Skryf-Safari: “Oorlog speletjies.”

Parachute

Vir ons was dit volwaardige oorlog, g’n nikse beskaafde bordspeletjies nie. Enige en alle speletjies het in volskaalse oorlog ontaard.

Twee niggies, drie nefies. ñ Vakansie. Die Monopoly. Dit was al wat nodig was.

Ons was briljante manipuleerders; harde sakemanne en vroue; het gegaan vir ‘die kill.’

O nee, hierdie was nie die tyd wat ouers kon hoop die kinders leer goeie spansamewerking aan nie. Hier was dit elke ou vir homself, en jy verneuk en lieg en bedrieg nes jy kan. Solank jy net nie uitgevang word nie.

Dae aaneen, dis hoe dit tydens ons aanvalle gegaan het. Die oomblik dat jy jou gelde ontvang, en daardie dice op jou handpalm voel, verdwyn enige sagtheid. Jy wen, dis al.

As ons deesdae saam met die kleinkinders speel, kry ek sulke oomblikke, maar ek onderdruk dit onmiddelik. Ek speel bedagsaam en neem ander in ag, soos dit my betaam. ñ Goeie voorbeeld vir almal.

Nooit kan ouma daai demoon weer loslaat nie!

 

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=784470.

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Klas 1, 1967.

1666179_120228101648_IMG_2204

Ek onthou my eerste skooldag redelik goed, want ek het baie lank daaroor gedroom. Om groot-skool toe te kon gaan, dit was vir my alles.

Ek onthou my skoolrok, my eerste juffrou. Die plakkate teen die mure, die klein houttafeltjies.

Pa was skoolhoof en ma ñ juffrou, so die skoolgebou was vir my bekend. Steeds, die opwinding, die wete dat ek uiteindelik gaan leer lees en skryf, daardie gevoel kan ek my tot vandag toe nog indink.

Ons huis was op die skoolgronde; pouses kon ek en my maatjies ñ rukkie gaan popspeel, koeldrank drink.

e432fdddfce59480ff001a0ebca4c9ad

Gistermiddag hou ek vir klein vyfjarige Gabby dop terwyl sy maak asof sy vir boetie ñ storie lees. Haar ogies skitter terwyl die verbeelding sy loop neem. Sjoe, dink ek. Dit is steeds dieselfde; die betowering wat die geskrewe woord inhou.

Daarom dat ek nou-nou my klas een foto gaan opdiep het, om verder te onthou. En sowaar, ek erken hulle nog, selfs hul name.

20180607_143317-11733830529.jpg

Wonder watse paaie die lewe met elk geloop het, nou amper 52 jaar later.

Ek is derde van links, en asb, ek hoop iemand sê ja! Una, ek herken jou. Jy het nie veel verander nie!

☺☺☺

Ja, sure.

 

 

 

“Soos die grote kloek, so piep die kleine.”

(Kinders volg grootmense se voorbeeld.)

20180605_1159501307001065.jpg

Ek kan baie goed doen, maar vir ons kleinste seunskind is die heel belangrikste dat ek soos ñ leeu kan brul.

Elkeen van die ses kleinkinders het ietsie anders van ouma gevra, en oorgehou. Xannie Pannie se “love-language” sover dit ouma aanbetref, is dat sy saam met hom diere programme moet kyk.

Ek is klaar baie gekonfyt in meeste wildediere-geluide, maar veral ñ leeu. ñ Maanhaar leeu.

Ons twee het ñ ritueel ontwikkel, wat nou vasgesteek het in die twee jaar oue seuntjiegeheue. Sien hy sy ouma, sien hy olifante, apies en leeus. Met die dat hy so baie kere siek was, was die enigste manier om hom vir ñ rukkie besig te hou, om National Geographic-Wild op die tv aan te sit. Dan het die huil vir ñ rukkie in ñ glimlag ontaard.

Bo-op ouma se skoot, met ñ tietie-bottel in die hand, kon hy rustig raak. Met ouma wat die hele tyd moet “engage”, en geluide maak.

Twee naweke gelede, vir sy verjaarsdag, koop ek vir hom ñ leeu in die wildtuin-winkel. Die van julle wat baie daar kom, sal weet, eintlik koop mens niks in hierdie winkels nie, net dalk melk en brood. Dis peperduur verby. Maar soms moet jy net. Want waar anders as in die wildtuin lyk diere regtig egtig eg.

Aanvanklik wou hy niks van sy ouma se leeu weet nie. Hom so bekyk, en dan ñ paar ge-irriteerde skoppe gegee. Asof om te sê, ouma, vat weg.

Leeu het nog nie ñ formele naam nie, sy naam is op die oomblik “brul”, die brulgeluid. Nou grootste vriende, hierdie klein japsnoet van ons en sy brul.

Eendag op sy troue gaan ek die mikrofoon vat, en my kleinseun se leeu se naam brul, net om sy vroutjie te laat verstaan. Xannie se liefdestaal moet diep uit die keel uit kom. Onthou. En as jy nie reg kom nie, bel sy oumie.

xxx

 

 

Sommer net ñ Maandag-storie.

friend

Lank, lank gelede, toe ek nog klein was… hier in die jaar 1968, gebeur daar ñ ding, en die ding het tot vandag toe nog ñ gevolg.

Sondae was Rapport dag. Nadat ma en pa klaar gelees het, wat seker eers teen die aand se kant was, want die Rapport het jy met ñ vergrootglas bestudeer, kon ek ñ beurt kry. Ma was streng daaroor, ek moes koerant lees. Ek moes leer van wat in die lewe aangaan.

Iewers in die heuwels rondom Pietermaritzburg word ñ weeshuis aangeval. In die nag. Van die kinders het erg seergekry, op alle gebiede. Maar daar was een meisietjie; sy het altyd met haar kussing op haar kop geslaap, en daar keer dit dat sy buitentoe gesleep word. Niemand het haar raakgesien nie.

Hierdie storie het ñ groot indruk op my gemaak, en begin ñ nuwe gewoonte. Tot vandag toe nog slaap ek met ñ kussing op my kop. Wel nie meer vir dieselfde rede nie, maar daardie sagte kussing gaan oral saam.

So gebeur dit dat oudste kleinseun Saterdagaand by my en oupa oorslaap. Ek maak vir hom ñ bed langs ons eie, want die ou huis is te groot om in ñ ander kamer te moet slaap. Veral as ouma jou hand in die aand vashou totdat Klaas Vakie opdaag.

Oumie, kan ek ñ kussing vir my kop kry, asseblief… Hoekom, my bokkie? Want ek kan nie sonder my kussing slaap nie, ouma.

Ouma het dit nie geweet nie, jong. Nou hoekom doen jy dit? Want mamma doen dit, ouma. Ek het dit by haar geleer.

Daar begin ek sowaar onthou. Oudste meisiekind doen dit van vroegs af, omdat sy dit by my gesien het. En nou doen boet dit omdat hy dit by mamma gesien het. Kan jy glo.

So begin gewoontes, en hulle groei. Ek het lank in die nag lê en terugdink aan ñ vreesbevange dogtertjie wat ñ aaklige situasie oorleef het. Ook aan nog een wat haar storie gelees het en toe ñ besluit geneem het.

My kussing is my kussing. In daardie oomblikke voor die slaap my oorval, word hy oor my kop getrek. Gisteraand het ek ñ gebedjie opgeskiet vir daardie kind wat nou ook my ouderdom moet wees.

Wonder of sy dit steeds doen.

 

Skryf Safari: Jou gelukkigste herinnering as kind.

(skilderye:Google Images)watercolor-painting-playing-children-mansion-house-background-picture-green-park-spring-watercolor-108288919

Sy was ñ rykmanskind wat nie maats gehad het nie, ek ñ juffrou se kind wat kon droom. Saam het ons ons eie unieke wêreld geskep.

My gelukkige kleintyd herinneringe is aan Ans gekoppel. Aan haar vasgedraai. Vir ñ paar jaar in my lewe het ek meestal by hulle aan huis gebly. Ma was maar net te dankbaar dat haar alleen dromer-kind ñ eie maatjie gekry het. Die twee boeties was ñ totale handjievol, en geld skraps.

Antjie se ouers het my oral saamgevat, die hele land vol. As ñ advokaat-pa was hulle dikwels oorsee, en het die kinders by die huishulp gebly. Die kere wat daar wel bietjie familietyd was, is ek vanselfsprekend genooi.

Die dag toe ons uit Natal uit Transvaal toe moes trek, het hulle my ouers kom vra of hulle my nie informeel kan aanneem nie. Ma het na die tyd gesê hulle was bekommerd dat Ans nie weer gaan regkom as ek weggaan nie. As ñ begaafde kind het sy nooit voorheen haar hartjie vir iemand oopgemaak nie. Vir hulle was ek haar redding.

My herinneringe aan ons twee se speeltyd word in ñ kissie bewaar. Een met ñ goue sleutel. Die sleutel sluit egter ook ñ groter kis oop, een wat nooit weer oopgemaak gaan word nie.

In ñ baie moeilike tyd van my jong lewe het Ans opgedaag. Ons het mekaar se hande gevat en kon wegloop na ons eie plek. Weg van werklikhede. Dit koester ek.

So ja, sy is my gelukkigste herinnering. My maatjie van ñ glashuis.

1.0x0

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=781922

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Onverwags is dalk nie ñ woord nie.

As we grow as unique persons, we learn to respect the uniqueness of others. (Robert H. Schuller)Turkish traditional  handpainted pottery bowls

Sy stap weer onverwags vanoggend by die winkel in, en sy bly. Ons ken mekaar effens; sy was al voorheen hier, vir ñ ruk.

Dalk is ‘onverwags’ nie ñ woord nie, of nie die regte woord nie. Onverwagse mense is gewoonlik gestuur met ñ doel.

Ek was nie regtig lus vir geselskap nie. Sy was.

Twee ure later is sy weer uit. En ek, ek bly broei met die besef dat almal iemand nodig kry. Iemand wat net sal luister. Ons lyk dalk verskillend, ons kleure anders, maar die lewe ‘bak’ ons tog steeds. Soos keramiek handgeverfde bakke. Uniek, maar dieselfde.

My en haar verledes verskil hemelsbreed. Meeste van haar getroude lewe is in Nederland en Frankryk deurgebring. ñ Germiston kind, maar eintlik nie van hier.

Tog. Sy praat, ek luister, en ek hoor. Die verskille is groot, die raakpunte nog groter. Sy ‘lyk’ uniek, sy klink anders. Dit waaroor sy moet praat, dis bekend.

Dit was ñ trietsige dag, is steeds. Dalk het die dag tog iets beteken.

Interessant. Baie.

Uit moedeloosheid omdat dit weer ñ stil maand by die winkel was, besluit ek vanoggend om ñ foto aan die 1 700 kliënte op my databasis te stuur. Net een.

Die reaksie verstom my. Na elke “batch” wat ek stuur, begin die smsse instroom. Dan onthou ouens sommer weer van items wat hulle al lankal wou kom koop, en ek hol rond om afmetings aan te stuur. Meer vandag oor die telefoon verkoop gekry as die hele Mei-maand. En dit sonder dat mense die meubels self kom betrag, daaraan voel en vat.

Dit bly vir my interessant, hierdie tendens dat mense oor die ‘pos’ koop. Ek sien dit by ons dogters; klere word op die internet bestel. Tot skoene. Hoe op dees aarde weet mens dit sal goed lyk aan jou?

Maar toemaar, ek is net te bly vir die verkope so hier op die tweede laaste dag van die maand. Net vanoggend weer gesels ek en die Here oppad winkel toe. Eintlik, Hy luister, ek praat. Herinner Hom daaraan dat my geloof darem sowaar tot die uiterste beproef word. Die huur, en al die ander uitgawes, onthou Hy daarvan…?

Ek het gaan idee hoe ander mense dit doen nie, maar goeiste, ek sou nooit kon vasbyt en aanhou as Hy my nie bygestaan het nie. Vir my “tips” in die oor fluister nie. Al gaan dit sommige maande broekskeur, ry Hy ten minste elke dag saam met my werk toe.

Net dit is klaar genoeg; ek kan bly asem haal.

Nouja, vandag help klaar baie. En daar is sowaar nog ñ volle dag oor! As my God die ganse heelal in ses dae kon skep, behoort Hy in ñ dag redelik baie te kan verrig?

En selfs al besluit Hy nee, sal ek bly gesels en vra en pleit en sing en glo en vasbyt.

Want ek kan en ek wil.

 

 

Skryf Safari: Onsigbare toeskouer.

fb_img_1509622669449

Die laslappie deken oor die dun matras is in skakerings van pienk; die vet opgepofde kussing se wit oortreksel al verbleik.

Daars ñ gekleurde matjie op die sementvloer gegooi, en die area om die koolstoof is eintlik al grys-swart verkleur. Die dennehout tafel is blinkgeskrop, en nog ñ beker met rose staan langs die enemmel ketel.

Haar groot lyf swaai ritmies heen en weer terwyl sy stryk, die reuk van kaneelsuiker in die lug. Sy lyk soos ñ Anna, en haar voorskoot is skoon.

Ek voel die effense saamtrek in my binnekant as ek van Anna onthou. My Anna. Hier waar ek van buite af inkyk, is die verlang skielik groot. Die ‘meer as my vriendin’ Afrika -vrou wat lankal al aangeskuif het hemel toe. Wat twee van die drie dogters se troues help beplan het. Anna, wat my met haar stil teenwoordigheid kon rustig maak as die lewe op die plot gedruk het.

Sy was ñ vuilpienk-roos vrou.

Die vrou hier binne lyk soos ñ Anna. Mag sy iemand in haar lewe hê wat sag saam met haar loop.

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=781709

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

 

 

 

Jy is ons almal se baba.

20180524_103905394209269.jpg

Oor ñ paar dae is jy twee, maar vir ouma en jou mamma se twee sussies gaan jy net maar ons baba bly. Die jongste van die ses kleinkinders, en soos dit klink, ook die laaste.

Jy is vyf weke te vroeg gebore; het jou glad nie aan ouma se fyn uitgewerkte program gesteur nie. Jy moet onthou, ouma was op elkeen van die ander vyf se geboortes, dit is nou maar net soos ons dit doen.

Ek het al voorheen vertel van die nagmerrie wat ek in Bali beleef het toe oupa my laat weet jy is oppad. Ons jongste dogter wat haar kleinste kry, daar is komplikasies, en ek is in ñ ander land.

Daardie dag het ñ wildvreemde vrou my by ñ restourant vasgehou en getroos, want ouma kon nie heeltemal regkom nie.

Was jy maar net haastig om ons klomp te ontmoet, ek glo so. Alhoewel jou eerste jaar en ñ half moeilik was, jy gereeld in die hospitaal, is ons nou anderkant uit. Jy is ñ fris pokkel-seuntjie wat sy sussie ordentlik besig hou. Jou willetjie is sterk, jou mamma en pappa soms te sag vir jou.

Ouma en oupa het jou noual ñ volle jaar hier by ons, julle trek oor ñ maand in jul nuutgeboude huis in. ñ Jaar vol voorregte. ñ Jaar wat ek jou in al jou fasette kon leer ken. Ons gaan julle mis, maar jou groot kindervriendelike nuwe tuin het alles wat ñ seuntjie nodig het. Ek sal soms daar vir jou kom loer, net om weer die soet te smaak van ñ seuntjielyfie vol borrelende energie.

Daar gaan sekerlik nog ñ paar kleinkinders bykom, jou twee ooms se beurte wag. Maar jy is die een wat dalk die laaste eie-bloed kleinkind is. Jy staan jou plek vol, dis verseker. Ons stry deesdae om na jou te kan kyk. Ek sê deesdae, met ñ knipoog, want tot baie onlangs kon net jou mamma en pappa, jou sussie en jou tannie Alice, naby jou kom. Nou word die res van ons ook toegelaat.

Klein Xander, twee jaar is amper groot. Jy jaag klaar op fietsies rond, jou karretjies word oral saamgepiekel. Oupa noem jou sy klein Porratjie, want jou kort lyfie het ñ ritme van sy eie. Jy durf jou skooltjie daagliks soos ñ ware man aan, met die tietiebottel wat so skuins vasgebyt hang.

Die geheim is net, jy is ons baba. En gaan dit bly.xxx

20180524_1052431116858170.jpg

Ampertjies in die tronk…

En dit nogal in Mosambiek.

g301600

Die agtergrond:

1. Ons en dierbare vriende plus van ons kinders bly ñ paar jaar gelede vir ñ week op Inhaca eiland.

2. Die kamp is volbespreek, onder andere is daar gaste van Europa.

3. Dis laatmiddag, ek en vriendin plus ons albei se jongste dogters was reeds heeldag in die son in die see. Met verversings. Op lilos…

4. Verversings plus son is ñ gevaarlike kombinasie. Veral tydens die Desember vakansies.

5. Bertus kom moeg by die lodge aan, hy en ons een seun was uit op die bote.

6. Dis ons eerste dag by die nuwe lodge.

Ek en my man groet mekaar by ons chalet, baie opgewonde oor die aand se heerlike kuier wat voorlê. Hy haal sy kamera uit en begin afneem. Bertus neem graag alles af…

Feite:

Dis nou net hier waar die probleempie opduik. Manlief neem ñ video, loop agteruit, lewer lopende kommentaar. Ek is besig om die chalet netjies te kry. Tien minute later kom hy uitasem ingestorm, bleekwit om die kiewe.

Una! Ek is in die shit!!

Ek kry die kortste weergawe moontlik, want nou moet hier glo baie vinnig opgetree word…

Manlief: Ek het afgeneem, mooi alles van die kamp. En toe teruggekom om jou te soek. Die plekke lyk almal dieselfde, en ek onthou nie ons nommer nie, maar ek loop. En toe, toe ek jou kry, toe lê jy poedelgat-kaal op jou maag op die bed. En ek kan nie my geluk glo nie, dis dan nog laatmiddag. Maar ek laat waai met die video.

En toe draai jy om, en deur die lens sien ek die gesig. Dis nie jy nie. Ek is in die verkeerde chalet…

Sien, dis die ding met verversingkies en die son. Ek begin lag, histeries, en Bertus word al hoe bleker.

My vrou! Hulle kan my in die tronk gooi hiervoor! Hou op lag! Loop dadelik na die vrou hier langsaan toe en verduidelik vir haar wat gebeur het, en sê jou man is vreeslik baie jammer, en sê ek het dadelik alles ge-delete. Una!! Flip, my vrou, fokus! En jy vertel vir niemand hiervan nie. Hierdie is baie erg!

Die ding is, verversings en son. So raak ek ernstig en stap braaf uit. Ek moet my man red. Maar toe loop ek vriendin se volwasse seun raak, en ek vertel, en ek begin van voor af lag. En toe ek omkyk staan manlief my doodsbleek en aangaap, sy gesig vertrek van die ongeloof.

Ek weet.

Ek klop aan die chalet se deur, geen antwoord. Ek stap om, en daar kry ek die wulpse donkerkop besig om haar man die storie te vertel. En sy lag so dat die trane loop…heel moontlik was dit ook die verversings en die son wat saamwerk? Ek spin my storie, sê al my sê-opdragte plus nog ñ paar by. Hulle omhels my en almal is net te gelukkig.

Intussen het Bertie sy wassakkie gegryp en storte toe gevlug. Oppad loop hy hom teen twee Mosambiekse polisiemanne vas. Hy dog, ja, so hier is dit nou. Maar die ouens groet hom net vriendelik in Portugees, en hy ruk sy eie twee Portugese woorde uit en groet baie eerbiedig. Na die tyd hoor ek sy twee woorde beteken nie goeie middag nie, maar pasop gevaar.

Mens praat nooit in vreemde tale as jy dink jy weet wat dit beteken nie.

Daardie aand het ons en die wulpse paartjie heerlik saam gekuier. Lekker gelag. Alhoewel, tot vandag toe kan Bertus nie glo dinge het goed uitgewerk nie. Hy het homself reeds in die tronk ervaar. Gestroop van als.

Ja, ja. Ek het seker gemaak die video is afgehaal. Les hieruit geleer: ñ Man sien raak net wat hy wil. Want as daai poppie hom laat dink het dis ek, dan is als moontlik.

saucy-seaside-couple-painted-on-beach-hut-b3jnn8

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg