‘Die skrik is nog in my lyf.’

454459731_5ee6ce4239_b.jpg

Die oggend het baie rustig begin. Met my sak gepak, ry ek skuins na sewe gym toe. Vir ñ verandering ry ek met my eie voertuig, en nie met manlief se Disco nie. Mý musiek en cds; mý goedjies als op hul plekke.

Tannie Joyce het die vermoë om my vinnig uit ñ negatiewe plek uit op te lig. Teen die tyd wat ek by die tonnel aankom, sit ek en giggel vir haar pittige manier om ñ gehoor te bereik. My inkluis. Ek is begeesterd; reg om die duiwel ñ dubbele aambei te gee, soos sy voorstel.

En met dié gedagte in my kop, begin ek oor die brug ry; dit is ons kant se beurt. Die pad is baie smal, jy moet konsentreer. Die tou karre lank.

20170927_082640(foto is met die terugkom slag geneem)

Die volgende oomblik spring ñ reuse kees van die water se kant af, bo-oor die pilaar, tot teen my venster. Sowaar. Vanuit nêrens beland die aaklige gedierte met sy gesig teen my ruit.

20170927_082521(foto ook met die terugry geneem, net om myself te vergewis dat daar iets was  waarvandaan hy gespring het. Moes op ñ lysie gesit het, homself misgis het, en bo-oor die pilare gespring het tot teen my kar)

Nietemin. Vir ñ mikro-sekonde kon ek sweer dit is die duiwel vanself.☺ Bobbejaan het teruggeval, en voor die volgende voertuig beland. Dié het weggeswenk en teen die pilare gebots.

Ek. Sonder ñ druppel spoeg in my mond, het ek kop gehou en ñ entjie verder stilgehou.

Kees het verdwyn.

Groot palawa. Karre wat ongeduldig aan die toet raak; en die arme mense in die gestampde voertuig skoon deurmekaar. Niemand het seergekry nie, so ek het terug geklim en verder begin ry. Met kees se spoeg en gwel wat teen my ruit afdrup.

Teen hierdie tyd was tannie Joyce aan die einde van haar boodskap met: When you trust God more than your own feelings, it confuses the devil. When he throws you his best shot and he can’t budge you from believing God, he won’t know what to do with you anymore. 

Soos ek sê, tannie Joyce se preke is gewoonlik die regte medisyne vir my. En vandag, met die kees wat so uit die lug uit gevlieg gekom het, kon ek net sê,

Amen.

 

 

Die rigting van die wind.

20170926_070713

Die wind waai al die hele naweek sterk hier by ons klompie om die dam. Ons kon bietjie bootry; die hiasinte ‘kuier’ aan die oorkant by Pecanwood rond.

Vanoggend, tydens my stiltetyd, sit ek voor ñ venster en kyk na die watermassa hier voor my.

ñ Piepklein eendjie kom aangeswem, met ñ spoed. Eers gedink dit is ñ verdwaalde stuk plant, maar o nee, die lyfie beur na vore. Wind op.

Hoe?, dink ek. Hoe kan daardie eendjie so vorentoe vorder teen ñ wind wat die massa hiasinte binne minute kan laat verskuif. Vir my wat hier eenkant staan, lyk dit na ñ onmoontlike taak.

En tog. Tog is hy geskape om in water te kan oorleef. Dis sy lewensdoel. ñ Eend swem.

20170926_070807

Hul broeiplek is hier aan die linkerkant van ons stukkie grond; beskut, diep onder die oorhangende plante in. Die hiasinte kom en gaan. Soms is ons vir dae aaneen vasgekeer deur die ‘groen monster’, soos ons dit noem. Tog, die eende oorleef hierdie aanslag op ons damlewe.

Want hulle is eende, en eende swem.

Ek. Ek moet onthou dat die mens in staat is om gevare te oorkom. Om teen alle logika in, te kan oorleef. Op te staan, en voort te stap.

Al ‘parkeer die groen monster’ homself op jou pad. Jy lê net geduld aan die dag, vertrou op die Een in Wie jy glo, en wag tot die wind van rigting verander.

Want jy is mens. Jy kan. Jy kan wag en stil wees. Soms met mag vorentoe beur. Soms bietjie rond dobber tot daar ñ deurgang kom.

En dan. Dan die lewe weer met hernude krag leef.

Want jy is mens.

FB_IMG_1506403760374(Damduiker kleinkinders wat oupa met die stryd teen die hiasinte help. En damduiker wit-honde wat toekyk.) 

Lê-Jou-Eier: Wat sal ek saamvat? Maar Hester…

So is my Vrydag nou totaal in sy kanon in. Eerstens; ek is doodmoeg. Gisteraand tot watter tyd op Google rondgereis. Kon vanoggend nie vinnig genoeg by die werk uitkom nie.

Waarheen haas jy jou so, my vrou? Werk toe. Ek het dinge om te doen. O? Soos wat? Kan ek kom help? Nee. Nee dankie.

Want ek moet op my eiland uitkom…

(fotos:Google Images)remote-island

Maar Hester. Hoe kan jy nou hierdie skryfopdrag so op my skoot kom neersit! Die ligging! Ek het deur die nag vir ure rondgerol om te besluit op watter eiland ek uitgespoel het! Toe droom ek ook nog. Van Papua NewGuinea se droommooi plekke, en hoe ek daar bly; al vir jare en jare.

En toe.

wayag2_home

Toe swem die kannibale oor en kom kook my.

Daarom dat ek by die winkel moes uitkom. Vir oorlewing se onthalwe.

Maar Hester. Voor ek kan sê wat ek sou saamvat om met die eensaamheid te help, moet ek eers dink met watter lugredery ek sou vlieg. Dit bepaal hoeveel bagasie ek kon inpak… Cathay Pacific. Ek het met hulle gevlieg! Want sien, my eiland moet aan daardie kant van die wêreld wees. Naby Bali en die Fillipyne.

Net nie binne swemafstand van Komodo Eiland nie!

komodo-liveaboards

Sien, hier gaan ek alweer. Niks geslaap gekry nie. Soveel keuses. Sulke groot besluite…

7938007174_41947d181a_k

Goed. Fokus. Ek bly al jare alleen hier. Daar word aan al my basiese behoeftes voorsien.

Ek is eensaam.

Wat het ek ingepak, op die vliegtuig as handbagasie gevat, en toe vasgeklou tot op my eindbestemming? Wat kan help teen die alleenheid.

Maar Hester… Nee Una, fokus.

Maar Hester. Ek hoef nou nie diep te wees nie, né? Ek gaan nie geoordeel word nie?

Miskien. Miskien nie.

So ek gaan nie sê ñ daggaplantjie nie, al behoort dit die eensaamheid met hallusinasies te verdryf… (hou in gedagte: Kannibale. Komodo drake. Min slaap laasnag)

Bl7IsP

Ek mag ook nie sê dat McDreamy van Grey’s Anatomy langs my op die vliegtuig gesit het, en moontlik ook uitgespoel het nie? Want ek is mos nou veronderstel om alleen te oorleef en eensaam te raak…?

Mmm. Maar Hester.

Kom ons dink nou mooi hieroor. Alleen. Op ñ prentjies eiland. Soms verbeel ek my ek is ñ meermin. Soms sien ek nog voetspore, sulke groot, sterkes…

Ek het niks meer nodig gehad nie. Net ‘alles uitgehaal’ en tot hier geswem. Dalk in die proses goeters verloor.

Maar Hester. Ek is ok!!!

deserted_island_892105

(Indien ek iemand skok. Dis eintlik net ñ ou storietjie, hoor. Nie wensdenkery nie…)

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

 

Wat van jou tattoos?

8

Die keuses wat jy gemaak het. Besluite wat jy geneem het. Die bewyse daarvan.

Wat doen jy daarmee.

Dra jy langmou bloese en weet dat dit nie opsigtelik is nie? Praat jy woorde wat ander laat glo jy is vlekkeloos? Skryf jy jou drome neer en teken só ñ prentjie van jou toekoms?

Dan, op ñ dag, is dit weer somer, en jy sweet.

Wat doen jy met jou tattoos?

Ek weet nie.

11e97bf69b56c981606be863d59632c6

Ek weet niks.

 

Ek het ge-wat…!

My skrywe kom na aanleiding van Hester se laaste storie. Hoe sy nie altyd goed vaar met ñ ge-vliegery nie.

Feite: Ek vlieg gereeld oorsee, lang ure. Meestal alleen. My tyd is gewoonlik beperk, so ek wil nie ñ paar dae moet afvat om aan die nuwe tydzone gewoond te raak nie. Aankope moet dadelik begin.

Nou het ek ñ ritueel ontwikkel. Sodra ons die vliegtuig moet bestyg; daardie oomblikke wanneer hulle die sitplek nommers roep om deur te stap; dit is dan wanneer ek DIE SLAAPPIL afsluk.

Van hierdie oomblik af gebeur dinge vinnig. Handbagasie in die rak bo kop. Handsak oop. Nekkussing uit; blaas op. Trek skoene uit, slaapkouse aan. Reeds op die lughawe tande geborsel, grimering afgewas. So, skoon gesiggie. Skeur sakkie oop, gooi kombersie oor bene. Maak seker geldsakkie is om lyf vasgebind, handsak onder stoel. Plaas vliegtuigkussing in die hoekie by die venster. Kry nekkussing in regte posisie. Trek oogmasker oor oë.

Haal eers weer af. Groet die passasier langsaan beleefd. Vra mooi, moenie dat iemand my wakkermaak vir kos of drinkgoedjies nie, asseblief. Dankie, geniet die rit.

Sit masker terug.

En “pass” uit.

2B9314ED00000578-0-image-a-21_1440249694262

Hoor die veiligheidsreëls vaagweg aan. Voel die opstyg tussen die newels deur.

Salig.

Tien-ure dertig minute later skrik ek wakker as ons in Singapore land.

Ek drink maksimum ses slaappille per jaar. Net een op ñ slag. Twee vir elke keer as ek vlieg. Drie keer per jaar. “And it knocks me out”.

Maar nou. Dit laat my nooit naar voel nie. Ook nie ‘duh’ nie.

Tog…

download (5)

Ek het nou maar net ñ ding oor vars voel na soveel ure van stilsit. Op Singapore lughawe, “In Transit”, hol ek vir die hotel storte. Betaal ñ paar rand, en gaan was die slaap af. Heerlik verfris klim ek twee ure later weer op die vliegtuig vir die laaste been tot in Bali of Jakarta. Uitgerus.

Mmmm.

DIE SLAAPPIL. ‘Drool ek?’ Weet nie. Praat ek in my slaap? Moontlik. Ek kom darem nie agter dat mede-passasiers my skeef aankyk nie. Wie gaan ooit weet.

Feit: Ek het een keer twee maal na mekaar gaan stort. Twee keer betaal; kredietkaart strokie is die bewys. Hoe de hel… Geen idee. Dalk tot onder met die roltrap gery; rondgekyk; nie onthou of ek kom of gaan nie. En weer gaan stort.

ñ Ander keer met ñ baie vreemde “outfit” by Sulis aangekom. Ek en sy kon glad nie uitwerk hoe ek daai een reggekry het nie.

Op ñ ander stadium met iemand anders se plakkies op die lughawe afgeklim. En ñ keer kaalvoet. Want my skoene was weg.

Deesdae skryf ek vir myself ñ briefie. Druk dit in my bra as ek die pil afsluk.

Hello Una. Jy is nou wakker, gaan nou afklim. Bêre nekkussing en oogmasker. Trek slaapkouse uit; jou eie skoene aan. Soek die storte. Trek jou klere in JOU handtassie aan. Kyk op foon vir foto van uitrusting. Sit foon terug in handsak. 

Haal geldsakkie af voor jy stort. Nie eers na die tyd nie. 

Maak dubbel seker jy stort net een keer. 

Nee wag, stort, stap weg. Niks moet dubbel gebeur nie.

Ding is, iewers tydens die vliegrit verloor my briefie…

OB2M89s

Dankie tog vir DIE SLAAPPIL.

Dit hou my lewe interessant.

funny-animal-pics-292

Ek soek my ma.

cropped-frugoli_t_thestudiovisit_875

As die kleinkinders met die ouma, ek soek ñ sweetie sinnetjie opdaag, dan sal ouma maklik sê nie soek nie, vra liewer, ouma, ek wil graag ñ sweetie hê.

Vandag SOEK EK MY MA.

Ek wil haar oplaai en saam winkels toe gaan. Vir haar iets nuuts by Woolies gaan koop. By die kunswinkel inloer en kyk waarvan sy hou. Vir as sy weer verjaar…

EK SOEK MY MA. Dis al vyf jaar, en tog bly sy in my gedagtes. In my wese. Ek raak nie hartseer as ek na haar fotos kyk nie. Of steeds haar parfuum ruik nie.

Ek slaap wel soms in haar nagklere, sommer net.

Ek onthou die Sondag skemeraand nadat sy die oggend weg is. Ek het oor die dam uitgekyk, en haar teen die oorkantste wal sien staan. In ñ lang wit rok. Sy het vir my gewuif, want sy het geweet sy moes darem net baai sê. Ek was nie by haar toe sy haar oë vir die laaste keer toegemaak het nie.

EK SOEK MY MAMMA.

As die wet jou finaal faal.

skorsie

Nee!

NEE.

Ek beroep my op Artikel 18…snik…Vryheid van assosiasie…Jy kan assosieer met wie jy ookal wil…

Ek is NIE ñ pampoentjie nie. Ek betaal belasting. Ek het stemreg. Ek hou van my land.

Snik.

Ek beroep my op Artikel 11… Ek het die reg op lewe. Niemand mag my lewe neem nie, nie eens die staat nie…snik.

Help! Iemand hoor my. Help!

En op Arikel 12…Ek mag nie sonder verhoor aangehou word nie en marteling word nie toegelaat nie…Ek het die reg om te besluit of ek kinders wil hê of nie…O, dit geld nie nou nie…Sorry.

Jy het beheer oor jou eie liggaam.

Help. Nee. Nie dit nie.

Nee!!!…………………………………………………………………

muffins_aux_epinards_et_a_la_feta

(Murgpampoentjie-muffin resep op navraag: Veral gewild op staatsbankette.)☺☺

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

 

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

Vrydagaand? Waar?

18eed6c5074069cf0f60dc0e8899d669--bohemian-furniture-indian-furniture

Presies net hier waar ek elke dag gevind kan word. Vrydagaande is besig om baie kleurvol te raak. Of liewer ‘kuiervol’.

Ons winkel is reg langs ñ BAIE gewilde eetplek. Die tafeltjies kyk almal reg op die winkel af. Met die gevolg…Vrydagaande is die uwe, haar manlief en enige vriende of familie wat só geroepe voel, ook by die BAIE gewilde eetplek.☺

Natuurlik met ñ agenda, ja.

Hierdie is ñ kuier Malltjie. ñ Ernstige kuier Malltjie.

Mense kom van heinde en verre om naweke in hul vakansie huise langs die dam te ontspan. Nou gebeur dit so dat mammie nie lus is vir kosmaak op die eerste aand van haar naweek nie. En Ruloff van La Terrazza gee weer glad nie om om vir die heinde en verre mense kos op te dis nie.

Nou, die agenda. Ons maak nie die deure vyf-uur toe nie. Ons, dis nou ekke, het ook nie aandete beplan nie. So ons bespreek vroeg-vroeg ons tafeltjie wat reg op die winkel se ingang uitkyk, en daar gaan neem ons stelling in. En gesels. En eet. En geniet die “live band’.

92f8fed3467b0c035be21166a1939308

So word ñ gewone Vrydagaand nou ñ kleurvolle een. Daag die kinders op, kan die kleinstes in die parkie reg langs die winkel speel. Ouers kan eet. Oupa Bertus kan sy bier en die Live Band waardeer.

En ouma kan die deur dophou. Baie vlieë word raakgeklap met een hou.

Moet ek bysê, die ou se kos is heerlik. Dis nou die ou van die BAIE besige eetplek.☺

Maar vanaand. Vanaand is dit net ek en manlief wat hier gaan sit. By die “reserved” tafeltjie. Want ek en manlief het bietjie ons tyd nodig. Ons tweetjie is effe krapperig met mekaar. Ek kan nie mooi onthou hoekom nie… Maar ja.

Is ek lus vir ñ ‘ons’ aand…? Nee. Ek is mos effe vieserig. Maar daar is ñ rede. ñ Flippen goeie rede. Moet wees, logies?

So, as jy dalk terloops hier verbyry, en terloops hier in draai, en terloops ook hier kom eet. Die tweede tafeltjie van die oop ingang af; DIE EEN WAT OP DIE WINKEL SE INGANG AFKYK, dis ons.

Besig met ‘ons’ tyd, by ‘ons’ reserved tafeltjie. Besig om te gesels oor die krapperigheid wat ek flip nog steeds nie kan onthou nie. Bert moes iets iewers verkeerd gesê het; of die verkeerde geluid iewers gemaak het. Want ek is vies oor iets.

Sal net gou al die laaitjies in my brein moet gaan oopmaak om te sien wat is waar.

Voor ek ook by die reserved tafeltjie opdaag.

12acdfd832cb8fdf07d4aec3725c1bf3Geniet julle Vrydagaand.

xxx

Tannie Lenie Engels kòn klere maak.

il_340x270.1226012855_cs6y

Sy kon alles doen. Van patrone ontwerp tot die mooiste borduurwerk doen.

Vir ñ jong dogtertjie van om en by agt jaar, was kuiers in haar woonstel ñ hoogtepunt. Iewers in Durban se voorstede, op die vyfde verdieping. Met ñ groot park aan die agter kant. Daar kon jy gaan swaai, en duiwe voer.

Jy moes met die brandtrap afklim, agter by die kombuisdeur.

Maar binne. Binne was alles anders as meeste plekke. Rolle materiaal. Koplose poppe met halfklaar rokke aan. Blinkertjies. Knope. Ritssluiters. Kant. Teken-boeke. Bo-op mekaar. Onder mekaar.

Patrone. Sulke dik patroon-boeke.

En dan haar brille. Soms het sy twee gelyktydig gedra.

Ek was nogal seker Ma het nie van haar gehou nie. Ouma het alleen daar gaan kuier, dit was haar sussie. Engels. Die Stoltze was meestal Engels. Ma se niggies was mooi, en jonk.

Steeds Engels. Dit was blykbaar nie goed nie, maar ek weet nie.

Tannie Lenie Engels kon met ñ lap toor.

house-of-balenciaga-ensemble-gownsglamorus-golds-pinterest

Sy was goed kwaai. Net so oor haar bril geloer as ek iets in ouma se oor fluister. Ek het liewer stil gesit. Net gekyk.

Of die duiwe gaan voer.

Ouma het altyd vir oorskiet lap gevra, en gesê as ek soet is, mag ek met die skêr sny. Ek het meer daarvan gehou om in die een slaapkamer te gaan kyk. Dit was klein, die deur kon net ñ entjie oopmaak, dan is dit teen die bed. Dít was nou die ding wat my gefassineer het; die halfpad-deur. En die Kyk-fotoverhaal boekies onder die bed.

Vandag nog, as die duiwe langs die dam  vroeg-oggend koer. Dan onthou ek. Voel ek weer die swaai wat hoog-hoog vlieg. Die vasklou aan die brandtrap se leuning.

Dink ek terug aan tannie Lenie Engels en haar twee dogters. Sonder ñ man.

Wat op die aarde het van hulle geword. En hoekom weet ek nie.

 

 

Dankie dat jy my innooi.

(fotos:Google Images)Black-Rhino-II-Sophie-Standing-Art-01_big

Ek sal versigtig stap in jou wêreld.

As ñ kliënt by die winkel inkom, is die eerste paar sekondes baie belangrik. Nie almal is ewe seker van hulself nie. Nie seker hoekom hulle daar is, of presies waarvoor om te vra nie.

Jy weet wel dat hulle graag hul veilige omgewing mooier wil maak. Iets bybring. ñ Prentjie ‘verskuif’.

As verkoopspersoon sit jy met die bossie sleutels. Die regte woorde, die regte houding, en jy word binnegelaat.

987394e20ebc7599cf5630c75b510835--rustic-furniture-painted-furniture

Vir ñ wyle mag jy saam deur hul wêreld wandel. Jou instink skop in. Jy ‘hoor’ tussen die lyne deur. Dit is baie soos om ñ kwilt oop te sprei. ñ Vreemde se lewe word oopgevou, en dan word vreemd  vir jou bekend.

f39056586e78bcffb2acd186d42a084a--landscape-quilts-hollyhock

Jy lees die patrone, en maak dit jou eie. ñ Teruggetrokke, stugge mens begin ontdooi. Voel veilig. Kry moed. Jou sleutels sluit die skatkis se laaie oop.

As jou hart in jou werk is, word jy verwelkom. Ontvang jy die ope uitnodiging. Saam pak julle die uitdaging aan; saam vind julle die unieke. Daardie een item wat alles kan verander.

96961656758354fba1d5311694e87670

Dankie dat jy my innooi. Ek hoor jou hart. Ek sien jou droom. 

Dit is ñ voorreg om jou te help; ek sal versigtig stap.

Dis foeitskerneels vir jou.

Ek en Trommeltjie kuier lekker saam hierdie naweek; gesels oor ons liefde vir die Indonesiese meubel-wêreld. Een ding besef ons. Soms moet jy vasklou aan iets, al is dit aan ñ wêreldse iets. Want netnou netnou is dit foeitskerneels vir jou. Is dit neusie verby.

6fb9775e6f0db0ab0679b9d9a3c6faa7--bedroom-cabinets-old-cabinets

Ek dink daar is in ons almal se lewens ñ item wat ons baie graag wil behou. Dalk stukke met sentimentele waarde. Boeke. Briewe. Iets uit jou voorgeslag.

ñ Deel van jou geskiedenis.

Indonesië en Bali is ñ groot deel van ons twee se lewens. Is. En was. Ons kan nostalgies raak oor sekere herinneringe, plekke, tye. En goed.

9d3e92065df453c5587c64eec5205b21--medieval-furniture-gothic-furniture

Met ñ winkel is jy geneig om jou eie wense altyd uit te stel. Volgende keer. Jy loop dalk ñ droommooi meubelstuk raak; het die presiese plekkie in jou huis daarvoor. Hm en ha oor die prys. Stap ñ entjie. Kom weer terug. Keer om, inspekteur elke plankie. Stap weer ñ entjie…en laat die trok dit dan oplaai.

Terug in Suid-Afrika word item saam met die res van die voorraad in jou winkel afgelaai. Dan, voor jy jou kan kry, koop ñ kliënt jou droom. En jy dink, toemaar, ek vlieg volgende jaar weer oor. Sal ñ ander een kry. Besigheid is besigheid.

Mense vra dikwels of ons huis soos ñ Bali woonplek lyk.

Nee.

Ons het so te sê niks Indonesiese stukke in die huis nie. Met dié dat jou liefde en entoesiasme vir hul meer unieke werke so groot is, wil jy dit met ander deel. Laat jy dit gaan.

c1b76cef84eb566f1e207e1be9b2b7a0--painted-armoire-painted-furniture

En op ñ dag bly jy droëbek sit. Jy diep jou fotos op, en plak een teen jou spieël vas. Die een van die Burmese kiaat-stompe.

jepara-wood-furniture-indonesia

Om jou te herinner.

Soms mag ons ook effens selfsugtig optree. Hoef ons nie almal anders eerste te stel nie. Kan dit ñ fout wees om té prakties te wees.

Geniet wat jy het. Wat jy kry. Wie jy is. Wat jy is. Waarvan jy hou. Jou drome is ook belangrik. Jou voorkeure is uniek.

Moenie dat dit foeitskerneels vir jou raak nie.

Picture 123

 

 

 

 

 

Una skryf haar eie grafskrif.

Ek gaan veras word.

Maar dit beteken nie dat ek nie ook ñ ietsie iewers geskryf wil hê nie.

Daar moet ñ tuin met ñ spul kleur wees. ñ Hekkie wat altyd oopstaan. ñ Bord met sagte sierskrif op.

374b6327da0ae2a84108509e858af19e--beautiful-paintings-beautiful-images

Hier rus Una. Sy het liefgehad en voluit geleef.

ñ Bankie sodat die kinders en manlief kan kom sit en kuier.

My vriendinne ñ wyntjie op my kan drink.

e65efbaa0b3f3a03be92869244356de7

Daar moet ñ aangename reuk rondsweef. En hopenlik mag iemand hulle verbeel ek is tog daar.

Al is ek in my Vader se arms.

Wat sal hulle oor my dink en sê? Hopenlik dat ek die lewe omarm het. My drome uitgeleef het. My mense liefgehad het.

En sag in ñ ander se lewe probeer stap het.

Ja. Ek hoop hulle sal in my tuin kom vertoef.

Al is ek in my Vader se arms.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

 

 

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg