ñ Oomblik.

(Quiet Moment by Diane Williams)Quiet Moment- 40 x 30

Om net ñ oomblik te neem. Dit is wat ek nou, hier, vanoggend, in my winkel doen. Om te reflekteer oor die laaste paar weke, om effens terug te kyk.

Daar is vyf slapies oor voor ek vlieg. Alles is betaal, dis net die aankoop geld vir ñ twintig voet container wat heelwat gekort het. Elke keer as ek gevoel het nou is dit reg, het iets voorgeval. Onvoorsiene uitgawes. Soos wat maar in alle areas van ons lewens gebeur.

Anders as gewoonlik, is ek onseker oor my weggaan. Soos ñ ma-voëltjie wat van haar nes af moet wegvlieg om kossies te gaan haal. Sê nou die kleintjies kom iets oor, so alleen. Een kan uit die nes uit val. ñ Slang kan hulle opspoor.

Dan die besef. Die nes is leeg, die kos is vir myself. En inteendeel, My Vader het die laaste nodige verkope vanoggend laat gebeur.

So ek neem ñ oomblik. Om myself daaraan te herinner dat daar Die Een is wat met my is. Die Een wat weet, wat alles sien, wat verstaan. Die Enigste Een.

Die Een wat in elke aspek van my lewe intens belangstel. Wat lei as ek bereid is om te volg. Wat antwoord voor ek nog vra.

So ek neem my oomblik, saam met DIE EEN.

 

 

 

 

 

 

 

 

Veertig jaar.

(fotos:Google Images)the-bathers-dominique-amendola-29199f6f

Die reünie gaan in Mei-maand gehou word; gister was die GROOT VERGADERING.

Ek het ook in 1978 matriek geskryf, maar nie saam met gister se groep nie. Tog onthou ek helfde van die mense baie goed, met dié dat ek my eerste twee jaar van hoërskool saam met hulle was. Amper soos die vlieg teen die muur.

Ek kon heerlik rondkuier tussen almal, en by enige van die klieks gaan sit. En o gits, klieks was daar steeds!

Manlief reël die reünie, en hy het op die demokratiese wyse besluit. Almal het ñ sê; kan ñ inset lewer. Interessant genoeg is besluite oor die datum en die plek vinnig geneem. Hier en daar ñ brommery, maar toe vinnig vrede.

Van die mense het mekaar soos ou geliefdes omhels. Ander was effe skrikkerig en uit hul plek, veral die gades wat nou maar moes saampiekel. Kort voor lank was almal tog kliphard aan die gesels en lag, met een gesamentlike vyand op die lippe. Die koshuisvader.

Daar is stories oorvertel wat my hare laat rys het. Stoutighede is met groot smaak herhaal, en elke nou en dan moes ek so terloops hoor van ñ nuwe gewese meisie van my man! Regte haan onder die henne gewees, smaak dit my.☺

Ek kon ñ ondertoon van ou jaloesie hier en daar optel. Die dames het mekaar se voorkomste steeds beloer en bedink, selfs al is ons almal reeds sewe-en-vyftig jaar oud. Tog was dit ñ baie gemoedelike groep wat Sondag saam op Bapsfontein deurgebring het. Op ñ lieflike Hoëveldse plaas. Die figure was die een ding wat verander het. Veral toe deur die 1978 jaarblad geblaai is…☺ Gelukkig het almal oud, of liewer ouer, geword. Meeste het al kleinkinders, en fotos is uitgehaal en rondgewys.

Veertig jaar. En tog, as ek my oë toeknyp sit ek weer in standerd ses in juffrou Engelbrecht se klas en wag in spanning dat sy my ñ wiskunde som se antwoord vra. Oor tien jaar van nou af? Op 67? Klink my ons bly tog redelik dieselfde mense aan die binnekant.

In elk geval sommige van ons.

227784-The-Best-Thing-About-The-Good-Old-Days-Is-That-I-Wasnt-Good-And-I-Wasnt-Old

 

 

 

 

 

Lê-Jou-Eier: Ons gesels oor “manscaping”.

ad_158938200-e1423219346810

Ek sukkel nou ietwat om my sê te begin sê… Hierdie vriendelike jong man wat nou so sonder om te skroom op my afgestap kom, asof hy op ñ missie is, … hmmm. Waar was ek nou. O ja, manhare. Op al die regte plekke… Laat ek net bietjie regskuif sodat ek beter kan sien… nee, ek bedoel dink. Fokus Una, fokus! Google sê harigheid gee ñ goeie geur af. ñ Vrou ruik glo ñ man se genetiese “make-up” voor sy besluit of hy reg is vir haar. Harige mans is slimmer. Hulle het meer spiere. ñ Gesonde seks-dryf. Alles dié lê in die haar-groei as gevolg van hormone, testosterone.

Wag, ek moet gaan. Iewers heen. Ek kom nou-nou terug… Net my sarong bietjie regskuif…

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=761578

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Vorming.

020115153105-Heritage1-Delhi

Nadat pa dood is, moes ma plan maak. ñ Dogter in standerd sewe, ñ verstandelik gestremde seun, en ñ tjokkertjie van ses.

Sy was ñ juffrou, haar salaris R300 per maand. En pa het kort voor sy dood bankrot gespeel.

Oom met ñ sagte hart het ons gehelp. As bankbestuurder kon hy vir ons ñ teruggeneemde huisie aanbied, in Brakpan.

Vir my is Brakpan ñ Oos-Randse dorp met van my lekkerste en hartseerste herinneringe. Ons het ñ kans gekry om oor te begin. En ons het.

Hierdie was 1974. Ons huisie het oor die jare gegroei tot ñ plek met BAIE vertrekke. Ma het daar gebly tot in 1995, en toe by my en Bertus in Harties kom bly. Jongste Boet het oorgeneem. Begin aanbou, uitbrei.

Tot in 2010.

Brakpan was vir ses-en-dertig jaar dus deel van my lewe. Die verkeer in die hoofstraat voor ons huis was ons natuurgeluide; die begraafplaas skuins oorkant was my wegkom-tuin.

Die bure, langsaan en tot tien huise verder, was ons kuier-mense. Almal het gesukkel, en almal was dankbaar oor ñ ander se voorspoed.

Ons het garage-partytjies gehou; neon-ligte sommer aan ñ spyker opgehang vir atmosfeer. Sondae-middae het almal ñ draaitjie gaan ry, daar tussen die ryker buurte rond. Telkens oor dieselfde huise ge-hmm-en-ha. Gedroom.

Ek sal soms met myself spot oor my Panne-herkoms. Maar. Dit was my tuiste, my veilige hawe. Daar waar my eerste kêrel kom kuier het, en waar my kinders se pa my kom ‘oplaai’ het. Ons is daar getroud, het daar gebly tot na ons oudste dogter se geboorte.

Vandag nog ken ek soveel mense wat steeds in Brakpan woon. Ook hul kinders en kleinkinders. Ek bly lief vir die plek; sal altyd wees.

Ek is ñ Panne kind, en ñ trotse een daarby.

Sal graag weer eendag langs die grootpad in Prince Georgelaan wil gaan rondstap, net sommer. Vir ingeval ek ñ jong poniestert dogter sonder skoene mag raakloop…

 

 

 

 

Indien…

OB2M89s

…jy gisteraand langs my by ñ stopstraat stilgehou het, sou jy my herken het.

Aan my niksseggende gesigsuitdrukking. Oppad huis toe met ñ narkose-gezonkte man wat op die sitplek langs my lê.

Eers is die verbande na vier weke van Bert se voet afgehaal. Die spesialis kon nie uitgepraat raak oor sy eie uitstekende werk nie! Nie eers ñ oomblik tussen-in asem gehaal en my bo-menslike uithouvermoë erken nie. Stank vir dank, hierdie manswêreld.

Direk daarna is ñ gastroskopie op manlief gedoen. Om die foute in die derms te bepaal. ñ Halfuur later is ek alleen aan die stuur van sake. Ek alleen.

Op twee krukke, maar darem met ñ oop voet, dra-sleep ek manlief tot in die kar. Nek besering, rug besering, ego-besering, alles gelyk! En hy wat met dwelm-gevulde oë in die nietigheid instaar met ñ vreemde glimlag op sy gesig.

Sewe keer moes ek dieselfde storie vir hom herhaal van wat hom alles makeer, totdat dit uiteindelik tot my deurdring dat hy niks kan inneem nie. Ook maar lekker dom. Dis toe dat ek my selfie-houding hierbo inneem.

Want geen vrou moet by wees as haar man bedwelmd is nie.

En dan aan die praat raak nie.☺

Ek het heelwat ammunisie in my ‘ophaal’ boksie gestoor. Vir die toekoms. Vir die ‘droë’ tye…

By die huis gekom, moes skoonseun hom abba tot in die bed. Binne minute het die rustigheid oor ons huis gedaal. Dis toe dat ek in my binneste kon grinnik. Ook maar net mens, almal van ons.

20180110_181311

Stupid ondankbare dokter…! Ai, maar ok. Hy hét uitstekende werk verrig.

Dis net…☺☺☺

(Hierdie is my tong in die kies vertelling. Die ou wat die sterkste moes bly deur die hele voet-debakel, en ñ medalje verdien, kon vanoggend weer twee skoen aankry.)

Uitgehongerde Valies.

IMG_2221

Dit is defnitief ons waarna verwys word. Kon nie wag vir vars vis nie.

Sommer so met die intrapslag het ons gestop en by die locals kalamari gekoop. Toe was daar geen keer nie. Prons, kreef, krap, en tussendeur Kuda of Kuta of wat vissermanne dit ook al noem. Ons het seekos ge-ëet soos ñ klomp uitgeteerdes.

Kalamari is Lula in die Mosambiekse taal. En ons het op Lulas Paradise gebly. Need I say more. 

Het ons dit bietjie oordoen…? Jip. Vriendin wil tot Desember nie weer die reuk van vis ruik nie. Dis nou tot hulle weer teruggaan na ons paradysie toe.

IMG-20180105-WA0032

Ons Neil seun het vroeg elke oggend op sy ski uitgegaan, en met hope vis teruggekeer. Die man het vir ñ paar jaar lank op Bazaruto en Inhaca eilande gewerk en was in beheer van die hotelle se bote en visvang toere. So hy kán. Ons moes begin weggee; regtig ongelooflik.

IMG_1500

Soggens, sodra ontbyt agter die rug was, is daar beraadslaag oor presies watter kombinasie van seekosse vir die aand voorberei gaan word. Hierdie was dan ook die belangrikste gesprek van ons dag. Hoe ontspanne kan een groep mense ook nou raak!!!

IMG-20180104-WA0046

Die prawns het soos jou gemiddelde grootte krewe gelyk, skokkend en so sondig! En jy kry net nie genoeg nie.

Twaalf mense, twaalf persoonlikhede, twaalf ingewikkelde smake, en een man met ñ voet-kondoom. G’n wonder ek het baie stories wat nog vertel moet word nie.

IMG_2054

(Yes Michael, it is me and our two sons.)

 

 

 

 

Klippe.

IMG_1525

Ek kry hulle nie meer opgetel nie. En nee, nie omdat ek hierdie goeie mens is nie, maar omdat my vingers willoos raak as ek buk om een vas te vat.

Bertus se voetbesering het my en hom weereens lesse geleer. Lesse oor hulpeloosheid. Oor genade.

Dit het die pas vertraag. Ons het tyd gekry om stadiger te voel; ruimte toe te laat vir heling. Vir aanvaarding.

Alhoewel ons knus in Mosambiek gesit het gedurende Kersfees, het die werklikheid van die lewe ons daar kom opspoor. Die afstand tussen kinders in die Kaap en 4000km Noord het met ñ foonoproep gekrimp. Tot niks.

Klippe.

Ek kry hulle nie meer opgetel nie. En Here, mag dit vir my altyd so bly.

 

 

Die lilo-brigade oppad…

IMG_1909

Die versameling lilos wat Lulas Paradise getref het, het asems weggeslaan. Ons het goed bewapen opgedaag, gereed vir alle weersomstandighede. Die seestrome is bestudeer, oor bespiegel. Ons moes van die regte hoek af ons aanvalsplan loods.

Oggend een het my en vriendin sommer vinnig in die moeilikheid laat beland. ñ See oppad laagwater toe, is nie jou speelmaat nie. Iewens aan die anderkant van die eiland word die ‘prop’ uitgetrek, en beur al wat ñ waterdruppel is in daardie rigting.

IMG_1923

Na ñ paar dae se oefening kon ons op een plek inklim, en soos die water-kanale van Sun City, aan die ander kant uitgespoeg word. Alles dié met ñ koue drinkding in die hand en ñ sonbril op die kop. Wil gedoen wees. Jy het wel kort-kort ñ knyp aan die boud gevoel, en gehoop dit is ñ onskuldige vissie en nie jou toekomstige aandete nie!

IMG-20180105-WA0035

 

 

 

 

 

 

Om vir ouma die son te moet vashou…

IMG_1562

Alles en nog baie, baie meer, dit is wat my hart van oorloop. Ons is paradys toe en terug. Twaalf mense saam op ñ eiland, en nie een wat wou terugkom nie.

IMG_2287

My gemoed is vanoggend regtig oorvol. Van klaar terugverlang, maar veral van dankbaarheid.

IMG_2317

Die lodge het ons asems weggeslaan. Die vis het ons mae oorvol gehou. Die weer was hemels, die see rustig en lou.

20171226_090509

Ons het saam met visse geswem, op die sand gedans, of net gesit en kuier.

Bertus moes defnitief ñ paar aanpassings maak met die voet wat nie naby sand of water kon kom nie, maar almal het ingespring en gehelp. Selfs om die kondoom oor te trek. Soos middel dogter sê, sy moes al met baie dinge help… Maar sjoe.

IMG_2059

Ekself het my dae in die water deurgebring, en letterlik ervaar hoe ek weer nuwe hoop en krag vir die toekoms kry. Soms het ek al die seer en bekommernis net laat ‘uitloop’, die see die trane laat opvang. Dit was helend. Dit was goed.

IMG_1740

Honderde fotos het kosbare herinneringe saam terug gebring. Baie stories ook. Party heerlik snaaks, ander regtig hartseer. Maar vir vandag, vir die ‘nou’, koester ek die son in my hart.

Ma het jou, my kind.

765e6d28f8440f4f4ce5e8fd6640829d--drawings-of-hands-cute-drawings

Ek het jou.

Mamma, dis ma wat so aanmekaar vir ons bid, né? Dit help ma. Dit gaan beter. Ek voel beter.

Nie net mamma nie, my kind. Baie ander tree ook vir julle in. Dis wat mens doen. Dit is wat ons doen. Dis al wat ons kan doen.

Dankie ma. Moet asseblief nie ophou nie.

Ek sal nie, my kind. Nooit nie.

Ok my ma. Lief vir mamma.

Alweer nie ñ opskrif nie.

20171215_124554

Jy is hierdie Kersfees eintlik stroopsoet. Wag net dat die dae verbygaan, hier onder in jou kamer, want presente is al wat nou saakmaak. Elf van hulle. Jou radio en tv speel heeldag, jy bad half vyf, kom vra dan jou pille, en kyk Sewende Laan. Dan gaan slaap jy.

Klokslag elke middag as ek van die werk af instap, kom haal jy jou Beeld. Kla oor jou kop en maag, vertel dat die hond jou pla. Voor jy weer omdraai kry ek tog ñ druk, hou jy my styf vas en sê jy is lief vir my, jy is my boetie. Vryf oor my hare, en loop.

Ons huishouding staan ietwat op sy kop as jy kom kuier. Veral nou met die kinders wat ook hier bly. Jongste dogter moet vir klein dogtertjie-engel met ñ vergrootglas dophou. Jy fassineer vierjariges, en boesem vrees by hul mammas in. Veral ñ mamma wat eens op ñ tyd self klein was, en jy in onbewaakte oomblikke dinge probeer het. Jy is vroeg-vroeg gesteriliseer, maar drange bly altyd agter.

My ou-kind-boet. Op ñ dag soos vandag hang my skouers effens as ek aan gister dink. Ook as ek oor môre top. Die Here kan my nie voor jou kom haal nie. Besef Hy dit darem. Daar is niemand wat jou kan hanteer nie. Niemand wat gelyktydig vir jou kan lag en tog nooit die afwykings durf vergeet nie.

Ons vat jou terug tehuis toe die dag voor ons vertrek. Jy is al nukkerig van ongeduld. Jy wil jou geskenke hê, en teruggaan. Dis al.

IMG_0021

Jy, ñ oumens kind. Met die verstand van ñ vierjarige, die lyf van ñ vyf-en-vyftig jarige. Dis nog net ek en jy. Almal ander is reeds weg, wag vir jou in die hemel.

Maar jy kan nie alleen agterbly nie. So ek vra ons twee se God om jou voor my te vat.

Dan bly net ek agter.

Wat kan mens nou ook sê…

santa

Ek het vandag vir Bertus ñ kersvader-outfit by Checkers gekoop, om saam te vat as ons Woensdag Mosambiek toe begin ry. Sodat hy darem ook ietsie kan geniet…

Ons spot hom. Horrelpoot, dis wat ons jou gaan noem. Maar ons bedoel dit mooi, my engel. Die feit dat jy tien dae gelede ñ voet-operasie moes ondergaan nadat die glas van die stort se rakkie jou voet-senings tot op die been afgesny het, dit was rerig sleg. En van toe af het dinge net erger geraak. Ons was almal op jou “case”, en jy het gedweë twee keer daarna weer teruggegaan dokter toe om ons rustig te kry.

Flippen niks gehelp nie. Eergister is jy weer ge-opereer, en nou hou hulle jou reeds drie dae in die hospitaal om jou te dwing om van die voet af te bly.

Jip, ons vertrek amper vir veertien dae Mosambiek toe. Met ñ manlief wat nie naby die see-water mag kom nie. Ook nie regtig op sand nie. So die hoogste prioriteit op ons pak-lysies is…ñ “boot” vir Bertus se toegedraaide voet. Die vier jonger manne het kondome voorgestel… Wel ek weet nie.

Hoe vra ek nou in die apteek?

Christo, (hierdie is nou ons jong pragtige aptekertjie), watter pakkies kondome is die grootse nommer? Dis vir oom Bertus. Die heel grootstes asseblief. Ja, ons is vir ñ paar dae in Mosambiek. Hy gaan ñ hele klompie nodig hê… Ekstra sterkte ook. Kan ek een uit die pakkie haal om seker te maak dit sal pas? Sien, dit moet hoog genoeg strek sodat die soutwater en die sand nie inkom nie… Julle gaan my moet help besluit, ek weet nie hoe om self te kies nie. Watter kan werk? Watter is sterk genoeg? Kleur? Hoe bedoel jy? Verkies ek dié met die vingertjies? Nee, ek glo nie dis nodig nie, dis vir sy voet.

Gelukkig ry twee van die seuns by ons, hulle moet bestuur. Bertus gaan been in die lug lê, met ñ enorme groot kondoom aan, ter beskerming.

En ek. Ek het my lilo. En nee, lilo is nie ñ undercover privaat naampie nie, my lilo en my paddavoete en my duikbril en snorkel is al wat belangrik is, in my tas. O gits, en my swembroeke.

Ek wonder steeds oor die ‘kleur’ vraag. Gaan dit ñ verskil aan ñ voet maak???

55a2a298-c1c0-4469-ac78-aea38848f115_1.c9ed2911d5875412b1264b8fe0aedd9c

 

 

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg