
Jy word nou amper ses-en-vyftig, en steeds sien ek jou as daardie laggende middelboet van ons. Indien Ben nie besluit het om ons te verlaat nie, wonder ek nogal wat ek en hy saam met jou sou aanvang. Sou ons deurry tehuis toe en bietjie kwaai met jou gaan praat het? Of sou hy jou eerder in sy sportskar gelaai het en iewers heen met jou gejaag het sodat jy kon gil van plesier? Sou hy by die polisiekantoor gaan stop het sodat jy almal se hande kon skud en vra of jy ñ polisiepet mag opsit?
Of sou hy jou Makro toe aangery het en jou na hartelus die mandjie laat volkoop het.
Die tehuis bel my gisteroggend met ñ probleem.
Jong Una, ons weet nie op die oomblik met Boeta nie. Sy tasse staan gepak, sy hele kamer is opgeruim. Hy bly op sy bed sit want hy trek glo terug huis toe. Ons mag nie inkom nie, dan raak hy aggressief. So gaan dit al ñ week lank aan. Hy wag vir jou en Bertus.
Amper ses-en-vyftig. Begin die ouderdom jou dink-wêreldjie nou ook inhaal? By ons gekom, sit jy net op die bed en wag dat die dae verbygaan sodat jy kan terug. By die tehuis weier jy om saam met die ander te gaan werk, want jy wag vir jou Noena. Wat moet ek met jou doen, my boet?
Ma het jou grootgemaak asof jy heel normaal is. Dit het jou baie gehelp, jy was eintlik ñ heel onafhanklike mannetjie op ñ stadium. Dis die laaste twee jaar wat dinge drasties begin verander het. Jou babbel-spraak is slegter, jou sig swak, en die ou ore hoor ook nie meer nie. Jy sukkel deur die winters, jou longe kry ekstra swaar.
En nou, nou is jou mense by die tehuis ook vir jou te veel.
Is dit tog beter so? Moet die mens-brein dalk begin flouer skyn namate die liggaam agteruit gaan. Maak dit dit makliker as jy na jou eie binne-plekke begin terugtrek en nie meer logies dink nie?
Ek neem aan jou medikasie is versterk. Jy is heel moontlik gekalmeer en lê nou na die dak en staar.
Ai my ouboet, ek is jammer hieroor. Ek is jammer dat ma ook weg is, dat jy nou net vir ons oor het.
Maar jy het ons.



















Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.