trudie, die jongste, was skaars een jaar oud. Finansieël moeilike jare daardie. Is steeds.

So toe ek en Bertus einde 2008 saam met ñ groep vriende Mosambiek invaar, het ons haar gevra om op ons Lodge te kom bly. Vakansie te kom hou. Iets lekkers om te doen in hul andersins baie ingeperkte lewe.

Na twee dae se ryery, kom ons klompie baie opgewonde by ons eindbestemming aan. Twee weke van see en sonskyn lê voor. 23 Desember 2008.

Terug in Harties weet Marieta dat die vakansiegangers ook gaan begin arriveer. Die Lodge was vol bespreek, gelde betaal.

Annette, haar oudste meisiekind, was ñ dromer. Ietwat van ñ avonturier.

Op 24 Desember, kort na vier die middag, merk Bertus op dat daar aanmekaar “missed-calls” op sy foon deurkom. Van sy neef in Suid-Afrika af. Selfone was toe nog ñ nuutjie, en opvangs baie swak. Hy hoor wel iets op een van die boodskappe, vaagweg.

Una, Anton praat van iemand wat dood is. Op die Lodge.

En so breek een van die mees hartseer tye van ons lewens aan. Die dag voor Kersfees. Terwyl Marieta en die ander twee videos sit en kyk, dwaal Annette rond, soek ñ plekkie vir haarself.

Haar voorliefde was dakke. Daar kon sy alleen wees, vér sien.

Sy klim op die drieverdieping grasdak van ons saal. Amper heel bo verloor sy haar balans, gryp na die twee lewendige Eskom kragdrade wat bo-oor die saal gespan is…

Marieta en haar twee het die liggaampie in hul karretjie gelaai en Brits hospitaal toe gejaag.

Maar my maatjie het geweet. Haar kind is dood.

IMG-20170622-WA0000

Amper sestien jaar ou, begrawe hulle haar ñ paar dae later.

“Vertel my. Ek wil weet.”

Marieta kuier verlede Saterdagmiddag by my. Agt en ñ half jaar later. Deur al hierdie tussen-in tyd was ons klompie daar vir mekaar. Onlosmaaklik deel van mekaar se lewens.

En ek besef, na sy die woorde uiter, nou eers, nou eers is sy reg om verder te hoor. Tot nou toe moes sy net probeer leef met háár deel van die onthou.

“Jy weet ons kon nie terugkom nie. Die groep was afhanklik van mekaar se voertuie. Maar jy weet ook ek was daar, by jou, saam met jou.

Ek en Bertus was stukkend, Mariet. Ons het soos twee slaapwandelaars opgetree. Meeste mense in ons groep het jou ook geken, so hulle het verstaan. En geweet dat iets gedoen sal moet word om my en Bertus te help ‘loop’.

So op Kersdag, met laagwater, het ons ñ sirkel gevorm en hande vasgehou. ñ Kransie van veldblomme gevleg, en nadat ons ons eie woorde vir God gegee het, het ons haar kransie in die water neergelê.

En gestaan en kyk hoe die see dit meevoer. Wegvat.

Ek en Bertus is twee weke later terug na ñ verlate Lodge toe. Ons krag is vir langer as ñ maand afgeskakel sodat die nadoodse ondersoek voltooi kon word.

Niks was daarna ooit weer dieselfde nie.

Ons moes die bespreekte gaste se gelde terugbetaal.

Bertus het alle belangstelling in sy beroep as spanboukundige met ñ bedryfsielkunde agtergrond, verloor. Hy het die Lodge toegemaak, en vir langer as ñ jaar net getreur. Geen inkomste gegenereer nie. Elke dag opgestaan, sy Bybel gevat en gaan lees.

In April 2009 het hy sy eie staptog van Umhlanga tot by Greytown aangepak. 137km. Voor dit was hy deel van ñ geborgde staptog deur Swaziland tot in Durban. Suid-Afrika, draai terug na God. 600km.

In Durban aangekom het hy die groep gegroet, ñ rugsak gepak en alleen deur The Valley of a Thousand Hills begin loop. Een van die heel gevaarlikste roetes in Natal. Sy missie: as ek lewendig anderkant uitkom, dan is dit wat God wil hê. Want self wil ek nie meer aangaan nie.

Vandag praat hy van sy selfdood tog.

Hy het dit gemaak. Snags het swart mense hom in hul huise ingeneem. Hierdie semi-verwaarloosde blonde man wat na oom Angus toe stap.

Jy kan Bertus gerus eendag vra oor sy getuienis, Marieta. Want hy het een. God het tree vir tree saam met hom beweeg, en Homself aan Bertus geopenbaar.

Maar ek weet nou wil jy eers hoor wat ek kan vertel.

Die bank het ons Lodge teruggeneem. Vandag nog sit ons met miljoene rande se skuld, en betaal steeds maandeliks terug. Nog ñ getuienis op sigself; dat ons nooit gelikwideer is nie.

So my vriendin, jy wou weet. Ek verstaan. Ek verstaan dat dit nodig is om te hoor wat se effek jou kind se dood in ander se lewens gehad het. Nie omdat dit jou laat beter voel nie. Nee. Dit weet ek ook.”

“Net omdat.”

As ñ mede blogger hier onder ons, kom ek agter, help haar skryf ook baie ander. Sy het ñ pad om te deel.

Hierdie Woestynkind mensie van ons.

Sy het mamma alleen die kinders grootgemaak. Vandag is Trudie en Christopher twee suksesvolle jongmense. Trudie was hoofmeisie in Hartbeespoort Hoërskool, nou besig met haar studie in Ingeneurswese. Christopher is betrokke in ñ sport beroep. Albei kinders is ywerige musiekante in die kerk.

Annette sou die 25ste vier en twintig jaar oud geword het.

Hierdie is altyd ñ baie hartseer maand vir jou, Marieta. ñ Leë maand.

Maar God is by jou. Hy sien, Hy weet.

Met my hele hart gun ek jou jou hartsbegeertes. Daardie drome wat jy in ñ vorige blog-skrywe sê jy nou maar wegpak.

God het hulle in jou geplaas, hulle oor jou gedroom.

En elke keer as jy effens jou arms wil laat sak, sal ons weer inkom en hulle in die lug help hou.

Want dit is wat hartsvriende vir mekaar doen.

xxxx

 

Bang om dood te gaan…?

IMG_5227

Nee, ek dink nie so nie… Nee, ek is nie.

Terwyl die kinders in die huis was, kon ek hierdie sin glad nie sê nie. Wou dit nie gevra word nie, want sê nou net die duiwel hoor!

Die gedagte dat ek die dogters alleen moes los was vir my werklik ñ nagmerrie. Daar was geen plan wat ek vir myself in my kop kon uitwerk, wat my enigsins gerus kon stel nie.

Ek kon eenvoudig nie doodgaan nie.

As die Here my net sou spaar tot hulle drie op hul voete was. Tot hulle nie meer so geheel en al emosioneel afhanklik van my is nie.

Een van die openbarings wat ek gekry het, was dat hulle so jonk as moontlik ñ baie sterk verhouding met God moet hê. Dit was al wat ek geweet het sal help. As Hy net my plek in hul lewens kon inneem, kon Hy my kom haal.

Dalk vir die verkeerde rede…maar dalk tog nie. Ander ouers het dalk oor baie meer sinvolle redes hul kinders by God uitgebring. Hierdie was myne.

As ñ geskeide ma het ek ander probleme voorsien. Geweet die kinders sou na hul eie pa toe moes gaan, weg uit hul bekende omgewing uit. Bertus sou niks kon doen nie.

En al was hul eie pa goed vir hulle, ek het geweet. Dit sou net ñ sterk afhanklikheid van God kon wees wat hulle anderkant sou uitbring.

Die PLAN is in werking gestel, hierdie plan tussen my en God. Bertus het voortou geneem, en ons het voluit vir ons Here begin leef. “In hindsight” besef ek ons kon die kinders dalk teen die kerk laat draai het met ons totale toewyding. Maar ons het nie, deur God se genade! Ons was erg. Ons reëls streng.

Op ñ dag, toe ek vir die soveelste keer die vliegtuig bestyg vir die elle lange vlug Indonesië toe, was dit anders. Die ‘koorsigheid’ was weg. My hart het saam geglimlag, want dit was ons geheim. Hierdie wete.

Dat as die vliegtuig sou val, as dit my tyd was, was ek só gereed. Met Indonesië se hoë getal binnelandse vliegongelukke, was die vrees altyd iewers in my agterkop.

Nie hierdie keer nie. Ek kon by die venster uittuur en my in die wolke massa verlustig. As ons val, as…as…as.

Dan is ek ok. Want as ons val, val ek reg in my Vader se uitgestrekte hand in. Nie dalk nie. Defnitief. Daar sal geen ander uitweg wees nie, nie duisende kilometers bo die see nie. As ons val, kan ek my oë toeknyp en weet.

Hy het my.

En Bertus en die meisies sal weer regkom. Want Hy het hulle ook.