Slaggereed…

download

…of dalk eerder OP JOU MERKE, GEREED, GAAN!

My eerste dag by die nuwe werk het aangebreek. Die roetine vang my klaar:

Staan ses-uur of sewe-uur of agt-uur op. Ontbyttyd is kort, of lank. Kantoordrag is of ñ short met plakkies, of ñ short en kaalvoet. Die verkeer is nul, so ek hoef met niks hiervan eintlik te jaag nie.

My tafel in die kantoor het ñ kalender en ñ dagboek op. Die dagboek is groot, daar is baie skryfspasie. En ek het penne, swartes, een rooie.

Waar om te begin… Dalk moet ek eers die nuwe gastehuis gaan besigtig! Ek stap sommer gou oor. Gesels bietjie met die huishulp daar, vind uit of sy kan kook. Stap stadig deur die enorme plek, bewonder die uitsig uit elke vertrek. My gedagtes begin rondskarrel, lysies word gemaak.

Nou gou dorp toe ry om pryse te gaan kry. Loop heerlik in die winkels rond, kyk na mooie beddegoed en breekware, maak sommetjies op die optelmasjien. Eet gou ñ ietsie by die Franse restourantjie, ginnegaap met ñ ou bekende.

Onthou dan ek werk eintlik.

Sjoe, dis nou eers half twaalf.

Gaan loer by jongste en haar twee spruite in, speel met die nuwe labrador-toevoegsel. Drink koffie en kyk ñ rukkie Bambi saam met die kabouters.

Kom een-uur weer by die huis aan. Vat vir manlief ñ toebroodjie en koffie. Sit Househunters aan en loer na die beskikbare plekke in Namibië. Sommer net.

Stap oor die bruggie-in-die-lug kantoor toe, soen my man omdat ek kan. Kry die gastehuis-eienaars wat nou oorsee bly se e-pos adres en kom sit op my uitskopstoel in die sitkamer met my laptop. Maar wag, voor ek met hul proposal begin, eers met my blog-mense gesels.

Wat ñ dag, en dis nou amper half-drie.

Hoe gaan môre en Donderdag lyk, wonder ek. Vrydag en Saterdag is ek weer in die winkel, maar ek sal moet sit en dink oor die volgende twee dae!

Sjoe, hierdie is harde werk!

Oor en uit…

20190108_1422304845928959789481886.jpg

(My daaglikse verkeersroete, die 8 tree van ons kamer af oor die brug-in-die-lug tot in my kantoor).

 

Een, twee, drie…blok myself.

rbvai1mwg9uau43zaahtn_xrbu4172

Ek dink ek lê onder die bed. Dalk. Met ñ flitsliggie, ñ blikkie kondensmelk en my Tilly Trotter storieboek.

Moontlik.

Ons het ñ wonderlike see-vakansie saam met die kinders agter die rug. Almal gelukkig en gesond, lief vir mekaar.

Nou hoekom kruip ek alweer onder die bed weg! Die vriendinne loer in, wil hello sê. Die manlief bid vanoggend ekstra lank vir almal en die land. Die nuwe huishulp het begin. Die wasgoed is als skoon.

So waar is ek.

Ek soek self, moes eintlik ñ toep op myself laat laai het, dan is ek dalk al gevind.

Ek’s weg.

xxx

Wat ń heerlikheid!.

Ek is gister baie bederf, sien al vir maande uit daarna. Ons hou mos aan die Suidkus vakansie, en Hester en Karen, haar dogter, het al die pad tot hier by ons op die T.O Strand gery en kom hello sê.

Lekkerste lekker! Hulle is twee pragtige mense, presies soos ek my voorgestel het. En het ons gebabbel…ek wou soveel as moontlik oor hierdie blog vriendin weet as wat die tyd toegelaat het.

Ek beskou dit as ń absolute voorreg om julle klomp te kan sien, om die voel-ervaring aan die weet-ervaring te kan koppel. My familie kon nie glo hoe opgewonde ek was nie.😉 Die kleinkinders het bietjie gesukkel om by ons by die restourant weg te bly nadat die grootmense gesê het hulle mag ons nie pla nie. Maar tannie Hester en tannie Karen het hulle al ses te siene gekry.

Ek sou Hester baie graag wou vashou en haar nie weer laat ry nie. Sy is ons blog- maatjie, en baie kosbaar vir ons almal.

Die konsert.

Woestynkind wou graag die rolverdeling hoor, want sy ken al ses die akteurtjies.

Fout
This video doesn’t exist

Talisa was skrywer en Maria, Nathan Josef. Meghan en Gabby was engele en wysemanne, en Megs was ook die herbergier. Logan was ń skaap… want hy wou niks anders wees nie. Dit en die klanktegnikus en algemene hanswors. Daar is mos maar altyd die grapjas tussen-in.

O, en belangrikste was Xander wat die baba-Jesus moes wees en in die krip lê. Maar hy wou nie en hy het nie.

Wat hy wel doen as enige vakansiegangers vandag vir hom sy naam vra, dan sê hy kliphard: ek is baba Jesus!

Ja, ek weet…🙈🙉🙊

Hulle wil nie saam oefen nie…

Krises…Tilla, 9 jaar, skryf al weke aan die Kerskonsert wat deur die kleinkinders opgevoer moet word.

En nou wil Nathie volstrek nie oefen nie. Nathie is ń 10 jarige seuntjie… Hy sê hy is moeg na standerd twee…

Dis trane, en ń stukkende hartjie…maar pappa too the rescue. Môre sal pappa Rudolph help afrig en en en …

En Kersfees het weereens by 129 Simon Bekker laan gebeur…

Net ek en Boet, want dit is 6 uur en Kersvader wag vir niemand nie. Bert werk nog, die res van die wêreld is besig, maar Kersvader daag by ons op.

Die lysie: Elf presente. Ses cds, inkleurboek en kryte, skryfboeke en penne, ń ‘cooler’ sakkie om sy blikkies koeldranke in die tehuis se yskas te kan bêre, met sy naam op. ń Nuwe penne sakkie, en laastens ń radio/cd speler. Diè kry hy elke jaar nuut want op die een of ander onverklaarbare manier breek hy die cd kante altyd.

Kersvader het ingesluip terwyl ek en Boet onder in die kombuis was! Daardie elf geskenke het hy mooi in die sitkamer uitgestal en toe walla! Boet sien dit raak.

Ma, glimlag jy van daar bo af. Het jy kom loer toe ek en hy op Nianell se liedjie gedans het? Kon jy sien dat ek maar ń traan so eenkant moes afvee?

My blog-wêreld gevul met omgee mense.

maxresdefault (4)

Ek is nie vreeslik sentimenteel nie, maar waar dit julle klompie aangaan wat so diep in my hart ingekruip het, reageer ek anders. Ek het nie vir ñ oomblik besef hoe ñ groot rol die blog gemeenskap in my lewe gaan speel nie. Nie vir ñ oomblik nie. Het gedink dit gaan ñ “I, myself and me” iets wees waar ek my hart neerpen en iemand af en toe kommentaar lewer.

Nou is ek “boots and all” deel van julle, en julle ñ baie werklike deel van my hart. Kry iemand swaar, huil ons saam. Kry iemand seer, help ons dra. Ek kan maar net glo dat ons Vader geweet het wie ek op hierdie stadium van my lewe nodig het.

Ek het bietjie op die argiewe gaan loer na September 2016 toe ek die eerste keer begin skryf het. Moes glimlag toe ek sien wie eerste by my ingeloer het: Net Ek, ekmyselff, Toortsie, Lewies, Korrelkop Kahuna, Perdebytjie, Abrie, Elanè, Coetzee, tannie Frannie, Komrysaam, Poerdez. In hierdie volgorde. Daar was natuurlik Trommeltjie en Woestynkind, Therese, Marinda en Estelle ook, my jarelange vriendinne.

Mense het gekom en gegaan, maar ek gaan ñ klompie opnoem wat vasgebyt het by tannie Bali, wat al saam met my in die werklikheid gekuier het, en ander wat van oral af so baie van my weet. En ek van hulle. As ek kon rym, het ek vir julle ñ gedig geskryf. As ek kon sing, het ek ñ liedjie aan julle opgedra. Hierdie is ek as my sentimenteelste self wat elkeen graag wil acknowledge as deel van my mense.

Die Towerinne, need I say more. Julle klompie kikker my daaglikse bestaan so op en hou my soms lank in die wolke…Toortsie, Hester, Kameel, Lekkervurig, Perdebytjie, WoordNoot, Bondeltjies, Seegogga, Trommeltjies, Positief, sussie VirgoC, Frannie en Scrapy.

Ekmyselff, Sonell, Christa, Rondomtaliedraai, Woestynkind, Aletta, Anne, AJ, Elanè, Storieklong, Komrysaam, Poerdez, NetEk, Abrie, BB, Dirkie, Coetzee, Lewies, de Wet, Rencia, Anneli, Danie Jonker, ZeesBees, Oudoring, dromer777, Liza, die jonge Sielsoeker, Michael Hoffmann, Nena, Daniël, Christa van Staden, Ciska en onlangs Maree Clarkson.

Ek los sekerlik ñ paar uit, julle weet self wie julle is. Elke keer as ñ ou bekende ñ slag kom inloer, is dit lekker en spesiaal. Ek bid vir elk van julle ñ goeie Kerstyd toe, ñ liefdevolle einde van die jaar-tyd waar julle ookal is.

I love you girls & guys!

463c4737fd8a3d066cf2daa329294e87--red-hat-society-friends-forever

xxx

 

Fynkyk-mense.

6509189e07dba60f07e3b6267e0bec82--coral-centerpieces-unique-wedding-centerpieces

Sy kom vanoggend by die winkel ingetrippel soos ñ regte engel met vlerke. In haar hand ñ blikkie kondensmelk spesiaal vir my.

Dit was nie nodig om te kom inloer nie, ek lees mos hoe besig haar dae is. Tog, ek kry gereeld ñ whatsapp boodskap wat wil weet hoe dit met die winkel, met my, met die dogters en met Boeta gaan.

Hierdie pragtige jong vrou met ñ sagte hart en omgee oë.

Ek en sy en haar boer het nog net een of twee keer ñ rukkie gesit en kuier. Ek weet baie meer van haar af deur ons blogs. ñ Skryf vriendin wat ñ stewige plek in my hart gevind het.

Fynkyk-mense. Fyn-luister mense.

Ons gesels ñ rukkie, sy wys my fotos van die plaas, van haar kinders. Ek hoor blitsig die nuutste nodige nuus en kry dan ñ stewige druk.

Mag julle ñ wonderlike Kersfees hê, Una. En geniet die see en die kleinkinders vreeslik…

EkMyselff, ons mis jou op ons blog-wêreldjie, maar jy hou ons steeds op hoogte oor hoe dit met julle gaan. Jy het my vanoggend so ge-bless, meer as wat jy ooit kan besef. Jou inloer en navrae, net soos Poerdez en Storieklong s’n, raak hartsnare aan wat soms nodig is om gepluk te word. Dankie vir my kondensmelk, dankie dat jy elke keer onthou.

Mag jou lewe vorentoe ook vol fyn-voel mense wees wat jou pragtige binnekant warm laat klop.

xxx

O my goeiste…!!

Ek vermoed ń hele paar mense in my wêreld het hierdie woorde uit my mond verwag, siende dat ek my kop in die ‘entertainment’ omgewing indruk.

Ja, o liewe goeiste.

Vrydag na werk… Middelkind se ongetroude vriendin verjaar, en al wat hulle wil doen is ń ‘girls weekend’ hou by ma en Dads se huis. Hulle stop by ń fabriek in Johannesburg en bring bokse vol vars oesters en prons saam. Ons moet op die vlot uitgaan en braai.

Nou, dis ver af ondertoe. Dis hoog. Ons dra en dra, vroegaand.

Swem, musiek, seekos, wyn.

Need I say more.

Die moeder van alle storms sak oor die dam los, maar dit daar gelaat. Ons vier verjaarsdag.

My naweek gaste van Botswana daag op, en kort voor lank is almal saam op die boot besig om Desember te hou.

Ek werk Saterdag oggend. Boeta is by ons. Manlief bied bootkurses in Bronkhorstspruit aan, drie jong girls staan baie moeilik op want hulle het ń spa-dag wat voorlê. My gaste is in die lugballon, die huis staan op sy kop, en Boeta loop net met sy Kersfeeslysie rond en soek my.

Ek voel glad nie op my stukke nie…

Saterdag middag moet die gaste op die vlot uitgevat word vir ń sundowner. Hulle besluit om die res van die aand in ons swembad te bly en die lapa te gebruik. Die res van die nag.

Maar hierdie is betalende gaste, en hulle is dierbaar. ‘Loud’, maar oulik.

Sondagoggend gee ek ontbyt, kerk gaan gemis word.

Want ma moet werk.

Sondagmiddag daag die enigste slim man in die hele Pretoria op om ons hysbak te herstel. Om dankie te sê het manlief gereël hulle braai by ons. Gesin van vyf. En ons gaste besluit dis baie lekkerder by ons, hulle gaan saam eet.

Dis nou ses-uur. Ek lê op die boonste stoep, doodmoeg. Die hele spul is sopas op die vlot uit met ń volgepakte piekniek mandjie.

En nou-nou as hulle terugkom, het ons gaste gevra of hulle vir ons kan dankie sê vir ń heerlike naweek deur vir ons te braai…

Ek is PÊ. Boeta loop steeds met sy lysie rond. Emma probeer oral deur die heinings wikkel om net te kan saam vlot ry. Kieter is hoogs befoeterd omdat daar te veel voete in haar huis rond beweeg.

En ek. Ek lei aan bomskok. Hierdie is my ‘new normal’ en ek is dankbaar vir die besigheid wat inkom.

Moenie vir my lag nie, ek weet…

Dis weer Boeta-tyd…

Hierdie is nie die maklikste tyd van die jaar nie. Regtig nie.

Ek het hom ń week gelede by die tehuis gaan haal, en vat hom die 21ste weer terug. Dis onmoontlik om hom saam te vat met vakansie, dis nie veilig met die ses kleinstes nie…

Nouja. Agt slapies voor hy sy elf presente van Kersvader af kry. Die feite is, hy wil net op sy bed hier by ons lê en die ure afwag, tot 6 uur die aand voor ons hom terug vat. Dis dan wat Kersvader hier opdaag.

Ouboet, kom swem saam met my. Jy kan nie net op jou bed in die woonstel bly lê nie!

Dis nou ek na werk…

Nee, ek gaan nie.

Toe man, die water is heerlik. Dis ongesond om heel dag net te lê. Kom swem saam met jou sussie.

Nee, jy my doodmaak.

Wat!

Ek drink. Jy my doodmaak.

Una, wat bedoel ouboet?… Dis nou manlief wat nie sy 56 jaar oue taal kan verstaan nie.

Hy sê ek wil hom verdrink…

My ouboet. Hoe gaan ons deur die volgende week met jou kom? Hoeveel keer gaan ek vir kersvader moet bel en hom vertel dat jy nie wil luister nie. Dat op 56 jaar jy liewer nie jou elf presente moet kry nie, want jy raak hardhandig, jy skreeu op ons, of jy lê net en wil doodgaan.

Ma. Waars jy. 💖

Xxx

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg