Vroeër vandag het die planne bietjie verander. My af-dag het ñ werksdag geword, en ons is ietwat hoër die berge op, op soek na ñ spesifieke item. Dis toe dat ek weer hierdie storie onthou…

Dit was ñ Sondag, die dag toe ek net toeris is. In Bali verkies ek liewer die saamsmelt met hul lewe, nie die ure se rondtoer op paaie nie. Maar daardie Sondag, dit was my oomblik.
Ek het Wayan pas leer ken, en na dae van aankope en sake transaksies, besluit hy ek moet ‘die toer’ doen.
Op, op met passe, verby binnelandse meere en watertempels, steeds boontoe. Die mis neem toe, so ook die woude.
Ek sit op die agterste sitplek, soos ñ ware taxi-passasier. En toe gebeur die ondenkbare.
Met skreeuende bande kom ons tot stilstand. Wayan gryp sy kop vas, en uiter “oh my god,oh my god” baie benoud.
En ek dink so in my binneste, met watter een van jul duisende praat jy nou, Wayan. Kannie die kombuisgod wees nie, dalk die watergod? Maar mens vra nou nie. So ek sit my sit.
Buite gebeur ñ paar goed gelyktydig. Die taxi voor ons het ook tot stilstand gekom, en Chinese toeriste peul oral uit. Wayan spring weg en begin iewers heen hardloop, volspoed. En die voorste voertuig se bestuurder staan en bewe, getraumatiseerd.
In krises situasies is ek kalm, baie kalm. So my sit, sit ek steeds. Ek is rerig reg om te help, paraatheid is my tweede naam, maar waarmee…
Moet ek vir ñ noodhulpkissie soek…911 bel…
So kom Wayan teruggedraf, dooie baba apie in sy arms, met ñ skreeuend ma-aap op sy hakke. Defnitief bly ek my sit sit. Baie praat volg, swaaiende arms, gebare, en die getraumatiseerde bestuurder in trane. ñ Volgende taxi word gestop, die Chinese toeriste daarin gepak. Wayan help om die skuldige taxi uit die pad te stoot, die huilende bestuurder tot bedaring te bring en hom onder ñ boom sy sit te laat kry. Die apie is teen hierdie tyd in ñ doek toegedraai, en die ma sit op ñ stokkie en toekyk.
Sekerlik verstaan sy wat hier aangaan? En sy lyk heel tevrede, grynslag skoon.
Hier volg die uitleg: Ape is heilig, moontlik ñ teruggekeerde familielid. Karma. Ry hom dood, en jy as die skuldige is dadelik onrein. Die dooie moet binne ñ maand “ge-cremate” word, teen baie hoë koste. Die hele direkte gemeente is betrokke.
Vir ñ maand mag die bestuurder nie werk nie, hy is onrein. So hy moet onder daai boom bly sit, met ñ ma-aap wat hom begluur, langs sy taxi waaraan hy nie mag vat nie. Tot familie hom kom haal.
Die einste ma-aap het haar dooie baba aan die hand gegryp toe dié raakgery is, en gehol, met Wayan volspoed agter haar aan. Want daardie apie moet teruggekry word, anders gaan iemand onrein deur die lewe moet sit!
So is Wayan toe ñ held.
Ek gaan klim liewer voor langs hom in, want twee pare oë op die pad is defnitief beter as een.
Ek gaan NIE tussen ape onder bome sit nie.
Skaars 500 meter verder kom ons weer skeeuend tot stilstand. Verwoed word die kar in trurat gesit, en ons snel agteruit. Ek asemloos van skok.
Die deur word oopgeruk, die gewese held buk af pad toe, gryp iets, slinger dit oor sy skouer na agter.
En jubel uiters selfvoldaan: Ha, nice food for tonight!!!
Rustig trek ons weg, dooie haan op die agtersitplek.
Jip, jy wil nie ñ hoender in Bali wees nie.
Eerder ñ aap.
(hierdie is opgedra aan my manlief, sy gunsteling storie)
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.