Vertel my. Ek wil weet.

508289358

Ons kom ñ lang pad saam; ek en Bertus en sy.

Ons ‘Woestynkind’-vriendin.

IMG-20170622-WA0001

Kort na haar egskeiding, het sy en haar drie jong kinders deel van ons lewe geword. Trudie, die jongste, was skaars een jaar oud. Finansieël moeilike jare daardie. Is steeds.

So toe ek en Bertus einde 2008 saam met ñ groep vriende Mosambiek invaar, het ons haar gevra om op ons Lodge te kom bly. Vakansie te kom hou. Iets lekkers om te doen in hul andersins baie ingeperkte lewe.

Na twee dae se ryery, kom ons klompie baie opgewonde by ons eindbestemming aan. Twee weke van see en sonskyn lê voor. 23 Desember 2008.

Terug in Harties weet Marieta dat die vakansiegangers ook gaan begin arriveer. Die Lodge was vol bespreek, gelde betaal.

Annette, haar oudste meisiekind, was ñ dromer. Ietwat van ñ avonturier.

Op 24 Desember, kort na vier die middag, merk Bertus op dat daar aanmekaar “missed-calls” op sy foon deurkom. Van sy neef in Suid-Afrika af. Selfone was toe nog ñ nuutjie, en opvangs baie swak. Hy hoor wel iets op een van die boodskappe, vaagweg.

Una, Anton praat van iemand wat dood is. Op die Lodge.

En so breek een van die mees hartseer tye van ons lewens aan. Die dag voor Kersfees. Terwyl Marieta en die ander twee videos sit en kyk, dwaal Annette rond, soek ñ plekkie vir haarself.

Haar voorliefde was dakke. Daar kon sy alleen wees, vér sien.

Sy klim op die drieverdieping grasdak van ons saal. Amper heel bo verloor sy haar balans, gryp na die twee lewendige Eskom kragdrade wat bo-oor die saal gespan is…

Marieta en haar twee het die liggaampie in hul karretjie gelaai en Brits hospitaal toe gejaag.

Maar my maatjie het geweet. Haar kind is dood.

IMG-20170622-WA0000

Amper sestien jaar ou, begrawe hulle haar ñ paar dae later.

“Vertel my. Ek wil weet.”

Marieta kuier verlede Saterdagmiddag by my. Agt en ñ half jaar later. Deur al hierdie tussen-in tyd was ons klompie daar vir mekaar. Onlosmaaklik deel van mekaar se lewens.

En ek besef, na sy die woorde uiter, nou eers, nou eers is sy reg om verder te hoor. Tot nou toe moes sy net probeer leef met háár deel van die onthou.

“Jy weet ons kon nie terugkom nie. Die groep was afhanklik van mekaar se voertuie. Maar jy weet ook ek was daar, by jou, saam met jou.

Ek en Bertus was stukkend, Mariet. Ons het soos twee slaapwandelaars opgetree. Meeste mense in ons groep het jou ook geken, so hulle het verstaan. En geweet dat iets gedoen sal moet word om my en Bertus te help ‘loop’.

So op Kersdag, met laagwater, het ons ñ sirkel gevorm en hande vasgehou. ñ Kransie van veldblomme gevleg, en nadat ons ons eie woorde vir God gegee het, het ons haar kransie in die water neergelê.

En gestaan en kyk hoe die see dit meevoer. Wegvat.

Ek en Bertus is twee weke later terug na ñ verlate Lodge toe. Ons krag is vir langer as ñ maand afgeskakel sodat die nadoodse ondersoek voltooi kon word.

Niks was daarna ooit weer dieselfde nie.

Ons moes die bespreekte gaste se gelde terugbetaal.

Bertus het alle belangstelling in sy beroep as spanboukundige met ñ bedryfsielkunde agtergrond, verloor. Hy het die Lodge toegemaak, en vir langer as ñ jaar net getreur. Geen inkomste gegenereer nie. Elke dag opgestaan, sy Bybel gevat en gaan lees.

In April 2009 het hy sy eie staptog van Umhlanga tot by Greytown aangepak. 137km. Voor dit was hy deel van ñ geborgde staptog deur Swaziland tot in Durban. Suid-Afrika, draai terug na God. 600km.

In Durban aangekom het hy die groep gegroet, ñ rugsak gepak en alleen deur The Valley of a Thousand Hills begin loop. Een van die heel gevaarlikste roetes in Natal. Sy missie: as ek lewendig anderkant uitkom, dan is dit wat God wil hê. Want self wil ek nie meer aangaan nie.

Vandag praat hy van sy selfdood tog.

Hy het dit gemaak. Snags het swart mense hom in hul huise ingeneem. Hierdie semi-verwaarloosde blonde man wat na oom Angus toe stap.

Jy kan Bertus gerus eendag vra oor sy getuienis, Marieta. Want hy het een. God het tree vir tree saam met hom beweeg, en Homself aan Bertus geopenbaar.

Maar ek weet nou wil jy eers hoor wat ek kan vertel.

Die bank het ons Lodge teruggeneem. Vandag nog sit ons met miljoene rande se skuld, en betaal steeds maandeliks terug. Nog ñ getuienis op sigself; dat ons nooit gelikwideer is nie.

So my vriendin, jy wou weet. Ek verstaan. Ek verstaan dat dit nodig is om te hoor wat se effek jou kind se dood in ander se lewens gehad het. Nie omdat dit jou laat beter voel nie. Nee. Dit weet ek ook.”

“Net omdat.”

As ñ mede blogger hier onder ons, kom ek agter, help haar skryf ook baie ander. Sy het ñ pad om te deel.

Hierdie Woestynkind mensie van ons.

Sy het mamma alleen die kinders grootgemaak. Vandag is Trudie en Christopher twee suksesvolle jongmense. Trudie was hoofmeisie in Hartbeespoort Hoërskool, nou besig met haar studie in Ingeneurswese. Christopher is betrokke in ñ sport beroep. Albei kinders is ywerige musiekante in die kerk.

Annette sou die 25ste vier en twintig jaar oud geword het.

Hierdie is altyd ñ baie hartseer maand vir jou, Marieta. ñ Leë maand.

Maar God is by jou. Hy sien, Hy weet.

Met my hele hart gun ek jou jou hartsbegeertes. Daardie drome wat jy in ñ vorige blog-skrywe sê jy nou maar wegpak.

God het hulle in jou geplaas, hulle oor jou gedroom.

En elke keer as jy effens jou arms wil laat sak, sal ons weer inkom en hulle in die lug help hou.

Want dit is wat hartsvriende vir mekaar doen.

xxxx

 

Advertisements

Skrywer: travel460

Ek was reeds 32 keer op die Bali eiland, meestal om vir ons invoer maatskappy aankope te doen. Daar is so baie wat ek met mense kan deel; mense wat beplan om oor te gaan, of net ouens wat droom oor n eiland vakansie. Ek is nou in my middeljare, en vlieg reeds van 2004 af Indonesië toe. Ons het 3 dogters, 2 seuns en 6 kleinkinders.

27 thoughts on “Vertel my. Ek wil weet.”

    1. xxx Dit was vir my ñ baie moeilike post om te skryf, maar die tyd, vir haar, is reg. Bertus bel my uit die dokter in Brits se spreekkamer, die neusspesialis. Hy het die blog glo in die spreekkamer gesit en lees en toe uitgebars in trane. My arme man. Kon darem verskoning maak en vir almal sê dis die poliep in sy neus se skuld…

      Liked by 1 person

      1. En net weereens besef ek niemand se lewens is perfek nie Una, niemand word hartseer gespaar nie, ons almal kry maar ons “fair share”. Ek glo ook God gee ons nie iets wat ons nie kan dra nie.

        Dankie, ek moes vandag hier by jou kom lees. ❤

        Liked by 3 people

    1. Ai hoe seer het ek vir julle almal. Jy is ‘n goeie mens ek dink die meeste mense sou gekies het om hulle rug te draai op als en almal wat hulle kon herinner aan daai verskriklike dag, maar jy het nie, jy het gekies om ‘n moeilike pad saam met dit wat van tyd tot tyd herinneringe na die oppervlakte kan bring te stap – dit wil gedoen wees. Ek glo dat jy dit met die krag van ons Vader alleen kon regkry. Ek bid vanaand weer vir jou/julle dat ons Vader julle sal dra, elke oomblik wat julle voel julle kan of wil nie meer nie. My hart gaan uit na jou xxx

      Liked by 1 person

      1. Jy vertel my. En ons as kinders van die Here weet die lewe hier is ‘n asemteug en daarom het ons ‘n verwagting om uit te sien na die beloftes van God, dat die lewe hierna is soveel beter as wat ons menslike verstand ooit kan dink. Ek het twee kinders verloor, een met ‘n baie grusame aborsie en ‘n ander met ‘n stil geboorte – toe ei jonger was het ek nooit daaraan gedink nie, maar noudat ek ouer is vang ek myself kort-kort daaraan dink en wonder. En ek besef daar is ‘n leemte in my hart.

        Like

      2. Partykeer moet mens ter wille van oorlewing dinge baie diep wegsteek in jou eie hart. Ek hoop jy het een dag die moed om oor hierdie kinders te praat. Maar glo my. Dit bly bitter swaar

        Liked by 2 people

  1. Jitte, noudat ek my “bearings” terughet, voel ek net ek moet wel net ‘n ietsie sê rondom die geskiedenis van hierdie tragedie. Ek haal rerig my hoed af vir ieder en elk wat na hierdie tragiese ongeluk ‘n pad met mekaar kon stap. Ek glo nie dat iemand ooit heeltemal gesond en heel na so iets kan wees nie, wat ek wel hier raaklees is die omgee vir mekaar, ongeag die “allerverskriklikste” seer wat elkeen van julle sekerlik moes ervaar. Ek wonder altyd oor mense wat hul kinders voortydig verloor het, my hart word altyd gevul met empatie en deernis, ek voel elkeen van julle se pyn met hierdie deernisvolle skrywe van jou Una – en ek het die wereld se respek vir jou maat wat die erge verlies by die naam ken – en nogsteeds kies om te lewe al is daar elke jaar ‘n Junie waardeur sy worstel, (en al die ander dae wat dalk te lank voel) want ek glo sy weet hierdie lewe hier is tydelik en dat haar kind daar sal wees as dit die tyd vir haar is om ook haar aardse bestaan te verruil, vir daar waar haar kosbare kind haar vooruitgegaan het. Julle is ‘n vb van tasbare vergifinis!!! Sterkte aan julle Una maar veral aan “WOESTYNKIND” 🤗

    Like

  2. Una (ek lei af dis jou naam), ek het jou blog kom lees omdat jy myne ‘n ruk gelede ge”like” het. Ek lees hierdie inskrywing en voel sommer hoe my hart pyn vir jou man se seer en sy journey (natuurlik ook vir jou wat moes toesien hoe hy swaarkry) Ek wonder so terloops r of hy dalk deel was van die groep Firecloud mans wat by ons in Piet Retief aangedoen het. Ek lees ‘n paar van jou ander inskrywings en by een foto besef ek maar diè man se gesig KEN ek! Skielik val die legkaartblokkies langsmekaar is plek: Ek het toevallig vandag my hardeskyf met fotos saamgebring werk toe, en gaan soek vinnig my fotos van daardie dag: Bertus is die man wat na die ontbyt wat ons vir hulle gemaak het, my pa se voete gewas het!! Min het ons geweet van die pyn en vrae wat hyself saamdra. Dit maak die daad nog meer spesiaal. Weet nie of hy dit sal kan onthou nie, maar dit het vir ons en veral my pa so baie beteken!

    Liked by 1 person

      1. My ouers het ‘n maand gelede Jhb toe getrek na ‘n paar baie moeilike jare. Pa se een been onder andere geamputeer. Bertus se daad het my pa diep geraak…niemand het al ooit vantevore sy voete gewas of hom geëer vir sy bydrae as boer in ons land nie. Dit was baie spesiaal. Dra asb my waardering oor.

        Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s