ñ Kliniek dag.

Ouvrou, ek gee jou nie ñ keuse nie. Ons gaan kliniek toe! Vanoggend nog, nie eers as jou arm afval nie.

Ag ja man, oukei, grom ek hier binne myself. Ek doen nie pille nie. Was ek my eie baas, moes Antisan maar die werk doen. Verdekselse spinnekop wat my in die nag gebyt het. Vanoggend sit die bewys rooi en opgehewe met so ñ klop-klop aan die binnekant.

Ons vaar oor die water, bedel ñ geleentheid saam met die huurmotor wat Hannelie moet deurvat Macia toe. Hy laai ons voor die kliniek af

Ons loop hand aan hand tot by die tou mense.

Ouvrou, weet jy hoe lekker is dit vir my om hierdie weird goed so saam met jou te doen.

Weird, ja. Vir ons wat aan privaat dokters en hospitale gewoond was, is ñ Afrika-kliniek ietwat anders.

Ek weet, engel, ek voel ook so. Ek wil nêrens anders in die wêreld wees nie. Net hier saam met jou tussen ñ klompie siek Mosambiek-mense, my hand in joune. Weet jy, die mensdom daar buite dink sekerlik ons is gek, maar ek love hierdie.

Daar staan so nege mense voor ons. Party vermy oogkontak want hulle weet nie mooi wat om met die wit ouer mense te doen nie. Meeste bom dia vriendelik.

Die geboue is vuil, mens moet maar op ñ muurtjie sit want die wag-gang het nie stoele nie. Dit gaan stadig. Na ñ halfuur, toe die tweede mens uitkom, maak hulle soos een mens vir ons ñ deurgang. Stap deur, verduidelik hulle.

Flip, mens voel verleë. Daars mammas met moeilike kindertjies wat hul hande vol het. Een ding het ons egter geleer, moenie hul onbaatsugtigheid weier nie.

In die piepklein spreekkamer word google se translator vinnig nader getrek. Die suster loer oor die dokter se skouer om op die selfoon te lees. Dadelik verstaan albei. Die bytplek word vreeslik bekyk, maar hulle raak nie aan jou nie. Die voorskrif is grieks.

Bertus neem eers ñ foto.

Van hier af is dit na die kliniek se apteek toe. Manlief gaan staan by die venstertjie met sy 2 metical. Dis 50 sent. Hy weet noual hoe dinge werk. Nadat sy tendon afgekap is, was hy menigte kere hier. Translator word weer gebruik, ons moet verstaan hoe en wanneer ek wat moet drink.

Met ñ spul pille kom hy aangestap.

Kan jy glo, omdat ons bo sestig is kry ons 50% afslag. So dis vyf-en-twintig sent vir die hele ekskursie.

Oppad terug maak ek ñ grappie.

Dis Dinsdag, dalk is dit hier ook goedkoper vir afgetredenes op ñ Dinsdag.

Ons stap die kilometer jetty toe weer hand aan hand. Dis lekker saam met my man. Dis goed en reg. Ons het dalk minder geld as ooit tevore in ons lewens, maar vir ons is wat ons wel het, meer as genoeg.

It is well, it is well, with my soul.

Tot ons paaie weer kruis.

Hannelie is vanoggend half-tien weer weg.

Ek doen nie meer die koebaai ding nie.

Ons lewe hier is vol sulke oomblikke; mense gee hul eerste tree op die eiland en dan weer hul laaste tree tot op die boot. Ons staan reg om hulle te ontvang. Ons stap saam boot toe om hulle te groet.

Dis ñ allerdaagse ding in ons lewe.

Tog, soms is dit anders. Soms weet jy, hierdie is heel moontlik ñ afskeid neem.

My woorde was vanoggend min. Sy is my maatjie van amper 35 jaar lank. ñ Wonderwerk het gemaak dat sy en nog ñ vriendin al die pad uit die Kaap uit kon kom kuier.

En nou is sy weg.

Ons het soveel pret gehad, soveel nuwe herinneringe bymekaar gemaak.

35 jaar lank is ñ halwe leeftyd.

En eensklaps is sy net weg.

My hart is vol, maar my huil kom nie. Dit was goed. Dit was reg. Dit was.

Nou stap ons vorentoe met nuwe stories. Nuwe fotos en staaltjies, nuwe onthoue.

Dankie julle twee. Dankie vir jou week hier, Seegogga, en vir jou drie weke, Trommeltjies. Dankie vir al die geskenkies, al jul energie, al jul lag.

En dankie vir jou, liewe omgee mens, wat deur jou onbaatsugtigheid gemaak het dat hulle op ons eiland kon kom kuier. Dat ek en Bertus tyd kon kry om Anne-Marie beter te leer ken, dat ons onse Hannelie weer kon sien.

Dankie. Mag Vader jou en jou familie seën.❤️

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg