Sien: Dis Ekke vir die reëls.

Hierdie bloguitdaging is aanvaar deur 14 Afrikaanse bloggers wat ñ virtuele toer deur Suid-Afrika gaan onderneem. Die gasblogger van die week moet op ñ Donderdag, op die datum wat toegewys is, ñ blog publiseer oor hulle tuisdorp/streek, asook ñ fiktiewe weergawe van die ander 13 bloggers se kuier by sy/haar tuisdorp.
Klik op hierdie skakel om die lys van deelnemende gasbloggers te sien, asook die datums waarop hulle blogposse gepubliseer gaan word.
Die 13 kuiergasbloggers vir die week (en hul lesers) kan dan vir die res van die week ook blogposse bylas waarin hulle beskryf hoe hulle die kuier geniet het, of hulle kan ñ blog skryf oor die streek waarin die gasblogger van die week die kuiergaste onthaal het – vertel van ñ eie ondervinding in daardie provinsie/streek/dorp, deel herinneringe of plaas fotos wat daar geneem is. Enige lekker storie sal doen solank dit in die gasblogger se streek/provinsie afspeel. Kuiergasbloggers en hulle lesers moet asseblief ook hulle skakels byvoeg op InLinkz sodat ons almal kan saamlees.
Om jou blogpos by te voeg of om die ander bloggers te lees, kliek op die volgende: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928
HELLO HARTIES!!!
Hello almal. Hierdie week is ek die gasvrou, en het ek die bloggers by Hartbeespoortdam in die Noordwestelike provinsie onthaal.

“En die wiele van die bus draai om en om, om en om, om en om. Die wiele van…”
Dis hoe ons in Harties aangekom het, al singende soos opgewonde laerskool kinders op ñ uitstappie. Veertien van ons; ou vriende wat mekaar (of meeste van ons) vir die heel eerste keer sien.
By die bymekaarkompunt op die lughawe het chaos losgebars! Daar was diegene wat trane van aangedaanheid moes afvee oor hierdie fenomenale geleentheid, en dan was daar hier en daar iemand wat ietwat laat opgedaag het, maar op die ou end was ons voltallig…
Dit was nog vroegoggend, en ons eerste stop was ñ vinnige ‘nood-ledig’ een by Hennopsrivier. Scrapy het jare gelede hier skoolgehou, so ons kon net nie verby hou nie. VirgoC en Lekkervurig moes in elk geval afklim want beide se oë het al gewater, en na Hester se storie oor die geriefies op ñ bus, wou hulle eerder knyp voor hulle dalk mense in die verleentheid stel.
In Harties aangekom, het ons besluit almal wil Pretville sien. Dis ons bekende fliekdorpie en is tans die enigste filmstel in sy klas wat vir die publiek oop is. Melkskommels by die Pretville Diner is ñ moet, en ek moes spook om almal daarna weer terug op die bus te kry.

Na ñ lywige laat-oggend ontbyt by French Toast, is ons deur die tonnel – ampertjies vasgesit met ons groen bus – Kosmos toe.

Ek en manlief, Kieter en Emma bly hier teen die dam. Vir ons kuier het ek die gastehuis reg agter ons gehuur, letterlik tien tree om te stap.

Nadat almal se kamers aangewys is, en ñ rukkie toegelaat is om asem te skep en BAIE gemaklike skoene aan te trek, (ook om ekstra droë klere te gryp vir die wis en die onwis) is die paadjie af jetty toe aangedurf… daar waar die groot barge, of in my Brakpan-terme, ons party-boot lê en wag, met ñ geriefie in die hoek wat ñ pragtige uitsig op die dam het indien jy die deur ooplos. Maar dis steeds privaat, hoor!

Die ding is, om by die dam te kuier, moet jy OP die dam wees.

Ons hiasinte is redelik onder beheer en ons damwater is silwerskoon. Die hiasinte was nie net nadelig nie; daar is op die oomblik duisende nuwe klein vissies in die dam.
Harties gaan van die dam se kant af verken word!

Eet-en-drinkgoed, tafeldoeke en eetgerei, lewensreddingsbaadjies, die musieksisteem en kussings om op rond te lê is vroeg al gelaai, so ons kon net opstap en verder ontspan. Die barge het ñ groot engin, met tien yslike dromme onder om hom op die water te laat dryf. Nes ñ vlot.

Manlief is die skipper, sommer ook die DJ en die algemene kelner, en sy glimlag was breed. Hierdie onthalery is so reg in sy kraal.
Die gezoem van gesels het net nog nooit bedaar vandat ons op die groen bus geklim het nie, en hier in die middel van die dam, met elk ñ glasie van hul geliefkoosde drinkgoed in die hand, het die bloggers diep asemteue geneem en hul vere reggeskud. Ons kuier-safari het amptelik begin!

Almal het hulself vinnig ge-oriënteer ten opsigte van wat waar lê. Die kabelspoor was duidelik te sien, die Magaliesberg-reeks, die bekende Slangpark, Magaliespark vakansie-oord, asook die pragtige Estates wat oral om die dam pryk, is uitgewys.

Perdebytjie het op ñ stadium die aasvoëls van die Vulpro rehabilitasie sentrum sien ronddraai en opgewonde fotos geneem. Ons kon ook almal die Visarende hoor roep; wat ñ magiese oomblik.
Al hierdie terwyl ons rustig op die dam rondvaar. Mmmm. Rustig???
Net ñ paar opmerkingkies:
Hester was werklik onmoontlik! En met Lekkervurig aan haar sy het hulle ñ paar van ons in die water laat beland. Per ongeluk natuurlik, maar meer en deels omdat ons ñ uitdaging verloor het.

Toortsie het self nie haar streke by die huis laat staan nie, en met Trommeltjies se hulp vir ons ñ kos demonstrasie-en-proe laat deurgaan wat Kameel haar oë laat rek het.
Die twee ‘jongste bloggers’ naamlik Bondeltjies en WoordNoot is vinnig ingelei in die geheime van die Towerinne. Kameel het dinge nog probeer teegaan, maar Tiramisu moes hulle proe!

Die lilo is rustig agterna gesleep, net tot tannie Frannie daarop gaan lê het. Spring-en-waterbom aksies het hierna plaasgevind wat my verstom gelaat het! Daar is ñ paar baie fikse parkrun-bloggers hier rond, hoor! Hester was natuurlik voorbok, met Seegogga en Scrapy agterna. Lekkervurig het stategië voorgestel oor hoe presies om die oranje bed te laat omtuimel.
Ek het maar net ewe bedeesd my donkerbril opgesit en verskonend vir manlief gevra of hy nog ñ bier nodig het. Soveel van aksie het die barge lanklaas beleef…
En waar dink julle was Perdebytjie? Sy het op die boonste stoepie van die vlot gestaan en opdragte uitdeel, almal aangehits!
Ai.

ñ Paar seiljagte het nuuskierig nader beweeg om te kom hoor wat ons vier…dis nou maar die dam-mense dié, as dit net lyk of daar ñ geleentheid is, dan moet hulle kom kennis maak, en natuurlik ñ ietsie saam ‘neem.’ Lekkervurig moes bontstaan om te keer dat WoordNoot nie al ons Tiramisu uitdeel nie, want op daardie stadium het sy en Bondeltjies reeds heerlik daaraan weggelê, en wou hulle net gasvrou speel.
En moet net nie dink dat VirgoC deur al hierdie haarself soos ñ dame gedra het nie. Nee. Sy en Positief het die musiek oorgeneem, en ons van ‘head banging’ tot ‘rock & roll’ passies laat uitvoer.
Ons is laat die aand eers weer huis toe…
Dag twee het lui-lui begin, veral Hester het moeilik opgestaan, glo van jetlag? Nadat die tasse gepak is, het die dag se paar aktiwiteite afgeskop met ñ ontbyt by LaTerazza langs die Bali Winkel. Kom ek sê liewer, nie almal het geëet nie want daar is omtrent ge-shop! Die VanGaalen Kaasfabriek was ons volgende stop, en daarna Jasmyn, ons reuse boeremark. Die wonderlike boekwinkel hier het almal gaande gehad, en ons was net-net betyds vir ons afspraak by die Elephant-Sanctuary. ñ Kuier saam met olifante is defnitief ñ moet. Sommige van ons was wel traag om te veel fisiese oefening te doen, siende dat die vlot mens op allerhande maniere bybly…

VirgoC het ń heilige vrees vir spinnekoppe, en eintlik ook vir olifante. So sy het vir moleste gesorg wat albei hierdie spesies insluit… maar dis ń storie vir ń latere geleentheid. Laat ek maar net sê, nat mmm… klere… was die gevolg.
Teen drie-uur het ons die pad Brits toe gevat, want daar wag Bondeltjies se plaas op ons.
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.