
Hierdie storie het ñ begin en ñ einde. Maar ook ñ tussen-in. Dis ñ Suid-Afrikaanse storie, oor ñ skrywer/bouer pappa en ñ huisvrou mamma, met hul twee kinders.
Soos almal weet, Bertus is my manlief. Carien is my skoonsus, my kleinsus. Ek skryf hierdie vir hulle twee, want hul verhaal is nooit ‘opgelos’ nie. Dis ñ storie wat vertel moet word, want dit is een vol wreedheid, hartseer. Maar meer; vol vergifnis en aanbeweeg.

My skoonouers, Koot en Eileen Steenkamp, het in 1996 Harties toe verhuis en by ons op ons Bali Lodge kom huis bou. Vol verwagting na ñ welverdiende aftrede.
Die aand oppad na skoonpa se werksdinee, sy afskeidsfunksie op sestig, kry hulle ñ pap wiel. Twee manne kom aangestap om te help. Na die band omgeruil is, vra die een by skoonma se venster kosgeld, en met die aangee van die geldjies, skiet hy haar. Skoonpa was reeds in die motor, besig om aan te skakel. Sonder om te weet dat sy getref is, jaag hy weg.
En hoor in die ry dat sy vrou prewel…Boksie, ek is geskiet…
Hy jaag met haar Brits Medi Kliniek toe.
So begin twee pragtige mense hul aftrede. Ma permanent verlam.

Ons klompie moes ons “new normal” maar uitwerk. Met hul huis so twintig tree van ons s’n af, het die lewe voortgegaan. Goeie tye, baie. Baie baie kuiers, want die Steenkamps is voor die voet almal mense mense.
Blakend gesonde skoonpa se hart kry letterlik ñ knou van die skok, en sy niere ‘pak-op’. Tussen die twee van hulle raak ons klomp bekend met Eugene Marais en Jakaranda hospitale, met skoonpa ñ volskaalse dialise pasiënt.

Pa Koot sterf in Januarie 2004, Ma Eileen twee jaar later. Albei op die ouderdom van sewentig.
(Bertus, Carien en die twee kleinseuns Neil en Lotz.)
Die saak is nooit opgelos nie; die polisie het die lêer verloor…
Maar, en hierdie is ñ groot ‘maar’. Daar was nooit haat en nydigheid nie, nooit het enige rassisme of bitterheid sy kop uitgesteek nie. Hierdie twee dierbare mense het by die voete van hul God bly sit. Met hul kinderlike geloof vasgeanker in Hom. ñ Absolute voorbeeld van vergifnis vir ons almal.
Hulle het twee wonderlike kinders agtergelaat, en twee pragtige kleinseuns. Elke persoon met wie Koot en Eileen in aanraking gekom het, het weggestap as ñ ryker mens. Hul harte was oop vir almal.

Daarom dat ek hul verhaal vandag hier kom vasskryf. Vir die mense wat hulle was, en die gebeure wat hulle moes trotseer.
Maar hierdie is ook ñ groot deel van my manlief se lewensstorie, van sus Carien se geskiedenis. Onlosmaaklik deel van my, die drie dogters en die twee seuns se lewens.
So my liefste skoonma en skoonpa, daar waar julle twee nou by al jul boeties en sussies, en by jul Almagtige Vader is,
…ons sal altyd met ñ diepe liefde en eerbied aan julle terug dink.

Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.