
Wat val ñ mens heel heel eerste op as jy in die taxi van die lughawe af ry. Dalk die hitte, dalk die smal straatjies met die winkeltjies wat oral uitpeul.
Jy vergaap jou aan die gemaklikheid waarmee ñ mengelmoes van mense rondbeweeg. Almal in slenterdrag en heerlike uitgetrapte plakkies. Die kooplus oorval jou onmiddelik sodra Kuta se strate om jou oopgaan. Al voel jy vuil en sweterig na die vliegrit.
Oral is motorfietse en taxis. Maar dit pla jou glad nie, want jy is reg om een te word met hierdie eiland waaroor jy al so lank net kon droom. Jy is reg om Nasi Campur te eet, en baie rys. Bintang bier te sit en drink en in die laat middag saam met die locals langs die strand rond te hang.
En soos ñ ‘lover’, ñ romantiese, stil, rustige ‘lover’ begin Bali sy vingerpunte teen jou hart druk. Saggies. En jy neem ñ diep teug van die lug, die klank, die reuk, die ritme wat deur die straatjies pols. Jy verwonder jou oor die gevoel van saligheid wat sy kop uitsteek, en jy sit sommer meer regop op die agtersitplek van die taxi.


Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.