Lê-Jou-Eier: Skryf-Safari Skryf die Storie klaar.

womanalonewithsuitcase1

Saar Minnaar kners op haar tande. Braam se vrolike gefluit irriteer haar. Waar sy kalmte geanker is, sal sy nie weet nie. Die droogte is allesverterend – veld, vee, water, selfs menswees verskrompel tot niks.

“Ons het ‘n wonderwerk nodig,” sê Saar mistroostig.

“Nee, my lief, ons het geloof en vasbyt nodig, en miskien ‘n bietjie toevallige geluk,” sê Braam terwyl hy die possleutels en sy loterykaartjie in sy hempsak druk. Hy sluk sy koffie en soen haar voorkop.

“Ek gaan gou dorp toe. Daar kom vandag lusern van die Hoëveld. Ons sal maar swaar trek as die land se mense nie so hulpvaardig is nie.”

“Gmmf, gekkebelasting. Dis al wat daai loterykaartjie van jou is. Die kanse dat die hemel val en ons blou mussies gaan dra is meer waarskynlik. So van hulpvaardig gepraat. Hier is my dorpslysie. Asseblief, moenie vergeet om by Tannie Malie by Dokter Soois aan te gaan nie. Sy het laat weet ons moet daar draai,” vra Saar.

Braam kla: “Ag Saar, Tant Malie praat so baie, kom saam.”

“Ek het goed wat ek moet doen, en ek sien nie kans vir die rit in die lorrie nie. Wie is nou hulpvaardig?” kom dit snipperig.

Braam haal sy skouers op en glimlag skeef.

Gou is die lorrie se gedreun ‘n herinnering, en die stilte sak soos die versengende hitte op die werf neer. Saar begin met haar dag se sleurwerk.

Die hoenders kry kos, eiers word uitgehaal. Die stoof voel koud, en sy gooi hout op die vuur. Saar pieker oor aandete, Braam gaan rasend wees van die honger na die dag op die dorp.

Sy begin water tap om wasgoed te was. Die kraan drup enkele druppels water in die wasbak.

Die tenk is leeg. Saar stap uit na die windpomp by die sementdam. Sy trek die handpomphefboom op en af sodat die watertenk kan vol word. Die boorgatpomp het die gees gegee en daar is nie geld vir herstel nie.

Die waterpomp se handvatsel hang opeens swaar in haar hand. Morsaf gebreek. Daar is geen manier om water te pomp nie. Moedeloosheid stroop haar van alle rede.

“Nou is ek klaar,” snik Saar en storm die huis in. Sy haal haar kerkpakkie en hakskoene uit die hangkas en verklee. Sy smyt haar tandeborsel, pajamas, smuktas, ‘n skoon stel klere en haar handsak in ‘n tas.

Met ferm tred stap sy eetkamer toe en haal die Familiebybel uit die buffet en haak die trouportret van die muur af. Braam glimlag uit die foto asof hy net goeie dinge in hulle toekoms sien.

Sy draai die kleinnode in ‘n blou kombersie toe. Die kombers wat bedoel was vir die seuntjie wat hulle nie het nie.

Sonder om terug te kyk, stap sy, tas in die hand en kosbaarhede styf teen haar bors geklem, by die plaashek uit.

“Klaar,klaar, klaar,” knars die klippers onder haar sole in ‘n koor.

Dit gaan sukkel op die hoë hakke, en gou loop sweet in riviere teen haar slape af. Sy sit een voet voor die ander. Omdraai is nie ‘n opsie nie. Genoeg is genoeg.

Die plaashuis word al hoe kleiner tussen die verskrompelde mielielande – soos ‘n bedremmelde geliefde in onvermoë om Saar tot inkeer te roep.

Skielik, asof in ‘n droom, voel Saar hoe die horison kantel toe haar voet swik en die tas uit haar hand vlieg. Sy klou verbete aan die kombers met sy kosbare inhoud. Glas splinter en haar arms en knieë brand soos vuur. Sy bly in die rooi stof lê.

“Ek gaan nou net hier bly lê. Iemand kan oor my ry, of die aasvoëls kan maar my kom oë uit pik. Ek verstaan nou vir Job wat sommer so in sak en as kon sit en sy sere krap!”

Saar hoor nie die donkiekar nader kom nie. Moos, haar skoonpa se bejaarde regterhand, kry haar plat op die grond, trane in leivore oor haar stofbesmeerde gesig, onbedaarlik aan die snik.

“En as Saar nou hier in die middel van die pad sit en grens?” vra Moos besorg.

“Ek wil hier weg, Moos. Ek kan nie meer nie.”

“Kom ek help jou op. Bella en Koos sal ons gou daar onder daai doringboom se koelte staanmaak. Kry nou al jou seer bymekaar en vee af die huil. Mens is nie sommer net so klaar nie. Almal kry swaar. Dit is nou tyd om geduldig te wees. Net soos Vader Abram in die Bybel. Hy was oud voor die Jirre se woord waar geword het en daar ‘n kjênd vir hom en Sara gebore is. En later toe hy Isak moes gaan offer, het hy bly glo, en die Jirre se voorsienigheid het hom gespaar. Die Jirre se tyd is Sy tyd,” raas Moos.

Saar sit kop onderstebo. Moos is reg. Wat is anders op ‘n ander plek. Stadig kom sy tot haar sinne. Sy kyk af na haar verkreukelde romp, nerfaf knieë en haar hakskoene. Wat het sy gedink?

“Ag, Moos, ek is sommer simpel. Dis net alles te veel…”

Sy kry nie kans om klaar te praat nie. Rooi stof slaan om hulle op. Dis Braam. Hy slaan remme aan toe hy hulle sien….

Braam som die prentjie daar voor hom in die pad onmiddelik op, en sy hart mis ñ klop. Saar. Sý Saar met haar bruin oë soos diep donker poele, haar glimlag wat nog altyddeur die son in sy lewe kon laat opkom. Hy weet hoe sy voel, hyself steek sy moedeloosheid net diep weg. 

Hy bly net so sit, laat toe dat sy eie emosies opwel en begin oorloop. Is hierdie nou maar die einde van hul plaasdroom? Moet hy sy pa sê hy kan nie meer aanhou sukkel nie, dat hy sy vrou gaan vat en ñ ander heenkome vind? 

Terwyl sy oë in trane swem, kyk hy na die veld om hulle, hoor hy sy beeste in die agtergrond bulk. 

Here, hoe kies ñ mens? Hoe lank bly jy wag? As jou vrou opgee, as jy self nie aldag die skyn kan bly voorhou nie, wanneer is dit genoeg? 

Saar kom stadig nader, skoene in haar hand. Met elke tree wat sy gee borrel die seer net al hoe meer na bo. Sy wil nie meer nie; sy kan nie meer nie. Sy is leeg, soos haar moederskoot. Daar is niks meer oor nie. 

In die suising van die wind hoor sy haar oorlede ma se woorde, woorde wat sy op haar sterfbed saggies vir Saar geprewel het. 

“My kind, ek los jou nou alleen hier, ma gaan jou nie meer kan help nie. Onthou net altyd, niks is ooit heeltemal klaar nie. Moet nooit wil wegstap omdat jy dink jy kan nie meer nie. Jou lewe stap saam met jou, hy los jou nie. Vandag se wegstap wag jou môre in. Gaan delf diep in jouself, daar waar jou ‘glo’ lê. Al is dit min. Al voel dit na niks. Selfs jou min is genoeg.”

Sy steek vas en skud haar kop stilweg, haar oë vang dié van haar man vas. Braam huil. Haar sterk, positiewe Braam sit en huil. In daardie oomblik ryk Saar na die ‘min’ wat nog diep lê. ñ Vlaag emosie laat haar amper weer haar balans verloor. ‘My min is genoeg!’ gil haar binneste dit uit. 

Die oomblik toe Braam die deur oopmaak, is sy in sy arms. Sy klou hom vas terwyl die woorde oor en oor uitkom. 

“Ons sal dit maak, my man. Ons sal dit maak. My min is genoeg.”

Ons sal dit maak.

Braam verstaan nie alles wat Saar so prewel nie, maar net haar vashou, die voel van haar wese teen sy stukkende lyf, dis soos balsem op ñ wond.

En op Sy stil manier kom lê Sy antwoord in Braam se gees. 

‘Jy wag, Braam, want jy het haar. En in haar lê daar genoeg geloof om jul albei sterk te hou. Die porsie wat aan jou toegedeel is, is baie. Hare is meer. Hou haar teen jou vas, moet nooit te ver wegbeweeg nie. Dra haar in jou arms in hierdie tye, dan sal die las ligter wees. Niks is klaar nie.

My belofte aan julle dat julle sukses sal smaak kan nooit leeg na My toe terugkeer nie. 

Beweeg weer nader aan mekaar, en julle is nader aan My.

In die doringboom se koelte staan Moos met sy gelapte hoed in sy hand. Sy Jirre het dié tweetjies se harte weer reggedraai. Sy Jirre weet hoe. 

Agter op die lorrie se sitplek lê die varsgebakte beskuit wat Tant Malie saamgestuur het. Met die briefie by. “Net vasbyt, julle twee. Die Here sal voorsien.”

En agter die berg, daar waar die oë nog nie kan sien nie, breek die diep rommel van ñ donderstorm deur, en raak die wind aan die dans terwyl dit die wolke aanjaag. 

Dit is nooit net klaar nie. 

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=777222

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

ń Hart kan vermurwe…

Daar is nie eintlik grense waar dit jou aanbetref nie. Ek kan nie keer nie, ek kry nie weggeskram nie. Jy, in jou volle seuntjie onskuld, hou my hart in jou twee handjies vas.

Oumas en oupas het nie gunstelinge nie. Elkeen van ons klein mensies besit ń volle hartkamer.

Dis net. Jy was eerste. Vir my wat drie dogtertjies gebaar het, was jy ń vreemde bondeltjie seuntjiemens. Hoe om jou doek droog te maak; waarvoor om versigtig te wees, dit het ek vinnig aangeleer.

Jy was nog altyd anders. Anders as my prentjies. Jou ogies het dwarsdeur my gekyk; jou kleinseuntjie asemhaling wou ek vasvang.

Julle slaap vanaand by ons; sit by oupa en kyk wildtuin fotos.

“And I become undone.”

Want toe jy hier langs my kom inkruip, is dit net ek en jy, my engel. Jou handjie wat myne soek, jou ogies wat swaar toeval.

Ek sal deur die vuur vir jou loop, ek weet. Ek sal ook die hel vir jou trotseer.

Ouma se kleinseun, ek dra jou weereens aan ons Vader op.

Want daar is net Hy op wie ek kan vertrou. Met jou.

Die groot lekkerte van ouer wees.

58a010e3c489119de4fdb255c4e7c7d9--woman-reading-figure-painting

Nommer een, ek skrik nie meer so maklik nie. Met die dat ons al so baie beleef het, is dit makliker om die tree terug te neem, en oor ‘die nuwe krises’ te besin.

Ek is gewoond daaraan om ñ hele klomp balle gelyktydig in die lug te moet hou. Dis ook makliker om, indien een op die grond val, dit net eenkant toe te skop.

Nuus is nie meer nuut nie. Wat wie ook al aanvang, ek sal so ewe my kop skud, die nodige geluide maak, en aangaan met wat ek besig was.

Ek lê glad nie in die nag en bekommer my oor regerings aangeleenthede nie. Wat my wakker hou, is die dinge wat in my geliefdes se lewens gebeur. Dis nie dat ek nie omgee nie; ek besef net my eie beperkinge, en fokus op dit waarmee ek wel kan help.

Ek droom deesdae makliker, dis nou dagdroom. As jy reeds ñ klompie jare agter die rug het, weet jy dat enige iets moontlik is. Hoekom? Die lewe het jou dit gewys. Wonderwerke gebeur, net soos Tsunamis ook. Om jou vas te staar teen die werklikhede om jou, tap jou lewensenergie. Liewer dan nuwe drome skep, want soos reeds gesê, enige iets is moontlik.

Ek is baie minder ingestel op my voorkoms, en meer op my innerlike gesondheid. Dit pla my as ek oor onnodighede swaarkry, so self-ondersoek begin maklik, kan diep raak, en klaarkry. Ek wil nie meer selfverrykings kursesse bywoon nie. Eerder in gesprek met myself van vandag, met myself van gister, tree, en pleisters afruk sonder om eers ñ “drip” op te kry. Sny oop, haal uit, spuit skoon, sit terug. Werk toe met ordentlike steke, die wat vanself oplos.

Die donker dae kom wel. Die sonskyn dae ook. Die pad tussen-in is al redelik hard uitgetrap, met ñ paar droë bossies langsaan om onder te gaan lê. Die hoë skadubome wink egter in die verte, en ek weet daar is altyd ñ eindpunt.

Dis wat die lewe jou leer.

Eens jy ouer is.

 

Sonsopkoms.

20180423_1317521378149034.jpg

Die Krugerwildtuin doen ons altyd goed. Vroeg-vroeg opstaan, koffie en beskuit in die hand, en daar gaan ons. Dis dan ook die tyd wat ons die beste wild te siene kry, veral leeus, jagluiperds en luiperds. Om nie eens van die voëllewe te praat nie!

Die drie dae “op die plaas” het soos  ñ lang vakansie gevoel; net die totale afskakel en alleen saam wees. Dis goed.

ñ Sonsopkoms hou deesdae ñ ekstra bekooring vir my in. Dis so die teken dat die nuwe weer kan begin; nog ñ kans om dinge reg te doen, om te verander. Hoe ouer ek word hoe meer bewus raak ek van tyd; van dinge wat nog gedoen moet word, van die mense in my lewe wat geniet kan word. Tyd is verniet, ons kry dit elke oggend as nuut. Wat ons daarmee doen, dit is in ons hande. Dit bly ons keuse.

So môre gaan ek vir Boeta vir ñ paar dae haal. Weer bietjie tyd saam met hom spandeer, al staan sy kop sommer vinnig terug tehuis toe. Terug na sy vriende toe.

Môre oggend ook eers vir manlief in die hospitaal gaan kuier. Skaars by die huis en hy moet opgeneem word vir toetse. Gelukkig kon ons die drie dae saam ten volle geniet.

Tyd ja. Tyd vir my mense, saam met my mense.

The butterfly counts not months but moments, and has time enough.

butterfly-meadow-700x300

Ek wil minder in die verlede leef, ek wil minder na die toekoms kyk. Nou; nou is waar ek wil wees, pens en pootjies in hierdie dag, al gaan dit soms rof. Die tyd waar ek nou is, dit gaan ek nie weer oorkry nie. Ek gaan meer liefhê, meer lag. My mense omarm en my medemens beter leer ken.

Of ek nog baie tyd oorhet, of nie. Dit weet ek nie, so dan tel dit nie.

Vandag is my dag, dit is hoe ek wil leef, want die son het opgekom.

   

 

 

 

Wat as, of sê nou maar…Skryf-Safari Uitdaging.

Ons oë is koeëlrond; ek hoor hoe klop Kameel hier langs my se hart. Perdebytjie vroetel saggies om haar kamera reg te kry, en Toortsie neem een tree vorentoe.

20180419_0826351289272287.jpg

Die ligstrale val speels oor die skatte hier op die mat. Tot vir my ongeoefende oog lyk dit eg, skatkis eg. Trompie knor saggies skuins agter in Scrapy se arms, en my nekhare rys al hoe meer. Ons mag nie hier wees nie, ons weet dit maar al te goed. Maar o weë, toe Lekkervurig eers die sleutel tevoorskyn bring, die een wat sy per ongeluk agter ñ los baksteen onder haar bed gekry het, toe kry ons oor niks anders gepraat nie.

Hoekom sy op die vloer van die Towerpaleis rondgekruip het, het niemand gevra nie. Sonell het dadelik aangebied om die deur vir die sleutel te gaan soek, en Abrie het koers ingeslaan biblioteek toe. Elke paleis het so iets, en dalkies kry hy inligting.

Hester steek haar hand stadig uit na die skulpkis vol edelgesteentes. Sy druk haar bril reg op haar neus, want die skitter-strale wat so oor alles val, wil-wil mens verblind.

20180419_1003201831023849.jpg

Die kamer is yskoud. Net eenkant, eenkant in ñ vaal hoekie, lê ñ swart sak oor iets getrek. Ekmyself is dadelik op soek na oorbelletjies met ñ veer in, en Wegkruipertjie kies vir haar die goue borsel uit. Haar mooie haredos word bygedam, en jy sien net goudstrale spat.

Seegogga sit en neem notas, skribbel so vinnig as moontlik, terwyl Toortsie die een na die ander goue opskepbak bekyk.

Dis toe dat Kameel ñ kort gilletjie gee, en flou val…in haar hand die swart sak, voor haar voete…

 

Ons val behoorlik bo-oor mekaar om hier uit te kom; Lekkervurig kry vir Kameel beet en sleep haar sonder seremonie agterna. Sonell onthou darem betyds om die deur agter ons toe te trek, en daar hol ons. Asof die duiwel vanself agter ons is.

Vanaand is ons na die dinee uitgenooi, Camilla word gegroom vir die vader alleen weet wat, en elkeen van ons se hande is met spatsels goud bedek; ook Hester se bril, Ekmyself se ore, en Wegkruipertjie se pers hare… Dit was nie af nie, dit skitter met elke beweging, en waar ons ookal soek, Perdebytjie het verwdyn.

Dit is nou maar net so, waar ons klompie Towerinne ook al opdaag, selfs in Oostenryk ver van ons eie land af, ons bly net nie uit die moeilikheid uit nie! Nou word Abrie nog tot ñ ridder geslaan, hy gaan voor Marco moet kniel wat hom dan met sy koninklike swaard op sy skouer sal tik. Camilla is ñ koningin, en ons het op iets afgekom wat ons nie moes sien nie.

Wat as Abrie deurboor word? Wat as Perdebytjie gevange geneem is? Wat as die koningin moeder ñ wrede heks is en ons almal in steunpilare van ys verander?

Wat as ek maar liewer my oë toeknyp, en terug is in my Bali winkel. Van alles vergeet.

Ja, wat as.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=776174

 

Kragtige kloue.

bald-eagle-talons-nicole-riley

“You are free to make whatever choice you want, but you are not free from the consequences of the choice.”

Hierdie is woorde wat ek so goed ken; ken en verstaan. Keuses kom deesdae glad nie meer maklik nie, dis asof ek hierdie lysies in my kop het met die “pros and cons” ge-highlight. Ek vermoed dit het met die ouderdom te doen, en ek wil ook nie te veel sê dis omdat ek insig het nie. Te veel insig kan soms lei tot die wag voor jou mond wat sy pos bly verlaat.

ñ Versigtigheid het ingetree wat my stil maak. My ore hoor anders, selfs my oë sien nie meer dieselfde nie. Hierdie nuwe manier het ongesiens sy plek in my binnekant kom inneem; ek was beswus van verandering, maar dis asof die mense om my daarmee sukkel.

Die kinders mis hul vurige ‘inspring’ ma. My man mis my uitgesprokenheid teenoor familie aangeleenthede.

Ek staan nou-nou lank na myself in my Bali spieël en kyk, draai heen en weer en besef: ek hou tog van wat ek nou sien. Die nuwe beeld lyk veiliger. Ten spyte van, of juis as gevolg van die plooie, die beter lewens-woordeskat, die voorreg om as ouma ñ groot sê te mag hê, ek hou baie meer van myself.

Dalk het ek sterker geword. Taaier. Kan ek makliker bly vashou aan my eie oortuigings, en is dit nie nodig om ander te probeer verander nie. Feite is, ek sukkel steeds met sekere emosies, ek gly steeds op die nat vloer, maar ek hou stywer vas.

20180416_1216121444085987.jpg

“Actions and consequences are a packaged deal.” 

Die gevolge van aksie; van te vinnig praat, onsensitief in die hitte van die oomblik ñ eier lê, ñ mening aanbied wat sy oorsprong het in eie onvergifnis, die eie-ek vooropstel en reageer asof alwetend; daardie deel is diep begrawe en het reeds ñ grafsteen op. Deesdae sien ek die waarskuwings borde duidelik raak. Hou ek die ‘lesse geleer’ goed in die oog.

So as die blou-tye kom, en hulle kom, gaan sit ek in my stilte, skud my vere uit, en hou vas.

20180416_121835301991180.jpg

 

 

 

 

 

Donderdag-notas aan self:

  1. Sometimes the best way to avoid getting stuck is knowing when to simply turn around and go another way.

the_photo_shooting_006

(Nee, jy dink mos nie, hel net in…)

2. Slow and steady. (Jy het geweet daar is ñ modderige oppervlak voor jou, wat was jou spoed?)

3. Maintain control. (Met hierdie punt val jy heeltemal uit die bus…kar… uit. Hou jou wiele reguit as jy die modder tref, vir so lank as wat jy bly beweeg.)

the_photo_shooting_016

4. Lock it in. Do not wait until it is too late. (Ja, Una)

5. Walk it first. (Weer, ja Una! Hoekom het jy nie ñ stok opgetel en seker gemaak dit raak die bodem nie? Dan sou jy weet dis te diep vir jou voertuig.)

bc52f8

6.Remember to always drive within your abilities, and wherever possible, only tackle mud, sand or any other non-pavement driving situation in the company of someone in another vehicle-just in case you need them to pull you out. (Om nou te wil sit en dink, help niks.)

auto-500-car_stuck_girls_49wtmk

Einde van Donderdag-notas aan self: Sluit die winkel deure, bly op die teerpad huis toe, gaan trek jou pajamas aan, kry ñ koppie Milo, en klim terug in die bed.

Vandag is nie jou beste dag om op lewenspaaie rond te beweeg nie.

Boeties bly boeties.

(fotos:Google Images)

doll-head-and-book

Ek het mooi poppe gehad, baie ook. Baba-poppe meestal. Ek het ook twee boeties gehad, need I say more.

Een van my beste kinderdrome was dat daar iewers ñ dokter is wat poppe gesond maak. Hulle koppe weer sal vasgom; arms en bene sal herstel. Ek het dikwels die klomp op my bed uitgestal, elk met sy eie ledemate by hom, en dan gesit en kyk en droom. As iemand iewers net my poppe kan kom heelmaak, sal ek so gelukkig wees.

Pakgee het nie veel gehelp nie, my poppe het bly deurloop. Dat ek drie onhebbelikke nefies gehad het, het natuurlik bygedra tot my mismoedigheid. Vyf seuntjies saam in ñ dogtertjie-kamer, met die dogtertjie wat heel moontlik by die bure speel, dit het nie goed gewerk nie.

dolls-at-tea-party

Op ñ dag het pa vir my ñ kis gebou, een met ñ groot slot aan. My poppe-kluis. Hierdie het die seunskinders nou eers aangevuur; my kis is as buit van bote af gesteel, in grotte weggesteek, tot selfs eendag in seerower kleure oorgeverf.

Ek hou vir kleinman deesdae dop, hier in die woonstel se klein speelkamer. Amper twee jaar oud, reeds ñ regte seuntjie. Sussie se poppe word aan hul hare rondgedra, op die lorries gepak en rondgestoot. As sussie maak asof hulle praat, bars hy uit van die lag en gooi hul kombersies oor sy kop. Hy probeer saamspeel, maar die lompe seuntjie hande vat klaar te rof.

Een van die dae gaan oupa ook ñ poppe-kis moet bou, een met ñ goue sleutel aan en sus se naam op.

Want ouma ken steeds nie pop-dokters nie, en boeties bly boeties.

…en daar kraak die glas.

826f705ea5bd14ea08a75c837bd1e668

Dis eintlik so ñ mooi prentjie, dié gekraakte ruit. Die lewe daar buite; die lig wat jou uitnooi om te kom kyk.

Ek sit op ñ stoel en grinnik vir myself. So it has come to this. Dis weer tyd om iets uit die verlede in die oë te kyk, en die gevoelens toe te laat om oor my te spoel. Wegpak werk nie.

Al wat ek wou opdiep, is ñ gediggie wat my moeks geskryf het, om vir klein Gaby te leer. Sy is nou op daardie stadium, wil versies maak van als om haar. En haar ouma grootjie was ñ uitstekende rymelaar.

Dis al wat ek wou opspoor.

Mooi man. Defnitief nie die vergeelde stuk papier van 1994 met my naam regoor alles nie.

Ek staar na jou foto

kind van my hart.

Eers was jy my vreugde

nou bly daar net smart.

Glimlaggend staar jy,

So jonk en so fraai.

Niemand kon tog weet

waar jou paadjie sou gaan draai.

Al sluit ek my oë

jou gesiggie bly my voor.

Waar is jy my kind?

waar kan ek jou kry?

Jou gesiggie verander

ek hoor nou jou gil.

Jou glimlag verwronge

en dan is dit stil…stil

Ruk af jou masker

Sak dan laag neer.

Rig jou oë op na bowe

En roep na die Heer.

My hart het behoorlik gekraak toe my oë hierdie tref. Ek het haar so ontsettend seergemaak met my keuses, en sy was maar net altyd daar, gereed om te help optel en toeplak. Het ek ooit jammer gesê? Het ek ooit haar stukkende hart in ag geneem?

Ons kan nie altyd net wegstap van seermaak af nie, iewers sal dit ons inhaal. Al is sy nie meer hier nie, haar dinke het agter gebly, op ñ vaal stuk papier. Ek kon dit opvou en weer wegpak, ja. Maklik. Ek kies liewer om dit te kom uitskryf, te kom voorlê, aan myself.

Jammer my ma. Jammer dat ek ma se seer nie wou raaksien tussen my eie gebrokenheid deur nie. Ek voel dit nou, en ek tjank. 

Jammer my moeks.

images 

 

ñ Sekere soort omgee.

(fotos:Google Images)scandal-ratings-season-6-huck-dies

Die tv reeks The Fixer, is een van my gunstelinge. Hier teen die sewende seisoen ken ek die karakters asof hulle my eie familie is, so sekere optredes het die vermoë om my diep te raak.

ñ Senario tussen twee hoofspelers in hierdie laaste episode was een so ñ keer. Ek het dit weer en weer oorgekyk, met my asem wat elke keer ingetrek is. Die rou 100% opregte uitdrukking en woorde op Huck se gesig en in sy oorkom, die liefde en omgee vir die ander persoon was vir my amper heilig.

Om iemand te ken, om met sy beste en ook sy heel slegste self mee vertroud te wees, bring ñ diepte tafel toe wat mensgemaakte grense kan oorkom. Om bereid te wees om die ander dan met jou eie kwesbaarheid teë te gaan, juis vanuit die plek van omgee, spreek van onvoorwaardelike liefde.

Ek dink die rede dat dit my so ‘gevang’ het, is omdat my wese hiermee identifiseer, maar ook omdat ekself so sukkel om tot aksie oor te gaan. Die beeld op die tv het my siel gevoed, my vir ñ oomblik stil gemaak sodat ek die mooi hierin kon raaksien. Sodat dit in my hart kan kom vassteek vir my eie groei.

Ek, ons mensdom, het opregtheid nodig. Ons het mense om ons nodig vir wie ons ten volle kan vertrou, wat wie en wat ons is, nooit as ñ wapen sal gebruik nie, maar as ñ platform om ons in tye van swakheid te dra.

Hierdie gebeur nie net nie. Daar moet eers ñ pad gestap word, die pad van uitreik, ñ pad van tyd en praat, saamdoen en leer. Val en opstaan. Die pad van vertoue bou.

Ek weet mens is bang. Dalk is dit veiliger om net terug te trek en ñ deel aan ander te wys wat oppervlakkig bly.

Maar ek, nadat ek daardie sekondes so oor en oor voor my sien afspeel het, ek wil sulke verhoudings in my lewe hê Ek wil dit koester en laat groei, myself aan ander toevertrou. Aan hul inpraat in my lewe, aan hul bewys van omgee vir my in my eerlikste gedaante. Ek wil ñ ryker mens word, ek wil verhoudings bou wat nooit verlore sal gaan nie. Ten spyte van al die seer en lelik om my.

Ek kan nie my loop op aarde alleen voltooi nie. Ek wil ook nie.

Lucian-Freud-Double-Portrait-1985-6-1200x800

Una, laat sak jou arms!

(fotos:Google Images)2014612065651

Ek en Indonesië se lughawens kom ñ lang pad saam. Dit was ñ totale kultuurskok toe ek vir die eerste keer in 2004 op die Semarang lughawe in Java afklim. Op daardie stadium was ek reeds vir tien dae in Bangkok, so my tasse was tot die maksimum gewig gelaai. Behalwe dat jy met trappe uit die vliegtuig moet afsukkel, dis nou omdat jou handbagasie oorlaai is, tot in die lughawe gebou jou weg moet baan tussen vliegtuie deur, wag daar ñ verdere verrassing binne.

Dis totale chaos. Die spasie waar jy vir lewe en dood moet stoei om voor by jou tas uit te kom, is ñ onmoontlike uitdaging. Die bagasie-band is vier meter lank, en stop kortaf in die middel van niks. So as jy nie jou tas gegryp kry terwyl dit aangerol kom nie, land dit op ñ hoop, ñ groot hoop.

Wat ek uit die oog verloor het daardie eerste keer, is dat Java nie vriendelik is teenoor vrouens wat met moulose klere rondbeweeg nie. So jy kan dit nie waag om jou arms op te lig om iets aan te vat of af te tel nie! Die onderarm deel is vir hulle net so sensueel soos wat ook al. Die mans hou jou soos valke dop, die vrouens verberg hul geskokte gesigte onder die doekie om die gesig. En daar staan jy. Naak, tussen ñ berg tasse en sakke.

Binne kry jy nie ñ trollie in die hande nie, dié staan buite in die straat. So nou moet jy die groot tas, die kleiner sleeptas, jou handsak, kamera, en laptop sak als gelyktydig balanseer. Dit terwyl jy nie spasie het vir ordentlik asemhaal nie.

207948_620

Jou vrese vir diefstal verdwyn soos mis voor die son. Nee, veel eerder probeer jy net by die uitgang uitkom sonder om te veel aandag te trek.

Daar gekom, tref die hitte jou soos ñ vuishou in die maag, maar dan skop realiteit in.

Jy is hier, in een stuk. Die vreemde klanke heet jou welkom.  Die kosreuke herinner jou daaraan dat jy die voorreg het om ñ ander land te besoek.

Jy kyk links en regs, glimlag in jou binneste, en vergeet van al jou gisters.

jakarta-travel-guide-46-X3

 

 

ñ Towerfluit.

(prentjies:Google Images)a

Die wiel draai, nè. Ek onthou so goed my soms geïrriteerde woorde aan my ma, ‘mamma, ma moet besef die lewe is nie net stories nie! Ma kan nie net verby die werklikheid wil leef nie!’

Dit is nie eers so lank gelede nie, kom ons sê sewe jaar terug. En hier staan ek nou, en ek wens vir ñ towerfluit. Een wat ek op kan speel en die mooiste verhale en prentjies kom na vore. Dink net daaraan. Ek sal vir my ñ vertrek skep, met ñ deur wat ñ loergaatjie in het. Min mense sal ingelaat word, beslis nie enige logies denkendes wat koerant lees en nuus kyk nie.

Ek vermoed ek sal net uitkom om seker te maak my mense oorleef so sonder my, dan weer omdraai en verder gaan droom. Gaan “explore”. Op my terme.

Kan mens so moeg raak vir realiteite dat jy op ñ dag ñ deur agter jou toetrek? Die ouens wat ñ aftree huisie iewers langs die weskus gaan koop het, ver weg van als, kry hulle dít opgespoor waarna ek so hunker? Rus en vrede, eenvoud.

Binne sewe jaar sluk ek my woorde aan ma nou met graagte in. Sy was reg, ek verkeerd. Selfs die Bybel sê ons moet weer soos kindertjies raak, soos hulle glo, met volle oorgawe en oë groot van verwondering.

Ek wil ñ towerfluit hê…

beach-cottage-design

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg