Net dalkies kan nog ñ droom waar word.

(alle fotos:Google Images)Karimunjawa Islands Map Peta

Met my nuwe Hartbeespoort Bookings.com web-bladsy wat teen middel Januarie tot my beskikking gaan wees, kan nog ñ paar drome dalk waar word.

Februarie gaan ñ groepie van ons Bali toe, en soos reeds gesê, Positief gaan saam. Ons kaartjies is gekoop, hotel besprekings gedoen. En Wayan weet hy en sy taxi-tjomme moet reg staan.

Maar ñ ander gogga het my nou gebyt. So teen Oktober 2019 wil ek ñ toer Java, Indonesië toe bymekaar sit. Meer spesifiek na die Karimunjawa Eilande toe.

Dit sal soos volg kan werk. Ons vlieg Johannesburg-Singapore, dan Singapore-Jakarta. ñ Twaalf ure vlug. Jakarta is Indonesië se hoofstad.

Hier neem ons ñ binnelandse vlug tot in Semarang. Twee en ñ half uur. Al die vlugte sal so R14 000 retoer per persoon wees.

Van Semarang lughawe af ry ons met ñ bussie tot in Jepara, my en Trommeltjie se meubel aankoop mekka, Sulis se dorpie.

Sal ñ aand hier moet oorslaap, want mens is nogal kapoet moeg na die vlugte.

Ons kry die Express Ferry van hier af tot op Karimunjawa, dit neem drie ure.

karimunjawa-1

karimunjawa island copy

Soos die kaart heel bo aantoon kan ons handevol eilandjies van daar af daagliks besoek, as ons wil. Hierdie area is nog redelik onontdek deur die Indonesiërs self.

Dis ñ Moslem land, so die inwoners is redelik konserwatief, maar op die strande kan mens wees net wie jy wil.

krakal

Ek het na die verblyf gaan loer, en die keuses is spotgoedkoop, R300 per dubbel kamer in ñ regte eiland chalet, of R900 per dubbel kamer in ñ luukse oord. Hang af van persoonlike smaak.

85384999_1518678288

1286-1bbe1733044

Dis weereens ontspanning in sy uiterste vorm. Klein eilandjies met meestal geen mens in sig nie, viskos, snorkel, swem is die deurskynende waters, mangrove-kano ekskursies, of net lê en ontspan onder die palm bome.

Karimunjawa-Java-International-destination

Keelskoonmaak…jy kan sefs in die nasionale park saam met haaie gaan swem! Hulle byt glo nie…ja ja. Ek sal verby hou. Sal die seeskilpaaie verkies…

kura_kura_resort_karimunjawa_gogonesia_2-900x500

Ek skat mens sal so tussen R25 000 en R30 000 moet begroot vir ñ tien dae wegloop, alles ingesluit.

Mmmm. Ek gaan seker nog baie aan die program verander, maar hierdie kan heerlik wees. Baie anders as die normale eiland-toere omdat mens die Indonesiese platteland ook gaan ervaar, en tog ñ ontspanne, rustige wegloop.

Nouja, dalk moet ek net eers meubels verkoop en die ge-dromery eenkant toe skuif.

2019, ons is reg vir jou!

 

Meer as 17 000 eilande.

Bali-Experienced-Divers-Missing-And-Rescued

Indonesië sal my seker altyd bly fassineer. Hierdie eiland-wêreld met sy radikale Moslem populasie wat terselfdertyd my as ñ Christen ook spesiaal laat voel.

In al die jare wat ek daar rondbeweeg het sedert 2004, was daar nog nooit ñ oomblik wat enige vrees my oorval het nie. Hoekom? Waarom sal ek eerder daar in die nag rondloop as soms in my eie land?

Verander dit eens mens permanent daar gaan bly, wonder ek.

how-many-islands-in-indonesia-406-best-indonesia-images-on-pinterest

Hoe ook al, dit bly maar net ñ droom plek om te verken. Ek begin planne bymekaar sit om dalk ñ toergroep laat volgende jaar soontoe te vat. Dit sal heeltemal anders as die Bali toer wees, en ek dink aan iets soos “island-hopping” vir ouer mense. Rustiger, teen ñ stadiger tempo.

Moyo Island - The Best Indonesia Honeymoon Destinations

Die onbekende wat sommige van ons so aantrek; die bietjie avontuur en baie andersheid, dit kom in jou bloed. Vloei deur jou are.

Wunga_Island_Beach-West_of_Nias_Island_Indonesia-1070x714

Om met lokale bootjies van een bestemming na ñ volgende geneem te word, om in mooi plekke te oornag wat jou die Tarzan gevoel gee. Om rond te drentel en die plaaslike leefwyse in te drink.

Myself klaar oortuig, punt stop. Nou net die nuwe besigheid se webblad bietjie aanpas, Januarie my intrek in die nuwe kantoor neem en siedaar! Ons is oppad.

2018-funniest-travel-memes-best-of

 

 

Indien ek…

…ñ eekhorinkie was, het my omgewing baie meer bome gehad.

tmg-article_tall

Dis weer daardie tyd van elke twee jaar en ek wat moet “update”. Ek kom o so nie reg nie, steeds nie, nooit nie.

Party mense is baie opgewonde oor ñ nuwe foon, ek nie. Nooit nie. Ek is pleinweg net te flippen dom om die oefening reg te doen, al verduidelik wie my ook wat. Ek skryf elke opdrag, stap, kode getrou neer; sodra die outjie agter die toonbank sy mond oopmaak, pen ek dit neer.

En steeds is my wêreld in chaos, dag vyf.

Ek is van my Goolgle Account af geskors, net sommer weggejaag na die 101 ste probeerslag. Ek onthou ewe skielik geen passwords nie, en al is hulle neergeskryf, pas niks meer nêrens in nie.

1F8758A4-ED2B-4385-8937-F07E9B90455B

Ek kan nie by my Airb&b rekening uitkom nie, die bank Apps erken nie my bestaan nie, en Facebook laat my elke dag van voor af inteken.

Was ek ñ eekhorinkie, het ek baie meer vir die natuur beteken. My vergeetagtigheid sou bome kon laat groei.

Maar ek is nie een nie, ek sit en sulk van moedeloosheid en ek verlang SO TERUG NA MY OU FOON!

Twee koppe is beter as een.

two_heads_better_than_one

Eintlik gaan dit oor die wag wat mens maar liewer voor jou mond moet plaas, maar daar kom tye wanneer jy so verby kwaad raak, dat logika jou verstand verlaat. Dis dan wat plan een moet wees om koppe bymekaar te sit voor jy ontplof. Veral as die ander kop jou vrou s’n is, is dit dalk baie beter.

Kom ons noem dit die tyd van die jaar. Of liewer die einde van ñ baie rowwe jaar. Die ‘laaste druppel in die emmer’ oomblik. Die moment as jy “time-out” moes geneem het, en nie na jou foon gegryp het nie. Of die e-pos gestuur het nie.

Hierdie keer is ek darem nie in die moeilikheid nie, en dankie tog daarvoor. Ek dra net koffie en koekies aan, luister na die baie woorde wat gelyktydig uit een mond kom, lawe en loop versigtig in die huis rond.☺

Ek vermoed dat een van die twee in ñ huwelik die meer besadigde een is. Of dalk maak mens beurte. My manlief is ñ bedryfssielkundige wat veral intensiewe opleiding het om met unies te onderhandel. Hy gee glad nie vir enige konflik om nie, en kan op die ongelooflikste maniere probleme oplos.

Maar, soos ek op sy whatsapp boodskap gelees het, as jy die dag ‘sy moer koer’, is dit sleg. (nuwe gesegde wat ek ook nou ken). My oë is groot, ek sien en hoor die ontploffings, en ek doen die vroulief ding.

Tog, as. As. As ons net eers koppe bymekaar gesit het voor die optredes begin is.

Ons het nie.

 

 

Bly net op jou voete, Una…

Sy sit haar beste voet neer. Sy wou ñ voet in die deur kry. Sy het haar voet dwars neergesit. Sy het aan die voete van Gamaliël gesit.  Hulle het op gelyke voet begin. Haar voete staan soos kwart voor drie. Sy hou voet by stuk. Sy maak haar uit die voete. Sy slaan voet in die wind….Huh. Dalk die laaste ene???

Ek soek my idioom, maar diè is weg. Soos my muse.

1_C547D5BdRsA6qdzFz-5GgA

O genade, ek sink. Ek weet niks, is so deurmekaar soos ñ pou, of ñ gans, of wat ook al. Die heelal het nie die memo gelees nie, ek begin eers NA DIE VAKANSIE MET MY NUWE WERK! Soos in 7 Januarie 2019.

Maar die memo het verlore geraak…

Ek kry nie my voete gevind nie; wanneer het manlief so slim geword en ek so dom? Flip…nie eintlik die woord wat ek wil neerskryf nie, maar flip.

findyourfeet

Please assist us with accomodation for 80 delegates, including breakfast, lunch, dinner, all refreshments. Keep us busy for two full days; hopefully this will involve teambuilding activities like river rafting and sky-diving. Proposal will be appreciated asap.

Huh.

‘Verandering van spyse bring eetlus’…

…of pleinweg gesê, afwisseling wakker nuwe belangstelling aan.

time-for-a-change-897441_960_720

Ek het begin stap, voetjie vir voetjie; my eerste “proposal” is gestuur. Snaaks hoe dom mens voel as jy in ñ ander se werkswêreld inbeweeg. My leermeester is briljant, al moet ek dit ook nou van my eie man sê. Hy hanteer my met handskoene aan, het baie geduld en sy aanmoediging is legio.

Dalk moet ek dit net hardop sê, hier op papier vasskryf:

Ek het Bertus se ‘Events-maatskappy’ oorgeneem, ñ lopende besigheid wat reeds sy eie website en als het. Ja, die tafel was gedek en amper het ek dit gemis.

Is ek bang? O ja. Onseker? Defnitief. Hierdie is ñ bekende wêreld, maar een waarin ek net nog nooit belanggestel het nie. Nou gaan ek dit my eie maak, my Una-stempel daarop afdruk…

sg15-10761

Hopenlik gaan ek nog baie snaakse stories hê om neer te pen, en mag meeste van hulle vol lag en sukses wees.

xxx

 

Die mooiste storms…

20181203_113027-11754794360.jpg

Ons bly die afgelope agt jaar reeds in Kosmos, en steeds staan ek verstom oor die prentjies wat voor my oë afspeel tydens ñ storm.

Gistermiddag was dit weer sulke tyd. Ek en manlief het heerlik op die dam baljaar met ons jet-skis, en ek is net betyds boontoe voordat die storm losgebars het.

20181203_113213-11941751991.jpg

Ek het lekker beskut op die boonste stoep gaan lê en diè grootsheid gade geslaan. Soms het die golwe so rof geraak dat ons bang was die bote ruk los. Om die natuur te kan ervaar is ñ voorreg. Ons lê in ñ redelike beskutte baai, so die stoepe loop nie erg deur nie. Terwyl dit lyk of die wêreld voor my vergaan, kan ek die reën inasem en die weerligspel in die wolke volg.

Die storms op die dam waai vinnig oor. Voor jy jou oë kan uitvee, skyn die son weer en vaar al wat ñ seiljaggie en boot is weer volstoom rond.

Dis net die omgewaaide bome en takke wat ñ bewys is van wat gebeur het. Baie soos mens se lewe. Soms kom die storm en jy soek met mag en mening na beskutting teen die aanslae. Net om ñ ruk later te wonder wat dan nou eintlik gebeur het.

My “maiden voyage” op die jet-ski (soos Hester dit noem) was een groot lekkerte. Soos ñ wafferse tiener het ek die dam deurkruis, met manlief effens benoud agter my aan. Eers moes ek ñ deeglike les kry, bietjie in ons hawe oefen, en toe eers is ek vrygelaat. Die herinneringe aan my eie ‘biker dae’ het ingeskop, many moons ago, en was dit nie vir die storm nie het ek dalk nie weer teruggekeer normaal toe nie.☺

tenor

…ek het ampertjies my sexy sonbril verloor, en die lewensreddingsbaadjie was ietwat knap om die lyf, maar hier is ek, Hester. Jy het mos fotos gevra.xxx

 

 

 

Woorddiewe.

 

20181130_1427271387134589.jpgDaar is ñ dief aan die kers (wat dan die was skelm-skelm aan die een kant van die kers steel). Hierdie is ñ ou Afrikaanse uitdrukking wat die was van ñ kers wat skeef afloop, beskryf.

Ek kry hierdie oulike boek by my Estelle vriendin as ñ geskenk, en geniet ek dit nou!

“In hierdie boek word ongeveer ñ duisend woorde beskryf waarvan die oorspronklike betekenis mettereeue deur ñ woorddief so skeefgetrek is dat die huidige betekenis eintlik onsin is”.…woorde direk uit die boek.

Ek dink ek gaan die woord woorddief steel vir eie gewin. In ons huishouding wat deesdae net uit twee bestaan, hoor nie een van ons altyd reg nie. Meestal is dit skreeusnaaks, maar soms raak ek onnodig omgeklits, en dan het ek net nie mooi gehoor of verstaan wat manlief bedoel nie. Miskien moet ek iets begin sê soos…Bertus, die woorddief was weer hier, kom ons probeer van voor af… Wonder of dit sal werk.☺

Die alternatief is seker maar ñ oorkundige.

 

 

My beste verjaarsdag geskenk.

Aan Una van Una. Eintlik aan die kleinkinders van ouma, maar voor daardie stappie kom eers my eie lekkerte.

20181127_1234231450422748.jpg

Gisteroggend voor werk sit en wag ek dat Jasmyn se boekwinkel oopmaak. Die ses kleinkinders se kersgeskenkgeld word al ñ rukkie opgegaar, en gister was DIE dag. Ek kon nie vinnig genoeg daar uitkom nie, want dit is maar eintlik indirek ñ geskenk aan myself, daardie uitkies van boeke om vir ons ses pikkewyne te gee.

My handsak word op ñ tafeltjie staangemaak want mens het albei hande nodig vir diè belangrike okkasie. Leesbril stewig op die neus. Nathan 10, se beurt is eerste. Boet het sy ouma en mamma se leesliefde aangeleer, en op die oomblik fassineer geskiedenis hom vreeslik. Daar is maats wat by die Voortrekkers aangesluit het, en oupa Bertus moes mooi verduidelik waar dit dan nou vandaan kom. Vat ons hom saam Wildtuin toe moet oupa by elke enkele geskiedkundige graf en gedenkteken stop sodat die gebeure daar herleef kan word.

Sy boek is die een wat my die mees opgewonde het. Twee weke by die see met hulle ses, en ek gaan al die tyd in die wêreld hê om saam met hom in die verlede rond te kuier. Die Groot Afrikaanse Heldeboek is ñ lekker dik omnibus.

Tweede aan die beurt is negejarige Talisa. Sy trek al by die sewende Saartjie Omnibus, en haar mamma vertel my toe van ñ nuwe reeks, een oor perde. Talisa is ñ dierekind, maar spesifiek perde. Hulle is weekliks by ñ ryskool betrokke en van volgende jaar af begin sy aan kompetisies deelneem.

En daar, sowaar, vind ek die reeks. Stalmaats – ook ñ omnibus. Haar tassie is glo al halfpad gepak vir die see, hierdie engelkind met haar mooiste hartjie.

Meghan sewe, is volgende op die lysie. Sy is ons ritmiese-gimnastiek kleindogter en haar laerskool se mej Olienpark van die jaar. ñ Klein blonde pragkind met net die maklikste geaardheid in die wêreld. Die Speurder Annika-reeks word vir haar uitgekies, die stories van ñ skooldogtertjie wat raaisels oplos. Haar Nathan ouboet is haar absolute held, en als wat hy aanvang is vir haar ‘awesome’. So ouma vermoed dat sy hiervan sal hou.

Die Zackie Mosterd seunsreeks is my keuse vir ons sewejarige Loghan. Hy is die een kind met ñ geweldige aanvoeling vir swart Suid-Afrikaners, en Zakkie en sy maatjie gaan defnitief baie aanklank by Logie vind. Skoonseun se familie is vol pastore en sendelinge, en ouma Una sien klaar ñ ding hier aankom.

Gabriëlla gaan saam met my op haar Towertapyt storieboek verdwaal. 32 stories van reg oor die wêreld; ek gaan ñ klein aardbol saamvat en haar wys hoe groot die lewe eintlik kan wees. Hiervoor kan ek ook nie wag nie want dit is een van my drome om die kleinspan lief te maak vir reis.

En dan het ons vir Zannie Pannie, ons klein “elephant-whisperer”. Ek glo ek het in hierdie jaar wat hulle by ons gebly het, sy liefde vir die natuur aangewakker. As ouma by hulle aankom moet ek dadelik sit en saam met hom Nat-Geo Wild kyk. Ons maak alle geluide na, ons druk die kussings voor ons oë as ons kamtig te bang word om te kyk as ñ leeu ñ bok plattrek, en hy kraai van die lag as ouma haar so doodgril vir die slange wat goed insluk. Hy kry die lekker dik diereboek.

Vir my was hierdie die wonderlikste ekskursie in ñ lang tyd. Om so stoksielalleen in elke kleinkind se gedagtes en persoonlikheid te verdwaal terwyl ek die perfekte boek uitkies, was ñ voorreg. My dag het net soos my verjaarsdag vol sonskyn en liefde begin, en gisteraand het ek met ñ diep tevredenheid aan die slaap geraak. Al ses kleintjies stewig in my hart vasgeanker.

 

Walking next to the track.

walking-on-track

Hierdie foto trek dikwels my aandag, veral sy opskrif Walking on Track. Vandag lei dit my gedagtes na iets anders toe, na my neiging om kaalvoet op gras en grond te wil rondloop. Met ander woorde, ek verkies dit om langs die spoorlyn te loop.

Letterlik.

Ek gaan loer op Google en hak by die woord grounded vas. Eintlik by un-grounded, wat na iemand verwys wat sukkel om te fokus of ñ projek klaar te maak. Wat baie gespanne is en worstel met ñ klomp vrae in homself. Iemand wat sukkel om te kommunikeer, selfs iemand wat so veel as moontlik probeer opgaar, besittings of geld.

Ek was al daar, ek kom steeds daar, maar iets interessants gebeur dan met my. Ek kry hierdie oorweldigende behoefte om skoene uit te trek en kaalvoet te loop. Dis nie sommer net ñ lus nie, dit is sterk en dan wil ek net uit, veld toe, die wye vlaktes in.

Sonder skoene.

Ek weet dit is goed vir kinders om in sand te speel en sonder skoentjies rond te loop en die wêreld te ontdek. Ek besef net dis nie net hulle nie. My vel het ook die voel nodig, letterlik. My voete moet meer in kontak kom met die aarde, my liggaam smag daarna.

Daar is so baie wat ek nie verstaan nie, en ek wil ook nie. Ek stel nie belang in sienings en teorieë en gelowe oor die hoekoms nie.

My skoene moet uit, ek moet sand en see, gras en nat grond met my voete voel, tussen my tone voel inkruip.

Om op die spoor te loop is goed, om soms langsaan te beweeg is nodig.

 

 

ñ Allermooie dag.

impressive-cute-cartoon-wallpapers-for-desktop-5

Daardie gevoel dat jou tone wil omkrul van lekkerte en jou hart een honderd persent rustig is, dis ek vandag. ñ Regte, egte Una-dag.

Kyk, ek moes goed bontstaan om te verduidelik hoekom ek nie oor die naweek partytjie wou hou nie, hoekom ek groot asseblief tog geen geskenke wil hê nie, net ñ briefie as jy iets wil gee. Ek wil nie vanaand uitgaan nie, net in my eie huisie kos maak, by my man wees en die dag rustig afsluit.

Wat ñ totale fees. Ek het lank laas so lekker verjaar soos vandag. Ek is lank laas so baie voor gesing, op noot en uiters vals. Tyd om elke goeie wens rustig deur te lees, oor die mens te dink en ñ dankie-sê te stuur. Om opgekrul op een van my winkel stoele elke oproep te kan smaak, niemand wat my aanjaag nie. Die kinders en kleinkinders se boodskappies en gelukwense intens te geniet, en tussen-in net verlore te raak in die armsvol liefde wat van oral af instroom. Saam met meisiekind vakansieplanne beraam. Skoonsus en Caron wat kort-kort by die winkel kom inloer.

Die dag self is my geskenk. Baie van my blog-maats het vroeg-vroeg ingeklok met seënwense. My manlief se heerlike lang brief het my bene skoon lam gehad. Ek kon bietjie later opstaan met geen kommer ter wêreld nie.

My Vader het geweet hoe nodig ek hierdie dag het. ñ Mooi dag.

It is well, it is well with my soul.

 

 

 

Ek probeer hard, maar sukkel nog bietjie.

images

Ek dwaal op die oomblik in Japan rond, in die jare voor Pearl Harbour gebeur het. My boek is fiksie, maar die geskiedenis feite is als ñ werklikheid, so ek stap saam met ñ Japanese offisier deur sy lewe.

Van sy voorgeslagte tot sy geboorte, sy verliese daarna, sy lewenskeuses en die gevolge wat hy moet dra. Ver verwyderd van my eie lewe, en tog so so bekend.

Ek spandeer ure saam met hom op sy oorlogskip, saam met hom in die geheime kwartiere waar planne beraam word vir die groot aanval. Ek leer van sy worsteling as hy nie met sy gesaghebbendes saamstem oor die toekoms van Japan nie. Ons huil saam as hy sy geliefde in die aardbewing op 1 September 1923 verloor, saam met nog 150 000 mense.

Stap hier ñ kliënt in, knip ek vinnig my oë vir ñ paar keer om te kan terugland in 2018, maar net so blitsig is ek weer weg.

My dag het nie goed begin nie, en die groute wou-wou weer sy plek langs my kom inneem. Toe daag die Imperial Japanese Navy op, en vereis my volle aandag, tipies hulle! Hier loop ek nou tussen hierdie fassinerende vreemde kultuur rond en help kliphard vir Shimadzu dink. Nie dat hy luister nie, maar solank hy weet ek is net ñ bladsy ver, is dit goed genoeg.

Ons probeer op die oomblik ñ stokkie steek voor die beplande Pearl Harbour aanval, en ek gaan hard probeer om te help keer.

Ja sure, Una.

Mag julle almal ñ lekker naweek hê, en as iemand nodig het om Japan toe te kom, sê net so. Ek ken mense…

xx

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg