Wie is jy?

Hierdie vraag maak hom deesdae meer dikwels tuis in my gedagtes. Wie is ek. Nie wat doen ek, wat wil ek nog graag doen, wie sou ek wou wees nie. Ook nie wat en wie ander sê ek is nie.

Wie is ek.

O, natuurlik weet ek wie ek in Christus is. Wat Hy van my sê, dit glo ek met my hele hart. Ek is ook ñ ma, ñ ouma en ñ vrou vir my man. ñ Vriendin.

Maar dis nie die vraag van Una aan Una nie.

Neem nou byvoorbeeld vir Boeta. Vra hom die vraag en sonder om te skroom sal hy sê… ek polisieman. Hy glo dit ook met sy hele wese. Loop ons ons in een vas sal hy dadelik sy hand uitsteek en die oorblufte polisie beampte se hand skud. Ek boeta, ek polisieman. Sonder enige twyfel.

“I’m stuck.”

Ek neem aan dis net ek wat so ñ vraag op hierdie stadium van my lewe aan myself sal vra.

Wonder of Google kan antwoord?☺

xxx

Die Pottebakker.

Ek het in 2017 ñ skrywe opgesit wat redelike uiteenlopende reaksies ontlok het. Ek het oorweeg om dit asblik toe te stuur, maar het nie. En vandag, nou, weet ek hul verhaal kan dalk vir iemand moed bring. Het ek self getwyfel of hul huwelik weer kan herstel? Ja.

Die Pottebakker twyfel egter nooit, en as jy iewers jou lewe in Sy Hande oorgegee het, sal Hy nooit opgee nie.

https://travel4601.wordpress.com/2017/07/19/ek-se-jou-ek-het-die-antwoord/

Ek plaas vandag die lied wat my skoonseun vir ons middel dogter op haar verjaarsdag hierdie jaar gekomponeer en professioneel laat opneem het. Hy sing self. Dit vat hul storie saam, die hartseer, vrese en vasbyt.

https://drive.google.com/file/d/1tpaWodZiCPgeBN-MDSelfAe58nS-j7e6/preview

Does it mean I love you if I share a kiss. Does it mean care if I tell you I miss you. What does it mean, this feeling I have? Cause I found all I need, this was intended to be.

Show me love with reason, show me love between you and me.

Could it be true that none of this lasts. Could it be because of the things of the past. What does it mean, this feeling I have.

Yes I still believe it with all of my heart that nothing will break us or take us apart.

Die foto is geneem einde Desember 2017 op ons Mosambiekse vakansie.

Vandag gaan dit baie goed met hulle, en as gesin floreer die viertjies.

Wys jou net, plaas jou vertroue op ons Pa, en Hy sal jou deur die diep waters dra.

Rituele.

Noudat ons nie meer kinders in die huis het nie, raak ek en manlief effe verslaaf aan ons eie manier van doen. Kyk, moenie ñ fout maak nie, ons kla kort-kort by mekaar oor die eentonigheid van ons weke, maar laat daar nou net meer as een keer per week kuiergaste oorslaap, dan frons ons albei. Frons vir mekaar.

Want een lê nog heerlik uitgestrek op die bed, en een moet vroeër opstaan om aangetrek te kom. Mens kan mos nou nie later as jou gaste slaap nie!

Ek en my vriendinne is ietwat slimmer as die mansgeslag. Daar word die vorige aand mooi afgespreek hoe die oggend roetine gaan verloop sodat almal maksimum luigeid kan ervaar. So laat as moontlik lê, dan sommer met ñ sweetpak bo-oor die nagklere in die motor inseil tot by eie huis. Daar eers die nodige rituele uitvoer.

Nie manne nie. Dis koffie en beskuit, ontbyt, nog gesels, gou stoorkamer toe oorstap om ñ paar probleme te identifiseer en te probeer herstel, nog koffie en dan is almal in hul kanonne in laat.

Kyk, en kan Kieter haar nou ver-êrre as ons kuiermense het! Sy gaan slaap sommer in die buitenste kantoor en luister hoe ek haar loop en roep. So asof sy sê, kry vir jou, julle wil mos.

Emma weer, sy glo nou maar eenmaal dat ons nie besef die mense is daar uitsluitlik vir haar nie. Sodra almal slaap beur sy deur die sekuriteitshek, stoot ons glasskuifdeur op ñ wonderbaarlike manier oop en gaan soek in watter kamer wie slaap. Loop sy en Kieter mekaar raak is dit ñ onaardse geblaasery en deel katkind net klappe uit.

Rustig, rustig soos die dogtertjie op die video gesê het, dis hoe my oggende moet begin.

En selfs so ñ rustigheid is ñ ritueel op sy eie.

Ek is genoeg.

Ons middel meisiekind, nou 34, is besig met haar meestersgraad in Positive Psychology. Soos diegene van julle wat my noual ken weet, dis vir my geensins belangrik om klein Unatjies te kloon nie. Inteendeel, ek verlustig my daarin dat die drie dogters so elk hul eie, eie unieke persoonlikheid het.

Sy stuur gister haar eerste amptelike assignment vir my aan om met ń vergrootglas deur te lees voor sy dit instuur. Vir my as hierdie kind van ons se ma, wat sy hier aan die begin oor my sê, is een van die heel mooiste komplimente wat ek kan kry…

VISUAL REPRESENTATION:

Visual representation of happiness To represent happiness, I have selected the following three figures: Dive in deep (the satisfaction of needs), Pure pleasure (fluctuating happiness), and Overflowing (the full range of emotions). The content and symbolic value of each photograph relate to happiness (feeling good) as positive affect, and satisfaction with life.

Visual representation 1:

Figure 1: Dive in deep (the satisfaction of needs) My mother has had her fair share of struggles in life. She runs her own business, while at the same time staying dedicated to her family and community. What my mother does even better than working hard and serving others, is having fun. Happiness to her is not about acquiring ‘things’, but about indulging in moments of pure pleasure. I took this photograph of her in the warm waters of the Mozambique ocean. It was a week after I had left my fast-paced corporate job to focus on my family. I felt depleted and with no direction in my life. I turned to my mother for guidance. However, her response was always the same: “Let’s do something fun today”. She knew that at that particular time in my life, I didn’t need direction. I needed to refuel my life. I was empty on resources and could not see past my current circumstances. I decided to follow her example and jumped into the ocean with her. What I remember of our time in Mozambique is not the feelings of sadness, worry and stress – I remember the warm waters, the scorching sun and the many moments of fun.

Ek het aangehou lees, al die groot woorde probeer verstaan, maar die lied in my hart het gebly. My kind verstaan haar ma. She gets me. En dit, vir my, gaan altyd ń hoogtepunt bly. Sy omhels wat haar mamma haar bied, dit wat haar mamma veilig en seker van voel om haar te bied.

Vandag begin ons nuwe huishulp, enetjie wat uit Malawi kom en nog nooit gewerk het nie. Ons tuinjong se bloedjong vroutjie.

Ek is so nie een wat ń ander volgens my hand wil leer nie! Wil haar liewer vrye teuels gee en kyk waarmee sy vorendag kom. Moes ek glimlag? Ja, baie. Moes ek keer dat sy ons klere verbrand? Ja!! Maar het ek en sy die proses geniet? Defnitief.

Gaan ek haar hou? Ek gaan my bes probeer!😉

Ek weet ons almal verskil. Vir my was dit net die wonderlikste gevoel om te weet dat my ‘baie brainy kind’ haar nog steeds na my toe draai in moeilike omstandighede.

En dat wie en wat ek is vir haar genoeg is.

Ma, waar was ma!



Dis woorde wat ek ñ paar keer per dag moes aanhoor, en elke keer het ek blykbaar baie skuldig gelyk.

Umm, ek het net gou slaaibakke gaan soek… Umm, toilet toe, ek was toilet toe…

Mens sou sweer EK is die kind en nie die klein merrie nie!

Tot sy my die slag uitgevang het.

Ag nee ma, nie alweer nie! Mamma mag nie blomme koop nie! Hoe dink ma gaan ons dit in die vliegtuig gesit kry. Ma, dink nou bietjie logies!

Thailand se nagemaakte blomme-afdeling is my absolute einde, I confess. Ek sal my daar tussen die honderde kleure gaan neerplak en net inneem. Die kuns om dit te skep bly my asem wegslaan. Of eintlik is dit die kleure wat die ding doen. Elke blom en takkie so noukeurig uitgeknip en saamgevoeg. Elke stap is beplan, elke blaartjie sorgvuldig op net die regte manier gevou. En alles dit sodat ek kan intrippel en armsvol uitsoek! Wat kan nou daarmee verkeerd wees?

Ander mense voel so oor skilderye, of glasware, of of of.

Soos ñ stout kind wat iets verkeerd gedoen het, het middelkind my staan en bekyk. I caught you redhanded!

Daai donker oë was egter vol glimlag, want sy ken haar ma. ñ Plan sal hulle twee moet maak want ma gaan defnitief blomme saam terugvat.

Die plan het gewerk maar nie sonder die nodige irritasie van diegene om my in die vliegtuig nie. ñ Groot wit sak vol kosbare krismisrose is oral saamgepiekel, meestal bo-op my skoot eens die vliegtuig in die lug was.

Thailand, hopenlik sien jy my weer, gou ook, en wees verseker, hierdie keer gaan die sak baie groter wees, want ek het mos nou my les geleer. Enige iets is moontlik as jy net hard probeer en dan jou oë en ore styf toeknyp.

Om gedagtes te kan lees.

Sommige prentjies sê so baie dat jy eintlik wil lag. Of net glimlag, want jy weet so goed wat in daardie gedagtes aangaan.

Ons kuier gisteraand by ousus en haar gesin, en hierdie ouma beleef haar twee hartlammetjies met haar hele wese. Wat hulle ookal sê, wat hulle ookal doen bly net fenomenaal.

Ons grootmense word op ñ stadium stoep toe verban want boet en sus gaan brownies maak. Self. Alleen. Ek sneak terug om ñ foto te neem, want so ñ kans kan ouma nie laat verbygaan nie.

Daar is die twee druk besig met hul resep, maar op daardie oomblik word die lepels wat hulle kort-kort aflek eers teen mekaar gemeet. Geen manier wat een mos meer as die ander kan hê nie!

Baie, baie noukeurig word dinge vergelyk.

Die brownies was heerlik, elke happie is vol verwondering en openlike bewondering geneem. Soos ek al dikwels vantevore gesê het; ons kleinkinders is by verre die mooiste en soetste en slimste in die land.

Selfs al is hulle presies soos die ander paar miljoen, voorspelbaar en bitter oulik.

Lê-Jou-Eier: Watter lekker happie is altyd in jou yskas?

le-jou-eier1-e1512926357627

Ek is nie ñ yskas mens nie. Glad nie. Ons yskas se inhoud bestaan net uit items wat daar moet wees soos vars melk, kaas, tamaties, botter en Feta. Altyd Feta. Boring, ek weet. Nie dat daar nou al die ekstra spasie is wat mens sou verwag nie. Die ding is, EK IS MAL OOR OORSKIETKOS. Sowaar. Veral as dit aartappelslaai, ñ aartappel-oondgereg, kapokaartappels of koue tjips insluit. Ideaal vir ontbyt die volgende oggend.

Wanneer sus van Dubai af kom kuier verander ons yskas in die wonderlikste ruimte! Ek kan daardie deur oopmaak en lank staan en kyk, want dis asof jy Woolies en Jasmyn oorgetrek het hiernatoe.

Die ding is, ek hou van brand-goetertjies, so die pak spasie word opgeneem deur gebottelde brandrissies van elke kleur en geur. Soos ek reeds gesê het, boring vir ander.

Nou sal ek maar op ñ ander manier ñ punt moet maak wat my gevoelens oor ñ yskas saamvat…

It’s not inside… it’s on top…or rather, in front…???

Ons InLinkz skakel vir hierdie uitdaging is https://fresh.inlinkz.com/p/f651aca5342f4bb9afec003e5aab6321

Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

Oeg ja, ek herken jou!

Selfportrette, ek wonder soms daaroor.

As jong kind het ons dikwels naweke na Durban se Esplanade toe gegaan. In die swembaddens daar gaan rondbaljaar, die duiwe gevoer en sommer net rondgedrentel.

Daar was altyd ń kunstenaar wat jou wou teken of skilder terwyl jy op die stoeltjie sit. Ek kon lank daar bly staan, kyk, en dan verwonderd die ooreenkomste tussen model en doek begin waarneem.

Hoe skraap mens iemand se essens bymekaar?

Ons eie Bondels kry dit so mooi reg as sy diere skilder. Dalk mense ook. Ek wonder hieroor, hierdie gawe om te kyk en te sien en dan weer te gee.

Ek en manlief het gisteraand die oefening gedoen. Nadat van my geliefdes begin kla het dat ek emosioneel weggeraak het, het ek besluit om by die diepkant in te spring. Nie met ń grasieuse duik nie, nee, ek het gehardloop en my bene opgetrek vir die bom effek.

Ek haat dit om oor my gevoelens te praat! Daar, ek het dit nou gesê. Ek gaan daaraan moet werk want dis sleg vir die mense na aan my, dit het ek nou hard en duidelik gehoor. Unatjie sal haar grense ietwat moet laat skietgee.

Iewers langs my paadjie het ek hierdie ding begin doen, die ‘time out’ oefening sodat ek my gedagtes kan orden, emosie en feite kan skei. Die probleem is dalk dat ek nie weer terug beweeg nie.

So gisteraand was dit ek en manlief, vanoggend ek en jongste dogter. Twee van die engele in my lewe wat die meeste hierdeur geraak is. Ek het oopgemaak, op daardie stoeltjie gaan sit en hulle toegelaat om my te teken.

Sodat ek kon sien hoe ek deesdae deur hulle oë lyk, twee selfportrette langs mekaar.

Deure wat geseël word.

Vroegoggend al begin ek fotos uit Bali kry. My baie opgewonde agent laat weet dat die container gepak is en oppad skip toe is.

Ek probeer my bes om te raai wat staan waar, en pluk die pak-lys nader. Soveel interessante items hier bymekaar, van klip watervalle tot die fynste makramie weefwerk.

Dames wat saam met my oor is, julle het omtrent “geshop till you were ready to drop” hoor!

Ek proe sommer weer die Nasi Champur op my tong; ek ruik die see. Onthou julle toe ons… wil ek sê.

Deure wat geseël word. Binne hierdie skeepsvrag houer is soveel heerlike herrineringe opgesluit, soveel lag en gesels, mekaar leer ken en geheime deel, ingeprop.

Ek glo dat die dag as ek die seël aan hierdie kant breek en die groot deure oopswaai, sal ń stukkie van elk van ons wat saam was, uitpeul.

Holderstebolder bo-oor mekaar soos net ons groepie dit kon doen.

“Take 2” …

As mens ń seuntjie is, die jongste van ses kleinkinders, en ouma se eerste dieretuin poging het misluk, dan probeer oumas weer. Hierdie keer net met die jongste lyfie, alleen. Sodat hy al ouma se aandag kan kry.

Hy hèt ook al die aandag geverg, om ouma se nek gehang, die beentjies stewiger as stewig om sy ouma se lyf geklem, met ń hartjie wat heeltemal te vinnig klop.

Die dieretuin het klein Xannie Pannie totaal oorweldig en al ouma se drome van ń toekomstige wildbewaarder kleinseun is in sy kanon in.

Die skreeugeluide van ons bekende familie sjimpansees het hom reeds by die ingang laat vries. Niks kon die lyfie oorreed om self te stap nie, en op ń stadium het ek besef die oorweldigende klanke asook die groottes van die diere is dalk net te angswekkend vir hom. Kyk, ek het als probeer! Soos ń hanswors kamtig met die diertjies gesels, hulle skrik gemaak, vir hulle name gegee.

Die cherry op die koek was toe Rex, die oudste sjimpansee, ons gillend in sy oer-taal sopnat met water uit sy swembad spat.

“Ek huis toe. Ek bang.” En met die bottel in die hoek van sy mond vasgeknyp raak hy net daar in my arms aan die slaap.

Die oeroue skipad het my met haar een goeie oog aangegluur, duidelike misnoë op die verrimpelde gesig: Sies ouma, jou tydsberekening is alweer uit. Loop weg hier.

Poging twee het ook nie uitgewerk nie. Ek sit in die sitkamer met ń vergruisde ego en ys op my enkel. All vorige beserings het herrys.

My Zannie Pannie, ek sal weer probeer, so oor ń jaar. Maar ek en jy, my NatGeo-Wild kleinseun, ons twee sal nog suksesvol wees.

Oumas gee nooit ooit op nie.

Vakansiedae by die dam…

Indien julle nie vir my en Positief herken nie, kan ons dit nie verstaan nie. Want wie anders sal die Harties damwater aandurf…?

Ons het gekuier, ge-eet, geswem, baie gelag en nogmaals gekuier. O, en gekla oor manlief se Blues en flippen Jazz musiek!

Die twee manne het oor als gesels, van die elektrisiteits-probleme af waarby albei betrokke is, tot ń wilds-tel ekskursie by Mana-pools in Zimbabwe wat ek oor droom.

Ek en Positief, ons het Bali weer deurgetrap op die bekende stoepstoele en heerlik ontspan.

O, en ons twee het van die jet-ski ook afgeduiwel, met ń hengse ge-skreeu.

🤗

Mag my paradys nog daar wees…

Die einde 2017 se Desember vakansie is vir my as volwassene, as mens, as vrou, die een wat ek altyd sal bly koester. Dit was dalk my vakansie waar ek ook die mees selfsugtigste ooit was. Manlief kon nie naby die strand kom as gevolg van sy voet operasie nie, en ons het so te sê bo-op die water gebly. Dalk 20 tree se stap tot in die vlakkant.

Vyf jong manne, twee kleinkinders, middel dogter, ek en Bertus en Estelle en Carl. Tien dae lank op ń Mosambiekse eiland noord van Inhasorro. Twee volle dae se ry tot daar.

Selfsugtig? My tyd was my eie, ek het die heerlikste vryheid in daardie kalm see ervaar, letterlik heel dag lank in die water. Manlief het by die swembad rondgekuier met die twee kleinkinders bo-oor hul oupa.

Terwyl ek vandag weer fotos kyk soek my oë my spore in die sand op. Daardie plek waar ek soveel vreugde ervaar het deur net een met die omgewing te raak.

Ek wil nie wonder oor my droom-eiland nie. Iets so onbeskryfliks spesiaals kan nie vernietig word nie. Mag nie.

Ons sal eendag weer teruggaan sodat ek die stuk van myself wat daar agter gebly het kan gaan hello sê. Nuwe spore in die sand gaan trap. My lilo vat en toelaat dat die seestroom my oorkant uitspoel. Sonder vrees.

Want dit was ook in hierdie water wat my Vader my kom verseker het dat ek genoeg geloof het om uit die boot te klim en nie om te kyk nie.

Vyftien maande later en ek is steeds 100% seker daarvan. Ek kan op die water loop…

(Die groepie jong manne wat saam is, òns jong manne: Bertus se twee seuns, ons skoonseun en ons vriende se seun en sy vriend.)

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg