Ek het jou nodig.

(foto:Google Images)African-animals-wallpaper-background

Waar ek nou in my lewe is, weet ek een ding. Ek kan nie alleen stap nie. En as ek sê ‘ek’, bedoel ek ek en manlief as ñ eenheid. Ons het ons mense nodig. Nie net familie nie, nee. Ons mense soos in hulle wat saam met ons in dieselfde rigting wandel.

Daar was ñ tyd in my lewe, jonk getroud, toe my man en ons ouers en “siblings” genoeg was. Soms te veel was. Die lewe het gebeur, en ander mense het deel van ons trop begin raak. Sommige is weer weg, sommige het vir rukke gekies om ñ ander pad te gaan uitprobeer.

Tog, die meeste van ons het dieselfde koers gekies. Kontak gehou. Gebel in goeie en slegte tye.

O ja, ons het mekaar soms seergemaak. Selfs verraai. Dan is daar laer getrek, en beskerm. Dalk kante gekies. Rotse gegooi.

Maar die rigting het dieselfde gebly, en iewers, iewers het ons mekaar weer raakgestap. En dit was goed en dit was reg. Vergifnis is uitgespreek. Treetjie vir treetjie kon ons weer nader aan mekaar beweeg. Versigtig, bang vir teleurstellings.

Ander het langs die pad aangesluit, en die trop kon sterker staan. Insig in mekaar se menswees het almal gehelp groei. Ons ken vandag mekaar se swak en sterk punte. Ons weet wie om op watter stadium te nader vir raad. Vir hulp. Wie om wanneer te vermy.

ñ Trop help hul siekes en beseerdes. Wanneer een ñ geliefde verloor, treur hulle saam. Takke en blare word aangedra, die dooie toegepak. En onthou.

Ja. Ek het jou nodig.

En jy vir my. Dis ñ lewensfeit.

Puntstop.

So partykeer…

Het ek nie ń prentjie om te deel nie. Nie ń rede om te sê nie. Net die weet. Dat ek verlang, maar jy is weg. En al reik ek uit na ander wat dalk die woorde het.

Hulle is nie daar nie.

So dit los my, my boet. Met net ek en jy. Ek hier. Jy by Jesus. Jy weet hoe lyk my wêreld. Maar ek moet net raai oor joue.

Jy is veilig. En ok, ek weet.

Sê vir Ma hello. En vir tannie Ronsie. Sê Boeta is ok. En ek. En Bert. Ook die meisies, en almal hier. Hoop julle kuier vandag lekker bymekaar.

En verlang bietjie na my?

ñ Geheime eiland.

(fotos:Google Images)lombok-island-with-white-sands

As ek my oë toemaak, en die gedagtes laat gaan, kom daar ñ prentjie op. Van ñ plek met verlate strande, wit sand en deurskynende water.

Lombok. ñ Eiland anderkant Bali; een wat nie baie mense eintlik van weet nie. Die geneigdheid is om op Bali af te klim, en daar vas te haak. Net ñ halfuur se vlieg verder, lê daar egter ñ juweel.

kaart-indonesi-nieuw

Ons noem die mense hier Sasak, oorwegend Moslems. Die naam Lombok beteken ‘Chili’.

South Lombok beaches

Mount Rinjani, op 3 726m, is sy hoogste vulkaniese berg.

Lombok-Lava-Charity-Trek6

Lombok is wêreld-bekend vir sy potte. Dit is hoe ons oorspronklik hier beland het. Op soek na mooi artikels vir die winkel, en sommer ook om te kom loer na hierdie ‘geheime eiland’.

Mense vra my dikwels of ek Bali sal aanbeveel vir ñ see-vakansie. Nie werklik nie. Bali is kultuur en kuns. My hart se punt.

Maar dan is daar Lombok. Jy vlieg soontoe, en raak weg. In ñ droom wat waar word.

Ek het op ñ dag in die jaar 2001 gebid. Gevra vir ñ deur om oop te gaan vir ñ huisvrou in Harties wat nooit ñ beroep beoefen het nie. Haar man met sy besigheid gehelp het, en drie dogtertjies grootgemaak het. Hulle het egter ouer geraak, universiteit toe begin gaan.

Here. As ek mag vra, ek wil baie graag begin werk. Iets doen wat die passie wat U binne my geplaas het, sal aanraak. En dan Here, as ek die wêreld mag sien. Asseblief. 

In 2004 het die deur wawyd oop gegaan. Kon ons ñ meubel winkel begin, en ek dikwels na eksotiese plekke toe vlieg om aankope te doen.

Ons Vader stel belang in ons elke droom, al klink dit dalk vir mense óm ons onbenullig of onnodig. Hy het ons gevorm, self die drome in ons geplaas. Niks is vir Hom onmoontlik nie.

Selfs nie eens ñ onlogiese gebed van ñ mamma op haar sitkamer mat nie.

Iemand vermoor die duiwel!!??

(fotos:Google Images)CatUnderBed

Hierdie was defnitief my eerste gedagte op my heel eerste nag in Bali. Ek glo dat daar ñ duiwel is, die Bybel se duiwel. Ek kon net nie glo dat ek hom toe in Bali moes kom raakloop nie, en dit terwyl iemand hom vermoor! Op my kamer se dak.

Menigte gedagtes het deur my gegaan. Hoekom nou? Ek het dit nie raakgelees dat hy doodgemaak word deur iemand hier op aarde nie. En sê nou hy wen??? Gaan hy by my venster probeer inklim…hoe gaan hy lyk…

Defnitief in stukke gekap ter oordeel aan sy gille…

4893244287_d42c607d74_b

Uit respekte vir hierdie klein lyf met sy enorme stem, bly hy net Die Bali Gecko. Geen vertaling nie, want hy verdien al die respek wat na sy kant toe kom. Toe nie die duiwel homself gewees nie, net ñ verspotte klein geitjie tipe ding wat in menigte gruwelflieks speel. Of optree. Opsing. Wel net sy stem, maar steeds. Noudat ek hom al jare ken; weet hy kruip oral weg en wag vir middernag om los te trek; steeds. Vir die eerste paar minute bevraagteken ek altyd my logiese denke.

Is ek seker. Hoe weet ek die boeke praat die waarheid. Is hierdie nie oë-verblindery, en die monster agter die stem loer van iewers af nie. En hier is nie eers ñ mes in ñ hotelkamer om myself mee te verdedig nie. Niemand gaan my mis tot laatoggend nie. Sê nou ek is net half dood. Dan lê ek en uitbloei. Alleen. Ure en ure en ure…

Die Bali Gecko. My naam vir hom. Hy kom wel oral voor in Suid-Oos Asië, maar vir my hoort hy hier. Hy sien my kom. Hy weet ek gril ietwat vir hom.

Maar hy wag. Vir die ure wanneer dit stil is. En donker. Dan trek hy los, en ek. Ek vlieg elke keer verward op, weet eers glad nie waar ek is nie, kyk met dom oë in die vreemde donker rond, dink my dinke.

En sit dan die kussing op my kop.

 

 

Om amper agt te wees…

wp-1491909496830.jpg

…en jy skryf reeds stories. Die storie van die groot familie met ñ groot probleem.

Dit is dan wanneer jou ouma en oupa net in stille verwondering kan kopskud. Hoe het dit gebeur? Wanneer het jy selfs geleer om wat jy aan dink, neer te skryf?

Die ander dag nog het jy met jou vinger in jou mond grootoog na stories gelê en luister. Nou blaai ouma deur jou eie boek met ñ klompie bladsye in. Een wat jy so tussen al die naskoolse bedrywighede deur, skryf.

Wanneer, ons Talisa meisiekind, het jy groter geword. Die insig gekry om ñ hartstorietjie te kan neerpen. Vol karaktertjies met probleme, maar ook oplossings.

Sou ouma Maizie nie net te trots op haar oudste agterkleindogter gewees het nie. Oumsie wat julle so kon vasskryf in haar gediggies. Wat gesels sy alles ‘daar bo’ oor hierdie klein pragkind van ons? Dink jy sy skryf ook nog…

Dalk moet ouma Una vir haar ñ briefie pos, een wat ñ engel kan saamvat. Vir haar dankie sê dat sy vir my en jou hierdie liefde vir skryf gelos het. ñ Stukkie van haar menswees in my en jou hartjies nagelaat het.

Little-Child-Girl-with-Baby-Doll-HD-Cute-Baby-Wallpaper

Want ouma het vergeet om dit vir haar te sê toe sy nog hier was.

 

 

 

 

Eksamen tyd.

(skilderye:Google Images)Diy-painting-by-numbers-frameless-font-b-paint-b-font-drawing-coloring-by-numbers-on-canvas

Ek het dieselfde droom al oor en oor gekry; die eksamen-skryf een. Spesifiek wiskunde. Terwyl ek weet ek het nie ñ enkele klas bygewoon nie.

Keer op keer sal ek natgesweet wakker skrik, en uiters dankbaar wees dat ek toe nié weer terug is in matriek nie.

Op die oomblik gaan dit rof. Baie rof. Rowwerderer. Ek kry nie klaar geskryf aan ñ sekere vraestel nie. Sleg is, my naam staan nie bo-aan nie. Maar ek skryf, en ek dink, en ek probeer. Ek vergeet van eet, en in plaas daarvan dat ek saans oplees en myself dan nou maar voorberei, wil ek net slaap.

En dan weer terugval op my bietjie kennis, weer probeer.

Die ‘probleem’ toring hoog bo die horison uit, en ek moet ñ antwoord vind. Ek kyk met my ‘ou oë’, en ek sien raak. Dalk bietjie dowwer as voorheen, maar ek KAN sien.

My dilemma is dat die persone wie se name bo-aan hierdie vraestel staan, ander antwoorde hierop gee. Elkeen verskillend. En al werk en bid ek hoé hard, al kleur ek die prentjie deur my oë hoé mooi en perfek in.

Hulle sien anders.

Hulle sien en hoor en lees en verstaan vanuit ñ ander ‘sig’, vanuit ñ ander lig. Hul agtergrond verskil huidiglik van mekaar, en van myne. Ek bekyk hul prentjies, vat my kwas en probeer doodvee. Dit werk nie.

Ek verander van verf. Bring olie in plaas van waterverf in. Dit ‘vat’ nie. Die smeerkolle word net groter, en die prentjies al meer bederf.

Party dae draai ek die prentjies om, sodat ek dit nie raaksien nie. Ek gaan steek my kwaste weg, sodat ek nie probeer beter maak nie. Ek trek die eksamen lokaal se deur styf toe, sluit selfs.

Maar daar binne, weet ek, lê dit en wag.

So vanoggend, weier ek om die deur oop te sluit. Sit ek op ñ stoel aan die buitekant en kyk teen hierdie ‘gemors’ vas. Kom iemand se stem in my geheue op. Joyce Meyer wat iewers in die agtergrond praat. Oor wat om te doen as jy voel jy het alles gedoen. En niks is beter nie. Niks het verander nie. Die probleem bly.

Trust God and go do good to someone else. Ps 37.

Nou stap ek deur hierdie dag, nou, soos ñ goeie brullende leeu, een wat weet as God met jou gepraat het, en ek soek situasies waar ek kan help. Iemand wat ek kan bystaan. Iewers waar ek kan bydra. 

O ek sal luister. Ek het gehoor. Ek ken die Woord.

En die Een wie se Woord dit is.

Trust God and do good. Nog nooit voorheen het ek hierdie opdrag so aangegryp, so begryp nie. Ek voel klaar beter. Sal die deur gaan oopsluit en die lokaal lug laat kry.

Dan weer aanstap en my God vertrou.

Iemand anders gaan seën.

 

 

Die voorreg om te weet wie jy is. Al maak dit soms seer.

(foto:Google Images)0d681265b72dc16f5025846f2244f4ae

ñ “Mercy” mens, dis wat my Elanè blok-vriendin my noem. En ek is trots op hierdie benaming, hierdie sewende van die “Redemptive gifts”.

Vandag wil ek myself ‘vasskryf’, herinner aan wie ek is. En wat. Nie alles is mooi nie; ñ mercy-mens sleep ñ paar ernstige swakhede met hom saam. Dit bly ñ keuse.

Groei jy daaruit, sien dit vir wat dit is. Of troetel jy die foute.

Die Unas van die lewe het nie sommer vyande nie. Omdat ons meestal glad nie oordeel nie, is ons veilig.

My hartsvriendinne is gewoonlik 100 % die teenoorgestelde van myself. Die mercy kom so te sê met alle persoonlikhede oor die weg.

Ek voel aangetrokke tot mense wat seer het, sien vinnig deur die skanse. Selfs al is jy ñ totale vreemdeling. Ek is nie bang vir jou mure nie, inteendeel, ek en jy weet albei vinnig dat jy my kan vertrou. Met my kan praat.

Ek is doodeerlik oor myself, jy hoef nooit te wonder nie.

“Do people come up to you frequently and bare their entire soul without being asked?” Dís die mercy mens.

Tot dusver ñ goeie prentjie. Wens net ek kon nou hier stop.

ñ “Mercy” sukkel met ñ onderliggende smagting na intimiteit. Sonder dat ons dit altyd besef, “crave” ons fisiese aanraking. Wat heel dikwels na seksuele sonde lei.

Hier is ñ eina sin: “The intimacy the mercy craves transcends soul contact to physical contact. They are designed by God to want and need touch. For young mercy men, this needs to be affirmed in a right way, or they can fall into homosexual lifestyles because of this lack of affirmation.”

In my jong dae het ek geweldig met hierdie swakheid gesukkel. Keuses gemaak op grond van my hunkering na intimiteit. Vandag weet ek, net God kan die leemte vul. Maar vandag is baie baie jare later. Baie baie verkeerde keuses later. En steeds, steeds moet ek bewus bly van hierdie feit, en nie vir ñ oomblik my waaksaamheid neerlê nie.

Die mercy hou nie van verandering nie. Veral nie as dit ons sekuriteit raak nie. Dit neem redelik tyd vir my om emosioneel te laat gaan. Te laat los. Maar daarna reik ek met oop arms na die nuwe.

Ons haat konfrontasie. My DNA is om pyn van mense af te probeer weghou. “When they have to confront, it is very difficult. It usually takes them an hour of beating around the bush. This can be a major downfall for the mercy.”

Tog, aan die ander kant, iewers onder die oppervlak lê daar ñ hoeveelheid woede. Dit kom baie selde te voorskyn, maar as jy iemand na aan my te na kom, sal ek ontplof.

Vat jy my as persoon aan, sal ek my skouers optrek en wegstap. Ek vergewe al vra jy nie daarvoor nie. Maar o genade, moenie die mense om my, na aan my, seermaak nie. Almal het al vergewe en aanbeweeg, dan broei ek steeds. “Resentment”, diè woord som op.

Eintlik wil jy my as ñ vriendin hê…ek moet darem iets goed bylas.☺

“By design the mercy is able to engage spirit to Spirit with God. They are able to go there easily and often. As the mercy is sanctified they sanctify their environment (time, people, place) and are able to transform the sinful into holy. The gift of mercy is designed by God to know His heart and to operate on a very subjective, intuitive basis.”

Hierdie is ñ mondvol, ek weet. Maar hierdie is MY lewe, MY binnekant. Ek is trots op wie God my gevorm het om te wees. Ek is dankbaar dat Hy my oë en ore op ñ sekere dag aangeraak het sodat ek myself kon sien. En verstaan. Leer ken.

Nie die Una wat omstandighede ‘gemaak’ het nie.

Die Una oor wie Hy gedroom het.

4c39382aabac1f8f95be1a5863e4cf1e

 

 

 

 

 

Ek wens julle was weer klein.

ea6062a5482008ed995c06f9488e7b97

Net vir ñ rukkie. Dalk ñ dag. Dat ek julle elkeen teen my hart kan vastrek en my krag met julle kan deel. Die seer bietjie wegstreel. Die seermaak woorde wat julle tussen mekaar losgelaat het, kan vat en sagmaak. Dit laat wegspoel en julle die soet weer op jul lippe kan proe.

Ma verlang na haar meisiekinders. xxx

O nee. Defnitief nie.

(fotos:Google Images)christensen_treadlightly

Op die oomblik, vir my as ñ middeljarige vrou, is dit maklik om net rond te dobber. Makliker as om standpunt in te neem. Makliker as om presies vir almal te vertel wat EK van ons huidige wêreld dink. Want eerlik, ek weet nie regtig wat my mening is nie. Ek sukkel om ñ opinie te formuleer. Dit maak my effens gek, hierdie lees en luister en hoor en

en dan niks.

Waar is die deel in my brein dan wat op aandag moet spring en gereed moet voel vir aksie. Die woorde wat moet aanvuur en aanhaal.

Is ek ñ papperd?

232086_960x640

Binne my eie wêreld ken ek my rigting. Al gaan dit ‘wind-op’, al sug ek so elke derde dag diep voor ek my voete van die bed af sit, my rigting het ek gekies. Hoekom sukkel ek dan met die groter prentjie. Ek is tog ook ñ Suid-Afrikaner. Ek is regtig lief vir my land. Vir sy mense.

Sodra ek wil begin skryf, kom die ‘dinke’. So asof wat èk kan skryf, nou van minder belang is. Onbenullig.

Dit maak my vies vir myself. Ek hét dan nou gesê my geluk is nie in ñ president se hande nie. Dat ek nie sal toelaat dat hy persoonlik ook van my steel nie.

Tog sukkel dit bietjie hier in my binne-hoekie. Moet ek myself bly herinner dat ek steeds ek is. Steeds iets het om te sê. Al verander mý woorde nie die land se geskiedenis nie.

So nee. Defnitief nie. Ek gaan nie net ronddobber nie. Vorentoe, dis waarheen ek gaan.

Dalk selfs stroom-op, maar vorentoe.

In die enigste rigting wat ek ken.

 

 

 

Oppad BERG-OP.

(fotos:Google Images)4358895159_59f15cc36e_m

Ek sit vanoggend met my koppie koffie in my hande en nuus kyk. Ek hoor dit oor en oor op die radio, al die hele dag. En ek wonder.

Hierdie raak my, ja. Direk. Daar is ñ twintig voet “container” wat in Indonesië op ñ hawe wag. Om gestuur te word. Vier weke op ñ vragskip oppad Durban toe. Gekoppel aan hierdie oefening is ñ “dollar account”. Met ñ rekenig wat ons moet betaal.

Ek wonder oor ons land. Oor ons regering. Oor besluite wat geneem word, geneem is. Uit ondervinding weet ek dat die rand/doller uurliks kan verander. Sekerlik gaan verander. Feite.

Ses en vyftig jaar oud, en al wat ek op kan roem is dít wat ek geleer het. Om te onthou wie ek is. Wie ek was, waar ek was, deur watter omstandighede ek al gekom het.

Die houvas van ñ “Mall” se kontrak op ñ paar jaar van my lewe. Die besef van my magteloosheid tydens die Rustenburg stakings, die onvoldoende bankrekening bedrae, die dae sonder kliënte.

My lyf wat oppak onder druk, die spanning wat my getrou vergesel het. Heeltyd, altyd.

Dan blaai ek terug in my joernaal. Tot by die opskrif bo-aan ñ dag in 2016. Neergeskryf nadat ek agter my toonbank op my knieë gaan sit en stilword het.

EK HET JOU. EK SAL JOU HIER UITBRING, EN JY SAL HULLE KAN GROET MET ñ SKOON REKENING. KYK OP IN MY Oë, NIE AF NA JOU BANKREKENING NIE. JY SAL MET TROTS KAN WEGSTAP, WANT EK HET JOU GEHOOR. EK HET JOU.

So my president. Jý gaan my nie laat struikel nie. Voor jóú besluite gaan ék nie wankel nie.

My “joy” sal jy nie steel nie, want ek het dit verniet gekry. Mý God het dit sélf in my gees geplant.

Ek sal opklim teen ons berg, hoog. En dit uitskreeu.

HY HET MY.

HY HET ONS.

105f06e9f91f2a8ba172e80fcbab7d7d

 

 

Wayan se mening…

(foto:Google Images)n35_ario-wibisono

Terwyl ons nou onlangs van winkeltjie tot winkeltjie gestap het, het Wayan kort-kort net gesê: bad karma, en dan sy kop geskud. Tot ek vra. Eintlik wou hy my bitter graag al lankal vertel, maar ek moes eers vra.

Elke keer as ñ trokkie of ñ motorfiets verby ry, met ñ ‘hoender-mandjie’ agterop, word dié woorde ge-uiter. Dit werk nou so, volgens Wayan. En onthou, Wayan is ñ Bali mens, en hy wéét.

Hoender gevegte is sedert 1981 onwettig op die eiland. Maar daar gaan glo daagliks gemiddeld 10 000 hane dood in hierdie sport. Manne spandeer tussen ses maande en twee jaar om ñ haan reg te kry vir só ñ geveg. Baie geld word verwed, en die geheime gevegte vind gedurende die oggende plaas.

Daar word van die een geveg na die volgende gehaas, en almal op die eiland weet gewoonlik waar dit plaasvind.

Maar, volgens Wayan is dit “bad karma”. Hierdie mans met hul obsessies, kom blykbaar in die middae by die huis aan, gewoonlik sonder “winnings”. Want dit wat jy wen word dadelik weer verwed.

Alhoewel hardhandigheid glad nie deel is van die Bali kultuur nie, slaan die dobbelaars hul families glo links en regs. Van frustrasie. “Bad Karma”. Punt stop.

Die eerste dag nadat Bertus by my aangesluit het, het ons gaan stap. Flippen ses kilometers ver. Op hierdie staptog, roep ñ jong man ons nader, en spog met sy haan. Haal hom ook sommer uit die hok, en toe moet Bertus hmm en ha. Beindruk lyk. Terwyl ek onderlangs soos ñ slang sis…’bad karma’. Sies.

“Needless to say”, die gesegde het nou op my tong agtergebly. En nie uit disrespekte vir ñ eeue oue geloof nie.

Net omdat dit sin maak. Vir my.

Dis teen die wet. Dis wreed. Dit ontaard in ñ siekte. En dit bring geweld teen vrouens en kinders mee.

So ja. Bad Karma. 

Indien jy iets voor my doen wat my pla.

Hoekom net ek?

Ek lees nou-nou Lewies Mymer se storie oor sy prostaat ondersoek, en begin toe lekker lag.

Want sien, nie alle manne is baie bewus van die regte benaming vir dinge nie.

Op aanbeveling van ons huisdokter, gaan ek en manlief verlede jaar die internis besoek. Albei van ons het vae skete, en die ouderdom vra ook vir meer gereelde “check-ups”. Oppad hospitaal toe, net so terloops, noem ek dit aan Bertus dat hy tien teen een ñ prostaat ondersoek sal ondergaan. Net dat my man nou nie onkant gevang word nie.

Dis ñ paar sekondes stil in die kar.

En jy dan? Hoekom kry jy nie ook een nie? Hoekom net ek?

Dis miskien nou hier waar ek al moes besef…

Manlief vra dat ek liewer by hom sit terwyl die internis sy vrae vra. Vir ingeval hy wat Bertus is, iets uitlaat. Kyk, dit gebeur nou nie sommer nie. My engel “overshare” baie dikwels, met diè dat hy nou so in die opleidings wêreld betrokke is. Maar ek ‘sit toe in’, ons tweetjie langs mekaar in ons hospitaal jurkies.

Dit was lank, en deeglik, al die vrae. Met al Bertus se beskrywende antwoorde by. Ek kon sommer aanvoel dat hy baie ingenome is met dié ou wat so ALLES van hom wil weet.

Net so voor hulle klaarkry, kom haal die suster my vir my bloedtoetse, en ek dog ja, dis nou veilig. Bertus sal verder regkom…………………………………………………………

Met diè dat ek my voet by die deur begin uitsit, hoor ek die vraag.

So Bertus, kom ons praat oor jou skild. Hoe gaan dit daarmee?

Skildklier, ja. EK weet dit is die navraag. En ek word koud. Kyk, ñ mens ken jou man. Weet alles van hom af. Selfs meestal hoe die brein ook werk, en die gehoor. Ek bly versteen staan, en wag, en:

‘Sjoe, dok. Maar jy is gaaf om te vra. Kyk, ons het mos nou maar almal skuld. Ons sn is seker hoog, in menslike terme, maar ek moet darem ter verdediging sê. Ons is hier in 2008 deur ñ rowwe tydjie. Die lodge, dit het nie uitgewerk nie, so mens betaal nou nog daaraan af. En dan is daar die karre. Ek hou maar van ñ Discovery, …’

Eers nou kry ek weer lewe. Vlieg om, gaan staan langs hom met my hand op sy skouer.

My engel, dokter wil weet van jou skildklier, nie ons skuld nie…

Bertus was taamlik bekaf, want hy het lekker begin gesels. Met hierdie stillerige dokter wat dan nou soveel belangstel in hom as mens…

Die dokter het homself op daardie moment net vir ‘iets’ verskoon, en deur die agterste deur verdwyn.

Seker om iets belangrik vir sy “nurse” te gaan vra???

 

(opgedra aan my dierbaarste manlief wat my aan die lag hou)

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg