(skildery “welcome home”: Google Images)
Einde 2004 het ons ñ massiewe inbraak op die plot gehad. Ek en Bertus was oorsee, en Moeks en Boeta vas aan die slaap, onbewus daarvan dat ons huis gestroop word.
Tydens die polisie verklaring wat ons na die tyd moes aflê, is opgemerk…Be thankful that nobody got hurt. True, antwoord manlief, just a shame that my dad went missing, still is.
Ja. Oupa is gesteel. Sy as was in ñ houer in ons kluis.
In ons huis hier langs die dam is daar weer ñ kissie. Mamma se naam is mooi netjies aan die onderkant ingegrafeer. Ek het dit nou die aand vinnig uit my kas gaan haal om af te neem; vinnig omdat ek nie weet hoe om vierjarige dogtertjies se vrae daaroor te beantwoord nie.
Hoe verduidelik ek aan haar dat oumagroot in die hemel is, maar haar as is in hierdie kissie, in my laai.

Hoekom oumie? Maak oop, ek wil sien. Ja, dit is defnitief wat sy sal sê.
Hoekom oumie…
Want dis my mamma se as. En ek gaan dit nie wegvat nie. Sy pla niemand nie, maar belangriker, sy is hier naby my.
Hierdie verduideliking sal ek defnitief nie vir haar gee nie. Kan ek seker vir niemand gee nie. Ek gaan ook nie. Ek sal nie verdedig nie, dis mý ma. Ek gaan nie haar as iewers strooi nie.
Die plan vyf jaar gelede was om haar in die tuin by die winkel te plaas. Met ñ spesiale plantjie bo-op. Moeks het, nes ek, geleef vir ons meubel-besigheid. Die kliënte was haar vriende, so Moeks moes naby bly. Toe verkoop ons die grond.
Sy is saam Rustenburg Mall toe; het haar ere-plekkie in my boekrak gekry.
Nou is sy by ons huis. En ja, ek sê gereeld vir haar hello. Sommer so in die verbygaan. Sy’s mý ma.
As ek die dag baie kwaad is, het dit al gebeur dat ek die kas oopruk en haar staan en vertel presies hoe ek voel. Sy was altyd aan my kant. En ñ mens het iemand aan jou kant nodig.
My kat dink soms oor my. Ek weet. Tog weet ek sy verstaan.

Verstaan van ñ dogter wat altyd haar ma sal nodig hê. Altyd met haar ma wil bly praat.
Al weet sy dis net as.
Dis háár ma se as.





(sundeck:antoine renault 











(fotos:Google Images)









Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.