‘It is done…’ Klaar oorgetrek.

(skilderye:Google Images)imgrc0068432246

Die nuwe winkel is oop.

Van Maandag af werk ek behoorlik dag en nag. My lyf moes maar net bybly, want die kop en die verbeelding het oorgeneem.

Ek dink mens noem dit ñ adrenalien-rush, hierdie euforiese gevoel.

Vanoggend die deure sommer oopgelos, en nuwe mense het dadelik begin inloer. Ek staan verstom oor die hoeveelheid gesigte wat net kom hello sê en ons verwelkom. ñ Hele paar mans het kopskuddend gesê dat hierdie vir hulle ñ probleem gaan veroorsaak. Menende nou met die vroulike geslag en mooi goedjies vir die huis…

Bertus moes sy deel kom doen; spieëls ophang en muskietnette se hakke in die plafon indraai.

Maar nou. Nou wil ek op my eie gelos word.

My hart jubel, ek voel baie tuis. En ek weet eintlik glad nie hoekom nie. Dalk die baie beweging, die nuwe lewe. Ons is reg langs ñ bekende restaurant, en ouens sit al van nege-uur af en kuier, eet.

Nou, half vyf in die middag, is hier ñ ‘buzz’ in die lug wat ongekend is.

20170831_152550

Ek glo met my hele hart ek het reg gehoor. Een Sondag-oggend in die kerk toe my Here en ek gesels het. Eintlik, ek het net geluister. En die plan voor my geestes-oë sien vorm aanneem.

More is ons amptelike opening. Wens ek kon van julle oornooi, net sommer. Want sulke groot gebeurtenisse in jou lewe deel jy graag met mense na aan jou hart.

En dit is wat my blog vriende is.

xxx

c36b1d5f8dc0ddd7e0925e657a0fd70b--canvas-ideas-note-cards

 

 

 

 

Advertisements

As ñ nuusberig tot familievermaak lei.

images

Toortsie skryf op haar blog oor die media, en die plek van nuus in ons lewens. Kombineer dit nou met hierdie week se Lê-Jou-Eier onderwerp oor uitdrukkings, en ek moet in my mou glimlag.

Weereens ñ klompie jare gelede, vat ek ons jongste dogter en Neil, oudste seun, saam met my Bali toe. Die twee verskil ñ jaar, dink hulle was so vyftien en sestien.

Ons drie deel ñ lekker groot kamer in een hotel. Wanneer ek oorsee is, is nuus omtrent al wat ek op tv kyk. Die rede: Dit is al wat verstaanbaar is, in Engels. So weet ek dan vir daardie drie weke op ñ slag van alles wat oral in die wêreld gebeur.

Een oggend lê die twee elkeen op sy bed en nuus kyk. Op daardie stadium was Afrika weer heeltyd onder die hoofberigte, spesifiek die oorlog in een van die lande.

05

Neil kyk en luister aandagtig. Gorilla-oorlogvoering word in diepte bespreek. Na ñ paar peinsende oomblikke sê hy uit die bloute: Mense is vir hom baie slim.

Hoe so, engel? vra ek.

Kyk, sê hy, hy sal eendag baie dinge kan regkry, maar nou nie dit nie.

Ek en Lisa frons gelyktydig. Wat sal jy nie kan doen nie, boet?

Ek weet glad nie hoe daardie mense dit reggekry het om ñ army vol gorillas te leer skiet nie.

Hoe doen mens dit? Hoe leer jy ñ gorilla om oorlog te maak?

GorillaGuerilla

Need I say more.

So in ons huishouding, sodra iemand iets nie begryp nie, sal iemand net sê: Mmm, ja. Dit is mos nou soos die gorrilla-fighters, né.

Chaos.

3d-hd-nature-wallpaper

Rerig. Dis hoe vanaand voel.

  1. Ons trek winkel oor. Het heeldag gewerk.
  2. Kom by die huis aan. Jongste meisiekind en haar man en twee kleinste bly op die oomblik by ons. Hulle sussie/skoonsus en dié se familie kuier hier vir die naweek.
  3. Ek is vuil. Vol verf. Moeg. Gaan nie nou saam kuier nie. Mos nie my  kuier mense nie?
  4. Ek sit bo en skryf oor gesegdes en idiome. Ek kry net nie tyd om te fokus nie. Ek mis my blog-familie! Kom nie by julle uit nie, en dit is crap!
  5. Los almal my nou eers uit. Kry julle eie kos! Ek is nie honger nie.
  6. Klein dogtertjie-pikkewyn kom loer kort-kort wat ek hier bo doen. Oumie werk, engel. Ok oumie.
  7. Ek sien my maatjie WAT OP DIE OOMBLIK BY HAAR KINDERS IN ENGELAND KUIER, EN REEDS 65 IS, is kwaad vir my op ñ kommentaar omdat ek voel my lyf is moeg! Ek weet ek is effe lui, vriendin. MAAR JY MAG NIE JUDGE NIE! Anders gaan ek jou Desember in die see in Mosambiek terug betaal…
  8. Dis die lekker van twee verdiepings. Die “party” gebeur onder. Ek sit hier bo en hoor alles. Maar sit en skryf vir julle. Amazing.
  9. En nou, nou kan ek nie uit die nommertjies uit kom nie. Daar is nie ñ punt nommer nege nie. Wil net sê, ek verlang na my blog-vriende, moenie my vergeet nie!
  10. xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx

En toe. En toe. En toe.

_63005388_moreton1

Ek weet. Mens begin nie ñ sin met ‘en toe’ nie.

ñ Hele klompie jare gelede…Ons bly nog in ons Bali Lodge. Grasdak. Die drie meisiekinders is in die laerskool.

Boeta en Moeks bly ook by ons.

Dit is ñ winderige Augustus maand. Soos dit nou maar gebeur, is die area se krag af. Iemand het iets iewers gesteel. Soos koperdraad…

Oudste meisiekind sit by haar skryftafel en studeer. Boonste verdieping. Met ñ kers.

Eerste ‘en toe…’

Toe kom ñ geniepsige wind en laat die gordyne bokant haar tafel vlamvat.

Grasdak, nè.

Die vlam hol behoorlik tot bo, en daarna is dit chaos. Sussie kom gillend by die trappe afgestorm. Hel omtrent tot onder, want dit is donker. Ek dog iemand verkrag haar. Ai. My kop het nooit ontspan terwyl hulle besig was om groot te word nie.

Het ek gesê die krag is af?

Op ons plot het ons boorgatwater gebruik. So. Krag is nodig om die pomp te laat werk. Tuinslange??? Nutteloos. Brandslange…morsdood.

Flippen magteloos.

Middel-meisiekind storm teerpad toe, hoor ek na die tyd, in haar nagklere, en probeer karre stop om te kom help.

In die nag. Op ñ plotpad!!!!!

Hierdie is nou so twee-en-twintig minute voor nege in die aand.

Ek gryp ñ histeriese jongste ses-jarige dogtertjie, stop haar my glas sherry in die hand, druk haar onder die eetkamertafel in, en beveel haar om alles op te drink.

En toe. Toe kom Boeta aangestap. Tussen die vlamme deur pyl hy op Bertus af, sy skryfboek in sy hand, en gee vir hom ñ briefie.

Met die nuustste rugby telling op. 

En toe.

Toe het dit fluksop aan die reën gegaan. (Daar het ñ hewige bui reën uitgesak.) Hierdie gesegde kom uit die ‘Wat praat jy‘ Afrikaanse idiome, gesegdes en vaste uitdrukkings met verklarings handboek.

P1040199

Teen die tyd dat die brandweer wa opdaag, was ons grondpad-oprit ñ modderbad.

Hulle het vasgesit. Die brandweer wa, ja. Hulle het vasgesit.

Met ñ paar brandblussers kon ons keer dat die hele Lodge afbrand.

Die feit dat dit ‘fluksop aan die reën gegaan het,’ dit het ons gered.

En gelukkig; ons het die rugby  telling van die dag ook geken…

xxx

“Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:

 

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.

Nuwe onderwerpe word aangekondig elke Donderdag om 12:00 en sluit outomaties na een week.”

 

 

 

Ek is toe sowaar nie meer vandag se kind nie!

(fotos:Google Images)9a1e3f7a2466be5975e07bf3581acdfd--portrait-art-portrait-paintings

Kan jy nou meer.

Elke spier pyn. My bene voel hulle eie voel. Die rug is ietwat seer.

Hoe is dit dan nou moontlik. Ek is hier binne steeds dieselfde mens. Die girl met die poniestert. Wat de joos het verkeerd geloop…?

Aflewering gaan doen, nou wel ñ ent hiervandaan, maar steeds? ñ Ruk terug was dit niks.

Toe gaan verwe en lere laai, en nuwe winkel toe gery. Kleure teen die mure begin uittoets.

Nou wat nou.

46e8c5be5167b46dfa761bbd057d5ca4--happy-people-photography-beautiful-people-photography

Ek gee glad nie om om ouer te word nie, maar hierdie is bietjie verspot.

Ek voel dan steeds binnekant soos ñ “spring-chicken?” Dis net asof my lyf dit nie ook weet nie.

Shit. Of liewer o gonna. Want hier by ons is die s-woord ñ vloekwoord, en wil klein engel-meisiekind peper in my en oupa se monde gooi as ons die reël oortree.

So. O gonna.

Ek is toe sowaar nie meer vandag se kind nie.

 

Die deurslaggewende faktor.

7b72dcf91b2e493cb7873fa85c007475

Ek is seker dat die res van die samelewing op ander maniere besluite neem as ons. Let wel, ons sluit sekere vriende en hul kinders ook in.

Desembervakansie lê voor, en hierdie jaar rits ons Mosambiek toe. Hier in Februarie is die internet oortyd deur die uwe gebruik. Daar is “gesurf”, van vroeg tot laat. Want DIE DATUM van DIE VOORLEGGING was naby.

Vyf deeglik nagevorste keuses is eers vir manlief en die seuns uitgelê. Die groep sluit in: ek en Bertus, ons twee seuns, middel dogter, skoonseun en hulle twee kids, vriendin en haar man, en hul seun en sy vriend. Let wel, AL die kinders in hierdie groep, behalwe die twee kleinkinders, is diep in hul dertigs. Dit dui op volwassenheid, dan nie? Goeddeurdinkte besluite?

Bazaruto-Island-visit-mozambique-710x473

Mmmmmm.

Wit strande en blousel-blou water, gerieflike akkomodasie, pryse binne perke. Dit was die opdrag.

Vyf plekke. En wat word onomwonde deur AL die manne gekies… Die plek verste Noord, ons praat van 1600 km van Maputu af. ñ Vissersmans-paradys…Onthou, ons Neil kind en Bertus het albei Kwa-Zulu Natal hengel kleure. Dus, te verwagte.

Maar. Die faktor wat loshande gewen het.

Om by ons eind-bestemming uit te kom, moet ons dertig kilometer vêr strandlangs ry. En dis nie al nie. Ons het net ñ twee ure gleuf daagliks om oor ñ sekere mond op hierdie pad te kan kom. So, ons moet een-uur die middag van die 22ste Desember, nadat ons die dertig kilometers op die sand afgelê het, oorry na die eiland toe. Volgens die getye.

1

Niemand het enigsens daarin belang gestel om my verdere power-point storie te bekyk nie. Van toe af is dit al waaroor gesels word as DIE GROEP bymekaar is. Daardie tog langs die stand af, of liewer op. Asook hoe gereeld na die naaste dorp, dertig km terug, gery gaan moet word, vir goed soos melk en brood en bier en…

So terloops is na die prentjies van die chalets gekyk. Alles, letterlik alles, draai om die strand roete. ‘Navorsing’ word gedoen oor presies hoeveel die bande op watter stadium afgeblaas moet word.

Ek staan in verstomming. Die deurslaggewende faktor. Maar hoe? Hoe kry mansmense daarby uitgekom?

Terwyl ek en vriendin probeer uitwerk hoe ons al ons benodighede daar gaan kry, en hoe ons gaan regkom sonder krag, (daar is darem ñ kragopwekker vir ñ paar uur per aand), word ñ boot ge-organiseer. Word vreemde kajakke aangeskaf, nuwe katrolle en goeters gekoop en uitgeruil.

Nou wonder ek net. Besluitneming.

Hoe lyk dit binne daardie einste dierbare koppe die dag as hulle op ñ trouvrou besluit. Wat is/was die deurslaggewende faktor? 

Wag. Wil ek regtig ooit weet…? ☺☺☺

Beach-driving-300x225

 

Om te gee, maar ook te ontvang.

il_570xN.372550394_bczs

Ek sukkel met die tweede deel.

Om liefde te kan gee, maar ook om liefde te kan ontvang. Soms moet ñ mens iets oor jouself erken, voor jy daaraan kan werk. As jy wil.

Dit kom so ontsettend maklik met die klein mensies. Hulle gee so voluit, en ouma het geen probleem met hulle armsvol liefde nie. Inteendeel, ek kan net nie genoeg kry nie.

En tog is daar ñ deel in my, van my, wat sukkel om van ander te ‘kry’.

Waar kruip dit in. Op watter ouderdom het die Una hier diep binne dalk die leuen begin glo. Die een wat sê jy is nie goed genoeg om ook te ontvang nie.

Dit is vir my redelik maklik om hierdie ‘iets’ in ñ ander te herken. Dis soos om dit aan te voel, die onsigbare gordyn wat hang. Gewoonlik van ñ baie fyn draad gespin, deursigtig, so mense let dit nie sommer op nie. Maar dit is daar.

O, ek weet daar is ñ geestelike verduideliking hiervoor. As Christen weet ek dat my Vader my onvoorwaardelik liefhet. En dat ek dit net moet glo.

Ek ken die verse in die Bybel.

Net soms kan ñ prentjie soos hierdie een hier bo, my bietjie pootjie. Die wete dat ek tog nog sukkel. Die besef dat ek steeds hier diep-diep binne nie heeltemal vertrou nie. Dat daar ñ minuut in my lewe was toe onskuld weg is, en onsekerheid sy plek ingeneem het.

Daarom dalk dat ek elke minuut indrink van hierdie tydjie wat die twee pikkewyne by ons bly. Ek wil by hulle leer. Ek wil my eie kind-onskuld laat veilig voel.

En vry raak.

46ff8a9d4d68ca85f13777b4e9c95a20

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.

Nuwe onderwerpe word aangekondig elke Donderdag om 12:00 en sluit outomaties na een week.