Om saam met die visse te slaap.

(fotos:Google Images)bali-glass-hotel_2929323a-large

Hulle slaap darem sekerlik ook?

Vandag is ñ gewone Woensdag, maar vreemd genoeg is ek nie lus vir gewoon nie. En met dié dat ek so omring is deur Bali-dinge in die winkel, en baie met kliënte eiland moet gesels, dwaal my gedagtes daarheen.

Ek verlang na die see. Wonder of Seegogga op hierdie oomblik die deinings in die Kaap sit en dophou. Die watermassa hoor praat.

Ek maak my oë toe, en voel die skommeling van ñ boot onder my lyf. Proe die sout op my lippe. Sê nou net ek kon nou op my maag lê en die visse deur die bodem sien. ñ Onderwater wêreld beleef en geheime ontdek.

Dalk die hotel op Bali besoek, en die glas-bodem kamer bespreek. Sommer so in my nagklere met ñ koppie koffie in die hand, sit en kyk. Hoe die vis-lewe verby beweeg.

Vroeg op die strand gaan stap. Saam met ander strandlopers, alleen en tog saam.

Bali-1

Later ñ anderste ete gaan nuttig. Soos net Bali dit kan doen.

Ek het hièrdie Woensdag nodig. Spierwit sand tussen my tone. Algehele vrede en rustigheid.

Viskos. ñ Groot bord vol.

Die son wat wegraak…

9895739321aceb258e98dcf9871a8251

Ek wonder of visse ook slaap.

 

En so kom my ‘Panne-roots’ toe ernstig deur…

Jammer skoonsus Annerie, maar hulle spot soms met my oor my herkoms. Ek bly maar ñ Brakpan-girl.

20170906_155909

Kort, vinnige skrywe. Storieklong kom gister ñ draai hier maak. Iewers deur die kuier “confess” ek my eie stupidgeid.

Kyk. Kyk wat het ek aangevang! Ek koop in Bali vyf kiaat-hout sleutelhouers, en maak seker hulle lyk reg. Kyk nou! Hoe? Hoe moet ñ sleutel nou hieraan hang! Storieklong, dink jy hulle het die agterste paneel per ongeluk omgeruil? Geen sleutel kan hieraan hang nie. Ek het probeer, gedog daar is dalk ñ ‘trick’ Ek sal ñ houtwerk-man soos jy moet inhuur om hierdie gemors reg te maak.

Sien, ek is regtig eerlik. Ek erken my foute ruiterlik.

20170906_155854

So staan hy die vyf kassies vir net een sekonde en aanskou. Vryf oor sy lange baard. Treë vorentoe, en…

…draai die kassie om.

ñ Deur is gewoonlik rond aan die bo-kant.

Maak dit oop, en siedaar! Soos ñ flippen towenaar maak hy die deurtjie oop.

20170906_160002

Dinge hang reg.

20170906_155951

Sleutels gly nie meer af nie.

Sien. My ‘Panne-roots’ wat deurkom. Ek het juis op Rondomtalie se blog daarop kommentaar gelewer. In Brakpan gebly, op Springs skoolgegaan…

Flip.

 

Die huis langs die dam het moeilikheid.

(skilderye:Google Images)c3a9ca3f47bfd2441d31a9333db298c3

My prentjie werk nie uit nie. Kieter dreig om weg te loop, en Emma het in ñ diep depressie verval.

Dit alles net omdat die mooiste, dierbaarste Labrador vir ñ paar maande by ons kuier.

Kieter is die eintlike gewigtige baas in ons huishouding. Maar Bertus weet dit nie.

Die dag toe NOG ñ wit hond haar intrek by ons neem; daardie dag moes ek al geweet het die wiele gaan iewers afval. En behoorlik afgehél, die het hulle.

Ons Emma is ñ totale pavement special. Sy lyk gekruis tussen ñ Dalmation, ñ Labrador, ñ Husky. Iewers, sê hulle, is daar ook verlore wolwe bloed betrokke.

Haar agterlyf is effe gebreklik, en met dié kan sy nooit kleintjies kry nie. Het net nog nooit op hitte gekom nie.

Sy het by ons grootgeword as oudste en enigste hondekind. Sy weet sy is eintlik ñ mens, en glo ons besef dit ook.

Jessica is die allermooiste, bes geleerde Labrador; ons jongste getroude kinders s’n. Met dié dat hulle haar net een keer wil laat kleintjies kry, is sy nie reggemaak nie.

En huidiglik op hitte.

Vanuit nêrens, vir die heel eerste keer in vier jaar, het Emma nou ook begin. Dalk die reuk??? Wat ook al.

Ons beleef chaos. En die uiterste frustrasie. Aanvanklik het die twee mekaar net-net verdra, maar nou is dit moord en doodslag. Sodra klein Xander begin huil, wat baie gereeld is want die mannetjie bly siek, wil albei honde hom gelyk vertroos en beskerm. As Gaby haar voetjie uit die huis uit sit, storm hulle mekaar. As ek aan die voordeur raak, of net in hul algemene rigting kyk, is die gort gaar.

Nee wat. Hierdie is uiters onaangenaam.

En dan is daar Madame.

e211443b43e2817b2bbe493a429ee931--tree-paintings-tree-of-life-painting

Sy haat die lewe. Sy haat honde. En ek dink sy haat my. Want iemand moet die skuld kry vir haar baie onaangename situasie.

My prentjie werk nie, sê ek weer. Aanvanklik was ek skrikkerig vir dié saamblyery met die kinders en kleinkinders terwyl hulle nuwe huis gebou word. Tussen ons klompie heers daar volkome vrede. Seker ook omdat ons almal moet inspring en help met kleinman wat so met sy gesondheid sukkel. Daar is nie ruimte vir geite nie.

Maar sê dit nou vir die troeteldiere. Liewer, die drie monstertjies. Geen begrip van enige aard word ge-openbaar nie. Elkeen wil baas wees van die algemene huishouding en tuin.

Niemand mag eet of piepie of poef nie…ek praat nou van hulle drie, né! Ook nie in hul eie beddens slaap of op geliefkoosde trap sit nie. Sondag na kerk, was ek en Bertus nie eers lus vir ons eie huis nie. Het sommer die pad gevat vir die dag.

Ja, die huis teen die dam het inderdaad vroumens moeilikheid. En die man van die huis wat nie weet hy is nie die baas nie, is uiters vies vir die lot.

Oil-font-b-Paintings-b-font-font-b-Dogs-b-font-Cats-Cushion-Covers-Pug-Bulldog

Die Bali-laai.

PJ-BL249_ROENTG_G_20121205165241

Minding my own business; dit is waarmee ek besig was. Toe, net per ongeluk, trek ek die laaitjie oop.

So nou, op hierdie oomblik, stap ek op ñ Bali voetpad. Op my eiland.

bali-silent-retreat-walking-on-ricefields

Ek gee effe pad sodat die ‘optog’ kan verbykom. Bali mense oppad na een van hul seremonies toe. Sal ek hulle bietjie volg? Net gaan loer waar dit eindig?

baliruralphotography4

En daar is ñ eindpunt. Anders as party van my sinne.☺

Ons stap deur die agterste, stiller straatjies. Tussen groepe mense deur wat hard aan die voorberei is vir iets. Dalk ñ troue. Dalk ñ tandetrek-seremonie. Dalk ñ eenjarige kind wat sy naam ontvang. Of ñ tempel wat verjaar.

Daar is menige keuses. Maar wat ñ feit is; daar is elke dag iets om te vier.

Hulle omarm die lewe. Celebrate life.

Balinese-temple-entrance

Dit is dalk nie ons manier nie. Nie my godsdiens nie. Maar teen die tyd wat hulle hul tempel trappies bestyg, loop ek heerlik met my Here en gesels. Sommer so oor alles. Oor die mensdom. Sy skepping.

Sunset Over Rice Fields, Bali, Indonesia

Ek wonder of Hy meer tyd aan sekere wêrelddele bestee het tydens die skepping. Het Hy gunsteling plekke?

Sal Hy dalkies verkies dat ons met Sy Gees in ons, na die uithoeke van die aarde beweeg, en tyd daar verwyl.

Tussen mense wat vir Hom net so belangrik is as ons…?

 

Woorde sonder ritme.

(skilderye:Google Images)unica-2

Die onderwerp om te gee, maar ook te ontvang, het ñ diep oorsprong in my binnekant. Dit los my met ñ vae hartseer. Die sin het ñ begin, maar ek wonder of daar ñ einde is.

Om met ñ verstandelik gestremde boetie groot te word, bring ñ ander dinamika tafel toe. Jy leer vroeg in jou lewe dat jy sal moet bly gee, sodat jou wêreldjie kan voortgaan. As die ousus was Boeta my verantwoordelikheid. Ma en pa het geweet ek sal kyk, ek sal sorg, ek sal oppas as hulle nie by is nie.

Boet het alle aandag nodig gehad, alle aandag opgeslurp. Hy was die pragtigste klein pokkel seuntjie, en jy wou hom beskerm. Ten alle koste.

Teen die lewe. Teen geniepsige maatjies. Teen die koggel van groter kinders. ñ Woede sou my beetpak as iemand hom seermaak, veral as hy hartseer raak. En daardie woede het ñ lê-plek gaan soek. Daardie woede het ñ jong dogtertjie gevat, en op haar eie verwerk. Dit het die skans geraak teen haar eie seerkry.

Want. ñ Spesiale kind in die huis MOET in almal se lewens eerste gestel word. Die gesin word woordeloos geleer dat daar nie spasie is vir hulle eie ‘wees’ nie. Nie tyd is nie.

Onvoorwaardelike liefde maak my bang. Vir my is daar so ñ groot koste aan verbonde, dat ek dit liewer nie wil hê nie. Liewer nie wil voel nie.

Want ek weet wat dit kos.

images (1)

Ek vermoed dit is ook die rede hoekom ek so graag gee; my ondersteuning en aanmoediging, my vriendskap en aandag. Maar aan die anderkant moeilik ontvang.

Ek is ok, sal ek woordeloos voel. Ek het niks nodig nie. Ek kom reg. Help iemand anders. Gee vir diegene in nood. 

Ek is ok.

So hier gaan ek nou stop. Want daar is sekere kranse wat mens van wegbly. Een sin vloei na ñ volgende, en op my ouderdom pak jy liewer weg. Onthou eerder die goeie tye. Die baie, baie gelukkige tye.

Jy kyk breër, en sien die geheelbeeld raak.

3D-Abstract-Nature-Painting

Want sinne hoef nie altyd eindes te hê nie.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.

Nuwe onderwerpe word aangekondig elke Donderdag om 12:00 en sluit outomaties na een week.

‘It is done…’ Klaar oorgetrek.

(skilderye:Google Images)imgrc0068432246

Die nuwe winkel is oop.

Van Maandag af werk ek behoorlik dag en nag. My lyf moes maar net bybly, want die kop en die verbeelding het oorgeneem.

Ek dink mens noem dit ñ adrenalien-rush, hierdie euforiese gevoel.

Vanoggend die deure sommer oopgelos, en nuwe mense het dadelik begin inloer. Ek staan verstom oor die hoeveelheid gesigte wat net kom hello sê en ons verwelkom. ñ Hele paar mans het kopskuddend gesê dat hierdie vir hulle ñ probleem gaan veroorsaak. Menende nou met die vroulike geslag en mooi goedjies vir die huis…

Bertus moes sy deel kom doen; spieëls ophang en muskietnette se hakke in die plafon indraai.

Maar nou. Nou wil ek op my eie gelos word.

My hart jubel, ek voel baie tuis. En ek weet eintlik glad nie hoekom nie. Dalk die baie beweging, die nuwe lewe. Ons is reg langs ñ bekende restaurant, en ouens sit al van nege-uur af en kuier, eet.

Nou, half vyf in die middag, is hier ñ ‘buzz’ in die lug wat ongekend is.

20170831_152550

Ek glo met my hele hart ek het reg gehoor. Een Sondag-oggend in die kerk toe my Here en ek gesels het. Eintlik, ek het net geluister. En die plan voor my geestes-oë sien vorm aanneem.

More is ons amptelike opening. Wens ek kon van julle oornooi, net sommer. Want sulke groot gebeurtenisse in jou lewe deel jy graag met mense na aan jou hart.

En dit is wat my blog vriende is.

xxx

c36b1d5f8dc0ddd7e0925e657a0fd70b--canvas-ideas-note-cards

 

 

 

 

As ñ nuusberig tot familievermaak lei.

images

Toortsie skryf op haar blog oor die media, en die plek van nuus in ons lewens. Kombineer dit nou met hierdie week se Lê-Jou-Eier onderwerp oor uitdrukkings, en ek moet in my mou glimlag.

Weereens ñ klompie jare gelede, vat ek ons jongste dogter en Neil, oudste seun, saam met my Bali toe. Die twee verskil ñ jaar, dink hulle was so vyftien en sestien.

Ons drie deel ñ lekker groot kamer in een hotel. Wanneer ek oorsee is, is nuus omtrent al wat ek op tv kyk. Die rede: Dit is al wat verstaanbaar is, in Engels. So weet ek dan vir daardie drie weke op ñ slag van alles wat oral in die wêreld gebeur.

Een oggend lê die twee elkeen op sy bed en nuus kyk. Op daardie stadium was Afrika weer heeltyd onder die hoofberigte, spesifiek die oorlog in een van die lande.

05

Neil kyk en luister aandagtig. Gorilla-oorlogvoering word in diepte bespreek. Na ñ paar peinsende oomblikke sê hy uit die bloute: Mense is vir hom baie slim.

Hoe so, engel? vra ek.

Kyk, sê hy, hy sal eendag baie dinge kan regkry, maar nou nie dit nie.

Ek en Lisa frons gelyktydig. Wat sal jy nie kan doen nie, boet?

Ek weet glad nie hoe daardie mense dit reggekry het om ñ army vol gorillas te leer skiet nie.

Hoe doen mens dit? Hoe leer jy ñ gorilla om oorlog te maak?

GorillaGuerilla

Need I say more.

So in ons huishouding, sodra iemand iets nie begryp nie, sal iemand net sê: Mmm, ja. Dit is mos nou soos die gorrilla-fighters, né.

Chaos.

3d-hd-nature-wallpaper

Rerig. Dis hoe vanaand voel.

  1. Ons trek winkel oor. Het heeldag gewerk.
  2. Kom by die huis aan. Jongste meisiekind en haar man en twee kleinste bly op die oomblik by ons. Hulle sussie/skoonsus en dié se familie kuier hier vir die naweek.
  3. Ek is vuil. Vol verf. Moeg. Gaan nie nou saam kuier nie. Mos nie my  kuier mense nie?
  4. Ek sit bo en skryf oor gesegdes en idiome. Ek kry net nie tyd om te fokus nie. Ek mis my blog-familie! Kom nie by julle uit nie, en dit is crap!
  5. Los almal my nou eers uit. Kry julle eie kos! Ek is nie honger nie.
  6. Klein dogtertjie-pikkewyn kom loer kort-kort wat ek hier bo doen. Oumie werk, engel. Ok oumie.
  7. Ek sien my maatjie WAT OP DIE OOMBLIK BY HAAR KINDERS IN ENGELAND KUIER, EN REEDS 65 IS, is kwaad vir my op ñ kommentaar omdat ek voel my lyf is moeg! Ek weet ek is effe lui, vriendin. MAAR JY MAG NIE JUDGE NIE! Anders gaan ek jou Desember in die see in Mosambiek terug betaal…
  8. Dis die lekker van twee verdiepings. Die “party” gebeur onder. Ek sit hier bo en hoor alles. Maar sit en skryf vir julle. Amazing.
  9. En nou, nou kan ek nie uit die nommertjies uit kom nie. Daar is nie ñ punt nommer nege nie. Wil net sê, ek verlang na my blog-vriende, moenie my vergeet nie!
  10. xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx

En toe. En toe. En toe.

_63005388_moreton1

Ek weet. Mens begin nie ñ sin met ‘en toe’ nie.

ñ Hele klompie jare gelede…Ons bly nog in ons Bali Lodge. Grasdak. Die drie meisiekinders is in die laerskool.

Boeta en Moeks bly ook by ons.

Dit is ñ winderige Augustus maand. Soos dit nou maar gebeur, is die area se krag af. Iemand het iets iewers gesteel. Soos koperdraad…

Oudste meisiekind sit by haar skryftafel en studeer. Boonste verdieping. Met ñ kers.

Eerste ‘en toe…’

Toe kom ñ geniepsige wind en laat die gordyne bokant haar tafel vlamvat.

Grasdak, nè.

Die vlam hol behoorlik tot bo, en daarna is dit chaos. Sussie kom gillend by die trappe afgestorm. Hel omtrent tot onder, want dit is donker. Ek dog iemand verkrag haar. Ai. My kop het nooit ontspan terwyl hulle besig was om groot te word nie.

Het ek gesê die krag is af?

Op ons plot het ons boorgatwater gebruik. So. Krag is nodig om die pomp te laat werk. Tuinslange??? Nutteloos. Brandslange…morsdood.

Flippen magteloos.

Middel-meisiekind storm teerpad toe, hoor ek na die tyd, in haar nagklere, en probeer karre stop om te kom help.

In die nag. Op ñ plotpad!!!!!

Hierdie is nou so twee-en-twintig minute voor nege in die aand.

Ek gryp ñ histeriese jongste ses-jarige dogtertjie, stop haar my glas sherry in die hand, druk haar onder die eetkamertafel in, en beveel haar om alles op te drink.

En toe. Toe kom Boeta aangestap. Tussen die vlamme deur pyl hy op Bertus af, sy skryfboek in sy hand, en gee vir hom ñ briefie.

Met die nuustste rugby telling op. 

En toe.

Toe het dit fluksop aan die reën gegaan. (Daar het ñ hewige bui reën uitgesak.) Hierdie gesegde kom uit die ‘Wat praat jy‘ Afrikaanse idiome, gesegdes en vaste uitdrukkings met verklarings handboek.

P1040199

Teen die tyd dat die brandweer wa opdaag, was ons grondpad-oprit ñ modderbad.

Hulle het vasgesit. Die brandweer wa, ja. Hulle het vasgesit.

Met ñ paar brandblussers kon ons keer dat die hele Lodge afbrand.

Die feit dat dit ‘fluksop aan die reën gegaan het,’ dit het ons gered.

En gelukkig; ons het die rugby  telling van die dag ook geken…

xxx

“Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:

 

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.

Nuwe onderwerpe word aangekondig elke Donderdag om 12:00 en sluit outomaties na een week.”

 

 

 

Ek is toe sowaar nie meer vandag se kind nie!

(fotos:Google Images)9a1e3f7a2466be5975e07bf3581acdfd--portrait-art-portrait-paintings

Kan jy nou meer.

Elke spier pyn. My bene voel hulle eie voel. Die rug is ietwat seer.

Hoe is dit dan nou moontlik. Ek is hier binne steeds dieselfde mens. Die girl met die poniestert. Wat de joos het verkeerd geloop…?

Aflewering gaan doen, nou wel ñ ent hiervandaan, maar steeds? ñ Ruk terug was dit niks.

Toe gaan verwe en lere laai, en nuwe winkel toe gery. Kleure teen die mure begin uittoets.

Nou wat nou.

46e8c5be5167b46dfa761bbd057d5ca4--happy-people-photography-beautiful-people-photography

Ek gee glad nie om om ouer te word nie, maar hierdie is bietjie verspot.

Ek voel dan steeds binnekant soos ñ “spring-chicken?” Dis net asof my lyf dit nie ook weet nie.

Shit. Of liewer o gonna. Want hier by ons is die s-woord ñ vloekwoord, en wil klein engel-meisiekind peper in my en oupa se monde gooi as ons die reël oortree.

So. O gonna.

Ek is toe sowaar nie meer vandag se kind nie.

 

Die deurslaggewende faktor.

7b72dcf91b2e493cb7873fa85c007475

Ek is seker dat die res van die samelewing op ander maniere besluite neem as ons. Let wel, ons sluit sekere vriende en hul kinders ook in.

Desembervakansie lê voor, en hierdie jaar rits ons Mosambiek toe. Hier in Februarie is die internet oortyd deur die uwe gebruik. Daar is “gesurf”, van vroeg tot laat. Want DIE DATUM van DIE VOORLEGGING was naby.

Vyf deeglik nagevorste keuses is eers vir manlief en die seuns uitgelê. Die groep sluit in: ek en Bertus, ons twee seuns, middel dogter, skoonseun en hulle twee kids, vriendin en haar man, en hul seun en sy vriend. Let wel, AL die kinders in hierdie groep, behalwe die twee kleinkinders, is diep in hul dertigs. Dit dui op volwassenheid, dan nie? Goeddeurdinkte besluite?

Bazaruto-Island-visit-mozambique-710x473

Mmmmmm.

Wit strande en blousel-blou water, gerieflike akkomodasie, pryse binne perke. Dit was die opdrag.

Vyf plekke. En wat word onomwonde deur AL die manne gekies… Die plek verste Noord, ons praat van 1600 km van Maputu af. ñ Vissersmans-paradys…Onthou, ons Neil kind en Bertus het albei Kwa-Zulu Natal hengel kleure. Dus, te verwagte.

Maar. Die faktor wat loshande gewen het.

Om by ons eind-bestemming uit te kom, moet ons dertig kilometer vêr strandlangs ry. En dis nie al nie. Ons het net ñ twee ure gleuf daagliks om oor ñ sekere mond op hierdie pad te kan kom. So, ons moet een-uur die middag van die 22ste Desember, nadat ons die dertig kilometers op die sand afgelê het, oorry na die eiland toe. Volgens die getye.

1

Niemand het enigsens daarin belang gestel om my verdere power-point storie te bekyk nie. Van toe af is dit al waaroor gesels word as DIE GROEP bymekaar is. Daardie tog langs die stand af, of liewer op. Asook hoe gereeld na die naaste dorp, dertig km terug, gery gaan moet word, vir goed soos melk en brood en bier en…

So terloops is na die prentjies van die chalets gekyk. Alles, letterlik alles, draai om die strand roete. ‘Navorsing’ word gedoen oor presies hoeveel die bande op watter stadium afgeblaas moet word.

Ek staan in verstomming. Die deurslaggewende faktor. Maar hoe? Hoe kry mansmense daarby uitgekom?

Terwyl ek en vriendin probeer uitwerk hoe ons al ons benodighede daar gaan kry, en hoe ons gaan regkom sonder krag, (daar is darem ñ kragopwekker vir ñ paar uur per aand), word ñ boot ge-organiseer. Word vreemde kajakke aangeskaf, nuwe katrolle en goeters gekoop en uitgeruil.

Nou wonder ek net. Besluitneming.

Hoe lyk dit binne daardie einste dierbare koppe die dag as hulle op ñ trouvrou besluit. Wat is/was die deurslaggewende faktor? 

Wag. Wil ek regtig ooit weet…? ☺☺☺

Beach-driving-300x225

 

Om te gee, maar ook te ontvang.

il_570xN.372550394_bczs

Ek sukkel met die tweede deel.

Om liefde te kan gee, maar ook om liefde te kan ontvang. Soms moet ñ mens iets oor jouself erken, voor jy daaraan kan werk. As jy wil.

Dit kom so ontsettend maklik met die klein mensies. Hulle gee so voluit, en ouma het geen probleem met hulle armsvol liefde nie. Inteendeel, ek kan net nie genoeg kry nie.

En tog is daar ñ deel in my, van my, wat sukkel om van ander te ‘kry’.

Waar kruip dit in. Op watter ouderdom het die Una hier diep binne dalk die leuen begin glo. Die een wat sê jy is nie goed genoeg om ook te ontvang nie.

Dit is vir my redelik maklik om hierdie ‘iets’ in ñ ander te herken. Dis soos om dit aan te voel, die onsigbare gordyn wat hang. Gewoonlik van ñ baie fyn draad gespin, deursigtig, so mense let dit nie sommer op nie. Maar dit is daar.

O, ek weet daar is ñ geestelike verduideliking hiervoor. As Christen weet ek dat my Vader my onvoorwaardelik liefhet. En dat ek dit net moet glo.

Ek ken die verse in die Bybel.

Net soms kan ñ prentjie soos hierdie een hier bo, my bietjie pootjie. Die wete dat ek tog nog sukkel. Die besef dat ek steeds hier diep-diep binne nie heeltemal vertrou nie. Dat daar ñ minuut in my lewe was toe onskuld weg is, en onsekerheid sy plek ingeneem het.

Daarom dalk dat ek elke minuut indrink van hierdie tydjie wat die twee pikkewyne by ons bly. Ek wil by hulle leer. Ek wil my eie kind-onskuld laat veilig voel.

En vry raak.

46ff8a9d4d68ca85f13777b4e9c95a20

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.

Nuwe onderwerpe word aangekondig elke Donderdag om 12:00 en sluit outomaties na een week.

 

 

 

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg