Trappies op na die hemel.

Vanoggend vroeg hoor ek die koffie-maak geluide onder in die kombuis. Dis eers toe ek ń gepraat ook hoor, wat ek besluit om te gaan loer of als reg is met Boeta. In die Tehuis is vyf-uur opstaan tyd, so sy dag begin vroeg.

Half deur die slaap is ek af met die trappe; amper onder steek ek vas. Dis net ek en manlief en Boet hier, so met wie op die aarde gesels hy so aanhoudend?

Wat ek hoor, laat my net daar op die derde onderste trap gaan sit.

Jesus, jy sebief my kom haal. Ek saam met jou stap, jou hand vashou. My ma en my pa en my boetie en my ouma en oupa daa by jou. Tannie Jona, oom Boet, tannie Jita, oom Koot, tannie Jien, amal daa. Ek ook nou gaan sebief Jesus. Ek jou sien; ek my ma kuier…

Hierdie is ń driftige gesprek, so terwyl hy wag vir die koffiewater om te kook.

ń Mens wil luister as Boet bid. Op ses-en-vyftig is sy verstand die van ń vierjarige kind, steeds onbesoedeld; die wêreld het geen impak op hom gehad nie.

Met kinnerlike opregtheid gesels hy maklik met God, so asof Hy alomteenwoordig is. Wat ons weet Hy is, maar vir Boet is Hy so werklik soos asemhaal.

Ek het bly sit, dit was ń bietjie soos om ń heilige gesprek af te luister. Boet het genoem dat hy vir Jesus wag, maar dat Hy nou gou moet kom. Jesus moet vir sy ma sê hy verjaar; dat hy sy voëltjie gekry het. Sy naam is Piet-my-vrou.

En Jesus moet vir sy ma en Benno sê hy sien hulle amper.

Amper.

Ek wou hom vra om namens my ook ń boodskap te stuur, want daar is geen twyfel dat Boet en God mekaar goed ken nie; baie gereeld gesels nie.

Maar ek het net bly sit en wag dat die trane ophou vloei.

En steeds staan ek verstom.

Die groep hoërskool kinders vanmiddag hier in my winkel, is almal op soek na geskenke vir ñ juffrou wat weggaan. Netjies aangetrek, meeste van hulle met ñ balkie of twee op die sak.

Ek volg die gesprekke, en kom agter daar is ñ defnitiewe verskil in mening oor die juffrou. Een outjie trek weg en ryg ñ string derms uit, hoogs geirriteerd omdat meeste van die ander van hom verskil.

Dis toe dat een ñ sin uiter wat my soos ñ vuishou reg tussen die oë tref. Asof op ñ verhoog, sonder om oor ñ enkele woord te struikel, sê sy:

When we judge or criticize another person, it says nothing about that person; it merely says something about our own need to be critical. 

Ek vra haar om te herhaal wat sy sê, en skryf dit toe neer, kyk daarna.

Hoe, vra ek haar verstom, hoe het jy soveel wysheid op jou ouderdom gekry?

Sy bly ñ oomblik stil.

My parents explained to me that if I have never walked in a man’s shoes, I have nothing to say. 

77136

 

Twee voëltjies en ñ hokkie.

'Do you know how unsanitary that is? She's serving all of this without gloves or a hairnet.'

Ek doen nie die voëlhokkie-ding nie, nie eers toe die kinders klein was nie. Voëltjie hoort vry in die natuur.

Vanoggend vroeg gaan haal ek vir Boeta by die tehuis; dis weer dié tyd van die jaar. Hy verjaar Dinsdag.

Gewoonlik kry ek bladsye vol wense, daagliks. Die groot ding vir hom is die hoeveelheid pakkies, nie eintlik wat daarbinne is nie.

Eerstens word ek by die tehuis oorval met drukke en soene van al wat ñ inwoner is, af. En ek is glad nie ñ soen-mens nie. Almal stap saam tot by die apteek waar ouboet se pille uitgeteken moet word; van daar af is dit terug kamer toe vir sy pakkasie. Dis ñ aanmekaar gebabbel, ek moet soos elke vorige keer elke werker se hand skud, die hele Afrika-ritueel-ding doen. Die gange is te smal vir ons groep rolstoele, mense op krukke, blinde Andries met sy stok, en groot Bettie wat haar baba-pop saamstoot. Almal is ouer as veertig, meeste amper sestig.

Uitasem ry ons twee daar weg; Boeta se nek maak sulke rukbewegings van skone opwinding.

Nadat ek al die stories gehoor het; van Pieter wat aan ñ hartaanval dood is daar voor hulle in die eetsaal; van Sus wat weggeloop het; van Louis wat se pa hom nie meer wil kom haal nie. Van elke verjaarsdag die afgelope twee maande, en Siena wat sy CD gesteel het, toe kom ons by die belangrikste onderwerp.

Ouboet, wat wil jy alles vir jou verjaarsdag hê? Die nekkie ruk al hoe meer. Twee voëltjies en ñ hok, en ñ sak kos Noena.

254228974393c7eebfca53a76fdb1591--parakeet-cage-pet-bird-cage

Nadat ek vorentoe en agtertoe en links en regs geredeneer het, vra ek moedeloos, en wat nog? 

Nits, kom die vinnige antwoord.

So nie liewer speelgoed soos altyd nie? ñ Brandweerwa, ñ polisie kar?

Nee, ek is nie klein nie. Is nou goot…Ek word ses-vyftig, ousus!! 

Ja my boet, ek weet. Jy is ook nou groot.

En as mens eers groot is, kan jy seker maar twee voëltjies, ñ hok en ñ sak kos kry. Wat kan ousus nou ook sê.

 

 

Ek weet nie meer met my hare nie…!

(All Google Images)

Dis seker weer die tyd van die jaar se skuld, net so voor die somer sy opwagting moet begin maak. Ek is moeg vir my haarstyl, of nee, daar is nie ñ styl nie! So toe gaan loer ek bietjie wat my voormoeders aangevang het. Ook hoe ek vir die laaste klomp jare gelyk het…

Van links na regs: 1900, 1910, 1920:

1930,1940:

1950, 1960:

1970, 1980:

1990, 2000:

2010:

2010

En nou is dit my beurt? Keuses vir vrouens bo vyftig:

hair-colour-ideas-with-cool-haircuts-for-fine-hair-2018

So wat om te kies. Ek hou van die 1930 styl, ek neem aan dit was die Gatsby tyd. My ouma se tyd.

Mooi man, daar gaan ons alweer! Loop soos Moeks, met hare soos Ouma?☺☺☺

Om sonder trane te treur.

Julle is volgende Maandag nie meer hier nie, en ouma weet klaar nie hoe dit gaan wees nie…

20180227_1548221701239417.jpg

Gabs, sal mamma weet dat jy altyd na werk Milo wil drink, my engel. Gaan sy onthou om aan te koop?

Zannie Pannie, wie gaan saam met jou olifant-taal praat. Of jou bersie oor jou skoot gooi as ons vissies kyk?

Wie gaan my serpe laai oopmaak en prinses-prinses speel; my lipstiffie oopvergeet, oupa se studeerkamer deurmekaar maak. Wie gaan saam met my in groot moeilikheid beland omdat jy ń sweetie uit my laai gevry het, en eerder ouma-hulle se kos verkies het.

Wie.

My hart is opgewonde-bly oor jul nuwe huis, die baie speel ruimte, en Gabby, jou eie kamerdeur.🤔🌸Dingetjies wat julle ń jaar lank ontbeur het.

Maar my hart wil vanaand wegkruip, eenkant gaan huil. Al gaan julle net oorkant die dam bly, die woonstel gaan toegesluit word.

En vir lank so bly.

20180725_172638

Huh…

5d502ceef6837fbf436129e6deaafa6b

Huh…

Dis nie heeltemal hoe manlief geantwoord het nie, hy was eerder met stomheid geslaan. Eers by die huis aangekom, met ñ bier in die hand, (die alkohol vryes want dis glo lekkerder as ander), het die geskokte woorde oor sy lippe begin tuimel.

Ek moet my vlieglisensie kry, ñ RPL. Dis ñ sewe dae kurses; gaan dit by Wonderboom lughawe doen, van agt tot vyf elke dag. En ons werk uit dieselfde boeke as die ouens wat regte vliegtuie vlieg, die PPL.

Hierdie laaste woorde, dit is die sin wat my alweer histeries aan die lag gekry het, die soveelste keer hierdie laaste paar dae. Nie vir my man nie, maar net vir die gedagte.

Gat oor kop, dis mos hoe die Steenkamps dinge doen.

Manlief het reeds die werk gekry, by sy goeie vriend se myne. As ñ surveyor. Ek gaan nie eers die Afrikaanse woord opsoek nie.

Die opdrag was, kry jou drone, leer die ding vlieg, koop die sagteware aan, en kom begin. Oom Bertus, ons sal vir jou wag.

Eenvoudig, heerlik, baie, baie goeie geld.

Ja, te eenvoudig.

Die regte drone is gister opgespoor, alles is verduidelik, en toe kom die terloopse opmerking.

So meneer, waar gaan jy jou lisensie doen?

Meneer hou kop... Ek het nog nie besluit nie, waar beveel jy aan? 

Daar is vier skole, kies een naaste aan jou. 

Versigtig vra meneer…mmm, hoe lank neem die kurses nouweer?

Sewe dae.

So ek kan dit na-ure doen?

Lag. Nee meneer, dis ñ voltydse kurses, en om te slaag moet jy 95% kry. Dit kos so R30 000. Daarna kan jy dadelik begin werk, maar jy moet steeds vir ñ jaar lank jou “commercial licence” ook doen. 

Jy is seker van die inligting? Ek kan nie net die aanwysings agter op die drone boks lees nie? 

Nee meneer, jy maak seker ñ grap. Om met ñ drone proffesionele werk te verrig, het jy ñ RPL nodig, dieselfde teoretiese kurses as vir ñ vlieglisensie. 

O. Dankie.

En met sy boksie onder sy arm stap Bertus na sy motor toe, trots, mooi regop, al sak sy skouers eintlik ernstig binne-toe.

My vrou, so die waarheid is, ek begin die sesde Augustus met my lisensie. En ek moet 95% kry om te slaag.

Huh…

Ons albei lag eintlik non-stop. Bertus sê hy het gisteraand vir die maan oor en oor sekere afkortings opgesê, net om agter te kom of hy nog enige iets kan onthou.

Die lewe na vyf-en-vyftig kan regtig opwindend raak, ons is ñ bewys daarvan. Al wat jy nodig het is erg vreeslik baie selfvertroue en geloof in jou eie verstandelike vermoë, asook jou vrou s’n.

Vir ñ week lank gaan ek my man wegsteek, laat verdwyn. Dit gaan klas wees, eet, leer, slaap. Iewers in die Wonderboom area moet daar ñ gastehuis gevind word, sommer reg langs die lughawe. Geen tyd mag verspil word nie. Hierdie gaan reg aangepak word, gefokus, ge-dissiplineerd.

Want hulle wag vir oom Bertus.

7055076

(Ps. Ons droom klaar groot, dalk kan ons vir Seal Team gaan werk, hulle drone-dinge hanteer. Want sowaar, as my man hierdie geslaag kry, gaan die uwe ook aanmeld. Laat daar nooit gesê word dat my ma haar kind nie goed grootgemaak het nie!☺☺☺)

Solank ek ook net ñ army-uniform kan kry…

PG 56. Nie vir sensitiewe lesers…

20180727_1849341725058053.jpgAgtergrond:

  • Ek en manlief het albei binne agtien maande uit mekaar uit, ñ mantelvliesbreuk operasie ondergaan.
  • Myne as gevolg van spanning en te swaar goed dra…onthou, meubelwinkel.
  • Syne ook spanning; sy stem het vir maande weggeraak, en sy hoesbuie was erg. Op die ou end was die breuk die oorsaak, die gasse wat terugstoot. (Hierdie is my leeke-opsomming van die redes.)
  • Albei het baie gewig verloor, maar ons is nou weer blakend gesond.

Daar het ñ probleempie oorgebly, ñ ietwat sensitiewe een. Hierdie probleempie word heel dikwels in ons vriendekring bespreek; die bo ses-en-vyftig jaar oud-vriendekring, en dis ñ heerlike onderwerp vir ons klomp. Ja-ja, ons kan ook oor Ed Sheeran se nuwe liedjies rave, ons is nog glad nie oud nie! Daar is net sekere onderwerpe wat baie interessanter is, veral as die meerderheid teenwoordig uitstekende raad het.

Een middag na werk bars een van ons dogters wat al getroud is en langs ons bly, ek noem nie name nie ter wille van… Ewenwel, die kind kom uitasem by die trappe op.

Ma. Nou het ek hulp nodig, dit kan net nie meer so aangaan nie.  Hierdie word saggies gesê.

Voor sy nog klaar kan verduidelik, tol manlief op sy studeerkamer stoel in die rondte… ons slaapkamer loop uit op die studeerkamer. Ek val haar met die grootste entoesiasme in die rede, en ek en Bertie bereik ons bedkassies tegelyktydig.

Aalwynpille! Dit werk binne tien minute. Jy waag dit net nie verder as…

Nee, liewer die setpille. Die dokter sweer hierby, en oom Jan sê…

Of wag! Hierdie boksie. Kyk, dis nou die antwoord! Al wat jy doen is, jy…

Nee, hierdie kapsules is beter…

Una, jy wil my mos nie glo nie. Onthou jy eergister…

Hierdie sou jou vinniger laat hardloop het. 

Is nie. 

Is.

Nie!

Dis toe dat ek opkyk in haar donker oë in, nou sommer pikswart. Die ongeloof; die afgryse…

Ma! Dadda! Is julle heeltemal mal! Dit lyk of julle opgewondenheid oor hardlywigheid julle wil laat opstyg. Nee! Ek loop liewer! Dis belaglik, julle embarrass my! 

Die oë skiet net daar vol trane.

Ek en manlief kyk vir mekaar, en jy sien sommer die liggies wat aangaan. Ons het dinge net dalk handuit laat ruk…

Lief, dalk het ons dit nou oordoen?

Ja, ons het… maar ek bly steeds oortuig, die aalwyn pille werk die vinnigste!

Is nie.

Is. 

Red nou ñ nasie met sulke ouers.

Hoe dan nou…Is jy doodseker…?

Funny-animals-with-love

Met dié dat ons jongste getroude dogter en haar gesin vir die laaste jaar by ons gebly het, het ek BAIE nuwe dinge geleer.

Die belangrikste hiervan is dat my “ek ken my kinders, ek weet presies waarvan hulle hou,” só ñ groot illusie is. Aanvanklik het dit my hartseer gemaak as ek dinge verkeerd opgesom het, of totaal nie reg opgetree het nie. Hoe dan nou, hoe kan sy my nie verstaan nie, sy ken my tog! 

Namate die jaar aangestap het, het ek gegroei in die besef dat hulle nie meer ñ verlenging van my is nie. Dat ek nie net kan aanneem dat my beste bedoelings as sulks opgeneem gaan word nie.

My eie moeks het een keer baie die vieste in vir my gesê ek is glad nie meer deel van haar kant van die familie nie! Hoe kan ek so anders as sy oor ñ saak voel! Ek was verstom dat sy net kon dink ek sou saamstem…

Nou, ñ paar dae voordat hulle oortrek in hul nuwe huis in, weet ek ek is die kans gegun om op ñ sagte manier te leer dat hul nee net dit is; nee. Dat ek nie meer net aannames kan maak nie, dat die kinders se agtien jaar in ons huis lankal verby is, dat hulle veel langer nie by my gaan wees as wat hulle ooit was nie.

My moeks het swaargekry omdat ek verander het, baie van wat sy my geleer het nie aan  bly vasklou het nie. Die grondslag is wel gelê, glo ek. Die belangrikste van basiese menswees en waardes sal jou kind nooit verlaat nie.

Maar ma se voorliefdes, ma se prentjies, ma se idees; dit gaan dalk net ma s’n bly. En dis reg so. Ek is trots op die feit dat hulle sterk genoeg grootgemaak is om in veiligheid anders te kan wees, anders te dink en te redeneer.

Die naelstring is geknip, finaal, “maybe long overdue,” al gaan ek die tassie babaklere nog baie bo uit die kas uit haal en daaraan ruik. ☺ Vrouens in hul eie reg, dis goed so, maar af en toe sal ek steeds die grense bietjie beproef… Goeiste, ek bly mos steeds hul ma.

landscape-1429819061-179801390

 

 

 

 

 

Interessante feite oor die menslike brein… (vir my)

cat10

1.Hulle sê dat ons gemiddeld 70 000 verskillende gedagtes ñ dag dink. (Ek is defnitief uitgesluit van hierdie een.)

 2.Terwyl jy snork, droom jy glad nie. (Van nou af los ek manlief uit dat hy snork; dan weet ek sy gedagtes is ten minste onskuldig…)

3.Die Japanese werk aan tegnologie wat dit moontlik gaan maak om jou drome op ñ skerm te sien. (ñ Defnitiewe nagmerrie gedagte hierdie een!)

4.Om te lag, is harde werk vir die brein, vyf verskillende dele moet ingespan word. (Seker daarom dat jy jouself glo maer kan lag?)

5.Na die middeljare begin die menslike brein kleiner word. (true)

6.Alhoewel die manlike brein 10% groter as die vrou s’n is, onthou ons glo langer. Ons en die taxi bestuurders in groot stede.

7.Kroniese spanning en depressie kan die brein laat krimp.

8.Millennials, (gebore tussen 1981 en 1995), vergeet makliker as Baby Boomers (1946 tot 1964)). (Ha!)

9.Die brein van ñ introvert en ekstrovert verskil. (Ek het hierdie een nogal vermoed)

10.7a775ac35231f50d2c8cb6025a527eaa

 

Vir my is ‘voel’ ñ crappy woord…

(pictures:Google Images)94128-90542

Ek is ñ prentjies mens; ek het dit al genoem. Die dag as ek moedeloos teen die skerm vasstaar, en nie ñ idee het wat om te sê nie, het ek lêers tot my beskikking. Lêers met vreemde name, soos af-dag; op-dag, lag-skrywes, net-gevoelens. Gevul met fotos by Google geleen.

Gevoelens. Ek skryf nie net positief nie, want ek is en bly ñ erg feilbare mens. Ek skryf nie net oor geestelike issues nie, want ek bly ñ mens wat op hierdie ou aarde van ons rondbeweeg. Ek probeer hard om opgeruimd te klink en bly, veral op my af-dae. Hoekom? Want vir my, om in die teenoorgestelde gees te skryf, het ñ geweldige goeie uitwerking!

Gevoelens. Ek hou niks van hulle nie. Noem my wanaangepas, ek is reg daarmee. Gevoelens lei te veel na ondeurdenkte keuses en woorde. Dit wat nooit weer ongedaan gemaak kan word nie; daardie waarheid van lewe en dood lê in die mag van die tong.

My gevoelens-lêer… ek het hard daaraan gewerk. Prentjies gesoek wat sonder woorde die presiese emosie uitbeeld wat gevoel word. Want as ek my gevoel kan raaksien, ñ wyle daarna kyk, begin ek ook die oplossing vind. Hoe om ‘uit die prentjie te klim.’

Soos ek sê, ek is ñ visuele mens.

loneliness

  1. My alleen-prent. Eensaamheid midde in chaos.

pain

2. Pyn wat nie ñ begin of einde met hom saamdra nie.

 

3. En dan hierdie een. Die gesig van oorweldiging. Die een wat ek die meeste om my raaksien; die een wat my sonder asem laat.

to feel overwhelmed and depressed

Mag ek in my lewe nooit die oorsaak van soveel gebreektheid wees nie. Mag God my daarvan spaar.

So, ek erken my gevoelens, ek praat en skryf daaroor. Tog, altyd maar altyd sal ek seker maak…

vat ek my prentjie en ontwikkel dit tot oorwinning?

 

 

Ek kyk my kat vanoggend so…

Dis ñ ritueel; sodra ek ons kamerdeur soggens oopmaak, kom neem sy oor. Sy is die hoofrolspeler in haar eie “musical”, met gepaste klanke en al. So asof daar geen ander probleme in die lewe bestaan nie, bekruip sy al wat ñ meubelstuk-poot is, spring sy in die lug in met so ñ gekromde rug, en jaag sy denkbeeldige muise volspoed heen en weer op die mat.

Net om later met soveel genoegdoening haarself op die bed te kom neervel.

Daar is mense wat so leef; ek noem hulle ñ lewens-tonikum, of net tonic.

Hul antoniem is ñ toksikoloog, ñ gifkundige.

Ander sal so ñ tonikum dalk vermy, verleë raak in hul teenwoordigheid. Verergd raak oor hul willegeid en liewer die toksikoloog opsoek, want dis die meer bekende. Vir hulle.

6d515327443da5c3e3a186addcb6af33

Vir my bring die blote dophou van so ñ persoon die glimlag terug in ñ ernstige omgewing.

Dalk omdat ek saam met Boeta grootgeword het, is situasies wat ander na hul asems laat snak, vir my opbouend. Dit troef die klomp twak waarmee ons ons baie dikwels so besig hou. En wen loshande.

Ek, ma en Boeta stap een jaar, lank lank gelede, in Durban middestad rond. Boeta kry ñ nood, en ma laat hom alleen by die park se openbare toilet instap. Minute later kom hy uit, met ñ groot man aan die arm. Die ou verstaan glad nie Boet se gebrabbel nie, stap net gedweë saam.

Boet bring hom tot by ons… Boet ñ krulkop seun van so twaalf jaar. Verstandelik gestremd.

Mamma, sê hy opgewonde. Jis ma, oom het groot piepie. En hy wys met sy hande so in die omgewing van ñ voet, bitterlik beïndruk.

Die man het breed begin glimlag, Boet se hand geskud, en in ñ hogere Engels vir hom gesê thanks bro. Hopenlik nie Boeta se bedoeling verstaan nie.

Mense wat kies om die glas as half-vol te eien, en nie half leeg nie, dis diegene wat ek in my nabyheid verkies. Die mens wat bo in die lug op die dak van gebou met ñ kitaar kan lostrek en speel asof die hele mensdom hom hoor. Met oorgawe. Net mens. Net eg.

Dit is Maandag ja. Ek het weer met ñ negtiewe situasie te doen ja. Maar ek kies om weg te draai en met die volgende tonikum wat instap te gesels.

Tot ek my hand ook kan uitsteek met ñ thanks bro.

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg