My eerste eie ontwerp!

20180223_1501191623651494.jpg

In Mosambiek was daar baie tyd om te dink. Vir twee weke lank kon ons net slaap, eet en swem.

Ek, ek het gedink.

Gedink aan my drome wat nog nie gerealiseer het nie. Waarheen is die winkel oppad? Gaan ek oor twee jaar dalk moet toemaak? Is my seisoen verby?

In die droommooi kamers van Lulas Paradise het ñ prentjie vorm begin aanneem. Dalk moet ek ñ opslaan-hemelbedraam ontwerp. Almal het nie die finansies vir die Bali hemelbeddens nie; wat dan van ñ goedkoper opsie?

Terug by die huis het my plan vlerke begin kry. Ek het ñ ou skrynwerker vriend gekontak, en saam het ons koppe bymekaar gesit. Sterk, maar gebruiksvriendelik. Die raam moet oor ñ bestaande basisbed opgeslaan kan word, so die prys vir ñ droomhemelbed kan drasties afkom. Ek het oor die jare baie kerfwerk stukke van Bali af saamgebring, en nou sou dit ñ plek vind op die pote van my nuwe ontwerp.

Twee weke later, en my idee word in die winkel staangemaak.

20180222_140729

Daar is nie perke aan my opgewondenheid nie. Ek kan ewe skielik iets bied wat ek nog nêrens raakgeloop het nie! Iets wat aan al my eie vereistes voldoen. Dit kom heeltemal uitmekaar, en die aanmekaar-sit proses kan ek alleen doen. Daar is oral staal-versterkings in sodat die struktuur stewig kan staan. Jy stoot net jou ou, eie basisbed onder die raam in, bind die muskietnet vas, en siedaar!

Gister het middel-kind vir haar ma profesionele fotos kom neem, maar ek kan nie langer  wag nie. So nou kom wys ek my blogmense sommer my eie prentjie. Met die selfoon afgeneem.

Een van die dae sal my portfolio klaar wees, en dan gaan ek die land aanpak. Roadtrip hier kom ons.

IMG_2311

(Ek loer dalk nog by ñ paar van julle in vir ñ glasie rooiwyn.) 

 

 

Die groter prentjie.

ssssssssss33333333

Ek kliek op hierdie “Angel-rose” skildery, wil dit kleiner maak, maar dit werk nie. Ek probeer weer, raak ietwat geïrriteerd; steeds, nee.

Sommige kere moet mens na die geheelbeeld kyk. Na die volle prentjie. In konteks sien.

Ek is die afgelope paar maande, waar dit ñ sekere situasie aangaan, met stomheid ‘geslaan.’ Soos Sagaria in die nuwe testament, nadat hy nie die engel wou glo met die boodskap van God af dat hy en Elisabet op hul hoë ouderdom ñ kind sou baar nie. Tot na Johannes die Doper se geboorte kon Sagaria geen woord spreek nie. Vir ñ priester moes dit moeilik gewees het.

Vir ñ mamma ook. Ek luister vanoggend weer na Jesus Culture se lied You Won’t Relant Until You Have It All, My Heart is Yours, en soos ek Dinsdag besef het, weet ek net.

Hy is in Sy Goddelikheid besig in hierdie situasie, en Hy sal nie halfpad ophou nie. 

Selfs al beteken dit Hy moet my vir ñ tydperk stil maak. Dit het my gebreek, dit het begin om my emosioneel heeltemal leeg te tap, hierdie stomheid.

Maar Dinsdag het ek verstaan, het Hy my ore aangeraak sodat ek kon hoor. Jy as mamma wil troos, wil die paadjie makliker maak, wil die seer oorneem en liewer self dra. Nie nou nie, My kind. Hierdie is Ek wat werk, Ek wat hulle leer. Ek wat die pad na hul harte oopmaak sodat hulle self met hulle geestelike ore by my hoor.

Hierdie is Ek wat julle twee ma’s se ure op jul knieë kom eerbiedig. Daarom, Una, daarom dat jy moet stil wees.

Daarom dat Ek jou stom maak. Vir nou.

Dit werk vir my!

(prentjies:Google Images)AAEAAQAAAAAAAAoRAAAAJDE1MjY4ODk5LWMyNGYtNGI1NC1hNTExLTljMGQxZTkxNTBiYQ

Gelukkig ja, dit werk vir my! Soos vandag, tussen al die moeilik en hartseer by my en om my; vandag steek ek my kop sommer diep onder die grond in.

En siedaar, as ek my oë oopmaak, is ek in Rome!

a4bd8a0af0caf437ddcaae0be3b299d7--painting-for-kids-painting-art

Ek gesels oor my droom met Kameel, en besef, soos nog altyd vantevore, ek moet die eerste stap neem. Nie net daaroor dink en praat nie, maar die droom vlerke begin gee.

So hier is my plan. Dalk moet ek my volgende Bali-tog oorslaan, die besluit neem en al die bestellings noukeurig uitsorteer. Die agente mooi voorberei sodat hulle die aankope self doen.

Rome toe. Ek wil weer terug Rome toe. Die beste tyd bly maar Julie-Augustus, selfs is September nog veilig. Dan begin hul winter nader kruip… Ek kan ñ kans vat tot in Oktober, maar nie later nie. Net-nou is ek een van dié wie se vlug ‘toe-sneeu’.

article-2071651-0F1A5AEC00000578-840_964x399

My finansies is alewig nul wanneer ek aan Bali begin beplan. Tog, sodra ek die internet nader trek, die droom voor my oë laat plaasvind, gebeur die ander dinge ook op die regte tyd.

ñ Week, of eerder tien slapies, dit sal genoeg wees. Genoeg tyd om elke plek wat ek in 2015 nie by uitgekom het nie, te gaan besoek. Katedrale deur te slenter, straatjies te ontdek, die Colloseum weer te gaan beleef.

download

Ek gaan slim wees, en in dieselfde area as voorheen bly. Dit is effens bekend, en sal my meer selfvertroue gee om te ‘ontdek.’ 

Manlief saamvat, ek glo nie. Hy het geen begeerte om Italië te sien nie. Og, maar dit gaan oorreding vat om sy vrou weer te laat gaan, hoor!

Ek is ñ groot voorstander van droom, maar dan tot aksie oor te gaan. Al wonder jy waar die geld ooit vandaan gaan kom.

Soms is die journey die belangrikste deel. Die glo in dit wat jy nog nie kan sien nie. Die vashou aan iets in jou hart wat stêrre in jou oë sit.

ebf3f7b4c6d9fa779e9faa37937ac235

Ek gaan my droom met ñ ‘houding’ najaag. Rome, ek is oppad!

Om in jou eie vel te moet ingroei.

page6_ebulldog

Dit vat baie jare. Sommige van ons kom net nooit ‘daar’ nie. Breek ñ volgende seisoen aan, begin die ou groeiproses weer.

Ek is in my ma-wees-van-getroude kinders-in-hul-dertigs jare. Hier gebeur daaglikse groei. En snoeiwerk. Vanoggend het die kleintoontjie nog gepyn na gister se baie trane; toe kom my linkerkantste-boud ook by.

Kort voor lank wil die hele lyf weer in ñ gat klim en net daar bly staan.

Dis toe dat die Here in ñ mede-blogger se hart fluister…my kind sukkel, help haar. 

O, en sy het geluister. Al die pad uit Bredasdorp uit het sy my deurgepraat en gelei, rustig, totdat my asemhaling weer reëlmatig was.

Totdat ek weer op my baie lam boud kon sit.

Groei gaan altyd deel bly van ons lewens.

Mense wat die stem van hul Vader duidelik hoor, ook.

JfAhSq8

(hierdie is net vir jou, Toortsie, om dankie te sê dat jy so ñ gewillige omgee-hart het)

  

 

Lê-Jou-Eier:Die perfekte misdaad-ń vervolgverhaal.

(sorry, ek kon nie die prentjie weerstaan nie…)1926-albert-birkle-art-old-lady-painting-Favim.com-174655

Uhmm Kameel, voel jy al effe beter, jong? Ek, uhmm, ek het iets wat julle moet lees, maar ek is bang ek stoot jou oor die afgrond…

Hier is ń brief… Ek kry dié aan my gestuur, en ek broei nou al ń uur daarop. Broei, soos die henne maak, maar nou is ek doodbang hier kom ń dubbeldoor eier uit. So ek gaan liewer afklim.

Ek het versterkingkies reggesit, ook ń paar yspakke vir moontlike beserings. Kom sit jy en Lekkervurig en Ekmyself, jy ook Scrapy, nou rustig onder die sambreel met jul voete hier op die kussings. Toortsie, jy en Perdebytjie hou vir my die noodhulpkissie gereed. Wie is nog hier rond… O wel, ons paartjies hier bymekaar sal die ander maar moet inlig.

Dé, neem ñ ietsie in die hand, en haal diep asem. Diep…

…net nog ietsie; ek nomineer vir Scrapy om volgende oor te neem en die storie agter die spookstorie te ondersoek. Want dat daar ñ storie is, is beslis. Net dalk is dit Abrie se oupa homself wat vir ons iets wil sê. Of vir Abrie ñ boodskap het!

Om terug te kom na die brief, of nee, hier, lees maar self hardop…

Beste Una,

Wanneer jy hierdie lees is ek en Abrie al vêr weg want daar
is heelwat mense wat na ons tweetjies soek met moord in hulle harte. Veral
Sonell met daai massiewe olifantgeweer en jeukerige snellervinger van haar het
ons laat besluit om eerder ‘n bietjie laag te lê.

Ek hoop die ergste mediastorm rondom julle “skenking” het al
bedaar, en dat julle lewens al amper terug is na normaal toe?

Eerstens, my en Abrie se opregte spyt dat ons julle in
hierdie ding gedompel het sonder enige vooraf waarskuwing, maar ons kon nie
seker wees wie om te vertrou nie…en tyd was van die uiterste belang.

Kom ek vertel jou ‘n storie…

In die laat jare tagtig en vroëe negentigs het ‘n klomp
hooggeplaaste manne in die intelligensiediens gesien watter kant toe die wind
waai en het hulle onnoembare skatte in goudstawe laat omskakel en weggesteek in
‘n paar plekke dwarsoor die land, waarvan Toweropstal een was. Hierdie manne
het hulle skatte met ‘n houtoog dopgehou en hulle het onmiddelik van julle
geweet toe julle begin planne maak. Telefone, eposse, motors…alles van julle is
in die fynste detail gemonitor. Abrie, wat ‘n ekstensiewe netwerk ondergrondse
kontakte het, het ‘n voëltjie hiervan hoor fluit en besluit om my in sy
vertroue te neem omdat ek nie deel was van die oorspronklike komplot nie, en
daarom nie gemonitor was nie.

Haarfyn beplanner wat hy is, het hy sy plan vir operasie ROB
(Red ons Bloggers) aan my voorgelê. Ek moet erken dat ek eers skepties was,
maar Abrie se beredeneerde antwoorde het my uiteindelik oortuig. Ek sou optree
as die “decoy”en maak asof ek julle planne in die wiele wil ry, wat vir Abrie
die geleentheid sou gee om die ander manne te identifiseer terwyl julle, en
hulle, aandag op my gevestig was.

Op die aand waarop julle al die goud klaar uitgehaal het,
het die intelligensie manne beplan om julle te omsingel, in die skag af te gooi
en eenvoudig met die goud weg te ry.
Abrie se oplossing was om die kode boodskap van hom na my te laat “onderskep”
wat almal op ‘n mal jaagtog Skimmelkrans stasie toe stuur. In daardie rukkie
wat daar niemand op Toweropstal was nie, het ons die goud op lorries gelaai en
dit weggeneem na die reserwebank toe.

Ek het met my IT vaardighede jou e-pos adres “geleen” en was
in kommunikasie met die reserwebank, SARS en die department van Welsyn as
jyself…weereens jammer daaroor… Ons het vroeg al agtergekom dat daar geen
manier was waarop julle met die goud sou wegkom nie, en ons kon dit nie oor ons
harte kry dat daar vorige regime skelms daarmee heengaan nie, so die
reuseskenking aan liefdadigheid was die enigste opsie.

Laat weet asseblief waneer julle minder kwaai is vir ons.Ons
wil huis toe kom.

Groetnis.

Storieklong Abrie Alliansie (SAA)

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=763896

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

 

Ouma, knip jou oog só, dan sal die traan uitval.

11 August Wildt Neil Dulstr 313

As mens vier jaar oud is, en jy moet ouma probeer leer, is dit maar moeilik.

Gistermiddag leun ek oor haar en soen haar wakker. Sy vat haar ouma se gesig in haar twee handjies, kyk my diep in my oë, en breek my hart.

‘Oumie, hoekom lyk jou gesig anders?

Hoe so, my engel?

Jou ogies lyk altyd vol huil, maar dis nie vir my lekker nie. Kom ek wys jou. Knip jou oog só, dan sal die trane uitval. Almal. Dan is dit klaar.’

Ek ry vanoggend die agt kilometer werk toe met emmers vol trane wat op my skoot oorloop. Soos soveel keer die laaste klomp maande. Voel of selfs die Here nie my sadness kan contain nie. Al gee ek dit ñ honderd maal oor.

Uit die mond van die suigeling.

Here, niemand anders het dit nog raakgesien nie? Nou maak U my pikkewyntjie se kyk diep, en sy sien?

So vanoggend moet ouma weer probeer. Al die hartseer in ñ sak bymekaar kry, en weggee.

Sodat ouma se gesig weer vol bly kan wees, vir haar engelkind.

 

 

 

‘Daar wees.’

(skildery:Google Images)54c609b0924315e741fa51685aff4f96--lighthouse-painting-the-lighthouse

Ek het nie meer so ñ plek nie. Die ‘iewers’ waar jy kan heengaan om net weer iemand se kind te wees. Ek het nie meer so ñ plek nie. Ek is nou die iewers.

Vyf volwasse kinders, drie skoonseuns en ses kleinkinders. ñ Man, en ñ sus. Elkeen met ñ wêreld, ñ eie persoonlikheid. Almal deel van jou diepste hartkamer.

Vir hulle almal sal jy, wil jy, ‘daar wees’.

Ek staan by my winkel se venster en uitkyk hoe die families hier langsaan by die restaurant kom en gaan. Hierdie tyd van die dag kom die jong mammas hul kinders by die skole oplaai, dalk ñ vinnige pizza eet.

Weet hulle dat mens al meer word. Dat jy kinders bykry. En dan kleinkinders. Maar jy, jy bly net een.

En heel dikwels vergaan jou eie ‘opdaag-plek’ in tyd. Is daar nie meer twee, en later een, en dan geen ‘daar wees’ mens vir jou nie. Is jy nie meer iemand se kind nie.

Jy is net jy.

 

 

 

 

Hoe om DIT nou te moet erken…

Animal-Makes-Funny-Face

Ek ummm, ek het probeer, ek het regtig probeer, maar ek kon nie. Ek kon net nie…

Ek kon nie my bevoeterde pose hou nie. EK HET DIE HARDSTE GELAG. OOK DIE MEESTE. HET MYSELF MET TYE AMPER NAT GEPIEPIE. EINTLIK, EK HET. WOU NIE BADKAMER TOE HOL NIE, TE BANG EK MIS IETS.

Ek is jammer. Voel of ek my mede womens libbers gevaal het. Dies wat glo ons mag nie in goed in gemanipuleer word nie. Dies wat my jammer gekry het, en in hul binneste dalk gehoop het die fiasko gebeur. Sodat die mansgeslag finaal kan sien, ONS MOET ALTYD TOEGELAAT WORD OM DIE FINALE Sê TE Hê.

Dit was my beste valentys geskenk ooit. Op die perfekte tyd. Eers elf uur in die bed gekom, want ek was op ñ high na die aller heerlikste aand. Wawyd wakker; sommer ook genees van my geite, my jetlag.

Die pad vorentoe, ek weet nou nie. Durf nie dat manlief se kop te groot word nie. Menende nou hy moenie toegelaat word om te dink hy weet soms beter nie.

Dit kan uiters gevaarlik wees. Uiters.

So hierdie belydenis, dit bly asseblief net hier tussen ons.

 

 

Die moontlikheid van ñ fiasko is nie uitgesluit nie.

(skildery:Google Images)419px-The_Tired_Dancer

ñ Mens gaan nie my man teë waar dit die kerk aanbetref nie. Jy sê ja en amen, en daar gaat jy.

My interne klok is steeds op Bali tyd ingestel. So dis nou reeds my slaaptyd, kwart-voor-vier in die middag in Suid-Afrika. Maar die probleem is, vanaand kan ek nie vyf-uur by die huis instap, my kat op my skoot tel, en gaan uitpass voor die tv nie. Want dis valentynsdag, en Bertus het dit goed gedink om vir ons kaartjies by die kerk se huweliksverrykings aand te bespreek. As my valentyns-geskenk.

Dink ek nou so in my semi-benewelde toestand: Hoekom? Waarom? Wat probeer hy insinueer? Is ek nie meer goed genoeg nie? Is ek te vet! Is my kos nie meer lekker nie! Verveel ek hom. Lê my huwelik aan skerwe en ek is die laaste om dit te hoor… 

ñ Mens sukkel nie met ñ vrou wat nog onderste-bo is van jetlag nie. Jy bedink jou keuse van ñ geskenk baie deeglik. Want ñ moeë vrou is nie jou speelmaat nie, nie eens op haar beste nie.

ñ Moeë vrou wil haar kat vat en gaan slaap.

So vanaand, ek vermoed binne die eerste dertig minute, gaan ek heel moontlik ñ groot nood ontwikkel, myself verskoon en in die algemene rigting van die badkamers beweeg, en nie weer my pad terugvind nie.

Sjoe, dat ñ mens nou so in jou eie kerk skandes kan maak. En ñ man by ñ tafeltjie sonder ñ valentyn gaan los…

Bali en ek sê koebaai.

Soos ń by na heuning toe aangelok word… Ek sit rustig en boeklees hier op die lughawe, en toe hoor ek haar. Die sangeres iewers, en sy roep na my…

Janee, na 23 jaar van getroude lewe met Bertus, “he certainly rubbed off on me”.

Ons is net ń handjievol wat sit en luister, maar dit kook. Klap hande en fluit. Waar is my manlief nou!

En waar is die bedeesde Una van baie jare heen? Nou nie meer ń skaam haar op my kop nie. En gemaklik in my lyf. So, ek word genooi, en ek gaan sing ń liedjie saam met hulle. Sky Full of Stars.

Moet sê, ek ken nie al die woorde nie, maar ons improvise en ek neurie selfs daai hoë geluide saam met haar.

Sal net die horlosie moet dophou.

Geen vliegtuig gaan vir die uwe wag nie!

Moet nooit my kleur vat nie.

5ec250ea24e85acaaf5e81af128ae485

Ek stap vanoggend vroeg langs die Bali see. Dis ñ sagte see, met sagte kleure. Die golwe is klein, die son verf sy kwas oor die water.

Ons is net ñ handjievol op die strand, en meeste van ons doen dieselfde ding. Sit ons plakkies neer, gaan sit daarop. Want die sand is effe nat.

My eiland van kleur. Hier waar die son in skakerings van goud sak. Hier waar Oos en Wes mekaar ontmoet met ñ warm glimlag en vreemde woorde.

Ek kom haal my Here vanoggend op die strand. Het Hom vir ñ paar dae lank gemis, maar Hy is toe hier. Wag vir my.

En saam kyk ons na die kleur van lewe; ek voel Sy liefde vir die mens.

Selfs vir die mens in die swart gewaad wat effe langs ons kom staan. Veral vir haar.

Ek pluk ñ pers blom van die rankplant agter teen die palmboom af.

Gee vir haar, sê Hy. Sy sal weet.

Lê-Jou-Eier: Nou word ons almal misdadigers.

Taak 3. Beplan AANTAL paarties.

 

Ek is hier!!! Amper die pad byster geraak met die 250 m wes van teerpad-aanwysing… Want hoe de joos moet ek nou weet waar is wes… Dit was heel dag bewolk!

Ek het bietjie baie goedjies gehad om saam te bring, maar gelukkig spoor ek toe ñ redelike klein container op. Die groottes is SO opvallend.

Groot was my verbasing toe ek links-agter die murasie kyk, en daar staan ons parkhome! Scrapy, jy het jouself oortref!

3708885625_d495e617dc_b

Laat ek dadelik begin uitpak. Die rookmasjien is hier, ook pampoen-beligting vir atmosfeer.

 

Ek moet net gou ñ paar Bali lappies in ons verblyfplekkie gaan uitgooi; mens het darem jou trots, hoor. Misdadigers of te not.

bohemian-room-decor-for-trippy-stuff-your-traditional-gypsy-crafts-chic-home-best-images-about-the-dunsel-on-pinterest-volkswagen-buses-and-van-diy-hippie-bedroom-clothes-hippy

Hoekom is ek nouweer hier…O ja, die paarties. Ek het so ñ paar stukkies meubels saamgebring, dis nou so vir ons spys en drank. Sommer klaar opgetop ook. Met ñ eish-masjien.

man-cave-reclaimed-tequila-barrel-ice-chest-1

Indien enige iemand ñ item identifiseer wat hulle graag met ons miljoene wil aanskaf, ek het voorraad gelaai. Jy kan dit teen ñ bargain kry. En indien enige van julle vriende en fami…

Die punt. Ek verloor die punt.

images (5)

As Hester opdaag, het ons vir haar tot ñ werksstasie. Dis nou vir al die papierwerk wat sy moet inhaal. Ek verneem sy het pas geland…iewers…

Scrapy het reeds ñ hi-fi, plate en tapes hier. Mmmm. Ekmyselff, miskien wil jy ñ paar tegnologiese wysigings met betrekking tot ons musiek saambring? Ek vermoed so? Wat van ñ gaskunstenaar? Dalk ñ band? Niemand mag ons kraggereedskap se klank hoor nie. En daai bubbels wat alles sal toesmeer, so saam met die rook? So bring Rock musiek. Baie.

Kameel, jy is reeds hier. Ek verneem jy het ook voorstelle en ñ spesifieke voorkeur in musiek. Bring it on, babes!

Die hele Karaoke set-up is saamgebring. Ook ñ opslaan verhoog. Nou moet ALMAL net eers opdaag sodat ons kan begin met die OPERASIETJIE.

Ek gaan nou bad. En stort. En daarna, sodra dit donker is,

cool-toilets12

…bietjie tyd in die ander geriefie gaan spandeer. So romanties…

AS20171119002316_comm

Sjoe, dis harde werk om ñ misdadiger te wees.

(Ek nomineer nou vir Ekmyselff om op te daag en my eers te kom help met die beplanning vir die aanmekaar paarties wat Hester van praat. Bring jou musieke. Ag, en dalk ñ DJ of twee…Sal mos nou heeltemal skadeloos wees! Hier is heelparty van die jongeres wat hulle aandag van ons PLAN sal kan aftrek. Daarna kan jy die Sekuriteitsspan-leier nomineer.)

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=763896

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg