Daily Life in Bali by I Wayan Dirga:
Ek staar vanoggend na hierdie skildery, en soveel verskillende gedagtes gaan deur my kop. Ja, die kunstenaar was reg, hierdie is soos die lewe op die eiland lyk; vol. Daar is geen direkte skeidslyne tussen aktiwiteite nie, dis net ñ deurmekaar gevleg van punte. En elke punt is ñ begin, en het ñ einde.
Hoe het dit gebeur dat my lewe so verstrengel geraak het met ñ onbekende eilandjie (toe nog onbekend, 2004) iewers tussen Indonesië se duisende ander?
Die verhaal het ek al vertel, maar vir my sal dit altyd net ñ wonderwerk bly. Die storie van ñ Suid-Afrikaanse ma van drie dogters, ñ huis-mamma, wat daagliks gebid en gevra het, Here, as dit net effens moontlik is, maak vir my ñ deur oop sodat ek op eilande kan rondbeweeg. Maak die wêreld asseblief vir my op ñ skrefie oop.
Die deur is reeds veertien jaar lank wawyd oop.
My opskrif, ek staan op die stoep, hier voor my winkel in Harties, en ek kyk na die sentrum-lewe wat om my rondbeweeg…
Hier is ñ polsslag van sy eie, dalk nie so eksoties soos op Bali nie, maar ook vol begin-en-eindpunte. Dit was Saterdag 1 September, ñ jaar vandat ek hier oopgemaak het. En in dié jaar het ek myself hier voel inskuif, regskuif. Ek is deel, ek ken elke tweede gesig wat hier verbystap; ek herken die restaurant se verskillende geure van hul disse, ek weet van elke kelner en sekuriteitswag en Spar-werker en Total-garage joggie se familie. Ek kuier saam met die hardeware-winkel personeel, laat my hare sny by die salon twee winkels verder, besoek die mediese dokter en apteek af en toe, bestel ñ toasted-broodjie van die Wimpy af, gaan kyk as die nuwe besending sonbrille by die oogkundiges uitgepak word, en klink ñ glasie saam met die eiendoms-agent tannies op ñ goeie verkope.
Net soos in Bali het ons ons eie gemeenskaps-lewe hier langs die dam. Of ons nou wil of nie, ons is ingeluit in die asemklop van die omgewing.
Die Bali-mense het ñ motto, so ñ tekening van hoe hul wêreld werk.

Met my ‘staan en leun teen die deur,’ besef ek, hier is ek ook so deel. So sonder dat ek regtig bewus was daarvan, het ek ingeskakel; is ek opgeweeg en ingeneem. My hart hunker dalk kort-kort na my droom-wêreld oorkant die waters, maar my werklikheid is hier. Nou.
Die besef is goed, want my natuur is om lank voor ñ afskeid reeds te begin treur, te begin neerlê. Oor ñ jaar van nou af is die moontlikheid ge-opper dat ek sal toemaak. Aanbeweeg. Wegbeweeg. Die mense na aan my weet hoe ek met hierdie gedagte worstel, oorlog maak. Daarom dat ek sê, die besef is goed.
Daar is altyd begin-en-eindpunte. Sal altyd wees. Dis die leef in die NOU wat ñ raam om die prentjie gee. Sodat die herinneringe altyd kan bly.

Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.