Die “comfort zone.”

Funny-Animal-Pictures-34

Sy hou dertien leisels in haar hand. (Sy hanteer baie dinge gelyktydig.)…Nee, dis nie die idioom waarna ek soek nie.

Haar leisels word dertien. (Haar sake raak onhanteerbaar.) Amper, maar nee.

Sy laat die leisels slap hang. (Sy laat dinge maar hul gang gaan.) Ook nie diè een nie.

Sy het die leisels laat val. (Sy het afstand gedoen van haar gesag.) Sjoe, dalk amper.

Sy het die leisels opgeneem. (Sy het voortgegaan, die leiding geneem.) Ja, dis die een!

So vier weke gelede het ek die groot stap geneem; die trappies begin klim wat ek nog nooit voorheen voor kans gesien het nie.

Gegaan vir ñ werksonderhoud.

2019 gaan anders lyk, defnitief. Moet anders lyk. Nooit ooit wil ek weer ñ jaar soos 2018 hê nie.      https://travel4601.wordpress.com/2018/11/14/en-nou-tannie-bali/

Met effe hoër skoene, nie my gewone petite toonsandale nie, gaan ek die nuwe jaar betree. En nie omdat dit ñ nuwejaarsvoorneme is nie, maar omdat ek iets nuuts gaan doen.

Noem dit ñ tweede werk, ons kan ja. Die winkel sal voortgaan, maar jy gaan my net so twee dae ñ week hier aantref. Die ander vier dae werk ek vir ñ baas.

Die vrou wat my plek hier moet volstaan, is opgewonde. En die vrou binne my sien met verwagting daarna uit om ñ nuwe deur oop te stoot.

Die winkel sal myne bly, nog vir lank. Mens stap nie net van jou ‘kind’ af weg nie.

My stoel hier in die hoekie gaan net dikwels leeg staan.

Ek is regtig ñ stadige besluitnemer, top vreeslik oor die ‘sê nou nets’ van die lewe. Die ‘wat asse’.

No more. Ek gaan vasbyt en deurdruk al loer die onsekerheid oor my skouer. Al twyfel ek effe aan my eie vermoë.

Wat ek weet is dat ek vir geen oomblik alleen sal wees nie, daarvoor het ek ñ 100% likiete lewenspolis uitgeneem, jare en jare gelede al…Ps 18:30-36.

So 2019, ek is gereed. Hakskoene en al.

 

 

Raaisel: Wat het ñ olifant en ñ kokosneut in gemeen?

My winkeltjie, natuurlik! Ek word op die oomblik oorval deur olifante van elke grootte, en kokosneut-liggies te kies en te keur.

20181121_1412371989952777.jpg

Die nuwe Bangkok voorraad het verlede week ge-arriveer, so dit is ñ gerondskuifery van ñ ander wêreld. Soveel mooi geskenkies vir die Kersseisoen dat ek self ook nie kophou nie.

20181121_141115797505444.jpg

Ek het vir die eerste keer kokosneut- ligte aangeskaf en verwonder my aan die kuns wat hierdie verg.

20181121_131413443369331.jpg

Vir die kleingoed is hier kameelperd liggies, vir pa olifant wynbottelhouers en coasters, vir ma op romantiese bad-aande, olifant kersblakers.

20181121_1315381583062577.jpg

Die verskillende hout vase en bakke slaan jou asem skoon weg, om nie eers te praat van die mooiste geborduurde lappe nie.

20181121_1316332036564343.jpg

Die winkel lyk asemrowend mooi, al sê ek dit nou self. Die lekkerte van net hier deurstap is op elke kliënt se gesig te sien! Voel asof my eie liggie weer aangeskakel is, al is daar ñ paar lasplekke aan die elektriese koord vir die fyn ingestelde oog.

20181120_105112663917826.jpg

xxx

 

 

 

 

Voertsek!!!

(fotos:Google Images)www-thebalistreetdog-com-24_orig

Bali het straathonde, sulke lelike effe maer brakke uit wie se pad uit jy liewer probeer bly. Hulle vorm so deel van die eiland-kultuur soos die Balinese en hul unieke, aangepaste Hindu geloof self.

Die Bali gesinne bly in ñ kampong, ñ omheinde area met ñ hele klomp strukture in die middel. Daar is net een ingang na hierdie kampong toe, gewoonlik met ñ lieflike uitgekerfde voordeur en al. En daar op die boonste trap lê hulle, so half met die voorpote wat oor die rand hang; die waghonde.

Die Balinese manier van samewerking in verskillende gemeenskappe waar elkeen ñ spesifieke plig het, sluit die straatbrakke ook in. Is jy ñ Bali Hond, kom jy uit ñ belangrike geslagsregister van brawe, hoogs intelligente diere.

Alhoewel die jonger Bali-gesinne deesdae pragtige speelerige Breed Dogs aanskaf, het elke huishouding steeds ten minste vyf wagters. 

Durf jy jou voet op die onderste trap plaas, hoor jy die lelikste grom en sien jy net skêrp tande raak. Gee pad, loop, voertsek, dis nie jou huis hierdie nie!

Hulle het ñ baie belangrike plek in hierdie eiland gemeenskappe, en is deel van die eko-sisteem.

As ñ werkende Bali Hond hou jy slange en rotte weg van jou huismense se eiendom. Met die duisende der duisende offerings, offerhandes wat daagliks op die sypaadjies geplaas word, is die siektes wat rotte saamdra, legio. Straathonde eet al wat ñ offerhande is op, of hulle nou daarvan hou of nie. Jou werk is jou werk. Sodoende word die rotte-plaag beheer.

C-TOQWjWsAAwOor

Slange het ook ñ heilige vrees vir die Bali Hond, en met diè dat hy vir elke gevaar ñ verskillende blaf blaf, verstaan die huismense presies waaroor gewaarsku word. Die slang-blaf hou die hoenders en eiers veilig, en keer dat die kinders gepik word. Merkwaardig, ek weet.

Dan nog iets. Die Bali Hond ken van geeste. En nie sommer net nie, daar is verskillende blafgeluide vir verskillende geeste. In hul professionele hoedanigheid laat weet jou Bali Waghond jou dus presies watter gees in aantog is.

Soos ek al voorheen vertel het, volgens Wayan is dit jou slegte karma wat jou as ñ straathond laat terugkom. Hy vermoed heelwat van hulle behoort aan sy een familie, want diè is glo ñ klomp dobbelaars met geen respekte vir die samelewing nie. So hy is maar versigting om nie te veel met hulle te raas nie, want jy weet mos nou nooit of dit oorlede Ketut se Madè se agterkleinseun Wayan is nie.

Ek skryf sommige hiervan dalk met die tong in die kies, maar dit fassineer my om te sien hoe mense tog oorleef onder vreemde omstandighede. My westerse kultuur wil voorsê en verwag dat hierdie honde almal gevang en behandel word, ingespuit en in goeie omstandighede geplaas word. Die Balinees sal my met ongeloof aankyk en ñ innemende glimlag gee.

Siestog, die arme vrou, sy weet seker niks van die lewe af nie…Kom sekerlik uit ñ geweldige agterlike gemeenskap uit…en dan nog so dom ook!

Jip.

xxx

As liefde uitgedeel word.

time-of-tranquility

Ek het hierdie naweek die wonderwerk van vriendskappe beleef. ñ Sterk mens, ñ mens in eie reg, ñ vrou wat weet hoe om liefde uit te deel en liefde te ontvang.

Terwyl ñ vertrek vol vroue elk hul lewenspaadjie wat saam met ons eregas van die dag gestap is, kon deel, was die knop in my keel te groot om weg te sluk. Soveel sakke sout wat oor jare saam opgeëet is, soveel trane wat in deernis afgevee is en arms wat in die lug gehou moes word. Die vertrek was deurweef met deernis en sag en mooi, vrouens wat hul omgee vir ñ gesamentlike vriendin kom toon.

Meeste van ons smag na hierdie soort veilige hawe. ñ Plek waar mense van vlees en bloed jou aanraak, jou aanmoedig, jou versorg. Nie net woorde sonder dade nie, maar die gee van jouself sonder om terug te hou.

Wat ñ voorreg om deel hiervan te kon wees. Wat ñ trotse gevoel om na ñ vriendin te kyk en die liefde waarmee sy aanmekaar gesit is, te sien uitstraal. Haar omgee is tasbaar en sy het elkeen van ons saggies ñ plekkie in haar lewe gebied. Sonder voorbehoud.

Jy betree ñ nuwe lewensfase, WoordNoot; mag die God van lig altyd so helder in jou lewe bly skyn.

 

 

Damduikers.

So is ons vandag besig om die hiasinte weereens uit ons baai te verdryf/te trek. Dis groot sports. Die manne werk hulle alies af; een ry met die jet-ski rond en tou uit terwyl ons middeljarige girls in die ongelooflikste heerlikste damwater rondhang. Elk het ń life-jacket aan, en ons por die manne uit volle bors aan. Damduikers, in murg en been. Kort-kort skreeu een benoud as ń orige vis dink ons is ń stukkie kos, maar verder is dit ń chillery van ń ander wêreld.

Soms is dit broodnodig om die lewe en sy verantwoordelikhede bietjie eenkant toe te skuif. Ek het wel ń keer of twee onder die water in gesak en gewens ek kon net daar bly, maar die lig daarbo bly net te aanloklik.

Dankie tog vir hoop en krag, vir liefde en vreugde as lewensreddingsbaadjies.

Daarsonder sal ek verseker sink.

Die paddakombers loop deur ñ sif…

0mk07wzuahny

…met ander woorde, dit reën hard.

As ek, soos vanmiddag, net na die rekenaarskerm sit en staar, help dit om my Afrikaanse Idiome-boek nader te trek, die een wat Estelle-vriendin as geskenk gegee het kort nadat ek begin blog het.

Ons eet vandag padda-in-die-gat, of ons eet ñ gereg wat met deeg bedek is. Hoe op dees aarde het die mense daarby uitgekom?

So waar as wat kikvors met padda getrou het…Dis baie waar, want ñ kikvors is ñ padda.

Hy is onder die padda se kombers, hy is in die water.

Soms as ek hierdie gesegdes sit en deurlees, raak ek hartseer omdat ons nie meer so praat nie. Nou het ek ñ plan gemaak. Hierdie komende Desembervakansie is ons en al ses die kleinkinders vir twee volle weke bymekaar by die TO Stand in Natal. Ouma gaan haar dik boek saampiekel, en probeer om die kleinstes elke dag met ñ nuwe idioom te vermaak.

My beskeie poging van die jaar om tot ons taal se groei by te dra.

So waar as padda manel dra!

nature-wallpaper-1440x900-2027-460a22cd

En nou, tannie Bali?

images (12)

Hoekom skryf jy minder? Is iets verkeerd? Praat met my. Kan ek help?

Hierdie is lekker oproepe om te kry; sulke whatsapp boodskappe is kosbaar. Daar is sowaar mense wat oplet, ouens wat raakhoor.

Iemand gee om.

By die dam gebeur die lewe. Dalkies te veel en te gereeld, maar wegkomkans is daar nie. As jy nou boonop van struktuur in jou lewe hou; as jy goed funksioneer wanneer jou mense almal redelik uitgesorteer is, kom jy nie heeltemal reg sodra ‘paw-paws die fans strike nie’. MEERVOUD.

Die musiek-klanke in my lewe wil nie saamwerk en mooi melodië maak nie. Kyk, en ek probeer hard om dingetjies te kry om almal min-of-meer dieselfde wysie te neurie. As vrou en ma en ouma werp ek als in die stryd sodat soprane en alte harmoniseer.

Die musiek-note bly vals. Of die bladstuk verskil. Dalk Novembermaand?

So tussen-in kan ek darem nog lag, al is dit nadat ek ñ paar trane moes wegpik. Lag vir myself. Lag omdat my lewenslesse-hopie weer hoog gestapel staan.

Die selfie hierbo is nie heeltemal outentiek nie, hoor.

Die spinnerakke is nog afwesig met diè dat ek so doenig is om klanke te verstel!

 

Soete herinneringe.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

img_5089-2

Hester se skrywe oor Kwazulu-Natal het my baie jare teruggeneem.

Ons familietjie het van my geboorte af tot in 1971 in die Durban-omgewing gebly. Ma en pa was albei onnies, en met Boet wat spesiale onderrig nodig gehad het, wou hulle naby die regte skool vir hom wees.

Op ñ stadium moes ons vir ñ nuwe onderwys-huis wag, en daar is besluit dat ons vir ñ kwartaal lank op Amanzimtoti sal gaan bly, in die Capri woonstelle.

download

Wat ñ absolute heerlikheid vir ñ kind! Ek kon nooit wag om nà skool by die huis aan te kom, my swembroek te kry en see toe te verdwyn nie. Sommer so stoksielalleen, met geen bekommernis ter wêreld nie.

181111_634x424

In daardie dae was Amanzimtoti die juweel van die Suidkus. Selfs buite seisoen was dit besig, en ek het heeltyd maatjies gehad. Die gety-poel was ons speelplek, die rotse my kasteel.

Ek was daardie jaar sewe, en nie veel anders het in my lewe saak gemaak nie. Ma, pa, my boeties en my maatjies. Tog kan ek glad nie onthou wat die twee seuntjies aangevang het, en hoe ma hulle besig gehou het nie. My wêreld was daardie see, die ure se swem, die skulpe optel en sandkastele bou.

Pa was lief vir visvang, en ons sou soms na ñ riviermond nader aan Port Shepstone toe ry en vir die nag gaan visvang. Ma het vir ons ñ bed in die sand prakseer, pa het ñ vuurtjie gepak, en dit was dit. Niks gevaar nie, geen reëls nie.

Ek het min sulke onthoue saam met my pa. Hy is oorlede toe ek skaars dertien was, so hierdie is een van die stories waaraan ek kan terugdink. Hy het nooit geraas nie, ma moes maar die dissipline handhaaf. Hy was ook die een wat my baie aangepor het om goed in atletiek te vaar, ma was die akademikus.

Kwazulu-Natal. Diè omgewing was so deel van my vormingsjare, en as Hester dikwels oor die area skryf, neem sy my met haar saam. Boots and all.

 

 

 

 

Haai, mens praat mos nie so nie!

Fat-Woman-Yoga-Statue-Brass-Sculpture-Thai-Solid

Hierdie was vir my regtig ñ baie moeilike jaar. Uit en uit. Deur en deur. Daar was oefeninge waardeur ek moes gaan wat my lyf fisies sleg gedoen het, ek weet. Te veel spanning, te veel emosionele drama.

Dis redelik bevrydend om op 58 te kan erken ek het gesukkel. In my verlede is ons dikwels voor gepreek dat jy positief moet praat tot dinge regkom en uitwerk. Ek doen dit nie meer nie, want die jok gaan lê iewers binne my lyf en pop dan op allerhande maniere uit. My geloof bly sterk, ek ken my Vader, ek glo in elke woord wat in die Bybel staan. Niks het daar verander nie. Maar die praat asof alles goed gaan terwyl my kop wil bars en my maag konstant pyn, dit is lankal reeds verby.

Ek sukkel dikwels, veral in myself. Ek vra baie vrae, veral oor myself. Ek onthou my foute, ek ken my beperkinge. Ek is nie ñ supervrou en super-ma nie. Daar kom defnitiewe tye waar ek net my oë wil sluit en nie weer oopmaak nie.

Ek is ñ gewone mens, en nie bang om dit te erken nie. Ek het nie altyd die regte antwoorde nie, en ek hoor ook nie altyd reg by die Here nie. Ek vra wel, ek luister na Sy stem. Dit maak my nie onfeilbaar nie.

yoga-figurines-fat-lady-woman-brass-statue-metal-handcrafted-home-decor-frog-set-of-four

Om hierdie te kan neerskryf sonder om te wag vir ñ klip van iewers af, is bevrydend. Dat ek die pad sal aanhou stap, is ñ feit. Dat ek nooit sal opgee nie, is waar.

2018 is ñ jaar wat ek nooit weer wil beleef nie. Daar, ek het dit gesê.

En sowaar, daardie bliksemstraal wat my ouma van gepraat het, daardie een is ek nie voor bang nie.

Agt-en-vyftig, ñ flippen moeilike jaar agter die rug en klaar. Dis ek.

 

 

Ag dankie Scrapy!

(all images from Google)

img_0469-e1537545639776

Niks daarmee verkeerd om net te vra nie.

Dit het nou so gebeur. Met diè dat Ineke vir Broodina met ñ vuurpyl die ruimtes laat inskiet het, het ek my eie plan begin raam.

Scrapy, kan ek asseblief ook ñ beurt kry. Ken jy mense? Kan hierdie mense toutjies trek dat ek ook in ñ vuurpylerige ding kan gaan rondrits?

Ontmoet VLAMBOM.

EcoCapsule-by-Nice-Architects2-1020x610

Kyk, dit was nou vir jou ñ anderste uitstappie hierdie. Nadat ons te perd van ons melkskommel-uittog af teruggekom het, en almal moeg in hul beddens gaan neerval het, het Scrapy my kom haal.

Say no more!

xldron-versatile-ew-earth-window-space-hotel-by-oscar-vinals8

Daar het VLAMBOM gestaan en wag, so onder die sterrehemel. Met ñ verspotte gilletjie het ek ingeklim, in die oulike spreekbuis by die venster ingepraat, en daar gaan ek! So swoosh, op, op tot doer hoog die hemelruim in.

space-theme-bedroom-attractive-master-designs-stretch-ceiling-tierra-este-9770-with-regard-to-10

Heeltemal uit my vel uit het ek eers op die bed rondgespring, en toe op my maag by die kajuitvenster lê en uitkyk.

As ek my arm kon uitsteek, het ek aan die Eiffeltoring  geraak. Ons het ñ draaitjie oor Portugal en Spanje gemaak, van rigting verander en oor Kroasië gevlieg. Al wat ek moes doen, is om ñ plek se naam in die spreekbuis in te fluister, en daar gaan ons.

Ecocapsule-by-Nice-Architects-9-1020x610

Oor die hele Rusland en China, per ongeluk te naby aan die Noord-Koreaanse grens, maar daardie stupid missiel het ons met myle gemis, en toe oor Fillepynse eilande toe. Vinnig af onder toe, oor die Great Barrier Reef in Australië.

As ek wou uitklim, het ek net aan die deur geklop. Julle, hierdie was nou pret!

off-grid-pods-to-escape-from-it-all-1020x530

Ek het nie eintlik ñ behoefte daaraan om Amerika te sien nie, maar nouja, dit was op ons pad terug huis toe, diè kant om. Moet erken, ek was aangenaam verras oor hierdie uitgestrekte wêreld!

Terug in ons eie land moes ons natuurlik ook laag oor die Kruger Wildtuin vlieg, en in Dullstroom het ek gevra dat ons bokant die polisiestasie se dak gaan hover, net lank genoeg totdat al wat ñ konstabel is genael het vir skuiling. Sal hulle leer om met my en my maatjies te voeter!

Baobab-pod-1020x610

Ek was betyds om die volgende oggend op die Groenbus te klim, natuurlik so deurmekaar soos ñ hoender met ñ stukkende horlosie in sy kop, maar dol gelukkig en tevrede.

Sug.

Dankie Scrapy. Ek voel sommer soos ñ nuwe mens.

 

 

Om meer uit te vind oor die heerlike toer van ons Towerinne en die groen bus, kliek net op die skakel en jy kan al die stories daar lees.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

 

 

 

My ‘walvis’ oomblik.

IMG_3713

Ons het nog nooit die walvisse in Hermanus ervaar nie, tot Augustus hierdie jaar. Ons was sommer net lus om te sien hoe die dorp uitgebrei het, en ry toe in. Nodeloos om te sê, ons het eers baie later daardie dag verder getoer. Vir my en manlief was dit ñ groot voorreg om hulle so te kon sit en dophou.

IMG_3761

Onverwagse tye breek soms in ons lewens aan. Jy maak ñ keuse en is verstom oor die uitkoms, goed of sleg. Jy kry nuwe insig, veral in jouself. Hoe ouer ek raak, hoe meer laat ek ruimte vir my reaksies toe. Neem die tree terug, gaan sit eenkant en ‘ervaar’. Daar is nie meer hittige uitbarstings nie, glad nie. Daar is nou ñ luister, voel, en dink. Die opweeg, die selfondersoek.

ñ Walvis-ervaring, dis wat ek dit sal noem. ñ Rigting-veranderende oomblik.

Ek is besig met groot besluite wat my werkswêreld aanbetref. Besluite wat ek nie verwag het noual nodig sal wees nie. Soos met die walvis-kykery, het dit onverwags gekom, maar dis hier en ek moet my opsies teen mekaar opweeg. Ek het nodig om op ñ bankie te kan sit en die nuwe deur my geestes oë waar te neem; my binne-mens toelaat om te kyk.

En hopenlik gaan ek in die proses natgespat word sodat die lekker van die onverwagse ñ rustigheid kan bring.

 

 

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg