Om te groet.

(skildery :Google Images)enchantment-robin-mead

My Moeks kon nie wag om hemel toe te gaan nie. Vandat ons gehoor het dis lewerkanker, was sy ongeduldig. Die dokters het haar ses maande gegee, en sy het dadelik begin klaarmaak. Briewe geskryf, mense uit haar verlede gekontak, haar goedjies opgepak en weggegee. Jip, sy was reg vir haar uur.

Sy het vir drie maande nog in haar eie plekkie gebly, maar toe die morfien plakkers nodig raak, het ek en Bertus haar by ons laat intrek.

Sy het alle behandeling teen die kanker geweier; het net ingestem om pynmedikasie te gebruik.

Die twee maande by ons aan huis was moeilik. Sy was teen daardie tyd bedlêend. Tussen my, manlief en een huishulp, het ons haar verpleeg.

Die kanker suster het weekliks kom inloer, en Moeks het haar frustrasies met haar gedeel. Hoekom vat dit so lank? Presies hoe lank nog?

Suster Grobbie sou haar dan rustig kry, en het haar belowe dat as daar nog so twee weke oor is, kan mamma hospice toe gaan. Ek moes op ñ stadium haar selfoon by haar wegvat, want sy het suster kort-kort gebel en haar probeer oortuig dat dit tyd is. Nog nooit het iemand so na die einde verlang nie.

Ja, dit was vir my bitter sleg. Maar ek het verstaan wat aangaan. My kleinboet het sy eie lewe geneem, en Moeks wou hom weer sien. Hy was haar jongste, haar baba. Sy het die geweldige pyne gelate aanvaar.

Die dae omgewens.

Die dag toe suster Grobbie die groen lig gee, is ek vreeslik aangejaag. Ek moes sumier my winkel in die middel van die oggend sluit, huis toe ry, haar tassie gaan pak, en hospice toe haas.

Dit is maande wat ek nogal nie aan terugdink nie. Om afskeid van ñ ouer te neem bly baie moeilik. Selfs op hierdie manier. Ons mag nie vir haar gesondheid gebid het nie. Ons mag nie gehuil het nie. Haar enigste opdrag aan my: Kyk na Ouboet. Hy is nou jou verantwoordelikheid.

My storie raak te lank. Met my wat hierdie week ñ vriendin in die hospitaal moes gaan groet, kon ek nie anders as om te onthou nie. Die eerste dag nadat mamma in die hospice opgeneem is, stap ek besoektyd by haar in. Suster Grobbie het gesê nog so twee weke.

En daar sit Moeks regop, met haar uitgeteerde lyfie en oë heeltemal te groot vir haar gesiggie. In elke hand ñ gewig. Nou wel ñ ligte gewig, maar steeds.

Kyk ousus. Ek kan nog oefeninge doen. Hierdie oulike jong man (die verpleër langs haar bed) sê ek is so sterk soos ñ bees, ek kan nog maklik sewentien jaar leef. So kry my tas, en vat my terug huis toe.

Twee weke later het ons haar begrawe.

Terwyl ek in die hospitaal gange afstap na ek by vriendin was, het ek weereens besef. Ons almal het ñ uur. Of ons nou uitsien na die tyd of nie. Of ons ewe skielik ñ opkikkering het, of nie. Ons uur sal aanbreek, en ons sal gaan.

 

 

 

Advertisements

Vryheid.

(Skildery deur Charles James Lewis)reading-by-the-window-charles-james-lewis

Once you learn to read, you will be forever free– Frederick Douglas.

Slimme man wat dié woorde gesê het.

My boeke lê weer oral in hopies opmekaar gestapel. Een in die handsak, so halfpad gelees. Net ñ armstrek vêr.

Manlief lees glad nie. Hy sal my soms fronsend dophou met ñ uitdrukking wat boekdele spreek. Dis dan wat ek terugkyk met soveel simpatie in my binnekant. Hoe leef mens die lewe sonder om te lees? Hoe.

My skrywe is egter nie oor boeke nie. Ook nie oor lees nie. Dit gaan oor bekendheid. Die plek waar ek kan heengaan as dinge rof raak. Om my boek tydig en ontydig te vat, myself in ñ stoel op te krul, en iewers heen te verdwyn terwyl ek steeds net daar bly sit.

Dít is my bekendheid.

Die plek van vryheid.

 

 

 

 

 

Nooit te oud nie.

thumb

Neem die oue en maak iets nuuts daarmee. Dit klink omtrent soos ñ slagspreuk, of deel van ñ toespraak.

Ek het twee meubelstukke in die winkel wat albei ñ defnitiewe verlede het. ñ Lang geskiedenis. Een waaroor ek kan raai, of selfs oor kan fantaseer. Stories kan opmaak oor die mense wat betrokke was, die storms wat getrotseer is, selfs die lewens wat dalk verloor is.

20171010_092410-1

As oudste kleinseun die dag hier kom kuier, kan ons twee ons so inleef in die ‘dalk was…’ wêreld. Dalk was hierdie deel van ñ skip wat aan ñ vissersfamilie behoort het. Dalk was hulle geharde vissermanne wat reuse visse in die diepsee gaan uittrek het. Visse wat die hele skip vol gelê het. Mensvreter haaie wat… Ja, hierdie is kleinseun se weergawe.

20171010_092508-1

Ouma s’n is meer in die rigting van die romantiese. Dalk was die visserman ñ baie goeie man en pa, en het hy vroegoggend op die see uitgevaar om kos vir sy familie te gaan vang. As hy laatoggend teruggekom het, het vroutjie en sy kindertjies gestaan en wag. Met ñ warm koppie koffie en lekker toebroodjies vir die flukse pappa… Kleinseun sê gewoonlik sý storie is baie beter.

Dan vat hy my vergrootglas en soek na bloedstrepe op die hout.

 

Voor die nuwe gier hierdie wêrelddele beetgepak het, is hul ou bote opgekap vir brandhout. Vandag word bote van Bali, Java, Sulawesi en Kalimantan deur besigheidsmanne opgekoop, en die allermooiste meubels daaruit geskep. Die ou merke word gelos, sodat dit bydra tot die karakter van die stukke.

Alhoewel die meubels baie duurder as die gemiddelde Bali meubels is, koop jy deel van ñ geskiedenis aan. Jy kan jou eie dink daaroor dink, of toelaat dat jou kleinkinders hul lewendige verbeelding vrye teuels gee.

Hoe ook al. Hier in my winkel staan twee stukke wat ñ skatkis vol verhale saamdra.

Om ñ praatbeurt te kry.

Ek sluit vanoggend die winkel oop, en hier wag hy my in. Meneer die haan, wat Saterdag sy plekkie by ons gevind het. Met so ñ houding, en ñ mondvol om te sê.

20171009_140527.jpg

Gee tog net kans, fluister ek met die inloop. Voor jy jou sê sê, kan ek net gou ligte aanskakel, asseblief.

Kleinste meisiekind, sy is nou vier en leef redelik altyd in haar eie fantasie-wêreld, kan haar daaraan verluister as ouma met die ‘klomp’ in die winkel praat. Ook maar net voor haar wat ek dit kan waag.☺

20171009_143204

Haan probeer al van oomblik een af ñ mening lug. Ek weet. Vir die laaste agt jaar bly hy in ñ boks. In ñ stoorkamer. Vergete. Dis eers toe die nood hier by die nuwe winkel begin druk, en ek inderhaas klein huisartikels moet soek, dat hy nader getrek is. Goed die josie in vir ons hele spul.

So dit is ñ gemor en ñ geknor. Tot groot vermaak van sussie, want hoe verstaan ouma so alles wat hy sê. Ouma is dan al oud?

Ouma verstaan maar al te goed, wil ek vir haar sê. Ouma se hart onthou hoe dit voel om klein te wees; om jonk te wees. Ouma hoor baie keer sonder dat woorde nodig is. Ouma sien fyner raak al dra sy bril.

Meneer haan het sy spreekbeurt gekry. Daarna moes hy na my ook luister. En hy het.

Vir wie anders kon ek nou-nou sê dat ek voor werk vir my maatjie in die hospitaal ñ laaste drukkie moes gaan gee…

My ‘gehoor’ hier langs die dam is geduldig. Hulle kom van vêr, hulle het al baie gesien. Maklik om met hulle te gesels, al lag ek later vir myself. Hulle gee glad nie om vir trane nie.

20171009_151542

Haan behoort baie vinnig ñ nuwe baas te kry. Kietie ook.

Hopenlik is daar in hul nuwe huise iewers ñ kleinste en ñ ouma.

Wat hulle ‘praat’ verstaan.

 

 

 

 

 

Die verfkwas.

(fotos:Google Images)David Martiashvili  _ paintings

                   Use your own paint; colour your world.(Israelmore Ayivor) 

Ek het hierdie vreemde verhouding met kleur. Dit kan rof met my binnekant gaan; die hart kan sleep, die trane vlak kuier. Tog, kleur verdwyn nooit.

2ce06e605cb7d7d88060b235fa814f52

Ek ‘stap’ op die internet rond, en bly staan voor die stegies in Jodhpur, Indië. Verwonder my aan die blou stad wat eintlik uit soveel armoede bestaan.

Jodphur Indie

Ek kan kies om kleurloos na die lewe te kyk. Dít is die maklike keuse. Of ek kan met my eie verfkwas rondloop.

250976_d7d955a69543bb7980bb673152b038f9_large

ñ Ou kamer in my huis kan weer nuwe lewe kry. Dit hang net af wat ek met my innerlike verfkwas doen. Sien ek die donker en afgeleefde meubels raak, of vat ek wat tot my beskikking is en bring verandering teweë.

gypsy-decorating-ideas-image-of-boho-home-decor-bohemian-room-diy-green-interior-inspiration-st-pinterest-bedroom-furniture-junk-for-chic

Keuse. My keuse.

One should be a painter. As a writer, I feel the beauty, which is almost entirely colour, very subtle, very changeable, running over my pen, as if you poured a large jug of champagne over a hairpin. (Virginia Woolf)

Daar is ñ bont hoekie in die winkel, een van ñ paar, en dit is in hierdie hoekie waar ek soms kan opkrul en in die kleur verdwyn.

20171006_112554

Totdat die wit en swart en grys saamvloei, en ñ reënboog in my lug vorm.

 

 

 

 

Miskien. Man, ek weet nie.

5.8

Indien ek nou hier ñ uitnodiging sou rig. Wie kom saam na die onderwater restaurant op die Maldives… (All expenses paid).

Dalk almal? Sou julle soos ek met die eiland-uitdaging, julle tyd verwyl met die droom oor so ñ ekskursie? Die beplanning van wat gaan saam. Al die reëlings wat getref moet word. ñ Paar sorgelose dae op van die mooiste eilande ter wêreld. En net een aand in die onderwater restaurant…verpligtend.

Hoe kom jy doer onder die water? Ek neem aan met ñ hysbak-gedoente.

Sal jy kan ontspan en heerlik weglê aan die viskos-geregte? Jou happie om jou sien rondswem?☺

89588_0_480x360

Of sou jou natuurbewarings-waardes inskop, en jy op rooivleis besluit. Sou jy baie glasies wyn saam met my wegsluk, net sodat jou kos kan verteer?

tmp625086908367634434

Ek weet Wegkruipertjie sê dadelik ja. Sy is ñ duik-mens. Trommeltjie ook. Solank ons net op ñ eiland kan kom, is haar antwoord. Rondomtalie gaan beslis “decline.” Of nie?? Poerdez is in. Kameel…? Christa, ja, natuurlik. Lekkervurig; sy kom defnitief saam vir die storie. Hester…? Jy beter! Toortsie…? Abrie, in. Lewies, in. Storieklong, hy kom saam indien die van Helsdingen Poppie ook genooi is, en hy besigheidsklas mag vlieg. Nena, in. Aspaai, in. A.J Vosse, defnitief ja. Spokie…? Ek dink nogal so. Newsferret daar in die Kaap, heel moontlik. Woestynkind; sy het sommer vooruit gevlieg. Aletta, sjoe, ek glo so. Elanè, jy het nie ñ keuse nie, girl. Klim op. Frannie…? Dirkie…? Dromer777 glo ek sal ja sê. Scrapydo2, ek verwag ñ defnitiewe ja van haar kant af ook. De Wet…? Gaan die afneem van ons kos in hul lewende vorm dalk vir jou werk? Danie sit reeds in die vliegtuig en wag, ek weet. Seegogga, jou opdrag is om Toortsie oor te haal. Want ek weet jy brand om saam te gaan. Oudoring…dalk is hy eers lus om net in ons land te bly. En Coetzee; hoop jy kry tyd om saam te kom. Julle toer mos nou self ook heerlik rond.

Van die ander bloggers hoop ek, laat weet ook. Hulle kuier nie gereeld by my nie, maar ek ken hul name.

Na gister se duiwel by die trappe af, moes ek weer opstaan. Besin. En myself aan die glimlag kry. Wel met behulp van ñ dierbare vriendin wat kom seker maak het dat ek nie te veel beserings opgedoen het nie.

Die lewe gaan aan. En hopenlik land ek wel eendag in hierdie restaurant. Saam met ñ paar van julle.

 

Verlore.

Dis ek. Ek sit hier met julle blogs voor my, en ek lewer kommentaar. Maar eintlik het ek by die trappe afgevoeter.

Sal net op die onderste een bly lê en myself jammer kry. Ek voel hel alleen, so asof die wêreld voortleef en ek verdwaal het.

Poerdez se skrywe laat my kopskud oor hoe ingewikkeld ons eintlik is. Maar ook hoe nietig en onseker. Vandag klink haar early exit vir my heel aanloklik.

Dan daag Storieklong op met sy awregse opmerking, en kry my aan die giggel. Terwyl ek letterlik sit en tjank.

Trommeltjie se Lê-jou-eier bydrae vertel hoe kwesbaar ons is.

Hester, nou verlang ek na my ma. Baie erg. Jou vergeet en onthou weergawe ruk pleisters af.

Spokie bring onthoue van eie kleintyd terug; bang dogtertjie-wees. En dan Lewies. Sy baber storie is ñ nagmerrie.

Vandag bly ek net hier lê. Kry myself baie bitterlik jammer.

En het ook niks om te skryf nie.

maxresdefault (2)(foto:Google Images)