
…of dalk eerder OP JOU MERKE, GEREED, GAAN!
My eerste dag by die nuwe werk het aangebreek. Die roetine vang my klaar:
Staan ses-uur of sewe-uur of agt-uur op. Ontbyttyd is kort, of lank. Kantoordrag is of ñ short met plakkies, of ñ short en kaalvoet. Die verkeer is nul, so ek hoef met niks hiervan eintlik te jaag nie.
My tafel in die kantoor het ñ kalender en ñ dagboek op. Die dagboek is groot, daar is baie skryfspasie. En ek het penne, swartes, een rooie.
Waar om te begin… Dalk moet ek eers die nuwe gastehuis gaan besigtig! Ek stap sommer gou oor. Gesels bietjie met die huishulp daar, vind uit of sy kan kook. Stap stadig deur die enorme plek, bewonder die uitsig uit elke vertrek. My gedagtes begin rondskarrel, lysies word gemaak.
Nou gou dorp toe ry om pryse te gaan kry. Loop heerlik in die winkels rond, kyk na mooie beddegoed en breekware, maak sommetjies op die optelmasjien. Eet gou ñ ietsie by die Franse restourantjie, ginnegaap met ñ ou bekende.
Onthou dan ek werk eintlik.
Sjoe, dis nou eers half twaalf.
Gaan loer by jongste en haar twee spruite in, speel met die nuwe labrador-toevoegsel. Drink koffie en kyk ñ rukkie Bambi saam met die kabouters.
Kom een-uur weer by die huis aan. Vat vir manlief ñ toebroodjie en koffie. Sit Househunters aan en loer na die beskikbare plekke in Namibië. Sommer net.
Stap oor die bruggie-in-die-lug kantoor toe, soen my man omdat ek kan. Kry die gastehuis-eienaars wat nou oorsee bly se e-pos adres en kom sit op my uitskopstoel in die sitkamer met my laptop. Maar wag, voor ek met hul proposal begin, eers met my blog-mense gesels.
Wat ñ dag, en dis nou amper half-drie.
Hoe gaan môre en Donderdag lyk, wonder ek. Vrydag en Saterdag is ek weer in die winkel, maar ek sal moet sit en dink oor die volgende twee dae!
Sjoe, hierdie is harde werk!
Oor en uit…

(My daaglikse verkeersroete, die 8 tree van ons kamer af oor die brug-in-die-lug tot in my kantoor).
















Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.