Sy hou haar toksak stywer vas en stap nog vinniger. Nee, sy het haar verbeel, sy sal NIE omkyk nie.
Dis eers toe sy in haar sitplek neersak, haar bagasie veilig gestoor, dat Nellie voel hoe haar hele lyf ontspan. Sy het dit gemaak!
ñ Ouerige dame en ñ klein donkerkop seuntjie neem die sitplekke langs haar in. Sy draai haar kop weg, staar by die venster uit. Sy moet dink, beplan, sy soek nie geselskap nie.
Kimberley. Dis steeds te naby, en as Chris haar herken het, sal hy sy ouers laat weet. Wat gaan sy doen, sê nou hulle het reeds die polisie in kennis gestel, en dié wag haar op die lughawe in!
Sy snak behoorlik na haar asem, en voel die spanning weer van voor af in haar skouers saamtrek. Die geld, iemand gaan dit wil terughê! Mens laat nie net toe dat jou R60 000 sommer gevat word nie…
Nellie voel ñ verlate traan teen haar wang afloop. Die volle impak van haar optredes kom lê op haar skoot, en iewers binnekant begin die kwaad, al die opgekropte woede en seer, plek maak vir wanhoop. Hoe verder? Hoe begin mens met ñ nuwe lewe as jy niemand het nie.
Sy raak eensklaps bewus van ñ sagte handjie wat hare opsoek, versigtig. Die warmte van menslike aanraking ruk haar emosies los, en deur trane wat nou sommer stroom, kyk sy in ñ paar blou kleinmens-ogies vas.

Nog ñ handjie word uitgesteek, en ñ suiglekker word woordeloos aan haar gebied. Nellie glimlag tussen die trane deur.
Dankie jong, dit gaan nou lekker wees. Wat is jou naam?
ñ Mondjie wat effens beweeg, en hande wat vinnig gebare-taal praat, laat haar besef. Hy is stom.
Stom soos wat Monty was. Haar boet wat net voor haar gebore is; haar boet wat ontroosbaar gehuil het toe sy weggegee is. Die een wat haar teen die ander probeer beskerm het, teen die groter boeties se rowwe speel, teen die ouer sussies se onbeholpe ronddra van ñ nuwe klein toevoegsel. Dis al wat sy was, net nog ñ mond om te voed.
Monty.
Die mamma buig vooroor en gee vir Nellie ñ snesie aan.
Jakkie, moenie haar pla nie, kyk, die tannie se hart is seer. Ek dink sy is dalk bang vir die vlieg, jong.
Nellie volg die gebaretaal woordeloos, dit kom alles terug na haar toe. Sy en Monty het ook so gepraat, so met hul hande en hul oë.
Sy sit haar arm om die seuntjie.
Toemaar mevrou, hy pla nie. Hy help eintlik.
So sit sy en die kleinman vir die res van die rit; sy hand in hare, haar arm om sy skouertjies. Elk in sy eie wêreld.
Nellie kry ñ warm seuntjie-druk toe hulle in die aankomssaal instap. Sy sien hoe straal sy gesiggie toe iemand sy naam hard uitroep.
Seker die pappa. Skuins agter die groep mense wat anderkant die tou-afskorting staan, vang haar oë dié van ñ polisieman. ñ Lamheid maak dat sy bly staan, nie saam met die ander uitbeweeg nie. Hy neem ñ vinnige paar treë vorentoe, in haar rigting…
Jakkie gee ñ groot sprong tot in die man se arms, en klou styf vas. Die vrou sluit by hulle aan, heelwat ouer as hy, en gee hom ñ klapsoen.
Hello my boet, is dit nou lekker om jou te sien!!!
Nellie se lam bene begin weer beweeg. Sy verplaas haar toksak na ñ gemakliker posisie toe, en stap vorentoe.
Jakkie het intussen uit die twee sterk arms losgewikkel, en hardloop op haar af. Sumier word Nellie tot by die groepie getrek.
Hierdie is Jakkie se nuwe vriendin, Renier. Ons ken nog nie haar naam nie, maar sy het klaar die kleinman se hart gesteel.
Renier glimlag en steek ñ bruingebrande hand uit.
Bly om jou te ontmoet, nuwe vriendin. Welkom in Kimberley.
Jakkie begin ernstig beduie, en die man met die sagte, mooie oë lag.
Goed Jakkie, kom ons vra haar. Juffrou, kan ons jou ñ geleentheid gee en iewers gaan aflaai, of is Kimberley nie jou eindbestemming nie?
In daardie oomblik weet Nellie dat sy ñ lewensbelangrike besluit moet neem, een wat haar toekoms gaan bepaal.
Bly sy, of gaan sy…
Om aan hierdie uitdaging deel te neem, lees die reëls by hierdie skakel.
InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=789999
Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls(2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
The post Bloguitdaging Kaleidoskoop – Die Laaste Strooi appeared first on Dis Ekke.
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.