Ek wonder tog soms.

Is ons lewe normaal? Of sit ons die pot heeltemal mis?

My wêreld is een van onthaal. Gaste ontvang, sorg dat hulle gelukkig is, neem hulle rond op ekskursies. Dis die bottom-line van wat ons doen.

Ek besef dis die hospitality lewe, dis wat dit beteken om ñ lodge te hê. En ek, ons het dit gekies. Ons kan dit doen en ons doen dit goed. Ons lê op ñ 9.6 rating op booking.com.

Die reviews is fantasties. En ek is diep dankbaar daarvoor.

Net partykeer wonder ek ook maar. Ek kyk na ons vriende en hul lewens, hul betrokkenheid in hul skoolgemeenskappe. Hul sosiale groepe. Hul kerklewens.

Hoe abnormaal is my wêreld? Op ñ skaal van 10?

Het ons ons eie new normal kom skep? Op ons ouderdom verander ons ons normale bestaan in Harties na ñ onderste-bo heerlike eiland-bestaan. Klim boots and all in ñ nuwe land af en om-arm alles wat daarmee gepaard gaan, ten volle.

Hoe ernstig abnormaal is ons tweetjies dalk?

Eish. Soms wonder ek.

Ons kersgeskenk.

Ouma, ek en Jaco stuur vir jou en oupa ñ geskenk saam met ons vriende. Maar wees gewaarsku, die geskenk eet en poef en piepie.

Goeiste, dink ek. Stuur julle vir my ñ katjie?

Drie dae gelede was ek bietjie af. Dis Desember, maar ons enigste kids wat deurkom kom eers die 28ste. Dis nog lank en ek verlang so na almal.

Ja ouma en oupa, dis eintlik twee kersgeskenke. Die een is 12 en die een is 9…

Nooit! Julle stuur vir Gabby en Xander saam met jul vriende na ons toe! Nooit! Jongste dogter wat hulle nie eers saam met mense uit Harties uit laat ry nie! Wat die mees kloekende van al drie dogters is. Sy stuur ons kleinkinders alleen na ons toe. Vir tien dae!

Wonderwerk, werklik.

Mamma gaan net die malaria-smeer ding moet doen. En sonbrandroom.

Is hulle op pilletjies?

Nee ma, daar was nie tyd nie. Mamma moet net kyk dat hulle nie gebyt word nie.

So, drie dae lank bespuit ek die kamer waar hulle en hul twee maatjies gaan slaap. Oral. Ek klim met ñ leer tot op die dak, lê op my maag om onder beddens in te kom.

Hulle sal sowaar nie op my ‘watch’ iets oorkom nie.

My bid is sommer heelwat langer. Oggend, middag en aand.

Nou het die dag aangebreek en ek hou die kar heeltyd dop op Live location.

Ons Gabs en Zannie Pannie is oppad!!!

Die bottom line bly nou maar eenmaal; ons is so totaal uitgelewer aan ons kleinkinders se liefde en sê-goed, hul elke doen en late. Al is daar ook grense tussen-in. Al het ons ons eie lewens in ander lande, daar is ñ band wat deur elke aar vloei.

Hulle is oppad en oor twee ure gaan ek die lagoon pad begin stap. Want ouma se engeltjies is amper hier!!! So sê google.

Oukei, baai…

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg