As ek jou sou raak snorkel…

1ec3755f5b1007425df30b5e18dfe2a2

Om te wil snorkel, is nogal nie deel van my natuur nie. Ek vrees die hele tyd vir die monster wat ek gaan raaksien, of erger nog, NIE gaan sien nie!

Maar vir hierdie ou het ek nou lank bekyk. Al sit ek rustig op my skryfstoel, dink ek hy probeer iets sê, ek moet net luister.

So op ñ Maandag oggend hoor ek bietjie traag. Inteendeel, die behoefte aan algehele, hemelse stilte is groot. Nie dat ek dinktyd nodig het nie, glad nie. En nie dat die naweek te besig was nie.

Dan het my ore ook nog toegeslaan van te lank stort. Daarom dalk dat ek net vir hom sit en kyk.

Miskien is my ‘hoor’ vol. Dalk is daar ñ plek in my kop waar al die ‘hore’ bymekaarkom…flip, ek moet net seker maak die woord lyk reg… Soos op die “Catch-Up” aksie van ons dstv. My opneem boks moet dalk skoongemaak word, terug na so 28%.

Kom dit met die ouderdom, hierdie ‘ek wil groot asseblief nie van nog  ñ enkele probleem hoor nie’, gevoel. Is dit hoekom ek op my vriendin Lona se Facebook blad boer, en haar honderde skreeusnaakse posts bly “like” en met myself “share”. Is lag op die oomblik my “drug of choice”?

Of dalk wil ek net ‘hang’. “Hang”.

Soos die vis in my prentjie. Met ñ effense oop mond, geen lipstiffie aan nie, oë wat na weerskante toe staar, en ORE VOL WATER.

Ja, vandag is dit ek. Dis hoekom ek hom heeltyd ‘kyk’.

Want hy is my eie Maandag spieëlbeeld.

(opgedra aan myself, en nou voel ek beter)

So, jy is toe nie heilig nie…(al pryk jy soms op die kerktoring)

Vroeër vandag het die planne bietjie verander. My af-dag het ñ werksdag geword, en ons is ietwat hoër die berge op, op soek na ñ spesifieke item. Dis toe dat ek weer hierdie storie onthou…

DSC_0681

Dit was ñ Sondag, die dag toe ek net toeris is. In Bali verkies ek liewer die saamsmelt met hul lewe, nie die ure se rondtoer op paaie nie. Maar daardie Sondag, dit was my oomblik.

Ek het Wayan pas leer ken, en na dae van aankope en sake transaksies, besluit hy ek moet ‘die toer’ doen.

Op, op met passe, verby binnelandse meere en watertempels, steeds boontoe. Die mis neem toe, so ook die woude.

Ek sit op die agterste sitplek, soos ñ ware taxi-passasier. En toe gebeur die ondenkbare.

Met skreeuende bande kom ons tot stilstand. Wayan gryp sy kop vas, en uiter “oh my god,oh my god” baie benoud.

En ek dink so in my binneste, met watter een van jul duisende praat jy nou, Wayan. Kannie die kombuisgod wees nie, dalk die watergod? Maar mens vra nou nie. So ek sit my sit.

Buite gebeur ñ paar goed gelyktydig. Die taxi voor ons het ook tot stilstand gekom, en Chinese toeriste peul oral uit. Wayan spring weg en begin iewers heen hardloop, volspoed. En die voorste voertuig se bestuurder staan en bewe, getraumatiseerd.

In krises situasies is ek kalm, baie kalm. So my sit, sit ek steeds. Ek is rerig reg om te help, paraatheid is my tweede naam, maar waarmee…

Moet ek vir ñ noodhulpkissie soek…911 bel…

So kom Wayan teruggedraf, dooie baba apie in sy arms, met ñ skreeuend ma-aap op sy hakke. Defnitief bly ek my sit sit. Baie praat volg, swaaiende arms, gebare, en die getraumatiseerde bestuurder in trane. ñ Volgende taxi word gestop, die Chinese toeriste daarin gepak. Wayan help om die skuldige taxi uit die pad te stoot, die huilende bestuurder tot bedaring te bring en hom onder ñ boom sy sit te laat kry. Die apie is teen hierdie tyd in ñ doek toegedraai, en die ma sit op ñ stokkie en toekyk.

Sekerlik verstaan sy wat hier aangaan? En sy lyk heel tevrede, grynslag skoon.

Hier volg die uitleg: Ape is heilig, moontlik ñ teruggekeerde familielid. Karma. Ry hom dood, en jy as die skuldige is dadelik onrein. Die dooie moet binne ñ maand “ge-cremate” word, teen baie hoë koste. Die hele direkte gemeente is betrokke.

Vir ñ maand mag die bestuurder nie werk nie, hy is onrein. So hy moet onder daai boom bly sit, met ñ ma-aap wat hom begluur, langs sy taxi waaraan hy nie mag vat nie. Tot familie hom kom haal.

Die einste ma-aap het haar dooie baba aan die hand gegryp toe dié raakgery is, en gehol, met Wayan volspoed agter haar aan. Want daardie apie moet teruggekry word, anders gaan iemand onrein deur die lewe moet sit!

So is Wayan toe ñ held.

Ek gaan klim liewer voor langs hom in, want twee pare oë op die pad is defnitief beter as een.

Ek gaan NIE tussen ape onder bome sit nie.

Skaars 500 meter verder kom ons weer skeeuend tot stilstand. Verwoed word die kar in trurat gesit, en ons snel agteruit. Ek asemloos van skok.

Die deur word oopgeruk, die gewese held buk af pad toe, gryp iets, slinger dit oor sy skouer na agter.

En jubel uiters selfvoldaan: Ha, nice food for tonight!!!

Rustig trek ons weg, dooie haan op die agtersitplek.

Jip, jy wil nie ñ hoender in Bali wees nie.

Eerder ñ aap.

(hierdie is opgedra aan my manlief, sy gunsteling storie)

Die hart se punt…

(Fotos:Google Images)2317383429_f8c3604af5

Vir die eerste 105 dae van ñ klein Balinese mensie se lewe, moet die voete nie die grond raak nie…want hulle is só na aan die hemel. Jy is reg, ja. Dit moet iets met hul geloof te doen hê? Die grond is glo nie rein nie.

Vir daardie 105 dae word kleinste in die arms rondgedra, teen ma of pa, ouma of oupa se lyf. Of deur die oudste kinders. Oral om jou dra mense hierdie geskenkies van bo rond.

Bali is wêreldbekend vir sy liefde vir kinders. In die 13 jaar wat ek hierheen kom, het ek nog nooit kinders met slegte maniere opgemerk nie. En kyk, hul families is groot.

Hoe doen hulle dit???

“They lead by example”. Om mekaar te respekteer, is vir die Balinese gemeenskap van die allergrootste belang.

Met dié dat gemeenskapslewe vir hulle so waardevol is, gaan jy defnitief ook ñ paar baie persoonlike vrae gevra word. Veral as jy alleenlopend is, antwoord versigtig. Hulle vind dit absurd as jy nie wil trou nie. Want dan is daar ñ defnitiewe afwyking in jou persoonlikheid. En sê eerder jou anderhelfde het heengegaan, dis minder tragedies as die woord egskeiding! Ek het sowaar nog nooit ñ geskeide Balinees raakgeloop nie.

Vir hulle is alle Westerlinge Christene. So in Indonesiese logika, is ateiste dieselfde as kommuniste.

Vir my, binnekort 56 jaar oud, bly dit ñ absolute voorreg om nuwe kulture te ontdek. Om agter te kom dat ons dieselfde grappie kan geniet terwyl ons die “punch line” 100% verskillend verstaan.

Dat ék my kleinkind van ñ paar maande oud, se voetjies met seesand kan toegooi sodat hy die tekstuur daarvan aanvoel, en my Bali vriendin haar kleinseun liewer stywer teen haar hart vasdruk, want hy is nog ñ engelkind.

Ons hartseer verskil nie veel nie, ons trane proe ewe sout.

En ons kan langsmekaar op ons knieë gaan; sy met ñ bordjie delikate “offerings” in haar hande. En ek met ñ diepe dankbaarheid in my hart vir my God se offer.

Sy Seun.

 

 

 

Reën, reën, lieflike reën…

119455580

So ñ liedjie word dalk wêreldwyd gesing, maar nie in Bali nie.

Dis asof iemand iewers ñ lewensgevaarlike aankondiging gedoen het, en nou reageer almal!

No! Rain!!!

Oh my …, rain!!!

Jy probeer by die venster uitkyk, dalk sien jy net ook hierdie verskriklike ding in die lug raak. Want almal kyk hemelwaarts, en sien iets.

As jy besig was met ñ kooptransaksie, word die pen sumier neergesit, die drie treë na die uitgang gegee, en volg dieselfde woorde…Oh my god, rain!!!

Julle moet onthou, in die Hindu geloof is daar letterlik duisende gode. Ek probeer soms “uit te figure” met wie hulle op ñ gegewe oomblik praat, maar ek faal altyd. Selfs al vra ek Wayan baie eerbiedig wie hy aanroep, kry ek net ñ vinnige sywaartse kyk, en slaan hy sy oë op na die berge.

Is ons geloof dalk ook vreemd vir ander? Verwonder Wayan hom aan my as ek bid voor ek eet? Wonder hy ook met wie ek praat?

Ek dwaal nou van die punt af. In Bali kom alles onmiddelik tot ñ stilstand as die reën uitsak. Elke ou gaan sit iewers op ñ trappie, steek ñ sigaretjie aan, en neem diep teue. En dan word daar gedink. Fronse verskyn op die voorkop, baie soos Donald Trump s’n, die oë fokus op…waar ook al. Ek as kliënt word ietwat ge-ignoreer. Want dit reën dan.

As dit langer as twee en twintig minute aanhou…ok, hierdie is my eie sarkastiese mening, word die winkel verlaat, en verdwyn die eienaar by ñ agterdeur uit wat na sy compound lei. Die dag is amptelik verby.

En jy? Jy is welkom om op die stoepie te bly sit, jou groen lysie- boekie in jou hand, die optelmasjientjie in die ander, en jou aqua op jou skoot.

Want ja, dit reën.

ps: Aqua is die Balinese gebruikswoord vir water…net vir ingeval jy wonder.xxx

Die proe van die stapper…

(foto:Google Images)balidrome 6

Jy kan saam stap, of alleen stap.

Die rugsakkie is ñ moet, jou waterbottel ook. Crocks werk, en dan jou kamera. Saamstap is lekker want jy beleef enige iets twee keer. Oë sien verskillend, so jy sien ekstra deur die ander se praat. En die lag is hard, uitbundig. Want om te deel is om te gee, en om te gee is bevrydend. So die lag is hard.

Om alleen te stap op hierdie hart-eiland is om saggies te giggel. Met elke tree wat jy op jou paadjie gee, loer ñ anderse nuut vir jou. Jy vorder ook nie baie vér nie, want alleen stap is soos proe. Versigtig, en met afwagting. Jy kan nie net hap en sluk nie. Jy kom tot halt, jou kyk sien ráák, jou sintuie som op en dan kom die lag. Die sagte, binne- borrel lag van lekkerkry.

Want Bali is soos hekelwerk…gaatjies vasaanmekaar om ñ kleed te skep. Een wat jy aan voel, teen jou wang druk en oor jou kop trek. Dit is so anders nuut, hierdie eiland- wêreld propvol vreemde gode, sambreeltjies, “offerings”, vlae, vlieërs, eende op ñ ry in strate, mense vier- vier op motorfietse, kosgeure, watervore ORAL, ryslande tot teen die hemel, en nimmereindigende kunswerke en musiek. Jy struikel soms oor jou eie voete van rondkyk en inneem, inasem en bêre. En jy lag sag, want hierdie onthou kan net joune wees.

Terug by die huis probeer jy oorvertel, maar jou woorde klou aan jou lippe. Jy probeer jou fotos, maar die praat steek vas in die onthou. En jy los maar liewer…

Want hoe deel mens alleen stap?

 

 

Ai my boet…

8324878710_337c7d5333_b

Sonsopkoms beteken gister is verby, die nag het sy lope geloop en jy haal nog asem.

Selfs op die verste, kleinste eilandjie kan die donker van ñ sms jou opspoor. Die stem aan die anderkant jou binne-mens uitruk, en kan jou gister se wees nie meer ñ môre word nie.

Die feit dat jy 13 ure tot hier gevlieg het, versag nie die ondenkbare nie. Binne enkele woorde is alles vir ewig anders.

Die huil kry wel ñ ander patroon, want jy mag al die voele van altyd voel. Jy sit nie jou donkerbril op om jou rooi oë vir kinders weg te steek nie. Jy dra hom teen die skerp sonlig. Jy luister nie gedweë na bemoedigende woorde nie, maar jyself sny gedagtes met ñ skerp swaard tot niks. Jy ontvang nie jammer- sê kos by die voordeur nie, jy grou ñ gat in jou hart en dit bloei.

Want jy is alleen. En dis goed.

As die son dan die volgende dag opkom, stap jy op ñ strand en trap diep spore. Jy sak weg maar klim weer uit.

Jy skryf ñ kleinboet versie in die nat sand, en jy kyk hoe die golfies dit vir altyd wegdra.

 

Aspoestertjie…

IMG_1973.jpg

Bali het skoene. Baie. En so weet ek ook waar almal is.

Daar is ñ sekere verdieping in ñ sekere Mall, en as ek dit nou móét deel, die eerste vloer. Verder sê ek niks, want as jy nie die ‘gevoel’ kry aan die bo-punt van die roltrap nie, is jy sumier gediskwalifiseer.

Skoene kyk is nie net ñ aksie nie. Dit is ñ gebeurtenis en daar kan geen tyd aan gekoppel word nie. Dit moet ook alleen uitgevoer word. En gewoonlik is daar ñ alibi nodig. Jy sê dalk vir een ander mens waarheen jy gaan, vir die res is jy net êrens.

Eens jy van die roltrap afklim, val alle ander gedagtes weg. Die skoen-hemel omhels jou, en jou wese teug die leer-aroma diep in. Ja ja, ek weet ek oordoen dit, maar wag net. Soos ñ affair kan hierdie totale verwoesting in jou lewe saai, en jou knak. Want hulle is oral. In alle kleure en smake en style. Wig hakke, plat hakke, blink, skerp punte, kerk skoene, werkskoene, speelskoene, staan skoene, loop skoene. Jy voel weerloos teen die aanslag van versoeking. So nou moet konsentrasie inskop, fokus is nodig. Woorde leeg.

Klink dit dalk vlak? Wel, kry vir jou. Oordeel my eers eens jy daar was.

Soos die Ya-Ya sisterhood het ek getuies wat sal bevestig dat die SKOEN ervaring diep is. Te diep vir die algemene publiek. Ons is met die hand …voet…uitgesoek, en ons weet waarvan ons praat. Ons gaan weer en weer terug vir nog, dink diep oor ons keuses, beplan vir ons toekoms. Beplan ook hoe om ons tasse toe te kry.

En sneak dan vinnig weer terug vir nog.

Opgedra aan Hannelie. Estelle. Lona. Thebi. Lisa. Janèt. En aan my Nadia meisiekind wie se kas van Bali skoene oorloop!

xxx

Uit die mond van die suigeling…

img_1685

“Ouma, ek het iets vir Wayan…” Sy sit die hopie velletjies op my skoot neer; vetkryt kleure wat mekaar op papier inhaal… “want ek sien hy het baie gotte, maar siestog, hulle is so lelik. En die tannies probeer hard om die gotte mooier te maak. Ouma sien mos die blommetjies wat hulle oral neersit en die lappe wat hulle oor party hang. Toe teken ek ons God, kyk, Hy is kleur. Dalk sal Wayan beter voel as hy sien daar is ñ God vol lig.”

Jip. En sy was toe 5.xxx

dsc00123

 

 

 

Die apie op die stokkie…

27

Indien julle wonder, dis eintlik vir my wat hy kyk. Ek weet want ek voel. Ek voel sy gedagtes, en ek sien sy plan! Sodra ek beweeg, gaan hy sy slagtande uitpak en op my spring. Tien teen een op my nek met sy naels in my hare en sy asem in my ore…en ek gaan nooit weer kan wegkom nie…!!!

bali-monkey-attack-cropped

Ok, ek vrees hulle. Jy sien dalk n oulike apie raak; ñ heilige, onskuldige inwonertjie van die allerbekende Monkey Forest in Ubud. Ek proe gevaar.

So bly ek een jaar aan die ander kant van Monkey Forest, en Ubud is duskant. Padlangs, so ñ uur en ñ half se stap. Deur die woud, 20 minute. Maar moenie dat die woord ‘woud’ jou mislei nie, ook nie die feit dat daar tientalle ander besoekers ronddwaal en ape voer nie. Neem jou eerste tree in hierdie allergroenste storieboek- mooi wêreld in, en dis alreeds te laat.

Ek raak die “unsub” in hul aapsepie. Die “unsub” is ñ persoon wat die kriminele oortreding begaan het, nog voor hy ge-identifiseer is. Ek raak daai een. Al elf honderd van hulle hou my gelyktydig dop. Dink oor my, som my op en neem dan drastiese aksie. Ek ‘voel’ gevolg, ek hoor my naam op hul tonge. Maar met diè dat ek nie aaptaal kan praat nie, is ek magteloos om myself te verdedig. Die 20 minute raak dan maar minute vol bid, sonde belydenis doen, introspeksie hou oor onerkende sondes asook toekomstiges, die ophaal van vergete beloftes wat dalk nou weer ter sprake moet kom, en tussen-in moet ek nog asemhaal ook.

Teen die tyd wat die uitgang opduik, is ek skoon, en ewig dankbaar vir die keuse van ñ uur en ñ half se ompad terug.

O ja, daar is ñ Bintang bierstalletjie net buite die hek. Ek weet.

Nyepi…

Ogoh

So land ek vir die eerste keer tydens die “Day of Silence” in Bali. Die Hindu nuwe jaar. Anders as by ons, gaan hulle die nuwe jaar in deur te vas en mediteer. Geen beweging op die strate nie, almal moet binnenshuis bly. Tot die lughawe is vir die dag gesluit. Toeriste kry die vorige aand reeds hul ontbyt vir die volgende oggend. Niemand mag in die openbaar verskyn nie, geen motors op enige paaie nie.Geen tv, geen radio. Hotel personeel van diens af. Net totale stilte.

Die vorige aand ontaard wel in ñ kakofonie van lawaai en opvoerings, met elke dorpie wat sy eie Ogoh-Ogoh papiermonsters ten toon stel en raserig in die algemene bymekaarkom punt skyngevegte hou. Wayan sê dit is om die slegte geeste van elke area bymekaar te kry, want geeste hou glo van partytjie. Elke ding wat lawaai kan maak, word op geslaan.En hier by 20h00 rond kom die priesters en doen ñ “exorcism”. Die geeste skrik, trek dadelik almal saam in die hemelruim op, en wag. Dit is nou wat Wayan verduidelik, en onthou, hy is ñ eiland mens. Almal gaan huis toe, sit ligte af, en maak so seker dat die geeste nie wil terugkom eiland toe nie. Want nou gaan daar dan niks aan nie? En vir die volle volgende dag is dit stil. Die geeste trek verergd weg en gaan soek ñ ander partytjie veld. So vat dit dan ñ jaar voor hulle weer almal geleidelik teruggekeer.

En ek. Ek ontdek ñ rysslang in my hotel kamer. Rerig ñ lang een. As ek ñ visserman was, sou ek raai ñ 10 ponder. Maar ek vang nie vis nie. Liewer dan 8 bakkies Butro. Gesmelt.

In absolute, swaar gelaaide eerbiedige stilte bring ek hierdie “Day of Silence”  deur. Tjoepstil, op my bed. Steeds as ñ Christen, een met ñ heilige vrees vir ñ slang. Giftig of nie.

Dalk was hy 16 pond???

Tsunami golwe…26/12/2004

2134452

Ons was besig om ontbyt te eet op die strand in Sanur. Kaalvoet, die 2de dag van ons Kersvakansie. Ons langbeen tienerseun het hierdie keer saamgekom, vol opgewondenheid oor die groot ‘waves’ waarvoor Bali bekend is. En daar was groot waves daardie dag. Groot genoeg om ñ verwoesting te saai wat alle aspekte van lewe aangeraak het. Ons eiland het in een groot hartseer moeras verander. Die verslae gesigte van familielede wat veilig in Bali vasgekeer was, het in strome deur die strate gespoel. Sumatra se diepe hel het ons almal gestroop van onsself en daar was nie wegkom kans nie.

Daardie aand tydens die hotel se aandete, het die groepie op die verhoog met pikswart oë hul musiek instrumente opgeneem.

En vir ons musiek gemaak met al die verlore en verlate klanke in hul siele.

Al vier die musiekante was van Sumatra. Hul was in Bali op kontrak, en die lughawens was gesluit. So, met die fors van oorlewing het hulle ons meegesleur na hul wêreld bo in die Noorde van Indonesië.

In Bahasa Indonesies het hulle hul siele blootgelê, en ek wou wegsink in hartseer.

Hoe doen party mense dit? Waar gaan haal hulle die krag vandaan, waarheen reik hulle en plaas dan genesende melodië in ons skote? Ek sal nooit vergeet nie. Nooit vergeet hoe vier ouerige omies ñ restaurant vol mense met hul vreemde taal tot rustigheid kon lei nie.

 

Kom ons stap straat-af…

bali hond

Kuta se sypaadjies is pragtig oorgedoen. Jy kan jou crocs aantrek en daar gaan jy. Maar, Bali het honde. BAIE. En heel eerste moet jy hulle ontmoet en verstaan. Kom ons noem hulle LEDE VAN DIE MAG, wat soos straatbrakke lyk. Hulle is met ander woorde ‘under cover’. Wayan sê in hul vorige lewe was hulle slegte mense. Wayan is slim, hy weet alles: hy is van Bali. Hierdie LEDE VAN DIE MAG versper die sypaadjie. En hulle kyk jou. Hulle lyk dalk brandsiek en soos laslappies, maar hulle sien als.

So asof hulle in ons land bestuurslisensies gekry het, loer hulle regs en links en regs. En stap dan oor die pad. Hulle jaag geen karre nie, en ñ motorfiets word minagtend beskou. Maar vir jou KYK hulle.

Dis dieselfde as wanneer ek op die Rustenburg snelweg werk toe ry. Die verkeersvrou bekyk my asof die “cruise control” van my motor opgepak het. En dadelik twyfel ek oor my spoed, alle selfvertroue daarmee heen. Die ‘under covers’ kry dit ook reg. Mens rem dadelik, wonder vlugtig of jy van baan moet verwissel, en staar dan strak voor jou uit. Klim met groot ontsag bo- oor hulle. Een honderd meter verder trek jy af, haal weer asem, en besef dis net ñ gewone uitgegroeide hondjie wat daar agter lê.

Met die terugstap slag sit jy eerbiedig vir hom ñ eetdingetjie neer en weet jy is nou ok.

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg