
Die oggend het baie rustig begin. Met my sak gepak, ry ek skuins na sewe gym toe. Vir ñ verandering ry ek met my eie voertuig, en nie met manlief se Disco nie. Mý musiek en cds; mý goedjies als op hul plekke.
Tannie Joyce het die vermoë om my vinnig uit ñ negatiewe plek uit op te lig. Teen die tyd wat ek by die tonnel aankom, sit ek en giggel vir haar pittige manier om ñ gehoor te bereik. My inkluis. Ek is begeesterd; reg om die duiwel ñ dubbele aambei te gee, soos sy voorstel.
En met dié gedagte in my kop, begin ek oor die brug ry; dit is ons kant se beurt. Die pad is baie smal, jy moet konsentreer. Die tou karre lank.
(foto is met die terugkom slag geneem)
Die volgende oomblik spring ñ reuse kees van die water se kant af, bo-oor die pilaar, tot teen my venster. Sowaar. Vanuit nêrens beland die aaklige gedierte met sy gesig teen my ruit.
(foto ook met die terugry geneem, net om myself te vergewis dat daar iets was waarvandaan hy gespring het. Moes op ñ lysie gesit het, homself misgis het, en bo-oor die pilare gespring het tot teen my kar)
Nietemin. Vir ñ mikro-sekonde kon ek sweer dit is die duiwel vanself.☺ Bobbejaan het teruggeval, en voor die volgende voertuig beland. Dié het weggeswenk en teen die pilare gebots.
Ek. Sonder ñ druppel spoeg in my mond, het ek kop gehou en ñ entjie verder stilgehou.
Kees het verdwyn.
Groot palawa. Karre wat ongeduldig aan die toet raak; en die arme mense in die gestampde voertuig skoon deurmekaar. Niemand het seergekry nie, so ek het terug geklim en verder begin ry. Met kees se spoeg en gwel wat teen my ruit afdrup.
Teen hierdie tyd was tannie Joyce aan die einde van haar boodskap met: When you trust God more than your own feelings, it confuses the devil. When he throws you his best shot and he can’t budge you from believing God, he won’t know what to do with you anymore.
Soos ek sê, tannie Joyce se preke is gewoonlik die regte medisyne vir my. En vandag, met die kees wat so uit die lug uit gevlieg gekom het, kon ek net sê,
Amen.



(Damduiker kleinkinders wat oupa met die stryd teen die hiasinte help. En damduiker wit-honde wat toekyk.) 

















Geniet julle Vrydagaand.












Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.