Piekniekspeletjies.

(my mamma)

My Moeks was tog te lief vir Volkspele. Sy sou ons eindelose stories vertel van hul kampe en byeenkomste, van die streng reëls aangaande die Volkspeledrag. Een van haar eie beste herinneringe was toe 2 000 volkspelers in 1949 ñ massavertoning by die Voortrekkermonument gelewer het. So is sy dan ook gekies as een van die honderdtal wat in 1953 Europa toe is om daar te gaan deelneem.

Ek sit nou-nou na die detail op prentjies en kyk na die aanwysings oor presies hoe die Neefs en Niggies se klere moes lyk. Dit neem my terug na 1972 toe ek self aan Volspele-dae deelgeneem het. Dit was ñ groot ding in ons skool in Durban, hierdie deel van ons kultuurlewe. My rok was perfek, die lyfie nousluitend met ñ puntjie van 6cm laer as die middel voor. En die onderrokke, gestyf met ñ breë val. Ma het ure gesit om vir my die mooiste rok te maak, en elke kleinste vou en stekie is sorgvuldig ingebring.

Vanaand gaan die dik FAK weer bietjie uitgehaal en afgestof word. Gelukkig vergeet mens nooit die woorde van daardie liedjies nie, dis so deel van my Afrikaans wees.

Kleinste pikkewyn-dogtertjie ken reeds baie van die liedjies; die kleuterskole is deesdae baie oulik daarmee. En kleinboet met sy diep, vals stemmetjie gaan ook baie belangrik ñ steppie of twee uitvoer.☺ Veral as ouma sy onderbaadjie vir hom aantrek.

Volkspele_onderbaadjie

Wonder net of ek darem nog hier en daar van die dansstappe gaan onthou. Dalk vinnig op Youtube loer en Afrikaners Is Plesierig so ñ keer of twee weer inoefen… En oor ñ klompie jare vorentoe, gaan jongvrou Gaby vir haar eie kinders kan vertel van die keer toe ouma-grootjie, dis nou ek, vir hulle ou-ou tyd se danse geleer het.

 

Ek kon sien.

 

Hierdie Paastyd was glad nie vir my maklik nie. Elke keer as ek op die blogs kom loer het, het ek net meer en meer bewus daarvan geraak dat ek iets aan myself sal moet doen, want ek mis uit. Mis uit op die heel belangrikste paar dae van ons Christelike pad.

Toe breek gister aan, Opstandings Sondag. Ek het deur die diens gesit met ñ hart van lood, en my binnekant wat steeds stom is. Here, is al wat ek kon sê. U moet my help.

Ons is gisteraand terug kerk toe; twee van ons getroude kinders is groot gedoop. Op Opstandings Sondag. Ek was so bang vir baie huil, vir die begin wat dan net nooit weer gaan ophou nie. Die opbou van emosies binne myself kom al soveel maande; die hartseer en tog ook die verwondering. Eie seer en sukkel asook my mense s’n.

Die oomblikke toe daardie twee kinders onder die water gedompel is, deur die trane wat in strome gespoel het, was ek en God alleen. Net ons twee. Met geen woorde nie. Ons het albei vir hulle gekyk, en toe raak HY my oë aan.

9e5002d0309ac0d2a9c1df9f83343b82--angel-paintings-watercolor-paintings

Die engel het oorgebuk en die water geroer. Hy was groot, baie groot. En sy vlerke het my kinders bedek.

Ek ry vanoggend werk toe met die woorde van my geliefkoosde lied in my ore.

Like a tidal wave

Crashing over me

Rushing in to meet me here

Your love is fierce

Like a hurricane

That I can’t escape

Tearing through the atmosphere

Your love is fierce

U laat my nooit los nie. U hou nie terug nie. U soek my uit as ek wegskram. U gaan haal my daar waar ek is.

U het reeds gesê ek is gevind, so ek kan nooit meer verlore voel nie.

0d3b16c26e37db93a392d4a50040dd37--nature-paintings-art-nature

Ek gaan vandag weer op almal se blogs lees, met ñ ontspanne hart. Met oop ore en oë wat dieper kyk.

 

xxx

 

Jong, sy was ñ glips…

Selfs ouer mense kan glipse kry, ja. Tong-glipse.

Ja ja, ek weet nou klink dit bietjie verkeerd, vir ouer mense, maar ek bedoel eintlik, ons kry glipse met ons woorde…Funny Cute Cat Wallpaper X with Cute Funny Cats Wallpaper

Sy was ñ defnitiewe glips van die tong. Of ñ woord-glips…ag, wat ook al.

Una, hoe het dit dan nou gebeur dat julle ñ kat het? Jou man is ñ hond-mens!

Mmmm. Dit was die sestigste se skuld.

Huh?

Man, ons vriend het sestig geword, een aand, en so met al die ander ou vriende bymekaar, het ons heerlik gekuier. Ja, ek weet. Ek bedoel lekker gekuier, té lekker. Dis toe dat my vriendin vertel van die rondloper kat wat by hulle opgedaag het, al vier maande tevore. Niemand s’n nie. Tog in ñ goeie kondisie, spekvet en uiters bevoeterd, reggemaak. Sy soek ñ huis vir haar, want kiets is angsbevange as die honde in haar rigting kyk. En hulle het reeds ñ kat.

Dis hier waar die rooiwyn toe effe inskop.

Ek wou nog altyd ñ vet, befoeterde kat gehad het! Waars my man, ek vra hom gou.

Man hou van sy bier op sy tyd. Baie gulhartig stem hy in, groot b..k… mond voor sy pêlle.

My vrou, vanaand kan jy alles kry wat jy wil hê! 

En toe, Sondag laatoggend, nadat ons met kopsere van die kerk af terugkom, wag vriende en Kieter ons by die huis in. Met donkerbrille op, al was dit hard aan die reën. Nie lank gekuier nie, net my geskenk kom afgee.

Manlief was sprakeloos van skok. Ek ietwat ontkant gevang…

Hoe het dìt dan nou gebeur…? Ons het al hierdie jare so mooi kopgehou, en nou dit?

Jip, kieter het gebly, en Kieter is sy. Die defnitiewe hoof van die huishouding. Honde-man of te nie.

My punt hier is, vanaand is daar weer ñ verjaarsdag. Iemand word sewentig…

 

Lae en lae…

layers-12

Dis amper weer koud genoeg vir wintersklere, die lae en lae wat ons so oormekaar aantrek.

As ek van al my vooropgestelde idees en vrese en selfbeskermings-meganismes geskei kan word, wat gaan oorbly? Wie gaan oorbly. Daagliks, weekliks, maandeliks en jaarliks is daar vir amper agt-en-vyftig jaar lank laag op laag ‘kledingstukke’ vir my aangetrek. Later deur my aangetrek. Teen die koue, teen die wind, teen aanvalle, teen situasies.

Ek reageer nou-nou op ñ foonoproep, en met die neersit besef ek die skarrel wat binne myself ontketen is, is die gevolg van ou onsekerhede, van weet wat mense van my verwag, van onuitgesproke reëls. Dis toe dat ek so effens in my binnekant inkyk en sug. Net soms wonder ek. Wie sal ‘gestroop van al die bagasie’ oorgebly?

Newborns25

Met ñ hart wat oorloop van dankbaarheid…

Sondag is my container van die skip afgelaai, en Maandag-aand kon ons afpak. Nêrens gestop nie, geen boetes gekry nie. (Toortsie, jou gebede het defnitief gehelp)

20180328_0815072023130125.jpg

Ekmyself en haar boer het verlede week kom kuier, en vir my die mees oorspronklike geskenk denkbaar saamgebring! Vir die dag as die voorraad aanland. Die sjampanje se prop is hoog geskiet, die kondensmelk opgesuie…

20180328_121034359638709.jpg

Dis VOL, dis BESIG, en dis heerlik! Ek hardloop rond om alles oop te maak en pryse te gee, en natuurlik moet ek kort-kort eers stilstaan en die nuwelinge verwelkom.

20180328_1230291124936822.jpg

Dis ñ groot lekkerte om my eend-versameling te kon rondwys, veral die nuwe kokke is heel in hul skik met die geure uit die restaurant langsaan.

20180328_1300341826540052.jpg

ñ Verlangse familielid  van Camilla het ook haar opwagting gemaak, bikini en al, en ons twee skinder lekker oor die Towerinne doer in die Kaap.

20180328_11185779791094.jpg

Soos ek sê, dis bont, baie bont. Negosiewinkel se moses op die oomblik.

20180328_0958581713210114.jpg

Die telefoon-boekrak het sommer klaar twee kopers, en ek begin wonder of ek hulle dalk moet laat bie.☺

20180328_1034581161552398.jpg

ñ Diep verlange het natuurlik onmiddelik weer sy plek in my binnekant kom inneem. Is dit dalk die reuk wat al die herinneringe so werklik kom maak?

20180328_1116591264292841.jpg

Die dogters bel kort-kort om te vra vir fotos, om te hoor of ek dit geniet. My hartsmense weet maar almal, Una is op haar gelukkigste in haar winkel, tussen haar ‘goedjies’, besig met kliënte. Bertus glimlag ook, sy vrou spin soos ñ kat.

En ek. Ek wi huil oor die voorreg en die geleenthede wat my PA so aan my toevertrou. Here, mag ek nooit vergeet dat hierdie ñ geskenk uit U VADERHART is nie.

20180328_130225220822568.jpg

Woestynmense.

(fotos:Google Images)flug-namib-desert

As ek deel van die Israeliete was wat vir veertig jaar in die woestyn rondgetrek het, wie sou ek wees? Sou ek gemurmereer het, bly kerm het dat dit beter was terug in Egipte?

Ek wonder daaroor.

Ek sit voor Google en verdwaal tussen die fotos van die Namib woestyn, en ñ groot verlange kom lê in my binnekant. ñ Verlange na ñ plek waar ek nog nooit was nie, en tog voel ek die bekendheid daarvan in my are. Daar waar gister en vandag en môre in mekaar in vloei. Waar woestyn en oseaan mekaar met ñ ongenaakbare felheid ontmoet.

In my kyk voel ek die woord ‘hoop’ raak. In hierdie niksheid wat so uitgestrek lê, en tog ñ polsende lewe van sy eie het, hier ervaar ek hoop.

Was daar dalk toe ñ vrou wat daagliks onder die skadu van die wolk ñ nuwe toekoms bly verwag het?

namib-desert-coast-sand-dunes-ocean-meet-southern-africa-aerial-from-above

 

Die R21, R25 en verder…

(Google Images)brain05

Môre se pad tot by die begrafnis, dit is wat my vanoggend redelik lank besig gehou het. Hier, nou, vandag, moet ek ruiterlik erken…ek kan en gaan nie my motor se GPS gebruik nie. Seker ñ halfuur voor die winkel gesit en die adres reg probeer inpons, maar dit werk nie! Ek is te dom of te oud, of net te hardkoppig.

Hoe kry die res van die samelewing so maklik op die klein skermpie met die harde vrouestem, vertrou. Ons kinders lag almal vir my, selfs manlief kry ñ vonkel in die oog as ek eers met padaanwysings begin.

Die ding is, ek wil kan verstaan waarheen ek oppad is. Die volledige prentjie in my kop kry. My rigting uitsorteer. En net voor iemand my uitlag, ek kom gewapend.

Relying on GPS to navigate destroys your innate sense of direction, a skill that took our ancestors thousands of years to develop and hone. When areas of the brain involved in navigation are no longer used, those neural connections fade away via a process known as synaptic pruning. Hierdie volgens die nuutste feite op Google.

Ek gaan nie my oerouers se werk ongedaan maak nie. Vir volk en vaderland sal ek met my gesonde verstand self in Babsfontein uitkom. Ek en Google Maps het lank vir mekaar gesit en kyk, totdat die blou ‘kortste roete’ mooi ingesink het. Nou kan ek toe-oë tot by die kerk op Waenhuiskrans ry… of liewer met wawyd-oop-oë.

Ek en my brein.

I-lost-my-brain

As woorde nie genoeg is nie.

IMG_2287

My hart is vandag 100% op ñ ander plek. Ek sit na ons Desember fotos en kyk, en die onthoue tuimel sommer bo-oor mekaar tot op my skoot.

Ek wil teruggaan! Weer die seesmaak heeltyd op my lippe proe. Die uitgestrekte oseaan inneem en voel. Voel met my elke asemteug, voel met my hart in my oë.

IMG-20180105-WA0045

Hoe gebeur dit dat een vakansie soveel skakerings van emosies kan terugbring? Maar wat uitstaan is die vredevolle samesyn, die ruimte vir mekaar, die ware omgee vir ander se gevoelens. Soveel uiteenlopende persoonlikhede op ñ afgeleë eiland bymekaar, en tog elkeen wat gekoester voel, tevrede.

img-20180105-wa00812107497384.jpg

Daar was oorgenoeg ruimte vir alleenwees dae. Vir die wegstap van een om die binne-mens te gaan opsoek. Die ander sou die afstand respekteer, en tog ook ‘betrokke’ wees. ñ Ogie hou as ñ vlaggie gehys word.

IMG_2147

Hemel tog, vandag verlang ek terug.

IMG_1760

 

Senuwees van staal?

(Google Images)Wildlife-Photography-13

Ek dink nie so nie. Hierdie einste onderstebo invoer-wêreld van my het my twee jaar gelede in die hospitaal laat beland vir ñ redelike groot operasie. En dit alles die senuwees-van-staal-probeer-in-beheer-bly-maar-vou-onder-die-spanning afdeling se skuld wat deel is van my “job description”.

Sal ek wil ophou? Nee, defnitief nie.

Dalk het ek ñ adrenalien-junkie geraak.

My nuwe twintig-voet meubelvraghouer is al van Sondag af op die skip in Durban se hawe; wag vir sy beurt tussen die 1 880 containers wat afgelaai moet word. Dit gaan moontlik eers Saterdag gebeur. Gedurende hierdie paar dae besluit die customs-polisie of ek moontlik ñ gevaar inhou. Smokkel dalk met mense of eksotiese visse of voëltjies, of met die groot D. Indien ja, is dit hospitaal toe met my vraghouer, en lê ñ sonar-ondersoek voor. Selfs ñ onverklaarde slaaibak, (items wat ek in die vrag gooi omdat ek dit nie in my tasse op die vliegtuig wil karwei nie), kan my in ongekende moeilikheid laat beland. En elke minuut tydens die ondersoeke is vir my rekening.

41MUeA2VtXL._SL500_AC_SS350_

Hierdie ondersoek gebeur deesdae so te sê elke keer, want vraghouers van Suid-Oos Asië af word voor die voet as suspisieus beskou.

Sodra ek die toets slaag, kom die trokmaatskappy se beurt. Hulle laai die vrag by die hawe op en vat die pad Harties toe aan.

Warden en Heidelberg lê dan voor. Hier word elke vragwa trok weer afgetrek, papiere nagegaan, en lukraak besluit of dit tronk toe is met my. So begelei hulle dan die trok tot in Johannesburg waar die hele proses weer herhaal word.

ñ Paar dae later, dan eers daag my voorraad by die winkel op. In al hierdie tyd word ek op hoogte van sake gehou. Watter ekstra inligting het wie nodig, watter verklarings moet ek waarheen deurstuur. En as hulle eers met die Indonesiese benamings vir meubels begin sukkel, val my moed sommer in my skoene. Maar nouja, almal sal seker nie die afleiding kan maak dat ñ nakas ñ bedkassie is, en nie ñ wapen nie. Of ñ grobok. Of ñ sapa-lipi. 

Die senuwees van staal het te doen met die finansies wat hier ter sprake is. En dit terwyl al my geldjies eintlik in die voorraad op die skip gesteek is. Wat ek ook al moet betaal, kom aangeseil op die grote oseaan. Die trokmaatskappy beweeg egter nie voordat hulle in kontant betaal is nie. Die rekening vir die skeepsvervoer, een vir die customs ouens, vir SARS, dit lê als reeds in my  inbox en loer. Toe ek kla, reken Plasie net elke sport het sy beserings.

Soos die amper vyftig keer vantevore, sal ek vasbyt en glo. Ek moet net ñ manier vind om my lyf by my kop te laat aanpas, en nie so sy eie ophollopery te organiseer nie!

amazing-wildlif-11160

 

 

As jy draaie om jouself wil loop.

snow_white_discovers_the_cottage

Ons weet almal wat en wie Sneeuwitjie aan die anderkant van die bruggie aangetref het. Die storie het ñ mooi einde gehad, maar daar was tog goed soos moorddadige stiefma’s en hekse en appels ook in die verhaal.

Wat is fout met my! Wie is hierdie mens wat so baie in haar lewe bevraagteken? Wat te diep dink, te maklik vashak en wil bepeins. Dit voel soms of ek my kop wil afskroef, langs my op die bank neersit en dan ñ rukkie in rus en vrede net voortgaan. Sonder al die dinke.

Wanneer het sy haar opwagting gemaak! Besef sy dit was ongevraagd, ongenooid?

Nou sit ek met haar. Kan seker ‘die tyd van die lewe’ die skuld gee, maar werklik, ek gaan iets aan myself moet verander. Ons twee, ek en sy, kan nie onbeperk so voortdrentel nie.

Hot-flush

Sneeuwitjie het aan die giftige appel verstik, en in ñ glaskis beland. Gedooi. Tot die prins opgedaag het en haar met ñ kus gered het.

Ek vermoed net my eie prins gaan eers om ñ braaivleis vuurtjie staan en diep teue aan ñ bier suig; vir tyd speel voor hy my kom haal.☺

Die Voortvlugtiges-Hoofstuk 6.

fbe32d69aafe2884d99c8f98e369ad76--antique-metal-antique-lamps

Hierdie is vir my glad nie meer lekker nie. Alles gaan te stadig, ons gaan nog ure lank moet geld tel! En dit is so lelik hier…kan bankmense dan nie daaraan dink dat kliënte van ñ mooi omgewing hou nie? Sê nou, sê nou ek gaan terug Toweropstal toe en kry bietjie winkel-goed om mee te kom mooimaak! Die bankbestuurder sal sommer beter voel nadat al sy geld verdwyn het, en daar tog vir hom ñ mooie verrassing wag. Ja, dit is ñ goeie plan. Ek kan dalk sommer bietjie bemarking hier staan en doen terwyl ons die bank nou leegdra. Twee vlieë met een klap. Slim.

ñ Paar ure later is ek en een van die poliesmanne terug, armsvol items op sleeptou. Wel op ñ stadium in oom Paul vasgeloop, maar hy was diep aan die dink met sy pyp in die mond. Skoon dwarsdeur my gestaar, asof EK die spook is.

My klomp vriende is steeds hard aan die tel, en Toorts het note begin ‘inpak’. Oral. Ek het ñ paar trippel D’s saamgebring, met dié dat ons nou so goed bedeeld hier gaan uitwals. Kameel hou ñ ekstra ogie oor die ponde-hokkie, en Lekkervurig hou twee ekstra oë op Kameel. Sonell probeer orde skep in al die deurmekaargeid; sy organiseer kliphard aan die rye en rye note. Babbel heeltyd met wie ook al luister oor duur toiletpapier en haar arme kinders wat na dese weer winkels toe kan saamgaan.

Perdebytjie en Ekmyself werk saam, een tel, een stop hul jasse se sakke en some en krae vol. Woestynkind daar eenkant skryf die getalle neer, mos nou sodat die bank se boeke kan klop aan die einde van 2018 se finansiële jaar. Behoort eintlik ñ baie eenvoudige staat te wees wat hulle gaan indien. Daar help ons klaar weer, sien.

Scrapy staan en neurie die ou Transvaalse Volkslied, met diè dat sy verwag oom Paul en Oupa-groot Piet sit ons agterna sodra ons met die buit beweeg. Gelukkig het sy ñ boks saamgebring, nog heel in haar eie huis-trekkery in.

Wegkruipertjie maak toebroodjies; sy sê haar mooie naels kan nie byhou met al die note aftel nie. Maak sin. Toortsie het ons goed die leviete voorgelees oppad hierheen, en niemand gaan van nou af geld mors nie. Ons moet daaraan werk om goed te voel oor onsself. Morele waardes is belangrik; ook om ñ goeie voorbeeld aan kinders te stel.

Abrie en die manne werk die hardste. Abrie is vreemd stil, maar dit kan wees omdat hy weet die bloggers beplan ñ nuwe hygroman genaamd Ah-rem. Abrie kom uit ñ goeie familie, hy gaan hom nie wil ophou met vroumens vry-stories nie, seker daarom die stilte soos ñ monnik in ñ bieghoekie. Dat ñ mens nou so voor versoekings te stane moes kom en dan deel word van die grootste bankroof nog! Keuses, keuses. En gevolge. Nee wag, ek moenie nou ñ Kameel op myself trek nie.

Die ingangsportaal lyk klaar mooier, net hier en daar nog ñ veranderingkie aanbring. Die spesiale Bali-lamp op die bankbestuurder se tafel staanmaak, sodat hy ons nooit sal vergeet nie. Al wat kort is my besigheidskaartjies, ek plaas ñ hopie langs die voordeur. Dink net, die ander banke gaan so jaloers raak, dat hulle my dadelik sal wil opsoek om by hulle ook te kom verander. Natuurlik kom niks verniet nie, nè, en die geld gaan inrol. Ek land dalk nog op die televisie, kry ñ prys vir die beste entrepreneur van die jaar.

Slim. Baie slim.

img-20180317-wa00011924302757.jpg

Hiermee nomineer ek vir Perdebytjie om oor te neem…

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=769965

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Onherstelbaar? Nee. Nooit.

PA220015-1

Ek is nie baie oplettend nie, tot Bertus se groot frustrasie. Hy sal soms kopskuddend opmerk…jy sien net raak wat jy wil, my vroutjie, jy weier om die lelik te herken.

Erken, of herken? Ek dink tog ek sien raak, maar dit is daardie ‘val in die hart’ wat ek instinktief keer. Ek sê defnitief nie graag dat iets onmoontlik is nie, of dat daar nie hoop is nie, want dan. Dan het èk niks oorgehad nie.

Daarom dat ñ advertensiebord met die volgende opskrif sommer dadelik erken word. Eintlik herken en erken word. Hierdie woorde maak totale sin. Dit bring hoop.

Complete Building Service: Restoration and Renovation.

Vanoggend oppad werk toe, loop die trane weer oor. My hart is week, my dankbaarheid onbeskryflik groot. ñ Pragtige vaas het iewers verlede jaar geval, gebreek, aan skerwe gespat. Maar omdat dit so ñ besonderse pot was, soveel werd, is die stukkies tussen die klippe uitgesoek, bymekaar gemaak, opgetel. Dit is na ñ plek gevat, ñ plek wat verstaan van optel en opbou.

Baie versigtig, met eindelose geduld, en die eindprentjie in gedagte, is die stukke uiteengesit, gepas, gegom. Een-een. Toe is dit gelaat om droog te word; sterk. Daar is op geblaas, sagkens, totdat alle stof verwyder is.

Eers daarna kon die oorverf-werk begin, skakerings van kleure fyntjies bygevoeg word. ñ Nuwe patroon om bo-op te sit, ontwerp word.

Die kunswerk is baie amper klaar. Dalk nog bietjie te broos om in die openbaar uitgestal te word. Maar die eindproduk, dit slaan my asem weg. Mooier as voorheen. Eintlik heeltemal anders. Steeds ñ vaas; steeds gemaak vir ñ spesifieke doel. Met klein merkies en letsels wat hier en daar deurskyn, maar wat die vaas so onbetaalbaar kosbaar maak.

133894612390db47599557af2adc176d

My lesse hou nooit op nie. Sommige skryf ek elke dan en wan van voor af oor. Daar is egter een les waaraan ek nooit sal twyfel nie.

In die regte Hand, sal die heelmaak proses altyd ñ pragproduk tot gevolg hê.

(vir my kind)

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg