(fotos:Google Images)
Mens noem dit “creepy crawlies”. En ja, jy eet heerlik daaraan.
Hier in 2005 besluit ons om ñ draai in Kambodja te gaan maak, oppad Bali toe vir aankope. Heel braaf. Om mee te begin neem hulle ons op die lughawe in hegtenis, want niemand daar rond het al van die RSA gehoor nie. Ons paspoorte is tot onderste-bo gelees, maar nee. Waar IS dié land???
Uiteindelik vrygelaat, met glimlagte van oor tot oor en ñ vreemde klomp woorde wat dalk ‘geniet dit’ beteken, en daar gaan die twee Steenkampies. Groot tasse in die hand, want mevrou soek na nuwe artikels om huis toe te neem.

Die land was nog baie verniel, dié jaar toe ons daar aanland. Gedurende die 4 jaar wat die Khmer Rouge aan bewind was, in die negentien sewentigs, is omtrent 2 miljoen mense uitgewis, deur hul eie regering. ñ Vyfde van die populasie. Daarom dan dat 63% van Kambodja se mense onder 30 jaar oud is. Baie van die ouer garde weet nie wanneer hulle gebore is nie, en min mense gedenk hul verjaarsdae.

Dit was my en Bertus se eerste kennismaking met ñ land wat steeds aan die ‘bloei’ was. Soveel vernielde mense, so geweldig baie bedelaars, en honderde verwaarloosde kinders. Tog, hulle was aan die opstaan. En al was dit raar, maar die mooie glimlagte het behoue gebly.


Ons het baie gelag, want net so vreemd as wat die hele ondervinding vir ons was, net so vreemd was ons vir hulle. My manlief met sy wonderlike mense-mens persoonlikheid het oral harte gewen. En hulle laat skaterlag. Want ons kon weereens nie uitwerk hoe om byvoorbeeld te bad nie…
En eet…Ons het liewer van seekos geleef, ten minste het dit bekend gelyk.

Kambodja is nog ñ hart storie in my joernaal. Een wat ek tot nou toe bietjie bewaar het, want daar is ñ stukkie seer aan verbonde. Ek is ñ jaar later terug soontoe, met my moeks aan die hand. Die lag met ñ traan as jou ma saam met jou ñ anderste wêreld ontdek, is meer kosbaar as goud.
Maar dis ñ lekker storie vir ñ ander dag.



























Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.