
Ek lees op die oomblik soos ñ verslaafde, proe aan elke derde woord, verwonder my aan omtrent elke paar sinsnedes.
Kyk, daar is mense wat kon en kan skryf! Kroniek van Perdepoort is in 1975 vir die eerste keer uitgegee; ek was dus vyftien jaar oud. Op vyftien, in ñ meisiesskool, was lees vir meeste van ons baie belangrik. Met geen seuns wat jou aandag kon aflei nie, het jy jouself of op die sportveld uitgeleef, of in die heerlike, koel, stil biblioteek.
Ek was nie op daardie ouderdom ryp genoeg om hierdie boek van Anna M. Louw te waardeer nie.
Maar vandag, nou, verstom ek my oor die talent waarvan hierdie boek oorloop. Die tyd wat dit haar moes neem om dit te skryf! Elke bladsy is vol Afrikaanse juweeltjies. Daar is ñ hele paar sinne wat ek nie eers verstaan nie, want ek ken nie meer die praattaal van daardie tyd nie. Selfs iets soos: nooit ñ speld op sy gedrag te steke nie, moes ek eers weer oorlees om te verstaan wat dit beteken.
Pas op! Aans val die kis! Dit word van iemand gesê wat hom op ñ stok steek. Of ñ verwate onderneming wat beloof om op niks uit te loop nie.
Soos ek sê, ek moet weer en weer lees, dan bietjie herkou voor ek verstaan. Want selfs die verduideliking van ñ spreekwoord is vir my nuut.
Hierdie boek, op hierdie stadium van my lewe, is ñ heerlike ontvlugting. Dit neem my gedagtes gevange en slaan my asem skoon weg. Ek sit ook meestal met ñ breë glimlag op my gesig terwyl ek lees. Feite wat genoem word, soos:
“Wie tog is normaal?”
Vrae sonder antwoorde maak die dominee ongewild, want ñ dominee se werk is om antwoorde te verskaf.
Ek mis my skoonpa Koot. Hierdie boeke was sy daaglikse leesstof. Hoe lekker sou ek nou met hom kon sit en gesels en uitvra oor die skryfstyl van daardie tyd!
Nou sit ek maar in my winkelhoekie, so tussen die kliënte deur, en kuier in ñ tyd lank terug.































Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.