Miskien liewer nie.

(Google Images)New-Singapore-Business-Class-3

Ek kán droom, groot ook. Veral as dit by vliegtuig-sitplekke kom.

Nog net twee-en-twintig slapies voor ek Bangkok toe vlieg, en my tas is al so halfpad gepak. Plus-minus nege ure se vlug tot op Dubai, en dan nog vyf ure tot in Bangkok.

As ek maar net… Dit gaan sekerlik nooit gebeur nie; geen manier wat ek ñ besigheidsklas kaartjie betaal wat drie keer die gewone prys is nie.

En selfs al kon ek dit bekostig, hoé lê mens nou so in die middel van ñ kajuit en slaap terwyl almal jou kan dophou?

Lugrederye verskil gelukkig, maar Singapore Air, die een wat my jare al Bali toe vlieg, is nou juis die een wat my my oë laat rek. Dalk as ek ñ kussing op my kop sit en my verbeel niemand sien my raak nie? En eens ek slaap, diep slaap, wie weet wat vang ek aan, wat mompel ek, of erger nog…, so hier tussen al die afgunstige oë!

qatar Airways A380

Hierdie enkel sitplek-bed kan dalk werk, so ñ effe meer privaat.

Indien ek nou so gelukkig is om ñ dubbel sitplek vir myself te hê, gaan ek ook nie kan ontspan nie. Want shame, hier lê ek in heerlike luuksheid, en oorkant die paadjie sit drie mense soos sardientjies ingeryg!

Byz7nZcCQAApbAo

Sug. Ek bly maar net by my gewone venstersitplek-keuse. Regop. En sodra die slaappil inskop, gaan kuier ek in my drome in Eersteklas rond. Goedkoper ook, op hierdie manier. Defnitief veiliger!☺

images (2)

 

“Rock around the clock tonight…”

(google-images)016b9303b45b076c654064a22d1ef2a2

As ñ familielid tagtig jaar oud word, die plek is die Aquatic Klubsaal in Ifafi, en meeste mense kom van Johannesburg af, dan kan jy maar weet. Daar gaan gejol word!!!

Die Aquatic Klub is ñ ‘eilandjie’ op ons dam wat aan die weermag behoort het. Vandag is dit ñ vissermans paradys. Daar staan ñ hele klomp permanente huise, ook Wendy huise wat aan naweek besoekers uitverhuur word. Geen troeteldiere word toegelaat nie, aangesien die voëllewe hier ‘uit sy nate bars.’

In 2010 het ek en manlief vir ñ paar maande hier gehuur, en dit is steeds by verre ,vir my, die beste plek langs die dam om te bly.

download

Ons twee daag vroeg op want Bertus moet ñ boot se lisensie gaan uitreik, so gepoeier en getie, die partytjie-drag is swart en wit, parkeer ons die motor en stap sommer na die mense toe. Die huise het geen heinings om nie; die kinders speel oral oor; bure kuier by bure, en sover as wat ons loop, groet almal luidkeels. Ag, my hart! Dis ons twee waterbabas se mense hierdie; plat op die aarde, luid en so opreg gasvry.

By Bert se kliënte, wat ook kerk-vriende is, is daar ñ heerlike familiebyeenkoms aan die gang. Jong mense wat by die oom en tannie kom kuier, en ñ tafel wat kraak onder doughnuts, gevulde pannekoeke en die buurtannie se bobaas merinuetert.

Hier hak ons effe te lank vas. Terwyl Bert die boot evalueer, sit ek en oom Robbie en rooiwyn drink, die jonges babbel soos spreeus en tannie Brenda bly net verversings aandra.

Ons kom eers tydens die einde van die toesprake by die klubsaal aan, en sluip soos twee stout kinders agter in. Maar nee, as dit jou oorlede skoonma se sussie is wat verjaar, en die saal is stampvol van jou man se bloedfamilie, gebeur niks stil en skaflik nie.

df90f2f56da7ecb373d4111424ede61c--esther-fat

Dit was ñ heerlike aand. Daar is ordentlik ge-party, met kleintjies wat ewe kliphard saamdans en jive. Die kunstenaar wat glo hier in Harties reg langs Dozy bly, het ons op die dansbaan gehou sonder ñ oomblik se rus. Tannies en tannies het met mekaar gedans, tannie Dorothy het met haar tagtigjarige lyf vir ons solo-danse uitgevoer soos geen jonge kan nie, omies het met jong skoondogters getwist, en die uwe en haar man het kliphard meegedoen.

Sug.

Dis ons mense hierdie, en ons is trots daarop. Daar was dalk nie ñ servet in sig nie en die vleissous het geflop, maar o, hierdie was net die lekkerste lekker ooit!

Natuurlik het ñ paar ongenooide vissermanne later nader gestaan, want so ñ partytjie kan mos nou nie ge-ignoreer word nie. Hulle is met ñ luide gejuig verwelkom. Saam-saam het ons klomp die aand ‘uitgedans,’ en later met heerlike nuwe herinneringe huis toe gekeer.

Ons dam se visse…ganse… hierdie.

xlargee4be2c022870cb8eb0e5d20e5c6e05bd6

(spesiaal vir skoonsus VirgoC geskryf.)

Seuntjie-kinders.

Ons het drie van hulle; 10 jaar, amper sewe, en twee. Seuntjie mensies.

As ñ ouma, as ek vandag so na die lewe kyk, hoop ek ons kan ñ paar defnitiewes in hulle weses vasmaak. Ja, ons spot altyd, sê mos ñ mamma moet onthou sy maak haar seun vir ñ ander vrou groot, so sorg dat hy alles wat jy graag in ñ man wil hê, aan hom vasmaak.

Dit is seker so, maar ek voel daar is ander belangrike eienskappe ook wat ek in die oorgrote mans mis. Dalk in mense mis.

Respek vir almal. Hierdie is volgens my lewensnoodsaaklik, want dit verhoed selfs sekere probleme in ñ huwelik. Soos om te sorg dat jy betyds by afsprake opdaag. Dat jy eers luister wat op ñ ander se hart is, voordat jy jou gevoelens uitpak. Om jouself te leer dat jou manier nooit ooit die enigste manier is nie. Om sterk genoeg in jouself te wees om ander, veral jou eggenoot, die ruimte te bied om tot hul eie volle potensiaal te groei.

Om jou woord gestand na te kom. My hart wil breek as mense beloftes maak, baie opreg, en dit dan nie nakom nie. Soos om ander geld te skuld, en dit te bly uitstel omdat jou eie dinge nog nie reg is nie. Ek wil my kleinseuns leer dat jy jouself nou maar moet indoen voordat jy dit aan ñ ander doen.

Ons het redelik arm grootgeword, so ek verstaan van ure aftel tot iemand jou moet betaal. Wat ek in ons samelewing sien, is dat veral ouens in beheer van geld, hulle soos godjies gedra. Ek raak naar daarvoor!

Daar is ñ boek, SNAKES IN SUITS, when Psychopaths Go to Work…, en die boek som dit goed op.

My ouma gene wil ons kleinseuns die belangrike dinge leer. Dat jy sukses kan behaal deur jou mense eerste te stel. Deur jou eie vrese face-on aan te pak en dit te sien vir wat dit is, sodat jou eie screwed-up geid nie oorgedra word aan ander nie.

Hulle moet besef die lewe skuld hulle niks; dat as hul werk hul sielsongelukkig maak, jy moet aanbeweeg. Jy. Net jy kan die verandering bring.

Daar is seker nog baie ander dingetjies ook, soos dat hulle mag bly huil, dat ñ vrou vulnerability in ñ man kan hanteer. Dat lag baie belangrike medisyne is.

Ek sien die onmenslike moorde wat jong seuns uitvoer, selfs op hul eie families. Ek kan nie eers begin om te dink wat alles in hul siele verkeerd geloop het om tot daar te kom nie.

Al wat ek wel weet is dat ek as ouma ñ rol het om te speel. Moet speel. Nie een wat godsdiens in hul kele afforseer nie, maar een wat haar liefde op so ñ manier uitleef dat die kleinkinders aangetrek word deur die Jesus in haar.

En nou na hierdie mondvol, gaan ek hier agter in my winkel-hoekie boontoe praat.

Help my asseblief om ñ pion in U hand te wees, Vader. Want dit is al wat ooit kan werk.

IMG-20160918-WA016

 

 

 

 

Woorde.

Ek skryf hierdie eintlik net vir myself, want ek moet.

Boet, wat gebeur met jou; in jou? Ma is al ses jaar weg hemel toe, en nou, hierdie laaste twee keer wat ons jou sien, begin jy ñ fel reaksie toon. Nou eers. Hoekom?

Toe jy drie weke gelede by die huis was, het ek jou gekry waar jy half verergd met die Here gepraat het, op jou manier. Oor jou ma en pa en boetie, en almal wat klaar weg is, net nie jy nie. Toe vanoggend stop Bertus vinnig by die tehuis met ñ pakkie vir jou. Die Proteas  Springbok-krieket t-hemp wat jy so graag wou hê, ons het dit die naweek op die lughawe vir jou raakgeloop.

Bert bel my nadat hy by jou weg is, en ek hoor sommer daar sit trane in sy stem.

“Ouboet is nie lekker nie. Hy is omgekrap en sommer net kwaad vir die lewe. Hy bly oor en oor praat van almal wat dood is. Oor en oor. Ek kon hom darem weer laat glimlag deur die hemp te gee, en sy nuwe Huisgenoot. Maar.”

Ek weet. Maar.

So nou skryf ek die woorde hier vas.

Want wat anders.

Daardie lekkerkry gevoel.

20180822_1406492141133469.jpg

Self. Ek het hom self gaan haal, en vir my was dit ñ groot oorwinning. Johannesburg se snelweë was nog altyd vir my ñ nagmerrie, en as Bertus nie agter die stuur is nie, waag ek dit glad nie daardie kant toe nie. In aggenome dat ek ook nie ñ GPS gebruik nie, hou ek my maar by Brits en Pretoria se strate.

My alie jeuk noual twee weke lank. Manlief het my op Vrouedag na ñ spesifieke pakhuis toe geneem, in die middel van Johannesburg se industriële gebied. Die mense voer meubels van regoor die wêreld in, veral van Indië af.

Ons het in ons kanonne in verdwaal om daar uit te kom, so die uwe het geen idee gehad van haar rigting nie.

So breek gister aan. Eers drentel ek in die dorp rond, glad nie lus vir my dag nie. Sluit die winkel lekker laat oop, en voel nie eers sleg dat mense dalk moes omdraai nie. Praat van rebels!

Ek is skaars ñ halfuur hier, toe neem ek die besluit… Daardie bankie wat ek so begeer om vir die winkel te gaan aankoop, hier gaan ek. Sê nie ñ siel nie, skryf ñ vinnige briefie en plak dit op die deur, loer by die selfoon-Pakistanies hier langs my in en vra dat hulle vir almal sal sê ek het voorraad gaan haal, en doer gaan ek.

Die adrenalien het behoorlik deur my are gedruis. Opgewonde soos ñ stout kind maneuver ek die grootte Amarok sonder ñ enkele fout tot by die pakhuis.

Maar hoe?

In daardie halfuurtjie voor die ekskursie begin het, was dit ek en Google Maps. Tot dit in my kop sin gemaak het, het ek daardie kaart bestudeer. Sien, dis my amazing Brakpan-roots. Paaie is ñ hengse uitdaging, die ietwat gevaar daaraan verbonde om vrou-alleen in Johannesburg rond te kerjakker, net die olie op die vuur.

Twee ure later is ek terug by die winkel, en sluit ek oop asof ek die jackpot gewen het! Ek kan, en ek het.

My bankie staan ge-olie en ge-poets gereed vir ñ koper, en sodra hy ñ eienaar kry, wirts ek weer hier weg. Soos ñ wafferse cowboy op my Duitse hings.

Hierdie kan nogal verslawend raak, ek weet. Maar ag, dis heel onskuldige pret en dit bring geld in.

Self, soos boetie Xander deesdae bly sê, en dan ñ stoute tantrum gooi as self nie toegelaat word nie. So hierdie bly ñ blogger-geheim.

(Maar indien ek eendag vermis raak, beter julle Bertus net op ñ mooi manier inlig waar om te gaan soek. Iets soos ‘sy vat mos kort-kort die pad Jo’burg toe, man’. Dankie.)

 

 

Dying Swan.

PIC 2_VAMP_THE DYING SWAN_05122014 (2)

En so amper gaan sit ek op haar!

Tretchikoff se Dying Swan; moontlik het baie van ons so ñ afdruk iewers in ñ stoorkamer. Dalk teen die muur. Ma het dit by haar pa ge-erf, en net bly sê ek moet dit bewaar. Brakpan kind wat ek is, het ek nie eintlik ñ insig in die kunste-wêreld nie. Ek het wel kuns as ñ matriek vak gehad, maar dit beteken nie veel nie. Veral nie as mens nou weet wiskunde was ook een van my vakke nie…

Ewenwel. Die naweek wat nounet verby is, het skoonsus VirgoC vir my en haar boet ingevlieg Kaapstad toe. Sy en Caron, of te wel Padda, is vir ñ paar dae hier van Dubai af. Ek en manlief is behoorlik bederf, vier volle dae lank.

Ons het die voorreg gehad om vir Toortsie en Seegogga op Napier vir ñ l..a..n..g middagete te ontmoet, ñ tydjie wat gans te kort was. Dit was ñ kuier wat ek vir baie lank gaan koester, vashou teen my hart.

Trommeltjies en haar man het ons Maandag vir nog ñ heerlike kuier in Durbanville ontmoet, en daarna het hulle ons lughawe toe gevat. So my glasie is vir ñ rukkie vol van wonderlike hartsmense.

Dying Swan. Daar is ñ winkel in die Kaap, die mooiste wat ek in my hele lewe gesien het…en dis daar wat ek ampertjies hierdie vreeslike sonde gepleeg het, om bo-op die kussing te gaan neerplons. Mens kan mos nou glad nie so blind wees en haar, die swaan en ballerina, miskyk nie! My ma skud seersekerlik steeds haar kop daar bo.

Hierdie winkel vol skatte het haar selfs teen die muur. Ek wou in trane uitbars toe ons twee mekaar na jare weer raakloop.

28378222_1214549598577277_6044222904795314762_n

My “Dying Swan” afdruk het ñ geheim bewaar, vir jare. Oupa en ma het albei briefies vir my geskryf, nog voor my geboorte, en dit aan die agterkant van die afdruk, onder die bruinpapier laag, weggebêre. Daardie briefies is as standerd vyf dogter gelees, terwyl moeks my hand gesit en vashou het. Net sodat die openbaring my nie te veel sou skok nie.

Dit het geensins. Inteendeel, dit het gemaak dat my hart ekstra simpatie en empatie met ongehude moeders gekry het.

Want ek was so ñ kind. Een wat eintlik skande oor die familie gebring het deur my geboorte, maar deur ñ oupa se wonderlike liefde, en ñ moeks wat met alles in haar, sterk bly staan het en die skande vierkantig in die oë bly kyk het, het die storie goed ge-eindig.

My Dying-Swan skildery gaan Saterdag uit die stoorkamer gehaal word, skoongemaak word en ñ nuwe raam kry. Familie stories is mos belangrik.

PIC 17_VAMP_DYING SWAN_10052018 (1)

 

 

Kaleidoskoop Hoofstuk 15: Die graf is gegrou…

1297911849644_ORIGINAL

Hierdie is ‘n vervolgverhaal deur verskillende bloggers. Om die eerste 14 hoofstukke te lees, klik op hierdie InLinkz skakel:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=789999

Hoofstuk 14 se einde…

“Ek het na die ou meneer weg is hospitaal toe die brief in die studeerkamer gekry. Maar ook baie goed gehoor. Hoe kwaad Klara, Chris en hulle ma vir Nellie was, en haar blameer vir alles. Ek het toe besluit om die brief vir myself te hou en gebid dat Nellie uit die addernes sal kan wegbly. Die ou meneer is dood, dinge is maar wild op die plaas. Eergister, toe hoor ek vir Chris op iemand oor die foun skreeu dat Nellie by jou in Kimberley kan wees. Hulle het klomp goed van pille en geld en vliegtuie gepraat. Ek het gehoor hoe Klara en Chris praat om jou te vang om hulle na Nellie te lei…Ag Jirretjie tog, meneer moet my glo dat Nellie ‘n goeie kjênd is….”

Hoofstuk 15: Die graf is gegrou…

“Danielle, wat kriewel jy so?”

“Man, dis hierdie verdekselse baadjie wat ek onder my klere moet staan en dra, die ding is swaar en dis ongemaklik!” Cobus beweeg nader en help haar dit regskuif. Die skewe glimlag om sy mond laat haar haar asem skerp intrek, en sy vingers wat ñ ekstra oomblik te lank teen haar bors rus veroorsaak ñ trilling deur haar lyf. Wat is dit tog in hierdie man wat maak dat sy heeltemal kop verloor..!

Atholl Wolfaardt gee een laaste kyk of als oral gereed is. “Stilte…Aksie.”

Renier maak ń verstelling aan Nellie se koeëlvaste baadjie. “Jy is seker jy is reg hiervoor?”

Nellie knik haar kop, maar kyk nie op nie. “Ek is. Ek moet wees. Ons moet hom uitvang.”

Renier voel hoe die sweet in straaltjies teen sy ruggraat afhardloop. Vandat hy inligting ontvang het dat Chris die polisiestasie sit en dophou, en ñ plan in sy kop vorm begin aanneem het, bly hy onrustig. Hierdie saak is baie meer ingewikkeld as wat enige iemand vermoed het. Nadat hy die brief van Esra deurgelees het, en hy Lettie goed ondervra het, weet hy net een ding. Vir Nellie se onthalwe, vir haar veiligheid, moet hy die saak vinnig oplos. Hulle moet by die ware skurke uitkom. Klara en Chris is net pionne, en Nellie het betrokke geraak sonder dat sy besef het wat aangaan. Maar sy is nou betrokke, en hy het bewyse van haar onskuld nodig.

Dié Chris-mannetjie sit nou al twee dae en rook in die motor daar op die hoek. Sy sersant het ñ paar keer verbygestap, in gewone klere asof oppad kafee toe. Chris is alleen in die voertuig, en hy hou die kantore deur ñ verkyker dop. Ry net af en toe iewers heen, maar kom altyd na ñ uur weer terug.

Hy maak weereens seker dat die apparaatjie in Nellie se oor onopsigtelik is.

“Nellie, ons is heeltyd naby jou, jy hoef nie bang te raak nie. Sodra Chris weer opdaag en sy motor parkeer, gaan jy doodluiters hier uitstap, so vinnig as moontlik die pad na die kafee toe volg. Hy gaan dink jy is vrygelaat, en ons het seker gemaak dat hy en Klara geen kontak kon maak nie. Sy sit veilig hier agter in die selle, en dink op haar beurt jy is ook toegesluit. Chris is alleen.”

Sy lig haar kop vir die eerste keer op en kyk hom vas in die oë. “Dankie Renier, dankie dat jy my glo. Dankie vir my een kans.” Haar oë skiet vol trane, en Renier moet behoorlik op sy tande kners om haar nie aan te raak nie. Hy wil haar in sy arms toevou, haar laat veilig voel…

Die sersant loer om die deur. “Hy is terug, luitenant Nel.”

Dis omtrent sestig meter tot by Chris se motor. Nellie dwing haar bene om te begin stap, haar gedagtes ñ warboel van emosies. Fokus, Nellie, praat sy met haarself, doen dit vir hom, hy glo in jou.

Renier hou sy asem op. Sy stap op die sypaadjie, vinnig, soos iemand wat so ver as moontlik van die polisiestasie af wil wegkom. Hy weet Chris gaan haar oplaai, in die motor indwing, dalk ñ ent met haar wegry. Die polisievoertuie staan almal gereed, Chris sal nie agterkom hy word gevolg nie. Nellie se opdrag is om hom uit te lok, hom aan die praat te kry sodat hulle kan toeslaan; hom in hegtenis neem.

Sy is veilig, hy het aan alles gedink.

Nellie bly stap, sy kyk glad nie in die rigting van die motor nie. Sy vermoed Chris het stadig agter haar begin aanry, dalk ñ u-draai gemaak. Dis so ñ honderd meter tot by die kafee.

Sy is reg. Chris ry verby haar, en trek doodluiters in ñ parkeerplek langs die pad in, voor die kafee. Mense kom in en uit by die deure, en niemand steur hulle aan die jong meisie nie.

Chris leun oor en maak die passasiersdeur oop. Sy moet reg langsaan verby loop.

“Nellie” roep hy. Nellie gaan staan stil, kyk hom woordeloos aan.

“Nellie, asseblief, ek is bekommerd oor Klara. Praat net ñ oomblik met my…”

Nellie beweeg tot by die deur, en buk om by die motor in te kyk. Alles lyk veilig, geen wapen in sig nie.

“Wat wil jy hê, Chris, ek het nie die geld meer aan my nie.”

“Klim in, dan praat ons. Ek sal jou nie skade aandoen nie.”

Nellie weet sy moet, dis afgespreek. Tog, dis asof iets haar waarsku, maar wat? Al skiet hy na haar, sy het die baadjie aan, sy sal ok wees. En Renier is naby…

Sy klim in. “Maak toe die deur, Nellie, ons ry ñ entjie, ons kan nie hier bly sit nie.”

Iets is verkeerd, weet Nellie. Sy hou die deur op ñ skrefie oop.

“Nee Chris, ons praat net hier. Wat gaan aan. Jou pa is dood, jy en Klara is betrokke by drugs en vervalste geld. Hoekom?”

Renier en die twee ondersoek-beamptes luister aandagtig na die gesprek. Nou, nou, as hy net wil praat…

Dit gebeur so vinnig. Sy sit nog met haar hand op die deurhandvatsel, haar een voet reeds buite. Iets tref haar teen die slaap, iets kouds en baie hard.

Voor sy wegsink in die swart massa wat haar meesleur, hoor sy die stem.

“Ry Chris, ry. Kry ons hier weg…”

Krissie Viljee strek vooroor en pluk Nellie binnetoe, ruk die deur toe. Haar harde oë gluur die slap kind hier voor haar aan.

“Ons het haar, ry. Nou net van haar ontslae raak, dan is ons weer veilig. Jy weet waarheen.”

“Ma, ek dink steeds nie ons hoef haar te skiet nie.” Hy wens hy kan ñ kans kry om vir Gawie te bel en te vra wat om te doen, maar sy ma sal hom nie toelaat nie. Sy en Nellie se broer verskil oor geld, en sy wil deesdae nie meer saam met hom werk nie. Maar Gawie Visagie is eintlik in beheer van die operasie, hy sal kan voorsê.

“Nou kies jy dan. Dis sy of ons…” Krissie sit met genoegdoening agtertoe. Die kombers waaronder sy weggekruip het, stoot sy eenkant toe. Dit sal bruikbaar wees vir Nellie se lyk, voor hulle haar toegooi.

Sy en daardie tweegesig pa van haar; niemand sal ooit weet Nellie lê onder hom begrawe nie…

Chris trap die petrol pedaal en hulle skiet vorentoe. Moet hy sy ma toelaat om haar te skiet sodat almal weer veilig kan wees, of moet hy keer?

My hart klop effe stadig…

Gister het die heimwee weer begin, en vanoggend dwaal ek op my eiland rond. Dis eers toe ek hierdie video raakloop, dat ek kan glimlag. Hierdie is my plek, hierdie sal seker altyd ñ stukkie van my hart vasgevang hou. Ek drink die musiek in, die mense, die atmosfeer, die kos. Hierdie is Bali in sy eenvoud, sy opregtheid.

Die video is afgeneem op die gronde van ñ klein hotelletjie, maar dit verpersoonlik die volle eiland. Die vreemde klanke van hul musiek, hul eetgewoontes, hul menswees.

Ek het al so baie oor die eiland geskryf, vertel, maar hiermee kan ek iemand dalk ook laat voel…

Fout
This video doesn’t exist

 

Doel: mikpunt, beoog, strewe, oogmerk, plan. Of pleinweg, droom.

237f4c7646762c3ccbe007caf1e88843--fat-art-simple-art

Dit gebeur gewoonlik met my in ñ ander land, hierdie opdaag van ñ nood maar die deure bly te lank toe.

Ek konsentreer dadelik daarop om te probeer uitwerk wie gaan eerste waar uitkom, net om my aandag van die probleempie af te lei. Anders kry ek dalk ñ glips…

Te laat val dit my by dat ek nie voorbereid hier ingestorm het nie, want wat as daar nie meer toiletpapier oor is nie. En dan, wanneer my beurt aanbreek, wanneer ek by die eerste deur inbeur wat begin oopgaan, is die toilet gewoonlik verstop. Geen keuse bly oor nie, sit moet ek sit, moedeloos en magteloos… eintlik is ñ ander woord meer gepas…

In Suid-Oos Asië is ñ bykomende faktor ook die anderste geriewe; die squat-toilette. Tog, as jou beplanning dan nou nie goed was nie, en jy bevind jou ver van jou hotel af, you just do what you have to do.

Notas aan self: Wag. Wag totdat die regte deur oopgaan. Luister. Luister vroegtydig na die stemmetjie in jou binne-wêreld; moenie op nommer nege-en-negentig wil optree nie. Praat. Gesels met die aangewese persoon, met die Een wat jou droom ken, Die Een wat dit daar geplaas het. Bly gefokus, moenie net voortbeur nie. Jy kan nie foute bekostig nie. Bly voorbereid. As die groen lig aangaan, moenie twyfel nie. Selfs al lyk die prentjie effe vreemd.

As jy DIE REGTE PLAN volg, sal daar oorgenoeg van als beskikbaar wees.

d42c52c0bb02c9c2163005fc3214567f

(Jammer as iemand dink ek was disrespekvol in my skrywe, maar soms moet ek myself terugruk na die basics sodat die lewe kan sin maak en my ore kan luister.)

 

The naked chicken.

naked-chicken-sml

Hoekom? Die vet alleen weet, maar ek doen dit. Pluk daardie vere een vir een uit, eers onbewustelik, dan met oorgawe.

Ons het so ñ pappegaai gehad, Magnum. Magnum het elke nuwe veertjie op sy lyf verwoed uitgepluk. Tot die vee-artse het nie meer raad gehad nie. So word Magnum toe na ñ voël-rehab sentrum toe gestuur, vir ñ volle ses maande lank. Kom terug met ñ ge-veerde, pragtige lyf, praat net vir ñ maand nie ñ woord nie. Sit die wêreld so en aanskou.

Een aand, tydens ñ selgroep in ons huis, terwyl die leier die byeenkoms open, loer Magnum onder die lap deur wat oor sy hok gegooi is sodat hy kan slaap, en uiter een woord.

Poephol. Hard en duidelik.

Dit was nie bedoel om enige persoon te na te kom nie. Dis net dat hy die woord moontlik oor en oor in die sentrum gehoor het, by ander voëls, en dit het sy eie woordeskat oorskadu. Dit was sy bydrae vir die aand, hy wou ook net iets sê. Vir die volgende paar weke was dit al wat hy kon uitkry, al was sy veredos nou ook hoe mooi.

Ek weet die aanhoudende koue het my hierdie jaar meer gevang as voorheen. Ek weet ook ek top te maklik oor goed waaraan ek niks kan verander nie. Ek mis my twee klein pikkewyne regtig baie, die ou gat in my hart sukkel om ñ rofie te kry.

My praat is min.

A naked chicken, dis hoe ek voel. As ek in die spieël loer, sien ek egter ñ vol veredos.

Net dalk het Magnum die regte woord beet gehad. As ek so onder ñ lappie gaan uitloer en dit hardop sê…?

Net sodat my eie ore dit kan hoor.☺☺☺

 

 

 

 

My eie, eie ontwerp.

Die gogga het my behoorlik gebyt. Ek en manlief het Donderdag die Johannesburg strate ingevaar sodat ek bietjie inspirasie kan kry. En ek het… die kwyl het geloop terwyl ons deur ń Indiese meubel-plek geloop het. Die idees wat ek kan gebruik, is legio!!

Indië ja. Hulle meubels is baie meer ekspressionisties as Bali s’n, “they pull out all the stops.”

Dis waar ek nou is…agt-en-vyftig, en reg om bietjie vlerke te sprei.

Die tafeltjie op die foto: Een van skoonma Eileen se kanttafeltjies; plein. Ek het afgeskuur tot ek pienk in die gesig was, kerfwerkies uit die hart van Balie op die blad vasgegom, als oor-ge-stain, en toe vir ń totale funky afwerking, drie handgeverfde Turkse teëltjies bygevoeg. PG glass het die glas gesny, en siedaar, ń nuwe koffietafel vir ons sitkamer.

Ek is regtig beïndruk met myself. Daardie self-gevoel is wonderlik! Wens net dit was moontlik om ń paar self-foute so maklik, en met soveel genot, oor te doen.😣

Die trousseau kis.

(Google Images)452934_110624071704_ball_and_claw_kist_1

Ma het so een keer per jaar hare uitgepak. Vol ou fotos, lappies elk met sy eie geskiedenis, bababaadjies, dooprokke, ñ regte Gatsby trourok, en gedroogte blommetjies. Dit was soos om ñ skatkis oop te maak.

In Indonesië het ek al die mooiste kiste raakgeloop. Elke huishouding moet ten minste een hê, dalk meer. Met dié dat hulle self nie eintlik baie meubels in hul huise hou nie, is ñ kis die belangrikste stoorplek. Dit is heel dikwels in die vorm van ñ bank, sommer twee vlieë met een klap.

fb_img_14579186629578756

Ek het veral kiste met ñ Sjinese of Indiese invloed raakgeloop; mooie kunswerke met baie kleur.

4ff84dc519fb2238bf08b36d33b3dfdd

Die gewildste kiste, vandag nog, is die Grobog. Handelaars het jare lank hul ware daarin gepak, en dan in die strate rondgestoot; ñ winkel op wiele.

139

Hul mooiste kiste bly maar die trousseau-kis, die een item wat elke jong meisie by haar ma kry. Met baie kerfwerk op, gewoonlik ñ uitbeelding van die familie geskiedenis.

5e399cc1-4d1e-4990-b911-7df9dddeb784

Ek kuier gistermiddag ñ rukkie by oudste meisiekind terwyl oupa Bertus besig is met die bou van kleinseun se ‘boy-cave’. My moeks se kis staan in haar sitkamer, blink gepoets. Ek is self nie ñ sentimentele mens nie, maar vir ousus is erfgoed baie belangrik.

Ek glimlag in my stilligheid. Modes kom en gaan, selfs met meubels, maar die trousseau-kis bly staan.

En as die kis kon praat, sou ek seker met verstomming kon sit en luister…

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg