ñ Suid-Afrikaanse Mosambieker.

Kyk, as jou buite-badkamer na vier jaar uiteindelik reg is, en jou Mosambiekse paspoort enige dag kan arriveer, dan weet jy. Jy is waar jy moet wees.

Ons het die Mosambiek-skuif halsoorkop aangepak. Geen niks daarvan was deeglik oordink nie, ons het net see en son en sand raakgevoel.

Soos ek al voorheen vertel het, die covid-tyd het die deurslag gegee.

Gat-onderste-bo. Dit was ons twee.

Ons word nou daai mense, die ouens met 2 paspoorte.

My laaste skrywes, dié oor my pad terug huis-toe tydens die vloede. Dit het my laat besef, ek is “boots and all” nou ñ Masbieker. Gebore in Pretoria, skoolgegaan in Kwazulu Natal en Durban. Hoërskool in Springs terwyl ons in Brakpan gebly het.

(Ek hoor daar is nou ñ Brakpan-chronicles reeks, Woordnoot?)

Na ek getroud is, Heidelberg. Toe Harties toe vanaf 1994 tot 2022.

Nou, ñ properliese Masbieker!

Hierdie is my huis, my hartsplek. As ek hier doodgaan, word ek net hier begrawe. Want ons mag en ons kan.

Tot dan is dit kaalvoet dae, son-dae. See dae. Lilo dae. Dae saam met gaste, dae sonder mense.

Maar dae vol dankbaarheid en vrede en vreugde.

Sela.

“Triggers.” In Afrikaans, om iets te aktiveer. 

Ek het nog nooit van dié woord gehou nie. In die sielkunde wêreld is dit wel ñ belangrike konsep. Ook in die kerkwêreld.

Dis amper 4 weke nadat ek laatnag by die huis aangekom het. Ek het my voete intussen glad nie naby die grootsee gesit nie. Ook nie in Biléne nie.

En hier waar ek nou sit wil ek al klaar nie verder skryf nie. ñ Trigger trigger ñ trigger.

Ek soek na ñ foto om te probeer sê wat ek wil sê. Die foto wat vir my en Therese gestuur is met die opdrag, laai Una daar af.

Una ís veilig afgelaai, maar toe het Una reeds ñ week van spanning agter die rug.

Die vloede. Hoe gaan ek by die huis kom?

Ek wat daagliks grootsee toe gaan, was steeds nog nie daar nie. Maar vandag is ek oor die lagoon dorp toe. Aspris. Kammakastig vir ñ lys goeters. Nie die waarheid nie.

Ek moes terugstap in my spore.

Ek moet onthou hoe ek daardie aand gevoel het. Die aand van die dag.

Die dag vol onsekerheid, vol sukkel met ñ oorvol pakkasie. Die dag van verwarde mense sien verby loop, hul gesigte vaal en vol stof. Skouers wat hang, deurmekaar klere en hare.

Die dag op ñ oorlaaide spoedboot wat probeer kophou teen die massas water wat see toe beur. Die huise se dakke, meubels wat ronddryf, kragpale en drade wat driekwartpad onder water is. Ons wat tussen boomtoppe deur ons pad moet vind. Die wind wat teen ñ spoed waai en my gedagtes wat wonder of ons nie bo-oor iemand ry nie. ñ Mens wat nie meer leef nie.

Ek wil nie oor daai dag dink nie. Ook nie oor hoe dit my binnekant omgegooi het nie.

Die kaart. Die kaart wat pin point waar dit begin.

Ek is nou weer terug in ons huisie, die Biléne dag vir eers verby. Stil-stil sal ek hierdeur werk. Teen my eie pas. Ek sal die goed uitlig tussen die opdrifsels. Die mooi in die mense wat swaarkry en nog steeds ñ hand na jou uithou. Die dankbaarheid in honde-oë vasgekeer op ñ brug as ñ boot stop en kos uitgooi.

Ek sal deur dit alles sif want dis wat mens doen.

Sela.

Om te wag op die onbekende.

26 Januarie 2026. Elf-uur se kant in die oggend. Therese laai my af, gee my ñ druk, maak seker ek het als. En daar ry sy.

My opdrag: kom tot by die pont op Maracuene. Junior sal jou daar kry. Jy kan hom vertrou.

Ek het myself op die sak hondekos gemaklik gemaak. ñ Ouerige wit vrou tussen hordes Mosambiekse polisiemanne, lewensredders, aid-groepe uit Engeland. En die hopies mense wat verslae hul lewens bymekaar moet probeer vat.

Vir 4 ure lank het ek gesit. Kon nie loop en fotos neem nie, mens word gekeer. Geen water of kos in sig nie. Ook nie ñ toilet nie.

Maar, bly jy in Mosambiek, is enige iets moontlik.

Na ñ uur se gewag stap iemand op my af met ñ pakkie wat moet saamgaan Biléne toe. Bertus se reëling. Hulle bied aan om ñ gerieflike kampstoel vir my te los, reël met ñ local om dit vir hulle te bewaar.

En daar sit kiepie, baie gemaklik by haar spul Spar-sakke.

Vyf minute later kom ñ Mosambiekse ouma na my toe aangestap, piepklein babatjie in haar arms. Sy groet, gooi haar kapulana lap op die grond oop en maak haarself tuis reg voor my voete.

Oukei dan, dink ek. Ek lyk seker na ñ veilige hawe?

Ses minute later kom die mamma daar aan. Sy waggel nog wydsbeen ná die kramery. Ouma skuif-skuif kant toe sodat jong mamma ook haar sit op die grond kan kry.

Dis nou hier waar ñ ou se vrouwees oorneem. Ek kyk die spulletjie so. Dié jong vroutjie gaan op geen manier kan afsak nie. Wat te sê weer opkom!

Ek staan rustig op, keer haar voor sy begin en wys haar om op my bitter lekker sagte stoel plaas te neem.

Toe is dit weer ek en die hondekos sak.

Eintlik het my storie ñ punt.

Nie 10 minute later nie bring ñ polisieman vir my ñ bottel water. Die pappa van die babatjie dra ñ bakkie straatkos aan. Die ouma oorlaai my met maroelas en piesangs. Niemand kan ñ woord engels praat nie, maar ons beduie en knik ons koppe en lag van oor tot oor vir mekaar. Ek hou die baba vas sodat hy ñ skoon doek aangesit word, ook sodat hy mooi aan mamma se bors kan drink. Ja, ek help daarmee want sy sukkel en die ouma is onbeholpe. Pappa hou die lappie in die lug vir bietjie privaatheid.

Daar sit ons. Ek op die Bobtail 8 kg.

En toe my oë begin traan, staan die ouma moeisaam saam met my op, neem my aan die arm en gaan wys my waar om te squat.

Wat meer kan mens sê?

Gedagte vir die week.

Bek, weet jy wat het ek besef?

Is hierdie diep?

Ja. Nogal.

Is ons seker jy moet dit noem?

Uhmmm. Nee. Miskien nie.

Oukei dan.

Maar Bert, ek wil dit sê.

My brein het verklein. Nee regtig. Kyk bietjie om jou, draai in die rondte. Jy kan ons hele bestaan sien. Ons hele wêreld. Hierdie is ons.

‘Ons het nie meer ñ anderkant nie.’

Sjoe oukei my vrou, hierdie is diep.

Dink jy ook so? Want weet jy, ek het nie reggekom toe ek nou in SA was nie. Dis te groot. Te wyd. Ek het meestal verbouereerd gevoel, en dis ernstig erg. Wat dink jy daarvan? Makeer ons iets?

Mmmm. Ek sê jou wat, kry die honne. Kom ons loop swem. Rito gaan nou hier wees met die dag se vangs. Dan loer ons sommer of daar nuwe voël-nessies is. Dalk het die reier weer een verwoes.

Kom.

Ag oukei. Ek is in elk geval klaar gedink.

Ek kom.

😉

Vyf tieners en hul dinge…

Ag oukei, ek weet. Hierdie is nou ñ totale ouma-post wat spog en terg en ernstig is.

Seventeen going on eighteen: My oë rek vanoggend toe ek hom op facebook sien. Voorsitter van die Verenigde Studenteraad van sy skool. My eie, eie groot kleinseun! Ek vra vir Nadia, sy mamma, wat behels dié, ounooi?

“O ma, hy moet by elke BL-vergadering wees, die leerlinge verteenwoordig. En ons kry volgende jaar ñ groot afslag by die universiteit as hy begin swot.”

Net eergister-middag nog het ek op die bank by die agterdeur sy hart probeer heel-beraad.

” Oumie, ek het met C uitgemaak, want ek kry net nie deur my lewe gekom nie! Maar oumie, ek het haar so seergemaak, sy is stukkend. En ek kan dit nie aan haar doen nie, ek weet nie hoe om vorentoe te loop nie! Sy is so hartseer en hoe doen jy so iets aan iemand? Ouma, ek is ñ slegte mens, mens kan mos nie iemand so seermaak nie? Maar ouma, ek kom nie reg met al my goed by die skool én ñ meisie nie. Wat moet ek maak, ouma? Ouma, help my asseblief, hierdie seer hier binne is te erg!”

In Mosambiek, op Dolla-brak se slaapbank wat my klere vol hondehare gaan los, sit ek en luister. Na ñ kleinseun se hartseer gesnik omdat hy sy meisie afgesê het want matriek hou hom te besig. En dis Luiperd-rugby, en hy is onderhoofseun van sport en dan ook ñ uitstekende akademikus. So hoe, ouma, hoe nou gemaak?

“Oumie, ek kom nie reg tussen als nie.”

Flip. Flip.

Ek luister, ek hoor. Ek praat versigtig, want ñ ouma werk sag met eina-harte. Ek bemoedig, ek teken vir hom sy prentjie van volgende jaar. Sy eerste jaar op universiteit, sy koshuis. Ek gee sy droom van ñ plek in Sonop-manskoshuis, sy uitsien na die ontgroening, die pak klere wat hy weet hy die eerste jaar moet dra; ek skets dit vir hom in ouma-woorde terug. Die sêrries, die konserte, jool.

Ek fokus versigtig op sy huidige laaste skooljaar. Sy verantwoordelikhede. Sy rugby.

Ek kom van hoeke af, versigtig. Ek verf die prentjie waar daar nie regtig ñ plek is vir ñ vaste verhouding nie. Pretoia en Harties is ñ uur van mekaar af. Vir nou is die logistieke so moeilik, Nathie.

Intussen huil my eie hart ook maar saggies oor die pragtige dogter wat vir twee jaar al deel van ons lewens is. Wat saam Mosambiek toe gekom het.

Ek sien hoe sy al hul fotos van Instagram af, afhaal. Ek lees die swaarmoedige quote wat sy met ñ swart agtergrond opsit.

Genade Vader, help net met die regte woorde. Hierdie ouma weet eintlik niks. Net U weet. So lei my gedagtes, stuur my tong om die regte dinge te sê. Hulle is nog jonk, maar ek onthou die diepte van seerkry. Die verwarring. Gee asseblief dat ons as ouer mense direk uit U wysheid praat en lei…

Nouja, en hier het ek net oor een van vyf geskryf! Ek is skoon uitgeput! Hopenlik is my blog vriendinne meer voorbereid as ek, nie so onkant gevang nie.

Wag, laat ek die ou tannies oplaai en see toe ry! 😉

Oplus_131072

Flip, en weereens flip!

(Ps: Meghan, jy mag nie uitpraat nie, né my engel.)

Die pad terug.

Ek weet nie heeltemal hoe om hieroor te skryf nie. Eintlik wil ek nie vertel nie, want hoe.

Hoe plaas jy sinne neer as die voel in jou lyf bly vassit. As mense bly vra hoe dit was, maar die was is steeds jou nou.

Kom ek try.

Die was: Ek was vir 2 weke by die kinders in Suid-Afrika. Toe kan ek nie terug nie.

Die dorp Macaneta onder water.

Die woorde het aanvanklik nie sin gemaak nie.

My vrou, ons pad van Maputo af Noord is weg. Hulle praat van maande.

Ek was sommer dadelik weer terug in 2024/25 se chaos. Niemand kan by ons uitkom nie.

Die baie reën in SA het die riviere in Mosambiek hul walle laat oorstroom. Dorpe is uitgewis. Duisende mense se huise is meegesleur, honderde is moontlik dood.

Ons nuwe land is steeds in chaos.

Jy kan nie huis toe kom nie.

Die baksteen in my hart wou nie beweeg nie. Nee Vader, ek aanvaar dit nie. Ek moet huis toe. Ek moet terug. Help my, asseblief.

Ek moet by my man uitkom. By my honne. By my plek.

My berader-vriendin, Therese, het verstaan.

Kom Una, kom ons begin terug ry. En ons glo en vertrou.

Marloth Park is so 30 min van die Lebombo grenspos af. Sy het ons twee daar ingebook, vir 4 nagte. En daar het ons gewag.

Bertus het onverpoos begin navraag doen. Die hele Biléne het ingespring om ñ oplossing te vind.

Help vir Bertus, sy vrou moet terugkom. Dink mense, dink.

Maandag 26 Januarie: Ek en Therese ry met haar karretjie oor die grens, ek moet 12-uur in Marracuene by die pont wees.

Sal haar kar dit kan doen? Wat as ons vassit? Wat as ons voorgekeer word?

Wat as.

Asseblief Vader, asseblief. ñ Leërskare van engele, groot asseblief.

Die aflaaipunt. Van hier af is die wêreld onder water.

Ons twee kom reg. Therese laai my en my spul bagasie onder ñ boom af. Sy moet begin terugry, dis twee en ñ half ure tot weer terug in SA. En sy is vrou alleen.

My baie brawe maat.
My bagasie, onder andere hondekos en hth.🙉 Asook ñ sak vol vleis.

(Hoekom? Want ek het aankope in SA gedoen voor die paaie oorstroom het. Terug by die huis was reeds voedsel tekorte)

Van elf tot 3 het ek gesit en wag. Die lewe bekyk wat voor my afspeel. Huilende, getraumatiseerde mense wat met reddingsbote aankom. Tussen lewensredders en gebroke Mosambiekers het ek op die sak hondekos bly sit. Die pad vorentoe ietwat vaag.

Drie-uur daag Junior op, heeltemal oorstelp. Om soveel verwoesting te ervaar sit nie in almal se klere nie.

Ons wag ñ verdere uur vir iemand

Toe is dit ons, my bagasie en ñ oorvol spoedboot. Ons vind ons pad vir die volgende 40 min tussen huise se dakke, kragpale en boomtoppe deur. Die water is in vloed, so ons jaag voluit.

Aan die anderkant aangekom, dis nou op die eiland-deel Macanetta, wag redelike chaos.

Macanetta. Die deel wat nie oorstroom is nie.

My bagasie word afgelaai en nou wag ons weer. Vir iemand. En voorrade. Want hierdie is die enigste manier naas ñ vliegtuig om kos in Biléne uit te kry.

Ons begin ses-uur met die volgende been van ons trippie. Twee ure op die strand se ry, twee ure binneland langs tot in Biléne.

En dit raak donker.

Oppad deur die village om teen die see uit te kom.
Ons ry in ñ konvooi van 2 voertuie.
Twee ure se ry langs die see.
Ons val kort-kort vas. Ek, die drywer, ñ handlanger en Junior. Drie Mosambiekse vreemde mans wat my soos ñ koningin behandel.

Ek was nooit ooit vir ñ sekonde beangs nie. Nooit ongemaklik gevoel nie. Die stêrreprag het op ons afgeskyn in al sy glorie. Die varswater meere se paddakore en naggeluide sal ek vir ewig onthou.

Twee ure langs die see waar daar niks en niemand is nie. Toe twee ure in die binneland langs meer op meer op meer. Deur vleie waar ñ vinnige klipbruggie gevorm moes word. Dan weer mekaar deur dongas uitsleep. En deur dit alles heen die rustige wete dat Vader sien en weet, dat Hy met ons is.

Want Hy is en Hy was en sal vir ewig wees.

Amen.

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg