Ek het ñ nuwe “follower!”

Kom ek verduidelik hoekom hierdie ñ eie blog verdien. Eerstens, ek laat so te sê geen nuwe mense toe om by my te lees nie. Die groep vertrouelinge wat hier inloer is genoeg.

Ek laat ook veral geen familielede hier rondkuier nie. Una se gedagtes is privaat. Kop is gestamp, lesse geleer. Lankal.

Maar, ouma het ñ uitsondering gemaak. Megsie, tweede oudste 15-jarige kleindogter is welkom. Meer as welkom.

Ek kuier op die oomblik tussen die kinders in SA rond, en vanoggend is ek en sy sommer vroeg met die kabelkarretjie op tot doer bo op die berg. Wat ñ heerlikheid!

Hierdie kleindogter van ons is ñ juweeltjie. Studeer heeltemal te hard en het geen tyd om aandag aan kêreltjies te gee. Soos sy self verduidelik terwyl ons tussen die wolke sit en eet. Ouma, soms dink ek ek is die enigste grootmens in ons huishouding. (En ouma stem saam, my engel.😉)

Sy het glo gistermiddag heerlik gelê en my blogs lees. Eish, was dit ñ wyse besluit? Die vraag het maar in my kop opgekom. Na ons openlike gesprekke daar bo het ek egter geweet. Dis nodig. Sy is groot en sy het insig. Sy het ook ñ dinkplek nodig. ñ Plekkie waar sy dalkies ñ mening kan lig.

So Meghan, welkom hier tussen die ouer tannies. Ouma hoop jy geniet ons!

En daar mis ek die “plot” heeltemal…👀

Dis ekke.

Twee 16 jarige dogtertjies en ñ 14 jarige kleinseun. En ekke.

Ek laat val die pap op die grond want ek vang niks.

Soos in boggerall.👀

Ek het getry. Ernstig. Onthou, die jaar van covid het ek en Bertus gaan skoolhou in die onnies wat te oud was, se plekke. En ons het elke oomblik gelove!

Graad 10 en 11, we nailed it! Ons was gewild, ons was geliefd. Ek was vol van myself. Ernstig erg.

So hier kom Des 2025, going into Januarie 2026 aangetrippel. Ons amper 17 jarige engel van ñ kleindogter, haar maatjie, en ons 14 jarige kleinseun daag saam met middel dogter op.

A-flippen-mazing.

Toe kom ek met ñ skok agter, op 65 is ek van my sinne beroof! Iemand iewers het my sinne gesteel!🤔👀

Want, alhoewel hulle nog ietwat dieselfde lyk as toe hulle die dierbaarste, liefdevolste, cuddly-ste wesentjies was, sit ek op ñ takkie in die briesie en rondwaai. En hulle hang in yslike hoë palmbome rond.

Ek hou styf vas. Ek swaai gevaarlik rond. Ek probeer met my 50% sig skat hoe ver ek moontlik kan val.

Ek try. Regtig, ek try. En klaarblyklik is ek ñ cool ouma.

Bom-skok. Dis my woord. Want iewers tussen die Oktober vakansie en nou het die wêreld drasties verander.

En dis hierdie keer NIE Trump se skuld nie!

Dis hormone en kêreltjies en meisies en die juppy-stadslewe en net normale grootword se skuld.

En ñ ouma en oupa op ñ eiland in Afrika; wat nie meer skoene dra nie en net ñ boot besit. Hulle besef.

Gee dit tyd. Oor ñ paar jaar klink die klanke uit die pragtige mondjies weer bekend. Het ons ons engeltjies weer terug.

O flip, dis wat die slim mense sê, né.

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg