Sjoe, die tyd begin nou vinnig nader kom. My vyf mede Bali-gangers kom kort-kort met vrae…wat pak ek in, kan dit koud raak, hoeveel sakgeld, hoe lank vlieg ons…???
Hier is ñ voorsmakie van ons verblyf. Ek weet veral Positief sal dit geniet om te loer waar sy haar gaan bevind.


Daar is ñ rede vir elkeen van my keuses. Estelle-vriendin wat in 2015 saam is Bali toe, se woorde was: Daardie eerste indruk toe ek by die ingang ingestap het, Una, daardie sal my bybly.
Ons land in Kuta Bali, 11h00 hulle tyd; terug in Suid-Afrika is dit 04h00. Vyftien minute van die lughawe af is ons eerste hotel, teen die see. Hier slaap ons vir twee nagte, en hier maak ek almal gou touwys oor die geld-wêreld, die kosse, die keuses van dagtoere en watter winkeltjies waar is. Hier koop jy swembroeke, strandklere, SKOENE, leer-artikels, juweliersware, of jy loop net rond en neem in.

Die hotel sit voor teen die see en is beroemd vir sy skilpad-programme. Ek het al in detail hieroor geskryf. (https://travel4601.wordpress.com/2016/10/25/ouma-kom-gou-gou/)

Positief, jy sien ons daar sit, nè…

Sondag die 17de vat ons die pad Ubud toe. Wayan sal ons met twee voertuie kom oplaai. Hierdie is ñ rondry dag, want daar is bitter baie stopplekke oppad soontoe. Ons ry aanmekaar deur kunstenaars dorpies en behoort ook optogte te sien.
In Ubud bly ons in ñ kleiner plekkie. Ek self het nog nooit hier bespreek nie, te lekker.

Die ingang…

Swem area waar Positief beplan om meeste van haar tyd deur te bring…


Ons is vyf volle dae in Ubud. Baie sentraal geleë en in die middel van die spa-wêreld.

Hieroor het ek ook al geskryf, en ek vat die dames defnitief na my geheime wegloopplekkie toe… (https://travel4601.wordpress.com/2017/05/17/my-geheime-wegloopplekkie/)
Die laaste twee aande is ons terug see toe, ook nie ñ plek waar ek al voorheen gebly het nie, maar menigte kere by verbygeloop het.

Indien die dames vir ñ dag op ñ seiljag na die kleiner eilandjies wil vaar om daar te gaan snorkel, is dit nou die tyd.



Ons vlieg om 20h00 op die 24ste terug, en land Maandag oggend 06h00 weer in Johannesburg.
Vyf van ons blog-vriendinne wou baie graag saamgaan, en ek glo dat dit nog eendag sal moontlik wees. Trommeltjies, Woestynkind, WoordNoot, Bondels en Elanè, ek sal julle name iewers op die sand gaan neerskryf…
xxx
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.