
Hierdie is ‘n vervolgverhaal deur verskillende bloggers. Om die eerste 14 hoofstukke te lees, klik op hierdie InLinkz skakel:
http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=789999
Hoofstuk 14 se einde…
“Ek het na die ou meneer weg is hospitaal toe die brief in die studeerkamer gekry. Maar ook baie goed gehoor. Hoe kwaad Klara, Chris en hulle ma vir Nellie was, en haar blameer vir alles. Ek het toe besluit om die brief vir myself te hou en gebid dat Nellie uit die addernes sal kan wegbly. Die ou meneer is dood, dinge is maar wild op die plaas. Eergister, toe hoor ek vir Chris op iemand oor die foun skreeu dat Nellie by jou in Kimberley kan wees. Hulle het klomp goed van pille en geld en vliegtuie gepraat. Ek het gehoor hoe Klara en Chris praat om jou te vang om hulle na Nellie te lei…Ag Jirretjie tog, meneer moet my glo dat Nellie ‘n goeie kjênd is….”
Hoofstuk 15: Die graf is gegrou…
“Danielle, wat kriewel jy so?”
“Man, dis hierdie verdekselse baadjie wat ek onder my klere moet staan en dra, die ding is swaar en dis ongemaklik!” Cobus beweeg nader en help haar dit regskuif. Die skewe glimlag om sy mond laat haar haar asem skerp intrek, en sy vingers wat ñ ekstra oomblik te lank teen haar bors rus veroorsaak ñ trilling deur haar lyf. Wat is dit tog in hierdie man wat maak dat sy heeltemal kop verloor..!
Atholl Wolfaardt gee een laaste kyk of als oral gereed is. “Stilte…Aksie.”
Renier maak ń verstelling aan Nellie se koeëlvaste baadjie. “Jy is seker jy is reg hiervoor?”
Nellie knik haar kop, maar kyk nie op nie. “Ek is. Ek moet wees. Ons moet hom uitvang.”
Renier voel hoe die sweet in straaltjies teen sy ruggraat afhardloop. Vandat hy inligting ontvang het dat Chris die polisiestasie sit en dophou, en ñ plan in sy kop vorm begin aanneem het, bly hy onrustig. Hierdie saak is baie meer ingewikkeld as wat enige iemand vermoed het. Nadat hy die brief van Esra deurgelees het, en hy Lettie goed ondervra het, weet hy net een ding. Vir Nellie se onthalwe, vir haar veiligheid, moet hy die saak vinnig oplos. Hulle moet by die ware skurke uitkom. Klara en Chris is net pionne, en Nellie het betrokke geraak sonder dat sy besef het wat aangaan. Maar sy is nou betrokke, en hy het bewyse van haar onskuld nodig.
Dié Chris-mannetjie sit nou al twee dae en rook in die motor daar op die hoek. Sy sersant het ñ paar keer verbygestap, in gewone klere asof oppad kafee toe. Chris is alleen in die voertuig, en hy hou die kantore deur ñ verkyker dop. Ry net af en toe iewers heen, maar kom altyd na ñ uur weer terug.
Hy maak weereens seker dat die apparaatjie in Nellie se oor onopsigtelik is.
“Nellie, ons is heeltyd naby jou, jy hoef nie bang te raak nie. Sodra Chris weer opdaag en sy motor parkeer, gaan jy doodluiters hier uitstap, so vinnig as moontlik die pad na die kafee toe volg. Hy gaan dink jy is vrygelaat, en ons het seker gemaak dat hy en Klara geen kontak kon maak nie. Sy sit veilig hier agter in die selle, en dink op haar beurt jy is ook toegesluit. Chris is alleen.”
Sy lig haar kop vir die eerste keer op en kyk hom vas in die oë. “Dankie Renier, dankie dat jy my glo. Dankie vir my een kans.” Haar oë skiet vol trane, en Renier moet behoorlik op sy tande kners om haar nie aan te raak nie. Hy wil haar in sy arms toevou, haar laat veilig voel…
Die sersant loer om die deur. “Hy is terug, luitenant Nel.”
Dis omtrent sestig meter tot by Chris se motor. Nellie dwing haar bene om te begin stap, haar gedagtes ñ warboel van emosies. Fokus, Nellie, praat sy met haarself, doen dit vir hom, hy glo in jou.
Renier hou sy asem op. Sy stap op die sypaadjie, vinnig, soos iemand wat so ver as moontlik van die polisiestasie af wil wegkom. Hy weet Chris gaan haar oplaai, in die motor indwing, dalk ñ ent met haar wegry. Die polisievoertuie staan almal gereed, Chris sal nie agterkom hy word gevolg nie. Nellie se opdrag is om hom uit te lok, hom aan die praat te kry sodat hulle kan toeslaan; hom in hegtenis neem.
Sy is veilig, hy het aan alles gedink.
Nellie bly stap, sy kyk glad nie in die rigting van die motor nie. Sy vermoed Chris het stadig agter haar begin aanry, dalk ñ u-draai gemaak. Dis so ñ honderd meter tot by die kafee.
Sy is reg. Chris ry verby haar, en trek doodluiters in ñ parkeerplek langs die pad in, voor die kafee. Mense kom in en uit by die deure, en niemand steur hulle aan die jong meisie nie.
Chris leun oor en maak die passasiersdeur oop. Sy moet reg langsaan verby loop.
“Nellie” roep hy. Nellie gaan staan stil, kyk hom woordeloos aan.
“Nellie, asseblief, ek is bekommerd oor Klara. Praat net ñ oomblik met my…”
Nellie beweeg tot by die deur, en buk om by die motor in te kyk. Alles lyk veilig, geen wapen in sig nie.
“Wat wil jy hê, Chris, ek het nie die geld meer aan my nie.”
“Klim in, dan praat ons. Ek sal jou nie skade aandoen nie.”
Nellie weet sy moet, dis afgespreek. Tog, dis asof iets haar waarsku, maar wat? Al skiet hy na haar, sy het die baadjie aan, sy sal ok wees. En Renier is naby…
Sy klim in. “Maak toe die deur, Nellie, ons ry ñ entjie, ons kan nie hier bly sit nie.”
Iets is verkeerd, weet Nellie. Sy hou die deur op ñ skrefie oop.
“Nee Chris, ons praat net hier. Wat gaan aan. Jou pa is dood, jy en Klara is betrokke by drugs en vervalste geld. Hoekom?”
Renier en die twee ondersoek-beamptes luister aandagtig na die gesprek. Nou, nou, as hy net wil praat…
Dit gebeur so vinnig. Sy sit nog met haar hand op die deurhandvatsel, haar een voet reeds buite. Iets tref haar teen die slaap, iets kouds en baie hard.
Voor sy wegsink in die swart massa wat haar meesleur, hoor sy die stem.
“Ry Chris, ry. Kry ons hier weg…”
Krissie Viljee strek vooroor en pluk Nellie binnetoe, ruk die deur toe. Haar harde oë gluur die slap kind hier voor haar aan.
“Ons het haar, ry. Nou net van haar ontslae raak, dan is ons weer veilig. Jy weet waarheen.”
“Ma, ek dink steeds nie ons hoef haar te skiet nie.” Hy wens hy kan ñ kans kry om vir Gawie te bel en te vra wat om te doen, maar sy ma sal hom nie toelaat nie. Sy en Nellie se broer verskil oor geld, en sy wil deesdae nie meer saam met hom werk nie. Maar Gawie Visagie is eintlik in beheer van die operasie, hy sal kan voorsê.
“Nou kies jy dan. Dis sy of ons…” Krissie sit met genoegdoening agtertoe. Die kombers waaronder sy weggekruip het, stoot sy eenkant toe. Dit sal bruikbaar wees vir Nellie se lyk, voor hulle haar toegooi.
Sy en daardie tweegesig pa van haar; niemand sal ooit weet Nellie lê onder hom begrawe nie…
Chris trap die petrol pedaal en hulle skiet vorentoe. Moet hy sy ma toelaat om haar te skiet sodat almal weer veilig kan wees, of moet hy keer?
…
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.