Tong-tippie lekkerte.

20180315_101246875000633.jpg

Ek lees op die oomblik soos ñ verslaafde, proe aan elke derde woord, verwonder my aan omtrent elke paar sinsnedes.

Kyk, daar is mense wat kon en kan skryf! Kroniek van Perdepoort is in 1975 vir die eerste keer uitgegee; ek was dus vyftien jaar oud. Op vyftien, in ñ meisiesskool, was lees vir meeste van ons baie belangrik. Met geen seuns wat jou aandag kon aflei nie, het jy jouself of op die sportveld uitgeleef, of in die heerlike, koel, stil biblioteek.

Ek was nie op daardie ouderdom ryp genoeg om hierdie boek van Anna M. Louw te waardeer nie.

Maar vandag, nou, verstom ek my oor die talent waarvan hierdie boek oorloop. Die tyd wat dit haar moes neem om dit te skryf! Elke bladsy is vol Afrikaanse juweeltjies. Daar is ñ hele paar sinne wat ek nie eers verstaan nie, want ek ken nie meer die praattaal van daardie tyd nie. Selfs iets soos: nooit ñ speld op sy gedrag te steke nie, moes ek eers weer oorlees om te verstaan wat dit beteken.

Pas op! Aans val die kis!  Dit word van iemand gesê wat hom op ñ stok steek. Of ñ verwate onderneming wat beloof om op niks uit te loop nie.

Soos ek sê, ek moet weer en weer lees, dan bietjie herkou voor ek verstaan. Want selfs die verduideliking van ñ spreekwoord is vir my nuut.

Hierdie boek, op hierdie stadium van my lewe, is ñ heerlike ontvlugting. Dit neem my gedagtes gevange en slaan my asem skoon weg. Ek sit ook meestal met ñ breë glimlag op my gesig terwyl ek lees. Feite wat genoem word, soos:

“Wie tog is normaal?”

Vrae sonder antwoorde maak die dominee ongewild, want ñ dominee se werk is om antwoorde te verskaf.

Ek mis my skoonpa Koot. Hierdie boeke was sy daaglikse leesstof. Hoe lekker sou ek nou met hom kon sit en gesels en uitvra oor die skryfstyl van daardie tyd!

Nou sit ek maar in my winkelhoekie, so tussen die kliënte deur, en kuier in ñ tyd lank terug.

20180315_1124122063488503.jpg

 

 

Wie onthou nog?

bol2

Ek hoef sekerlik nie veel by te sê nie. Een keer ñ week, elke week, het pa hom vir my by die huis aangebring. Dan sou ek bo-op my bed gaan klim het, vuil voete en al, die kussings reggepak het, en saam met bekende karaktertjies loop verdwaal het. Krabbel, Baba, Tjoek-tjoek, Tant Doortjie, Oom Dik Daan, Tant Netso, en Boekies.

My Bollie.

Een van ons bloglanders se hart is op die oomblik baie rou. Om ñ pa te verloor, laat ñ groot gat. So, met ñ hart wat vir haar jammer is, het my eie herinnering ook ver gaan draai. Ek het ook ñ pa gehad, een wat nooit my Bollie-boeke vergeet het nie. Hy is al vier-en-veertig jaar gelede weg. Ek onthou nie baie van hom nie, en van die onthoue is nie goed nie. Maar. Hy was my pa.

Ek sou graag vandag ñ ou Bollie wou deurblaai, net weer die gevoel terugkry. Die wete dat hy vanmiddag die opgerolde tydskrif met ñ breë glimlag in my hande gaan sit, dalk ñ vryf oor my kop gee, knipoog met ñ… Gaan lees maar, ons sal jou nie pla nie.

5033292c4648813fd2ddea80c5939d78

ñ Mens se pa bly jou pa.

Mag daar iemand by jou wees wat jou sag hierdeur sal help, Antoinette. Ons almal dink aan jou.

Die plek.

(Google Images)WallpaperWide-butterfly-hd-wallpapers-1080p-In-Top-Wallpaper-hd-with-...

Het dit te doen met ouderdom, ek weet nie. Plek of tyd? Al wat ek weet is dat dit ñ nuwe plekkie is, hierdie ‘nuut’ wat sy sit kom maak het in my lewe.

As my Moeks nog hier was, sou sy seker ñ eenvoudige verklaring daarvoor gehad het. Iets soos…ousus, nou het jy grootgeword.

Maar ek het ñ plek bygekry, een waar ek alleen kyk en voel, onthou en uitwerk. My besef plek. Al maak dit vir niemand anders sin nie, ek verstaan. Ook waarom.

Dit raak nodig om gebeure, oomblikke uit die verlede, by die hede uit te bring en ñ effense ‘glimps’ in die toekoms in te kry. Dalk meer ñ bewuswording en ñ besef, langs-mekaar-gevoeg.

Ai, ek weet dit klink deurmekaar, juis daarom dat ek dit wil vasskryf en wil ‘sien’.

Ons sit die naweek op ñ stoep met vriende en kuier. Rustig. Toe, so tussen-in die woorde wat ons praat, onthou ek ander gesprekke, lank terug, maar ook nie so lank nie. Die onthou kom lê op my skoot en ek sien die hede daar om my. Waar ons vier nou is. Tog, terselfdertyd kry ek ñ vinnige kykie in ‘moontlik’ oor ñ paar jaar…? Gister. Vandag. En môre.

Noem mens dit insig? Is dit dalk wysheid? Sekerlik nie net aanvoeling nie.

Dit kan natuuurlik ook wees dat ek pleinweg deesdae te veel dink. Te diep wonder. ñ Uitlaatklep wil vind vir die baie emosies in my wêreldjie wat my soms wil laat sink.

Of, dit kan wees dat ek nou groot is, soos Moeks sou sê.

ca8f9f5dfb0d3745e2b83083cd660cfe--paintings-of-nature-abstract-oil-paintings

Selfie-voorskou.

hippopotamus

Ek sal Maandag nog ñ paar fotos van my en manlief plaas; loop hierdie naweek weg na vriende se wonderlike ‘plekkie-in-die-paradys. Niks doen, rond-lê en kuier, dis al wat in die vooruitsig is.

O, ek is die een links.☺

Mammas en pappas weet ook nie alles nie…

20180222_184442-1804286428.jpg

Ek kry gister na werk ñ vinnige oproep van jongste dogter af alhoewel hulle reg langs ons in die woonstel bly.

Ma, Gaby is oppad na ma toe. Ma mag glad nie vir haar koeldrank gee nie, hoor. Sy is ongehoorsaam en wou nie haar kos eet nie.

ñ Klein vierjarige lyfie kom sit met ñ diep-diep sug langs my.

En nou, ouma se engel?…Oumie, ek is so vreeslik dors, maar hulle wil nie vir my iets gee nie. Hulle sê ek moet eers my kos kom op-eet en my hele botteltjie water klaarmaak… Ag bokkie, gaan doen dit gou, dan sal ouma vir jou heerlike koeldrank mag ingooi…

Kom saam ouma, kom praat jy vir my… En ouma stap saam.

Mamma en pappa, Gaby sê sy sal al haar kos eet en haar water drink, maar julle mag nie vir haar lag nie, want dan is dit nie vir haar lekker nie…

Ma, sy moet leer dat sy nie net altyd haar sin kan kry nie. En ons lag nie vir haar nie, ons lag vir Sewende Laan. (Ja sure.)

ñ Rukkie later word ek geroep, en jongste dogter fluister eenkant vir my.

Toe sy alles klaar gemaak het, vra sy vir ons of sy gou na ma toe kan gaan. Die redeEk wil net vinnig my sin by ouma gaan haal, mamma.

Sien, mas en pas, julle weet nie altyd alles nie. Mens gaan haal jou sin by oumas en oupas, want julle kan dit nie altyd gee nie.

(mens mag ook regte trourokke by ouma aantrek en dan saam met boetie dans)

Die mag van die tong.

Most-beautiful-paiting-of-orchid-with-snail-on-it

Stemtoon. Houding. Hoe jy begin. Hoe jy eindig.

Wat my ondervinding van jou is.

Ek het ñ ongelooflike groot probleem met hoe mense met mekaar praat, wie en wat jy ook al is. Kom ons koppel dit nou maar aan my agtergrond. Ek het nie grootgeword in ñ familie waar woorde gebruik is om mekaar af te breek tot jy luister nie. Ook nie waar jou eie gevoel belangriker was as die persoon oorkant jou nie.

Daar is ñ sekere soort praat wat bo-oor my kop gly. My oë sal ñ veraf uitdrukking aanneem, en ek sal afsluit. Selfs my ore sal uit eie keuse uit niks verder inneem nie. Dit kan die prater teen die mure uitdryf, ek besef. Maar behandel my asof jou siening die defnitiewe besliste regte en enigste siening is, verloor jy my net daar. Klim ek oor die heining en kies ñ ander paadjie, los jou hangende in die lug met jou giftige aanbieding.

Ek erken ruiterlik, ek doen glad nie goed in konflik situasies nie. As jy my wel in ñ hoek dwing, gebeur iets binne my. ñ Assesment vind plaas. Dit wat jy sê, kan ek die omgee en respek vir my as persoon daarin hoor, daardeur aanvoel, of raak jy my vyand. My “goaler”.

Die probleem wat jy aan my bied, hoe gee jy dit vir my aan? Reeds gevul met druppende gal, of soos ñ volwasse persoon wat homself nie hoër ag as vir my nie?

words-are-dangerous

Ek wonder hoeveel van ons sou reeds ñ doodsvonnis gekry het as die hoeveelheid ‘lyke’ agter ons bymekaar getel moet word.

 

 

Ek lyk nie altyd soos ek wil lyk nie.

(prentjies:Google Images)850eccdb11ef05d67f3f583548291059--wildlife-art-animal-pics

Rustig en vol wysheid. Altyd gereed met die regte antwoord op enige vraag. Vol vreugde.

Ook,

oortrek met detail, elke haartjie op sy eie plek. Waardig.

Dis soos ek graag wil lyk.

En nie…

funny-dog-faces-3

…soos ek op die oomblik voel nie! Die res van die samelewing wag met stille versugting vir die einde van ñ maand. Salaris tyd.

Die uwe moet Woensdag, die sewende, huur betaal. Soos elke maand. Maar o krises, party maande se sewende is net belaglik te vinnig op my. Ek verloor my sprankel as dit gaan soos nou; ek voeter halsoorkop die water in, probeer bo bly en swem in sirkels rond! Daar IS ñ uitkoms, o ek weet dit. Op amper 58, weet ek dit 100% verseker. Tog, sowaar, ek trippel al ñ week lank op die rand van die rivier rond, wag vir die vlot om te arriveer. En toe, vanoggend, daar duiwel ek in!

Van blote spanning. Nou moet ek swem en water trap en my oë probeer keer om nie uit my kop te pop nie.

Net omdat ek dit nie altyd regkry om te onthou wie ek is nie. En IN WIE ek alleenlik kan vertrou nie.

Om te kan weet wie jy is.

(Google Images)giraffes-hero_0

ñ Wilde dier in sy natuurlike habitat; is daar iets mooier, iets wat die siel so “in awe” kan laat? Die grootsheid daarvan; perfektheid midde-in die onperfektheid van ons wêreld. Dit lawe my gees.

Ek lê vanoggend in die bed en luister na Bertus wat vir ons bid. Soos elke oggend, nou-al vir jare. Soms te lank na my sin, soms voel ek asof hy bietjie by die Here skinder. Veral as ek die vieste in is vir hom, en hy dit dan onder gebed opbring.(dis nou hier waar ek ñ glimlag- gesiggie moet insit).

Die punt wat ek wil maak is dat wanneer ñ mens of dier sy Godgeskape plek inneem, lyk en klink dit reg.

lion-wide

Om dit te aanskou, laat jou voel of die mooi van die lewe steeds die sleg oorskadu. Ons kan nie onaangeraak wegkyk en dieselfde bly nie. Al is ons wie, al glo ons wat, die rou egtheid wat ons ervaar raak die beginpunte van ons diep menswees aan.

Asof ñ oer-oue instink erkenning gee.

Vir my ervaar ek dit vandag weer in my man. Midde-in baie gebeure in ons lewe; tussen die bekommernis oor finansies en kinders, gesondheid en politiek deur, het hy sy plek gevind.

En volstaan hy waardig daarin.

1200px-Aquila_audax_-_Captain's_Flat

 

 

Sowaar piepie sy op my parade!☺

One-Server-Guarantees-Handling-of-A-Minimum-of-25-Agents.png.pagespeed.ce.-sq7BjNU6J

Net toe ek nou baie ernstig my diepste wese wou openbaar en presies uitlê hoe ek oor my wonderlike mede-bloggers voel, kom Hester met ñ hou hier van die kant af, en tref my in die maag!

Nee wat, sê sy. Sy blog omdat sy geselskap soek. 

Hierdie woorde lê sowaar by Toortsie se skrywe, in haar kommentare. Vir almal om te sien. Hoe, vra ek jou nou Hester, hoe moet ek my gevoelens hier ‘uitpak’ terwyl ek weet…ek soek net bietjie julle ou klompie se geselskap…,☺

back-to-school-math-clipart-8

…ek is eintlik net lus om julle menings te hoor. Ook hoe dit met elkeen gaan. Wie het gisteraand wat oorgekom, want dit is toe ek laaste met julle gesels het. So baie kan gebeur in die bestek van ure. Mens moet mos darem weet! En daaroor sit en top. En met ñ goeie stuk kommentaar vorendag kom. Hoe nou anders?

Noudat die Toweropstal uit die prentjie is, kan ek nie heeltemal bepaal wie waar is en wie hoe voel nie. Al was dit ook in ñ waas van humor geskryf, daar was heeltyd kontak.

Ok Hester. Jy is reg. Ek soek geselskap. JULLE geselskap. Teen hierdie tyd verstaan ek waar elkeen se kommentaar vandaan kom. Ek het my eie prentjie van wie met my gesels, selfs waar die persoon homself op daardie oomblik bevind.

cutcaster-photo-100245276-Black-dress-party

Ek ‘lees’ dikwels meer as wat julle skryf, sommer so tussen die lyne. Ek ‘sien’ die hartseer, die trane, ook die lag en gelukkig wees. As ek die pot soms mis sit, is dit geen krises nie. Ek word net ge-ignoreer, vir die oomblik.

EK SOEK JULLE GESELSKAP OP. Wat ñ heerlike erkenning.

Julle menings maak absoluut saak. Jul skrywes beinvloed my defnitief. Ek leer van nuwe dinge; ek herdink soms my eie opsomming.

Maar die punt bly, ek WIL met julle gesels.

images

Wie sou hulle sê is ek…?

(Skilderye:Google Images)arranging roses by de scott evans

Ek lees op die oomblik ñ historiese roman, en dit laat my kort-kort wonder. Was daar, sê nou maar in 1805, ñ vrou, of ñ paar vrouens, met wie ek vriendinne sou kon wees? Iemand wat min of meer dieselfde binnekant as ek gehad het. Self in Jesus se tyd op aarde, sou daar iemand wees by wie ek werklik aanklank kon vind?

download

Ek weet omstandighede vorm ons, bepaal meestal hoe ons glo en wat ons optredes is. Steeds, as ek vandag tussen ñ klompie vroue uit die verre verlede kon rondbeweeg, sou ek ñ kindred spirit raakloop?

Dalk nog tussen die Voortrekker vroue, daar sou sekerlik iemand gewees het met wie ek bevriend kon raak.

01e3967eeee13c914901340687074583--south-african-art-african-artists

Of sou die mense my een kyk gegee het sodra ek my mond oopmaak, en my as ñ heks of iets gebrandmerk het. Ek wonder regtig.

 

 

Hopeloos verslaaf aan kleur.

(prentjies:Google Images)21341661293_658f358721_b

En dit is defnitief Bali se skuld. Ek sal daar ronddwaal, en altyd in die kleurvolste, mees deurmekaar winkeltjie opeindig. Loop ek nog ñ handgeverfde slaaibak ook raak, is ek verlore.

il_340x270.1183832856_bcbx

Slaaibakke en laslappie werk, dit bly my ondergang. Toe Woestynkind my boonop laat weet sy wil baie graag iets kleurvols van Bali af hê, is ek net daar en dan in my element! Marieta moet ñ laslappie deken kry, jippee!! Een met baie rooi in wat haar aan my Bali sal laat dink, dit is die versoek.

La.Laguna

In ñ heerlike, bont winkeltjie, dis waar ek hom kry. Sommer so langs ñ sak met ñ ander vriendin se naam ook op.

wholesale_patchwork_duffel_bag_padded_straps_zipper_side_pockets

Bali kry dit reg om jou kleurpalet te verfyn. Jy ‘sien’ helderder, jy ‘proe’ soetter. Jou stap is ligter, jou lag meer vry.

DSC05217-01

Die oormaat kleur op die eiland steek mens aan. Lap-goed kan net nie bont genoeg wees nie,

RK-Artisan-Batiks-The-Loopy-Ewe

selfs gekleurde oudhede groei op jou.

92f8fed3467b0c035be21166a1939308

“The soul becomes dyed with the color of its thoughts…” – Marcus Aurelius.

Selfs ñ gewone stuk hout begin met jou gesels as daar bietjie kleur by gemeng word. Baie soos ons as mens. Krap die roes bietjie af, en jy is dalk verbaas oor die kleur wat begin deurskyn. Gee aandag en vryf blink met ñ lap, en ñ pragstuk word geskep.

download

 

 

 

 

 

Weerloos.

Dit is hoe ons meestal voel op die hospitaalbed. Effe gestroop van jou waardigheid; totaal in ń ander se hande.

Manlief is in vir ń breuk-operasie, en ek dwaal al heeldag hier rond. Kyk en luister. Kyk na die mensdom wat verby beweeg, luister na die gedempte gesprekke en woorde. Maak afleidings; vra soms uit.

Ons is deesdae baie hier, kort-kort vir ń ander probleem. Tussen die twee van ons herken ons al van die personeellede.

Vreemde, nuwe tyd. Gesondheid word nie meer as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons leef meer versigtig, bedink ons keuses beter.

Selfs ons gesprekke met vriende neig vinnig in die algemene rigting van pille en brille. Tog, midde in dit alles is daar ń rustigheid, ń sekerheid.

Dat as die uitslag eendag nie goed is nie, ons weet waar ons eindbestemming is, en by wie.

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg