
Hier van 1967 af, was ons familie op ñ Vrydag-aand net op een plek. In die inry-teater. Vroegaand is die kar se agterste sitplekke platgeslaan, en het pa ñ bed vir ons drie geprakseer. Moeks was in beheer van die tupper-bakkies met kerrie-en-rys in, met ñ tamatieslaai in die een hoekie. Elkeen het sy eie gekry, plus ñ lepel. Plastiese koppies vir ons aanmaak koeldrank, en daar gaat ons.
Dan natuurlik, die weer. Dit was die jare wat ons in Durban gebly het, so reën kon ñ groot probleem raak. Natallers het gou hul eie planne beraam. Sny ñ aartappel in die helfde, en smeer aan jou voorste ruit. Druppels kry nie ‘vatkans’ nie. Of skaf ñ afdakkie aan wat bo die ruit vassuig, tot so in die helfde van die voorste kap. (of bonnet, soos ons gesê het, maar nie voor my juffrou-mamma nie).
Doeke moes bo by die venster met die luidspreker draad ingedruk word, anders raak die sitplek sopnat. Dan was daar nog die wasem probleem ook. Maar niks, niks kon ons laat tuisbly nie.
Daar was altyd ñ speelpark. Hemels. Maar sodra die ligte verdof is, snol jy vir julle kar. Niks kan gemis word nie. Jy hou albei duime vas dat die Three Stooges as voorprent gaan wys, en wil jouself dan natpiepie van die lag.
En ag tog, as jy een van die boeties in die middel van die fliek moes toilet toe vat; wat ñ irritasie! Hoekom altyd jy!

Die aand as ñ maatjie saamgenooi is, was spesiaal. Die kar is agteruit geparkeer sodat julle twee die mooiste kon sien. Ma-hulle sou ook heel dikwels opvou stoele saampiekel, en dan buite TEEN die kar sit. Want jy het net een luidspreker gekry.
Later van jare het inry-teaters ñ klein afdak-saaltjie ingerig met stoele.
Dit is gevaarlik, ousus, sou ma waarsku. Moenie enige iets by iemand anders vat om te eet nie. Onthou dwelms is oral. Popcorn en gekoopte koeldrank was rariteite, iets waarvoor jy moes spaar.
Huistoegaan tyd, en jy werk met ñ plan. Jy snork kamstig soos jy slaap sodat iemand jou moet uittel en bed toe dra. En dan, hier van Donderdag af kan julle weer in die koerant sien wat wys waar teen die naweek.
Kom Vrydag middag, en die kar staan reg.















One cannot have an enriched marriage when it is funded by an emotionally and spiritually bankrupt man. 































Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.