
Vanoggend was ek ekstra braaf, maar nou lê ek op die bed en ‘lek my wonde’.
Hardkoppig, want wil mos alles self. Nee dankie, ek wil nie deel van ñ toer-groepie wees nie. Ek sal regkom, my eie kop volg.
My laaste dag in Ubud, en ek het dit oordoen. Te vêr gaan stap, gedog ek kry ñ hartaanval met die terugkom slag, en moes hol vir die badkamer. In die proses skeef getrap, my balans verloor, en ñ paar wondjies opgedoen. Eitlik meer die ego wat skade gekry het.

Hierdie wêreld bly altyd groener as groen, met riviere en stoompies oral. Feite bly, as jy ñ staproete op jou eie aanpak, met plakkies aan, en ñ onfikse lyf op die koop toe, kan daar gevolge wees.
Soos al die keuses in ons lewens.
Teen die tyd dat ek hierdie bosnimf raakgeloop het, kon ek nie meer ordentlik sien nie. Die sweet het my oë gebrand, die klop-klop in die kop oorverdowend hard.

My asem was weg, so sy het net ñ skewe glimlag gekry. Kyk, dalk het ek gehalusineer; baie moontlik!
Amper terug uit die oerwoud uit, minding my own business, skreeu iemand vir my om stil te staan. In Engels. Blykbaar gewaar hulle toe die slang reg langs my, en asseblief, ek moenie beweeg nie sodat hulle gou ñ foto kan neem.
Watwou stil staan! Ek kyk hulle reg in die oë en begin Psalm 23 hardop opsê in Afrikaans, EN versnel my pas.
Shame, she doesn’t understand English, George. So sad, She chased it away. Ahhh.
Die hartaanval gevoel het kort hierna begin. Lam linkerkant…eintlik regterkant ook… My tong wat aan my verhemelte vassit. Ek kan nie sien nie. Ek kan nie hoor nie. Die stywe gevoel oor my borskas. Wat toe beter geraak het nadat ek my handsak verskuif het. Geheue verlies, het die verkeerde afdraai geneem. En ñ algehele gevoel van opgee.
Ek het regtig gedog dis ernstig, ek spot nou glad nie. Wou kort-kort vir iemand vra om my hospitaal toe te neem, maar dan beur ek weer voort.
Nog drie dae oor in Bali.
Veilige roetes, dis wat ek nou eers weer gaan volg.







































(Ek plaas hierdie skrywe van 2016 weer op my blog, want nadat ek by Hester ingeloer het, het ek hiervan onthou.)
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.