
Ons kom al van 1998 af gereeld Mosambiek toe. Ons en ons Strydom-vrinne het Afrika saam ontdek, op ons manier. Die bos en die see.
Inpas was altyd maklik. Los al die tierlantyntjies by die huis en raak ñ Afrika-mens.
ñ Afrika-mens.
Suid-Afrika is enig van sy soort. Steeds onse land. Maar glip oor die grensposte en jy tuimel ñ ander wêreld binne.
Inpas en aanpas.

Ek en Bertus pas nogal heel maklik in. Of dit nou Viëtnam, Kambodja, die Fillepyne, China, Maleisië, Thailand of Indonesië was. Ons het ingepas en elke flippen oomblik daarvan geniet. Ook Botswana, Zimbabwe en Zambië. Namibië, Mosambiek. Inpas het ons.
Maar aanpas?
Dis iets anders. En vandag het ek besef; ek is sowaar nou eers daar. Ek pas aan.

Letterlik en figuurlik.
Bertus lees op die Nhabanga groep dat Coco-Beach Club hul plaashoenders uitverkoop. Oukei, oukei. Met my wat nêrens kom nie en myself van die groep af verwyder het, het ek nie geweet America, (die bestuurder se naam), besit ñ plasie nie.
Eintlik weet ek nooit niks. Nes Sasha, ons een dowe, blinde, sonder ñ verheemelte Jack Russell, leef ek ook in my eie bubble. By choice, né.
Teen 200 MZN per kilo! Die naaste hieraan wat ek nog ooit in ons dorpie kon opspoor, is 450 MZN per kg. Wonderwerk. Ons plaas ons bestelling, vaar oor met die barge. Wag net so onder die twee ure by die afgespreekte plek vir ons ses hoenders. Afrika tyd.
So, ons ruil rande vir metz, 1:4. Dus kos ñ kg R50. R112.50 teenoor R50. Dis ñ bargain vir hier.
Die aanpas? Waar kom dit in?
Ek het regtig vir geen oomblik die omruil som gemaak nie!💪😀 Net in my kop geweet dis ñ goeie prys en toe bestel. Ook in die supermarkie ingestap en die week se kruideniers gekoop sonder om pryse te vergelyk. Ek begin sowaar in meticals leef!
Dis ñ vreemde sensasie. Vir my. Nogal ñ diep een. Ek pas aan. Nie net die sak swembroeke wat op sig in my hand gestop is nie, maar my kos wêreld ook.
Ek pas aan.
Jare gelede, as skooldogter, het my moeks rekeninge by Foshini en Truworths gehad. Ons kon sakke vol klere op sig neem.
Nou, hier? Ek kry ñ sak vol net omdat hulle weet waar ons bly. Hou dit tot ons weer op ñ dag oorgaan. Stuur dan sommer die geld van wat ek hou saam met Oba. Geen skrywes en handtekeninge nie. Nada.
(Dis ñ oop markie-winkel. Swembroeke? Hy haal ñ sak vol uit, gaan een-een deur, kyk kort-kort opsommend om na my postuur, knik sy kop of klik sy tong. Te kaal, te klein, te groot. Slegte kleur.)
En ek staan net en wag, geduldig. Want die hoender-ou is iewers op die pad en ek het tyd. Afrika tyd.
Jip. Ons pas aan…
😉😂

Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.