Lewensreëls.

045e0617a9fb2048a287a8d6d203ee60

Ek kan nie perdry nie, en die ding is, ek wil defnitief nie kan nie! Ek sal baie graag ñ perd as ñ dierevriend wil hê, een wat sal toelaat dat ek hom vryf, my gesig tussen sy maanhare laat indruk; een wat saam met my op grasvlaktes sal rondbaljaar.

Maar ek wil nie op hom ry nie.

My middel dogter en haar dogtertjie ry albei ernstig perd. Vandag spring mamma glo in ñ kompetisie, en dis ñ groot opgewondenheid. Ek besef dat omdat sy die reëls van perdry ken en dit verstaan, voel sy veilig en geborge op sy rug.

Kyk ek terug na my eie lewe, weet ek dat ek bitterlik onvoorbereid was. Ons huis was vol liefde en aanvaarding; jy is geleer om die ander voor jouself te stel, om nie te probeer wen nie maar terug te staan en die minste te wees. Om mooi te praat en ouer mense te respekteer. Om dankbaar vir als te wees.

Goeie eienskappe, maar dit het my diep in die verknorsing laat beland toe my omstandighede verander. Die liefde oorwin alles, daardie een het nie vir my gewerk nie, net omdat ek liefde nie heeltemal verstaan het nie. Dit het my jare geneem om waarlik onbaatsugtig te kon optree selfs wanneer dinge nie net mooi en sag was nie. Ek moes eers hard val en elke keer probeer opbeur voordat ek besef het dit gaan werklik nie oor myself nie. Ek kan dinge nie beter maak deur in te gee soos Moeks my geleer het, of net weg te stap om ñ situasie te red nie.

Ek trap daagliks steeds klei, maar vandag sien ek myself vir wie ek is. Sukkel steeds om my man te staan teenoor diè naaste aan my, maar nou weet ek hoe om terug te tree en na die groter prentjie te kyk. Om te weet wat goed is vir my, en nie net vir ander nie. Ek wil steeds nie seermaak nie, maar ek kies wanneer om die minste te wees.

Want soms is minder minder en meer meer, en glad nie “less is more” soos die Engelse spreekwoord sê nie.

 

 

 

 

Vakansie reünie.

img_5022

Hoe weet mens as dit weer ernstig tyd is vir ñ bymekaarkom… Sodra vakansie fotos oor en weer rondgestuur word.

So vanaand is ek en Bert weer skatryk. Ons al veertien plus ons Lotz seun kuier bymekaar.

Die huis gaan op sy kop gekeer word; daar gaan kinder gilletjies en lag, hardlopende lyfies en speelgoed oral opklink en rondlê. En ek en oupa gaan ñ sug van tevredenheid gee. Wat kan lekkerder as dit wees.

Die week was rof, Estelle vriendin lê in ICU nadat sy van ñ bank af by haar skool agteroor geval het. So hierdie ouma het klein en groot lyfies om haar nodig. Niks anders wat soveel troos kan bring nie. Niks nie.

Ons Neil seun en sy Petro is in Amerika, en sus Carien en Caron in Dubai. Maar ek weet in hul harte is hul by ons.

Ouboet by die tehuis het die suster vroeg gevra om my te sms en te sê ek moet hom bel. Want iemand speel iewers rugby en hy moet my net daaraan herinner want dit is baie belangrik. Rugby. Hy het lank in sy taal met my gebabbel, en ek kon hier en daar ñ woord uitmaak wat dit laat klink asof hy en sy Pauli op die bank gaan sit en handjies vashou terwyl hulle tv kyk. Hierdie storie moet ek dadelik vir sy boetie Bertus ook vertel.

My slaap gaan vanaand rustig wees met al ons mense in beddens hier om my. En my dankie sê boontoe sal sag opstyg.

xxx

 

 

Die groen bus…

img_5089-2Iewers diep binne elkeen, glo ek, is daar ń wens. ń Wens wat nie te doen het met enige tasbare dinge nie; net ń wens om meer van ń ander individu te weet. Om saam met iemand die water in te duik en te kyk wat gebeur…

Dis wat ons toer vir my is, nie was nie, maar is. Vir maande lank het ons saam rondbeweeg ten spyte van ons eie privaat lewens. Sedert September het die toerbus in en uit ons elkeen se lewens beweeg. Van ons is deur regtige swaar tye. Tye waar ons wou-wou sink of net moed opgee. Huwelike, kinders, finansies, lewens-seisoene, siektes, keuses, noem dit maar op.

Maar midde in dit als het ons hande geneem en mekaar deurgehelp. Deurgetrek.

“I salute you” my mede towerinne. Ons het anderkant aangekom, sommige met skrape en stote, met knieë wat vel-af is, maar as ń toerbus vol vrouens wat mekaar respekteer, mekaar eer en mekaar liefhet.

Ons lewens is voller want ons is ten volle daar vir mekaar…en niemand kan dit ooit van ons af wegneem nie.

Dankie vir jul vriendskap. Vir die bystand via whatsapp boodskappe, vir die terg en die aanmoediging en die ‘tussen die lyne’ lees.

Dankie.

 

Om meer uit te vind oor die heerlike toer van ons Towerinne en die groen bus, kliek net op die skakel en jy kan al die stories daar lees.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

 

 

Al sou…

20180417_0901108866526814548691239.jpg

Ek stap vanoggend by my allermooiste winkel in en trek ñ diep teug van die houtreuk in my longe op.

Hello julle ouens, sê ek vir die Bali eende, goeiste, maar dis lekker om julle almal weer te sien!

Dit neem net ñ paar sekondes om die swarigheid van my skouers af te skud en ñ paar passies tussen die meubels deur te gee. En in my hart en ore neurie ek heerlik…

Al sou die vyeboom nie bot nie, en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie. En al sou die olyfoes misluk…

Nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my Redder…

Want ek wil, en ek kan, en ek sal.

Al gebeur wat.

fig-trees-for-sale-dwarf-fig-tree-trees-for-sale-hardy-fig-trees-fig-trees-for-sale-south-africa

 

Die mooiste storms, vervolg.

Vandag is weer ń aan-af dag, en ek verwys na ons Harties weer, nie na my onmoontlike gemoed nie!😉

Ons storms op die dam is so onbeskryflik mooi. Die heel lekkerste is om op die lê-stoele op die boonste stoep jou plek te gaan inneem, natuurlik onder die afdak, en te hmm en te haa.

Om ń storm op ń afstand dop te hou kan jou na jou asem laat snak in verwondering. Om in die middel daarvan te sit, daardie is ń ander een.

Ons kom dit soms letterlik oor op die dam. Die weer is alte pragtig, die omstandighede net reg. Ons vaar op die barge uit, reg om te braai en te duik en te swem. Dan, binne minute verander als en dis niks wat jy verkeerd gedoen het nie. Dis somer, dis Harties, dis Suid-Afrika, dis normaal.

Julle word onverhoeds betrap, die vuur reën nat, die braaivleis drup, en die barge skommel lomp oor die golwe.

Jy klou jou drinkding vas, probeer dieper onder die dak inskuif, soek wegsteekplek vir jou selfoon en lig jou bene op as van die branders oor die kant breek.

Tog, ons as damduikers verkies dit om net hier te bly. Dis ons dam, dis ons mense en ons storms. Die hiasinte, ons sal dit nog oorwin. Die groen slik wat so stink, nouja, dit sal ook weer oorgaan. Verbytrek. Dit het als te doen met die warm weersomstandighede.

En sodra die seisoen draai, en die koue kom, sorteer ons dam homself ook uit.

Nes ons.

Klein dingetjies wat saakmaak.

amazing village natural wallpaper

As klein dogtertjie het ek my huise presies so geteken; ñ voordeur, twee vensters, ñ skoorsteen, ñ paadjie, gras en blomme. Interessant genoeg het ek ervaar dat al drie kleindogters presies ook so begin het. Alhoewel ek nie meer kan onthou nie, glo ek hul mammas ook. Die seuntjies is ñ heel ander saak. Die oudste twee se bou-vaardighede is volgens my net ongelooflik! Wonder of vandag se seuns so gebore word, of is dit al die blokkies waarmee hulle so speel.

Nietemin, soms kan die eenvoudigste iets ñ ouma se aandag vasgryp. As kind het ons elk ñ badspons gehad, pienk vir my, blou vir die boeties. Nie ñ waslap nie, ñ spons, en daarmee het ons ons lyfies gewas.

As jong ma het ek dieselfde met die drie dogters gedoen, sommer net want ek was daaraan gewoond.

Hierdie Desember vakansie land ñ pak van drie nuwe sponsies, verskillende kleure, in my tas. Natuurlik te haastig gewees om vir myself net een uit te haal.

En sowaar, toe die kleindogters ouma help uitpak veroorsaak die sponse groot konsternasie. So asof dit hierdie uitsonderlike items is, begin die stryery onmiddelik. Want ouma het natuurlik vir hulle elkeen een gekoop! Jippee! Maar wie kies watter kleur, want daar is net een pienke…

Ek het so binnetoe geglimlag. Kan jy nou meer, die kleindogters het nes ek ñ ding vir ñ nuwe badsponsie.

Ek moes toe maar manlief se waslap vir die res van die vakansie gebruik want die drietjies is weg met my sponse. En die dag toe ons inpak vir huis toe kom, het elkeen sowaar nie hulle s’n gebruik nie, dis gespaar sodat dit nuut kan bly!

img_4731

(Ouma se poppies maak haar wakker.)

Dis die lekker van ouer wees; die tyd wat jy het om op klein onbenullighede te fokus en die lekker daarvan te bewaar.

 

 

Ek wonder nog…

Ek is stil, ek weet. Sit soms lank na julle skrywes en staar, ander kere gesels ek kliphard terug, maar die skryf is ietwat gevries. Op die groen bus tuur ek deur die venster en neem al die mooi in verwondering in. Soveel wat ons beleef, soveel wat ons deel.

Ek wonder nog oor wat om my en met my en in my gebeur. My dink-stoel is kleurvol en vol inspirasie, maar my kop bly leeg. Effens vlak.

So ek is stil, ek weet, maar ek slurp julle skrywes op en drink in my hart ń vars vrugtesap saam met elkeen.

Iewers sal my wêreld weer regkantel.

Xxx💖

Releasing into Trust.

Dis die byskrif by hierdie skildery…

lotus-1205631__340

Ek het glad nie meer ñ hoed nodig nie, en ek het my skrywe daaroor ook afgehaal. Finaal.

Hoe so, sal iemand dalk vra. Dit was vinnig? Hoe kon jy so gou laat los het?

Want ek het geluister. En gehoor. Soms sukkel ek met die eenvoudigste lewens-waarhede. Veral waar dit my hartsmense aangaan. Ek gaan nie my mercy-persoonlikheid hier kan voorhou nie, of liewer, ek wil nie.

So hierdie is ek wat voor julle kom sê ek was nie reg nie. Wat ek gevoel het was uit my eie seer en stiksienigheid.

Ek wou nie luister nie, want ek wou nie laat los nie. So asof dit my reg is om oor iemand anders se lewe besluite te neem. Ek was verkeerd en dis nou verby, agter my. Dankie tog ek het niemand seergemaak nie, dat ek net hier by julle kon kom neerskryf en kerm.

Klaar. Verby.

Ek gaan vir my ñ blomme rok aanskaf vir die geleentheid, een wat sal verklaar dat all is well with my soul, en uit my hart uit bid ek die paartjie voor die kansel die allermooiste lewe toe vol van God se drome vir hulle.

last-lingering-note-of-summer

 

 

Ek is super opgewonde!

Let wel, ek het die foto ge-edit sover ek kon.😉😎

Die tweede gastehuis; ek het nou-nou vir die eerste keer daardeur gestap en ek is SO opgewonde!

Die plek is reg agter ons, letterlik 5 tree van ons motorhuis af.

Môre stuur ek ń “proposal” aan die eienaar. Die man is ń advokaat en kom nooit hier nie. Hy verhuur die totale vier slaapkamer plek uit met net ń huishulp wat als moet hanteer…en dis chaos! Regtig. Almal in Kosmos kla oor die lawaai wat oor naweke hier losbars. Sien, die probleem is as jy ń volledige huis uitverhuur dan het jy nie beheer nie. Die huidige hulp sê die gaste weier byvoorbeeld dat sy enigsins gedurende ń naweek inkom. Dan jol hulle en neem ons dorpie behoorlik op horings. Verniel die meubels en hou deurnag partytjie.

En natuurlik daag hul persoonlike gaste regdeur die nag in hul lang slap motors op!

Kom Una tot die redding… flip, hoop ek, glo ek, vertrou ek.

Gee julle insette asseblief. My plan: Bedryf die 4 slaapkamers met elk eie badkamer, 2 sitkamers, 2 kombuisse, 2 eetkamers, reuse swembad, kroeg area met stoep wat oor die dam uitkyk, groot onthaal area, as ń b&b met ń kok tot gaste se beskikking.

Ek bedien die ontbyte, so jy het eintlik net jou eie kamer-area. Die kombuise mag gebruik word, maar die kok is heeltyd daar. En die hele plek word nie as ń eenheid uitverhuur nie, net die kamers. Jy bring kos saam as jy wil, of eet uit, en die kok berei dit voor. Sy slaap in.

Op hierdie manier is ek en die hulp heeltyd ook in en uit, kan ek enige ekstra gaste beheer van die sekuriteits hek se kant af, en is ons heeltyd betrokke.

Ek is oop vir kritiek en idees asseblief. Julle is my mense, ek het raad nodig.

Mooi, mooier, mooiste.

(Google Images)b5165d0fbaa0bff57cb015b638feb0eb

Die storie van Thumbelina het my as kind ure lank gefassineer. Hierdie piepklein dogtertjie in ñ groot groot wêreld.

Was ek vandag ñ Thumbelina, het ek sowaar my huisie in ñ bos krismisrose gebou, so tussen die kleure en net daarin weggeraak.

My liefde vir krismisrose is iets redelik nuuts. Toe ek en middel meisiekind onlangs Bangkok toe is, het sy haar kop moedeloos vir haar ma bly skud. In plaas daarvan dat ek loop en aankope vir die winkel doen, het ek kort-kort in ñ blomme winkel weggeraak. En dan spesifiek tussen die Hydrangeas.

how-to-grow-and-care-for-hydrangeas

Ek het ses groot bosse by die huis, maar begin daaroor droom om sommer ñ hele plaat van hulle te plant. Nie in netjiese rye nie; wel deurmekaar en oral oor.

Interessant dat mens se blom-smaak so kan verander. In my geval het dit defnitief met die tyd van my lewe te doen. ñ Tyd wat ek nie meer van formele rangskikkings hou nie, maar van vryheid om my eie denke te dink. Om die riglyne wat deur die jare vasgelê is as die basis van my sorgeloosheid te ervaar. Ek wil al die lesse geleer in groot bont potte druk, een kleure-mengsel vol piepklein waarhede saamgevoeg.

En óm dit wil ek leef, óm dit wil ek my ouer-wees weer laat jonk voel…

eef122e9324c78620d5471955f6f043e

 

 

Afskeid.

photo-1538057900764-3a59a5988a07

Ek loop jou met oop oë tegemoet, jy van wie ek nou losmaak. Ons stap reeds vyftien jaar saam; dis lank.

Ek heet tannie Bali, en jy my eiland.

Die tyd het aangebreek, die jaar, om af te skud. Nie te sê ek gaan jou nie weer sien nie, heel moontlik sal ek ja. Maar dan as Una, net iemand wat op jou bodem kom rondstap en nie meer een wat tuiskom nie.

photo-1508903001666-0ef8e556a7fa

Hoekom, sal jy vra. Ek sal gaan sit en dink, en sê ek weet nie. Moet dan nie, sal jy mompel. My vingers sal oor jou wil vryf, my woorde sal poog om sin te maak.

Dis tyd, dis al.

My foto albums, my Bali-lêers is nou op een rak bymekaar. Vyftien jaar se ondervinding geliaseer en getjap.

Want dis tyd, dis al. 

‘Tranquility’- my woord vir my dag.

tmp643115085035732993

Ek vermoed ek sou ñ seeskilpad wees as ek in die oseaan moes leef.

Die Afrikaans vir tranquility is rustigheid. Peacefulness, restfulness, calmness, quietude, silence, stillness, serenity, mildness.

Ek kom nounet van my twee ure ontmoeting met die gaste-huis eienaars af. Die huis staan heel-heel bo in Kosmos, hang behoorlik aan die berg. Die uitsig laat jou sprakeloos, water en berg, kranse en bos omring jou.

Dit bring lafenis vir jou gedagtes, jou siel.

Ek sit oorkant ñ  ouerige paar wat die huis verlede jaar geêrf het. Hulle woon tans in Nieu-Seeland; ñ tandarts en ñ onderwyseres. Twee pragtige mense wat nie hul ouerhuis wil verkoop nie want daar is te veel sentiment aan verbonde.

En ek. Ek luister en voel, ‘sien’ die onsekerheid in die man se stem, die bangheid dat vreemdelinge hul plek sonder respek sal gebruik.

Ek maak my dagboek toe, sit my pen neer. My besigheids-ingesteldheid verlaat die vertrek, en saam tuur ons oor die golwende massa voor ons. Ons gesels oor vrese, oor ondervinding, oor bang en oor eensaamheid wanneer groot besluite geneem moet word. Sy kyk met soveel deernis na hom as hy praat oor sy kleintyd herinneringe in hierdie paleis van ñ plek. Hy laat toe dat ons saam deur sy onthou-kamers stap; ñ alleenkind.

Terug hier in my kantoor sit ek lank net rustig en dink. ñ Kalmte kom lê in my gees, ñ wete dat ek sag saam met hulle gestap het.

En juis dit het die deurslag gegee. “Bemark ons plek as jou eie, Una, want ons weet jy sal ons drome probeer bewaar.”

Dankie vir so ñ voorreg, Vader, en help my met hierdie nuwe verantwoordelikhede wat aan my toevertrou word.

rosstra2

(Skildery:Nicoholas St John Rosse.)

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg