
Ons kom ñ lang pad saam; ek en Bertus en sy.
Ons ‘Woestynkind’-vriendin.

Kort na haar egskeiding het sy en haar drie jong kinders deel van ons lewe geword. Trudie, die jongste, was skaars een jaar oud. Finansieël moeilike jare daardie. Is steeds.
So toe ek en Bertus einde 2008 saam met ñ groep vriende Mosambiek invaar, het ons haar gevra om op ons Lodge te kom bly. Vakansie te kom hou. Iets lekkers om te doen in hul andersins baie ingeperkte lewe.
Na twee dae se ryery kom ons klompie baie opgewonde by ons eindbestemming aan. Twee weke van see en sonskyn lê voor. 23 Desember 2008.
Terug in Harties weet Marieta dat die vakansiegangers ook gaan begin arriveer. Die Lodge was vol bespreek, gelde betaal.
Annette, haar oudste meisiekind, was ñ dromer. Ietwat van ñ avonturier.
Op 24 Desember, kort na vier die middag, merk Bertus op dat daar aanmekaar “missed-calls” op sy foon deurkom. Van sy neef in Suid-Afrika af. Selfone was toe nog ñ nuutjie en opvangs baie swak. Hy hoor wel iets op een van die boodskappe, vaagweg.
Una, Anton praat van iemand wat dood is. Op die Lodge.
En so breek een van die mees hartseer tye van ons lewens aan. Die dag voor Kersfees. Terwyl Marieta en die ander twee videos sit en kyk, dwaal Annette rond, soek ñ plekkie vir haarself.
Haar voorliefde was dakke. Daar kon sy alleen wees, vér sien.
Sy klim op die drieverdieping grasdak van ons saal. Amper heel bo verloor sy haar balans, gryp na die twee lewendige Eskom kragdrade wat bo-oor die saal gespan is…
Marieta en haar twee het die liggaampie in hul karretjie gelaai en Brits hospitaal toe gejaag.
Maar my maatjie het geweet. Haar kind is dood.

Amper sestien jaar ou, begrawe hulle haar ñ paar dae later.
“Vertel my. Ek wil weet.”
Marieta kuier verlede Saterdagmiddag by my. Agt en ñ half jaar later. Deur al hierdie tussen-in tyd was ons klompie daar vir mekaar. Onlosmaaklik deel van mekaar se lewens.
En ek besef na sy die woorde uiter, nou eers, nou eers is sy reg om verder te hoor. Tot nou toe moes sy net probeer leef met háár deel van die onthou.
“Jy weet ons kon nie terugkom nie. Die groep was afhanklik van mekaar se voertuie. Maar jy weet ook ek was daar, by jou, saam met jou.
Ek en Bertus was stukkend, Mariet. Ons het soos twee slaapwandelaars opgetree. Meeste mense in ons groep het jou ook geken, so hulle het verstaan. En geweet dat iets gedoen sal moet word om my en Bertus te help ‘loop’.
So op Kersdag, met laagwater, het ons ñ sirkel gevorm en hande vasgehou. ñ Kransie van veldblomme gevleg en nadat ons ons eie woorde vir God gegee het, het ons haar kransie in die water neergelê.
En gestaan en kyk hoe die see dit meevoer. Wegvat.
Ek en Bertus is twee weke later terug na ñ verlate Lodge toe. Ons krag is vir langer as ñ maand afgeskakel sodat die nadoodse ondersoek voltooi kon word.
Niks was daarna ooit weer dieselfde nie.
Ons moes die bespreekte gaste se gelde terugbetaal.
Bertus het alle belangstelling in sy beroep as spanboukundige met ñ bedryfsielkunde agtergrond, verloor. Hy het die Lodge toegemaak en vir langer as ñ jaar net getreur. Geen inkomste gegenereer nie. Elke dag opgestaan, sy Bybel gevat en gaan lees.
In April 2009 het hy sy eie staptog van Umhlanga tot by Greytown aangepak. 137km. Voor dit was hy deel van ñ geborgde staptog deur Swaziland tot in Durban. Suid-Afrika, draai terug na God. 600km.
In Durban aangekom het hy die groep gegroet, ñ rugsak gepak en alleen deur The Valley of a Thousand Hills begin loop. Tot by oom Angus se byeenkoms. Een van die heel gevaarlikste roetes in Natal. Sy missie: as ek lewendig anderkant uitkom, dan is dit wat God wil hê. Want self wil ek nie meer aangaan nie.
Vandag praat hy van sy selfdood tog.
Hy het dit gemaak. Snags het swart mense hom in hul huise ingeneem. Hierdie semi-verwaarloosde blonde man wat na oom Angus toe stap.
Jy kan Bertus gerus eendag vra oor sy getuienis, Marieta. Want hy het een. God het tree vir tree saam met hom beweeg, en Homself aan Bertus geopenbaar.
Maar ek weet nou wil jy eers hoor wat ek kan vertel.
Die bank het ons Lodge teruggeneem. Vandag nog sit ons met miljoene rande se skuld, en betaal steeds maandeliks terug. Nog ñ getuienis op sigself; dat ons nooit gelikwideer is nie.
So my vriendin, jy wou weet. Ek verstaan. Ek verstaan dat dit nodig is om te hoor wat se effek jou kind se dood in ander se lewens gehad het. Nie omdat dit jou laat beter voel nie. Nee. Dit weet ek ook.”
“Net omdat.”
As ñ mede blogger hier onder ons, kom ek agter, help haar skryf ook baie ander. Sy het ñ pad om te deel.
Hierdie Woestynkind mensie van ons.
Sy het mamma alleen die kinders grootgemaak. Vandag is Trudie en Christopher twee suksesvolle jongmense. Trudie was hoofmeisie in Hartbeespoort Hoërskool, nou besig met haar studie in Ingeneurswese. Christopher is betrokke in ñ sportberoep. Albei kinders is ywerige musiekante in die kerk.
Annette sou die 25ste vier en twintig jaar oud geword het.
Hierdie is altyd ñ baie hartseer maand vir jou, Marieta. ñ Leë maand.
Maar God is by jou. Hy sien, Hy weet.
Met my hele hart gun ek jou jou hartsbegeertes. Daardie drome wat jy in ñ vorige blog-skrywe sê jy nou maar wegpak.
God het hulle in jou geplaas, hulle oor jou gedroom.
En elke keer as jy effens jou arms wil laat sak, sal ons weer inkom en hulle in die lug help hou.
Want dit is wat hartsvriende vir mekaar doen.
xxxx
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.