Skryf-Safari: “Lean on me…”

Travel460 het as ñ reisigers-blog begin, een waarin ek my ondervindings in Bali/ Indonesië met mense wou deel. Ek het, ek doen dit steeds. Tog, ñ ander dimensie van skryf het stil-stil ingesluip, en vandag is tannie-Bali nie meer dieselfde nie. Sy het haar eie stem gevind.
As Una.
Pansegrouw se Blokraaisel Woordeboek sê om te leun is ook om te rus, op iets of iemand te steun, te nestel. My blogland is net dit; ek kuier daagliks saam met blogvriende in hul eie lewens rond. Ek word toegelaat om hul rou emosies te sien, hul vreugdes en lag te deel.
Ons raak soms saam heerlik verspot, en staan soms stom voor iemand se hartseer. Daar kom dae wat ek sukkel om gedagtes te deel, want ek wil so bitter graag help. Daar is dae wat ek my hand uitsteek en wag vir hulp. Want dit sal kom.
In die amper twee jaar wat ek hier ‘leef’, het my hart se adresboekie vol geraak. Is ek ryker omdat ek myself blootgestel het aan bloggers wat ook ñ plek soek om in te rus, ñ plek waar dit veilig voel om hul waarheid op papier vas te skryf, en te weet dit kan bly lê.
Waar ek my ookal in die wêreld bevind, daar is altyd iemand wat net ñ paar woorde ver wag met ñ ‘like’ of ñ drukkie.
Altyd.
Dís my Blogland. My mense.
Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die volgende InLinkz-skakel:
http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=787126
Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
Soms ruk ñ gewone boodskap my.
Rondomtaliedraai stuur vanoggend vir my hierdie boodskappie aan, en ek voel sommer hoe my hart ñ ruk gee…

Ek doen dit nie meer nie; ek vergeet om die klein dingetjies raak te sien. Tussen my winkel-wêreld, my gesin en my huis, verloor ek myself so effe. Die self wat nodig het om die eenvoud van lewe raak te sien, te ervaar en in te asem.
ñ Hartseer het sy lê so skuins links in my hart kom inneem, en ñ hart wat ongebalanseerd is, tilt bietjie. Ek gaan die son en die veld weer moet opsoek, die wildtuin alleen is nie die antwoord nie.
Kaalvoet, self hier in die middel van die winter.
Sonder ander, sonder die grootsheid van die berg of die prag van die dam. Nee, net ñ veld, en die stem van die aarde.

Skryf-Safarie: Maar Edelagbare…
Ek bevind myself huidiglik in ń spasie met ń klomp baie onvriendelike mense. Het my by die winkel kom oplaai, sommer net so. Glo omdat daar vreemde name in my lewe is, en ek te veel in die buiteland opgemerk word…
Bali Drome, ek gaan jou verklaring nou vir jou teruglees. Die Kommissie van Ondersoek bevraagteken jou eerlikheid 100%. Niks wat jy hier neergeskryf het, maak enige sin nie. Ons is steeds daarvan oortuig dat dit ñ grootskaalse sameswering is, en dat jy by ñ baie gevaarlike en slinkse groep betrokke is.
Eerstens, hierdie naamlys! Ons aanvaar dis skuilname, hoekom? Indien jy so heilig oortuig is van almal se onskuld, hoekom gee jy nie die ware inligting deur nie?
Kameel. Rondomtaliedraai. Nowathome. Positief. Dromer777. Hier “blok” ek. Scrapy en Trompie. Moet ek nog aangaan? Daar is ñ Christa in Thailand. ñ Trommeltjies huidiglik in Kanada. Jou VirgoC is in Dubai. Jy het ñ Afrika Roos. Iemand met die naam van kom-ry-saam. Dan vir Coetzee daar ver in Paraguay. Dit het ons laat besef jul invloed strek ver oor die landsgrense.
Kyk, Bali Drome, ons is nie dom nie. Hierdie is almal kode-woorde, en jy sal vandag met die waarheid vorendag kom, of opgesluit word! Hier is veral een defnitiewe verdagte ter sprake. HesterLeyNel. Haar naam het al voorheen opgekom, maar huidiglik verhuis sy glo weer.
Vir ons kom vertel dat ñ mens soos Toortsie bekend is! Nogal kookboeke uitgee! Waarvoor sien jy hierdie kommissie aan?
Jy laat ons verstaan dat dit net jou vriende is, en dat jy elkeen vertrou? Dat hulle omgee mense is, en jou daagliks aan die gang hou met skrywes? Dat hulle help om die een of ander swart hond weg te hou! Dis belaglik. En die heel ergste is, jy kan nie verduidelik hoe meeste van hulle lyk nie! Kyk nou hier na Perdebytjie; jy sê jy kan ons net sê hoe sy in 1970 gelyk het, maar nie vandag nie!
Ons gaan in hierdie vertrek bly totdat jy praat!
Wat beteken die sin, en ek haal aan, Frannie is my veilige plekkie. Hoekom voel jy onveilig? Waarvan moet jy wegkom? Waaroor voel jy skuldig? Jy sê BondelsGedagtes sal alles be-aam wat jy vertel… Gmph, BondelsGedagtes nogal. En WoordNoot saai soms van julle goed op Internet radio uit. Wat saai sy uit? Met wie heul julle saam?
Hierdie Sonell-persoon, sy praat as ñ motiverings-spreker? Kyk, ons vermoed hierdie groep gebruik die sosiale media vir hul propaganda, al beweer jy almal is net gewone mense wat hul harte vir mekaar oopmaak.
Julle is regoor die land versprei, heel gerieflik. Daar is ñ Zeesbees aan die eenkant van die land, ñ Seegogga aan die ander kant, Abrie tussen-in. ñ Perdebytjie wat gerieflikheidshalwe ñ fotograaf is en kort-kort oor die grens in Namibië in verdwyn. ñ De Wets Wild wat alles van diere af weet. ñ Lekkervurigeaffêre wat ñ joernalis was… Seker steeds is. Vir haar roep ons volgende in.
Jy praat hier ook van nuwe lede, noem hulle wonderlike mense. Nogal een uit Rwanda uit. Ghana. Nee kyk, hier is ñ behoorlike slang in die gras!
Jy skryf in jou verklaring dat Ekmyselff gereeld op ñ plaas buite Brits kuier. Dit alleen laat rooiligte aangaan. Brits is nie jou speelmaat nie. En hoe kan jy sê Net Ek is enigsins ñ wonderlike mens wat baie van skilder hou? Die boodskappe wat sy deur haar prentjies kan deurgee na ander gevaarlike persone toe, is legio…
Soos ek sê, jy onderskat ons intelligensie heeltemal. Ons is besig met ñ profiel samestelling van hierdie groep, en ons het Interpol se insette aangevra. Ons moet jou blog-vriende uitlos? Jy wil huis toe gaan?
Nee, jy gaan nêrens heen nie, bly maar net sit.
…Ja, ek hoor jou sersant… O, julle het nuwe inligting gekry… Spel dit? ñ Toweropstal…???
Jou een foonoproep? Na wie toe nogal? Poerdez? En Storieklong? Dis twee.
O, nie???
Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die volgende InLinkz-skakel:
http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=787126
Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
My herinneringe…
Moes ek ñ prentjie teken van die Hillbrow wat ek onthou, sou dit so kon lyk. Anders, kleurvol, lig.

As hoërskool meisie het ons ten minste een keer ñ maand iets in Hillbrow moes gaan doen. Ek onthou ñ paar plekke, soos Hillbrow Records, Estoril Books, The Mi-Vami shawarma place, en die baie bekende Fontana Brown Chicken 24/7 afset-plek.
Ons het my matriekafskeid rok hier kom koop, ons prefek-geselligheid in die Duitse restourant gehou. Dis ook hier waar ons in 1978 Grease kom kyk het, die fliek wat vandag nog een van my gunstelinge is.
Ma was nooit bekommerd as ek op my eie rondgedwaal het nie. Reeds in daardie jare het swart en wit mekaar in Hillbrow gevind. Hier het ek tuis gevoel, die andersheid van die samelewing het ñ gevoel van vryheid tafel toe gebring.
Ek kon ure lank in die kunsmuseum spandeer, mamma dan later weer by een van die straat kafees gekry.
Ons was bitter lank laas terug in die area, vandag klink dit vir my soos ñ gebied in ñ ander land. Ver verwyderd van my rustige dam-bestaan.
Tog, dit was deel van my grootword tyd, ook die plek waar ma dikwels in die hospitaal opgeneem is. Die Hillbrow Teater was my wegkom plek, die kelderverdieping-winkels my mode-wêreld.
Daar is ñ aanhaling wat lui: If Jesus lived anywhere, it would be here. Vir my was dit al daardie jare waar. Hy sou so baie verskillende mense hier kon raakloop. En gelukkig ook vir my.

Lees-stories.
Heel eerste, die BoekHoek.

Net so onder die vyfhonderd boeke om uit te kies, en dis nou net my eie versameling. As die kliënte ook nog bring, weet ek nie waarheen daarmee nie. Vir ñ begin dink ek hierdie is oorgenoeg.
Dis soos om ñ draai deur jou lewe te stap. Die tydperke te eien; die jonger Danielle Steele-glo in als romanties-jare, die spanningsvolle Sydney Sheldon dae, dan weer die Jean A. Auel sages. Die verdwyn saam met Ayla en haar Jondalar in ñ oertyd-bestaan.
Die Left Behind reekse, en meer besadigde Karen Kingsbury, Janette Oke en Catherine Cookson tye. ñ Hele rak vol Wilbur Smith boeke, Lee Child, Tom Clancy.
Meer interessant is die versameling wat teruggery is huistoe. AL my Afrikaanse boeke, asook die Asiese Shogun-sages. Francine Rivers het haar eie boekrak in ons studeerkamer, so ook Jodi Picoult. Tussen-in die boeke oor Bybel-figure en enige en alle outobiografië.
Ek het dit darem reggekry om van die klomp boeke wat ek so oor die jare op die internasionale lughawe-boekwinkels aangekoop het, af te staan. Iets moes ek opgee, en dis waarvoor ek kans gesien het.
Hierdie is ñ vreemde sensasie, die toekyk hoe mense op jou smaak reageer. Boeke is anders as die meubels, alhoewel dieselfde maat liefde en omgee in albei se uitsoek ingaan.
ñ Boek is persoonlik, dui dikwels aan waar jy jou huidiglik in jou emosionele wêreld bevind. Soms ook die worstelings en vrae wat jy mee rondloop.
ñ Hele paar van my boeke het my wel laat giggel. Die vuurwarm skrywes van Lesley Pearse, Judith McNaught en Nora Roberts het altyd menige ure se plesier verskaf.
My Jane Austens, Mark Twains en Emily Brontës is steeds veilig in my boekkis, tesame met The Great Gatsby, Nineteen Eighty-Four, To Kill a Mockingbird, Heart of Darkness, Lord of the Flies, Animal Farm en The Diary of a Young Girl van Anne Frank.
Sien, ek is darem nie net ñ Panne-girl nie…

Ná jou pad, is jou voete steeds skoon.
Indien ek iewers sou rondstap en op hierdie prentjie afkom, sou ek myself gaan sitmaak naby haar. Om die eenvoud van menswees in te drink.

Ons sal seker nie kan gesels nie, die taalverskil is dalk groot, maar dis reg so. Ons hoef nie. Ek wil net graag my oë toelaat om waar te neem, hierdie ruimte wat sy so vir haarself geskep het.
Daar is mense wat dit regkry, die gevoel van gemaklik wees in hul eie vel. Die vermoë het om met min ñ hele storie te vertel.
Ek smag op die oomblik nogal na egtheid, na diepte en mooi. Die mooi wat van binne kom na ñ leeftyd se stap.
Van loop op die pad wat jy gevind het om te loop. Al moes jy ook grondpaadjies volg.
Dalk “DIE BOEKHOEK?”

Die tweedehandse boekwinkel het vanoggend amptelik oopgemaak, so stil-stil. Die spasie in my hoekie is effe min, so daar lê nog ñ spul boeke in die motor, maar ek vorder.
Die eerste twee is verkoop, en dit was omtrent ñ oefening. Kliënt en haar twee tiener dogters kom in, duidelik op soek na ñ meubelstuk. ñ Volle uur later stap hulle met twee lekker dik storieboeke uit…
Mmm, nou is ek nie seker of hierdie goeie besigheid is nie!☺ Die lekkerte daarvan om hulle so dop te hou terwyl hulle uitsoek, die gesels oor hul keuses, die uitroepe as daar ñ interessante een ontdek word, dit is dit tog werd. Ek ken na dese hul name, weet waar hulle bly, wat die kinders wil word, dat die pappa oorsee werk, dat hulle drie katte het, en dat die ouma onlangs oorlede is.
Sommige mense kyk glad nie eens in die rigting van die boek-hoek nie, en dit laat my glimlag. Die regte persoon op die regte tyd, dis wat sal gebeur.
En as hulle later uitstap, sal ons mekaar onthou, want jy kuier nie tussen boeke rond sonder om iets van jouself agter te laat nie.

Ek gaan dit sowaar doen!

Nou wel nie op hierdie oulike manier nie, maar net omdat ons nie sneeu kry nie…☺knipoog. Hierdie Saterdag vat ek af by die winkel, met net een doel voor oë. AL my honderde boeke gaan oral uitgekrap word, oor gedink word, ge-hmm en ha word, en dan in een van twee hope gepak word.
Die hoop wat defnitief die hoogste moet wees, dit die hoop wat ñ nuwe projekkie gaan begin.
Ek broei al so lank hieroor, dit het ‘amper te veel stof vergader.’ ñ Book-exchange sommer hier in die winkel. Jy daag op met ñ boek, en mag dan ñ ander een uitkies teen ñ lae prys. Iets soos R20, afhangende van die kwaliteit boek.
Dit gaan regtig nie ñ geldmaak oefening wees nie, eerder ñ heerlike manier om mede-boekwurms hier te kry.
Sal dit werk…ek weet nie. Ek hoop so. As iemand ñ oulike ekstra idee het, deel dit asseblief met my! Ek sal ñ sit-hoekie inrig, en die restaurant lansaan se lys drinkgoed byderhand hou. Vir net ingeval jy ñ ietsie wil drink. Hulle dra hoeka hier in die winter kort-kort vir my ñ stomende koppie koffie aan.
ñ Paar kliënte het reeds onderneem om vir my boeke gratis te gee, so ek behoort ñ oulike mini-biblioteek te kan aanbied.
Ek is heel nuuskierig om te sien wie gaan opdaag. Gaan nie adverteer nie, die mense moet mekaar maar vertel. Soos ek sê, hierdie is eintlik net ñ lekkerte vir myself. En o gits, indien dit te besig raak en handuit ruk…
…dan pak ek op en vat als terug huis toe.☺☺☺

Vir ñ wyle.

Ek ry gistermiddag by die winkelkompleks weg, en moet wag vir ñ vrou met haar kind in die arms om oor die pad te loop. In daardie oomblik kom die alles oorheersende behoefte in my binnekant op. Nie ñ verlange na my ma nie, nee, ñ diep verlange om so deur my Vader vasgehou te word.
So vanuit nêrens kom dit, so sterk dat ek net daar in trane uitbars.
Ons almal kry op die een of ander stadium so ñ diep verlange; ñ hunkering na iets of iemand. Hang sekerlik af van ons situasies, ons agtergrond, ons geloof. Maar daardie menslike emosie kom tog op.
Myne, nou, is na daardie gevoel van totale oorgawe in Sy arms. Midde in hierdie lewe, met tyd wat nie stilstaan nie. Ek wil aan niks anders hoef te dink nie, net in Sy volkome teenwoordigheid stillê.
Vreemd hoe sekere prentjies ñ mens se wese kan aanraak. Het dit te doen met jou kwesbaarheid op ñ sekere moment, of het dit alles te doen met net Hom.
Skryf-Safari: Magriet versus Magrieta.

Magrieta het ‘n wesenlike probleem. Die vraag is nie wat die probleem is nie maar hoe dit gaan eindig!
Om die storie te verduidelik, moet ek eers die ” set up” verduidelik. Sy bly op ‘n plaas met twee woonhuise. Sy self bly in ‘n pragtige woonstel wat aan die een huis vasgebou is. Alhoewel die woonstel piepklein is, is dit pragtig en pas perfek by haar persoonlikheid en die seisoen in haar lewe. Sy is gelukkig en tevrede. Daar is niks in haar kleine huisie wat haar ontstel of pla nie. Daarvoor sorg sy en hou alle onnodige spanning en komplikasies uit die veilige hawe wat sy vir haarself geskep het. Indien sy geselskap nodig het, is dit binne bereikbare afstand. Andersins is sy heerlik privaat en op haar eie. Maar wag, hoor ek “Jaws”se doem doem doem doem….. in die verte? Of nee wag, eder ‘n gepiep piep piep, of wag ‘n miaaauuuuu?!?
Dis reg, ‘n rot. Nie ‘n muis nie, ‘n ROT! Genadelik is die eienares van die plot gaaf genoeg om ‘n kat vir haar te leen as teenvoeter. Dis haar beste muisvanger en sy bring dit sonder verwyl oor. Kat het egter die hele doel van die oefening gemis.
Magrieta is nie groot gemaak as diere liefhebber nie en veral nie van katte nie (Diereplesiere). Daar het egter al twee diere vir Magrieta die loef afgesteek. Alhoewel Magrieta nie net wil misbruik maak van die kat nie, wil sy eintlik maar haar afstand handhaaf. Net vir ingeval. Kat het egter haar eie prentjie en volg haar eie kat natuur. Sy is onder die wan indruk dat Magrieta spesiaal vir haar wat Kat is, se plesier daar. Kat dring haarself met mening op aan Magrieta. Waag Magrieta om te loop, is Kat daar. Tree vir tree, soveel so dat sy kort kort oor Kat struikel. Dis ‘n gepurrr en geskuur en getrap en wie weet wat mens al die manewales moet noem. Purrr jouself sê sy maar Magrieta se hart wil wil vermurwe. Waar sy op haar bed sit, laat sak sy kort kort haar hand en vryf Kat se kop. Kat is in die sewende hemel en trek Magrieta se hand nader met haar poot wanneer Magrieta ophou vryf. Daar is ‘n lastige gevoelentheid wat krap krap aan Magrieta se hart. Dit lyk egter of die kat oefening gewerk het omdat rot nie weer sy astrante opwagting gemaak het nie. Hopelik verkeer rot onder die wanindrukdat Kat ingetrek het, soos in permanent. Behoede my!!
Magrieta is baie bly. Met rot uit die pad, kan Kat ook verkas. Vir sy alewige gekerm en geskuurdery sien Magrieta ook net nie kans nie. Sy voeg ook dus daad by die woord en vat Kat terug na die Hoofhuis toe net die volgende oggend. “Terloops, wat is Kat se naam?”, vra Magrieta. “Magriet”, antwoord die eienares. Magrieta se oë rek so bietjie. Sy groet en loop net om te sien Magriet volg haar. Magrieta gaan staan stil en verduidelik vir Magriet dat sy moet bly. Magriet se kyk spreek boekdele. Iewers hoor Magrieta die klanke van “maaaaaaar die kat kom weer want …” en sy gee ‘n lang mismoedige sug.
Vroeg die volgende oggend (nog donker), terwyl Magrieta bietjie koester tyd met Abba geniet hoor sy ‘n baie onwelkome geluid. Eers probeer sy dit ignoreer maar dit word net dringender en sy spits haar ore. Jip, dit Magriet, die Kat. Miskien as ek stil sit en lank genoeg wag, gaan sy weg….
Magrieta se mercy hart kom in die pad en sy struikel. Dis koud buite sê haar hart, siestog arme Magriet (nogal soort van naam genoot). Maar ek bid en kat gaan pla, probeer Magrieta haarself verweer. Die geveg binne Magrieta is groot. Alle snoesige koesterende vrede het soos mis in die son verdwyn. Magrieta het nie komplikasies soos Katte in haar lewe nodig nie. Dis katkos en aandag en kathare orals en ‘n Pasela papegaai wat buite op sy hok sit wat toutrek met ‘n mercy hart. Magrieta probeer haar hart verhard en sê neeeeeeeee……..
Die stilsit en wag werk. Magrieta kry weer op haar stiltetyd gekonsentreer, en haar gedagtes dwaal weg van Magriet af.
Tog, iewers is daar ñ stil stem wat in haar binnekant knaag.
Met dié dat dit naweek is, hoef sy net ñ paar takies op die plaas te verrig en dan is haar tyd haar eie. Heerlik, ñ dag van rondsit en lees, dalk bietjie skryf. Sy stap met ñ huppel terug huisie toe…
Die eerste veer op die drumpel moes haar sekerlik gewaarsku het, maar soms kan mens nie sien wat jy sien nie. Dis eers toe die derde grys veer in die winterswind skuiwe, dat sy weet. Pasella. Dis Pasella se vere!
Haar voordeur staan maar altyd effens oop, dis so veilig op die plaas. Die gil stol in haar keel. Eers sien sy net die rot, nee twee. Dan sien sy Pasella onder hulle uitsteek. Nee!!! gil Magrieta. Nee!!! Magriet kom met dié ook ingestap, en voor enige iemand kan asemhaal, spring die katlyf met ñ onaardse geluid bo-op die rotte. Sy klap en byt, tot die stert werk saam. Magrieta voel hoe die lewe weer in haar bene terugkom, en sy steek haar hande na Pasella uit. Bloed en veertjies meng met ñ sagte kreungeluid uit die voëlbekkie.
Magriet saai verwoesting onder die rotte, daar is geen wegkom kans nie. Terwyl Magrieta vir Pasella in haar knie-kombers toevou en begin snik, sleep kieter die rotte een-een uit.
Pasella het seergekry, ja. Die veearts moes spalk en plak, maar daar is geen blywende skade nie. Haar mens-ma het oor haar bly waak, en dis eers toe die woorde Pasella bietjie koffie hê weer gehoor is, dat Magrieta rustig kon asem haal.
Magriet. Sy het nou ñ ere-plek in hierdie huisie. Sy pas haar diere-maat met die vere, wel ñ hele paar minder, met haar lewe op. En vir Magrieta? Die liefde vir hierdie mens-ma van haar straal uit haar hele kat-wese.
Uiteindelik het sy ook ñ rusplek vir haar ou katlyf gevind.
Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:
http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=785036
Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
Many moons ago.

Om in ons voertuie te hop en te gaan verken, dit was vir baie jare ons lewens. Malaria muskiete het glad nie in ons pad gestaan nie; ons het ons pilletjies gedrink, die kinders ingepak, en siedaar. Mosambiek, Zimbabwe, Botswana, hier kom ons.
Ek stap op die oomblik dikwels in die verlede rond. Die geringste trigger, en daar gaan die gedagtes. Net gisteraand vra ek my berader-vriendin hoekom dink sy dit gebeur. Haar antwoord, seker ons ouderdom. Short and sweet.
So, oppad 58 toe, dis die tyd dat jy gaan rondswerf. Jou spore gaan opsoek, fotos gaan uitdiep en lekker sit en herkou aan al die onthoue.
Dit was nog die dae van foto-albums, en daarvan het ons hordes. My toer-vriendin kry kort-kort ñ whatsapp foto met net sulke uitroeptekens agterna. En binne sekondes is ek en sy saam aan die onthou en giggel. Kyk hoe het ons gelyk! Waar was dié, waar staan ons daar?
Omstandighede veroorsaak dikwels dat die swaarkry tye duideliker uitstaan as die goeies. Daarom dat ek dankie tog sê vir triggers, diè soort wat die foto-boksie in jou kop van die rak af laat val, en al die herinneringe sommer so gelyktydig uitstal. Dit vat kophou om uit te sorteer, maar dis heerlik.
Terselfdertyd word die kop ook bietjie uitgestof en stroom daar skoon lig in.


Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.