
Vanoggend vroeg hoor ek die koffie-maak geluide onder in die kombuis. Dis eers toe ek ń gepraat ook hoor, wat ek besluit om te gaan loer of als reg is met Boeta. In die Tehuis is vyf-uur opstaan tyd, so sy dag begin vroeg.
Half deur die slaap is ek af met die trappe; amper onder steek ek vas. Dis net ek en manlief en Boet hier, so met wie op die aarde gesels hy so aanhoudend?
Wat ek hoor, laat my net daar op die derde onderste trap gaan sit.
Jesus, jy sebief my kom haal. Ek saam met jou stap, jou hand vashou. My ma en my pa en my boetie en my ouma en oupa daa by jou. Tannie Jona, oom Boet, tannie Jita, oom Koot, tannie Jien, amal daa. Ek ook nou gaan sebief Jesus. Ek jou sien; ek my ma kuier…
Hierdie is ń driftige gesprek, so terwyl hy wag vir die koffiewater om te kook.
ń Mens wil luister as Boet bid. Op ses-en-vyftig is sy verstand die van ń vierjarige kind, steeds onbesoedeld; die wêreld het geen impak op hom gehad nie.
Met kinnerlike opregtheid gesels hy maklik met God, so asof Hy alomteenwoordig is. Wat ons weet Hy is, maar vir Boet is Hy so werklik soos asemhaal.
Ek het bly sit, dit was ń bietjie soos om ń heilige gesprek af te luister. Boet het genoem dat hy vir Jesus wag, maar dat Hy nou gou moet kom. Jesus moet vir sy ma sê hy verjaar; dat hy sy voëltjie gekry het. Sy naam is Piet-my-vrou.
En Jesus moet vir sy ma en Benno sê hy sien hulle amper.
Amper.
Ek wou hom vra om namens my ook ń boodskap te stuur, want daar is geen twyfel dat Boet en God mekaar goed ken nie; baie gereeld gesels nie.
Maar ek het net bly sit en wag dat die trane ophou vloei.











Agtergrond:









Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.