Kleure.

(skildery:Google Images)1d54f321dceecd432a2a194e29891f75

Prentjies en kleur speel ñ groot rol in my lewe. Ek luister wat jy sê, ek lees wat jy skryf, en geleidelik neem jou skildery vir my vorm aan. Soms, namate ek jou beter leer ken, sal ek dalk aan ñ skakering gaan verander. Net subtiel.

Ek koester my prentjies; ek bewaar en versorg hulle.

Maar.

Daar staan wel ń paar ‘omgedraaide’ skilderye uit my verlede rond. Eenkant, weggepak, teenmekaar. In hulle stel ek net nie meer belang nie, of liewer, ‘hulle het ek besluit om uit te verf.’

Vandag, na ń swart pastoor se getuienis in die klein Kosmos kerkie, het ek dit uitgehaal en weggegee. Vir Die Een wat wag.

Nou is daar weer nuwe ruimte in my ateljee. Nuwe lig.

En voel ek veilig en vry.

Man-hoekies…of hoeke?

wp-1497625712920.jpg

Manne het hul hoeke nodig.

Siende dat ek amper sestig is, het ek besluit van nou af gaan my ‘sê’ sterker deurkom. Ek verdien dit! As ek in die spieël kyk, is dit ñ feit.

So hier begin ons.

Bertus hou van ñ kroeg…alhoewel hy nie eers vreeslik drink nie. ñ Castle Light, en hy is tevrede. Enige iets sterkers gee hom erge hoofpyn, en hy haat ñ hoofpyn.

Hier by ons het hy sy eie, eie drie x kuierplekke. Eerstens, op die boonste stoep. Enige man wil ñ bier kan drink terwyl hy die viswaters dophou. Of hy nou van dam-vis hou of nie. Mens moet die ouens op hul bote ‘uit-check’. Want jy mag.

wp-1497625735715.jpg

Nommer twee man-hoek is naby die kombuis. En langs die hysbak…vir ingeval die Castle-Light in die son gestaan en gis het. Dan kan die man-mens inklim, ñ knoppie druk, en in die slaapkamer opeindig.

wp-1497625748673.jpg

Derde man-plek is onder by die lapa. Kan nie in wintertyd gebruik word nie, so ek plaas huidiglik nie ñ foto nie. Dis te flippen koud om nou af te gaan en te gaan afneem. Hier is waar die GROOT kuiers plaasvind. Soos as beide seuns en drie skoonseuns gelyktydig opdaag vir samesprekinge…of gewoon net Brandewyn- kuiers. Met Bertus as die “designated” hysbak bestuurder…want hy verdra mos nou nie ñ hoofpyn nie.

selfoon-fotos-203

Fout.

Synde dat ons langs die dam bly, is daar ñ kuier-boot ook betrokke. Huidiglik nie in gebruik nie, want die hiasinte het ons oorgeneem.

So wat is my punt hier.

As ñ ouer vrou, is hierdie my bydrae tot huweliksgeluk.

Gun hom sy “man-cave”, sy man-plek; hy vra eintlik nie so baie nie.

In elk geval nie so baie soos ons nie.

Ps. As ekwivalent van die man-hoek, is vir my ñ naaldwerk kamer ingerig…??? En my masjiene is gediens. So wat om nou hiermee te doen. Is dit net dalk ñ skimp?

“On second thoughts.”

“Skip” die man-hoek gedagte. Dit beteken niks.

wp-1497628775301.jpg

 

 

Die Woord in my hart.

ñ Pragtige mede blokker vra my ñ vraag…Of my hart nie breek vir die mense wat Jesus nie ken nie? Met my wat soveel jare reeds in Indonesië besigheid doen, neem ek aan, is die onderliggende vraag dalk: Una, lei jy darem mense na ons Here toe? Want wat gaan van hulle word!

In 2004, toe ek en ons oudste meisiekind vir die eerste keer ons voete in Indonesië gesit het, hierdie radikale Moslem land, was ek goed skrikkerig. My paspoort sê ek is ñ Christen. As daar opstande uitbreek, wat gaan met ons gebeur?

Want ek vlieg nie net heerlik Bali toe nie. Dis eers Jakarta, Indo se hoofstad, waar alle vroulike personeel op die oorweldigende groot lughawe geklee is in tradisionele Moslem klere. Inteendeel, omtrent almal om jou, en ons praat van letterlik duisende mense wat rondloop, rondstaan, rondlê, het so ñ ‘onverbiddelike’ uitdrukking op hul gesigte.

JY IS ñ WESTERLING!!!

Van hier af vlieg ek met die ‘berugte’ Indonesiese vliegtuie Semarang toe. Daar kry Sulis my. ñ Paar uur later kom ons by een van die bestemmings uit. Radikale Moslem dorp. En ek sê een, want afhangende van wat op my meubel-bestellys is, is daar ook Solo, Yogjakarta en Cirebon wat besoek moet word. Al hoe dieper die binneland in. Ure en ure se reis in alle rigtings.

So. As daar opstande uitbreek? As die Radikale besluit Westerlinge moet uitgemoor word??

Weet ek. Sonder om twee keer te dink. Sulis, Tofic en hul gesin, mister Meganingrat en sy gesin, sal my met hul lewens beskerm. Ongeag.

Hoekom?

Ek glo in God die Vader, in Jesus Christus, Sy Enig gebore Seun, en in die Heilige Gees. Hulle is by my, in my, om my. Ek preek nie op straathoeke nie. Ek ‘leef’ Hulle. My mense daar weet wie ek is. Ons bid soms saam, hulle vir Allah, Ek vir my God. Ek respekteer hul Ramadan; hulle stuur vir my Kersfeeskaartjies. Ek is nie bang vir hulle god nie. Want ek weet wie is myne.

Probeer ek hulle bekeer? Haal ek my Bybel uit en wys hul op hul foute?

NEE.

Maar ek ‘leef my God’. En ek weet dat die paar mense wat my Jesus op my pad gebring het, Hom in my oë sien. Hom in my hart aanvoel. Hom op my tong hoor as ek voor hulle bid. As ek voor hulle uitmekaar val omdat my jongste meisiekind vyf weke te vroeg in kraam gaan. Omdat ek na Hom uitroep as my kleinkind in asemnood verkeer, en ek nie daar is nie. Omdat ek saggies na Hom roep as die kinders tuis mekaar se harte breek.

Omdat ek opbreek as ek gebel word en moet hoor my kleinboet het selfmoord gepleeg.

Hulle is op my Facebook. Ek skryf oor hulle. Ek praat van hulle. Ek bid vir hulle.

Nie omdat èk die beter mens is nie.

Maar omdat hulle MY mense is.

Deur my optrede ‘beleef’ hulle Jesus. Soos ons Bybel sê, almal sal van Hom weet voor hul hul laaste asem uitblaas.

En dan bly dit hul keuse.

 

Opgespoor!

wp-1497527426829.jpg

Sowaar loop ek hom toe raak; mý skildery. Na veertien jaar se Bali-rondswerf.

Wayan moes my die oggend vroeg-vroeg kom oplaai. Sukawati se kunsmark is nié jou speelmaat nie. Dit vra kophou, en meestal ore toedruk.

Dit lawaai, gons sonder ophou om jou kop. Voetgangers, motors, motorfietse, trokkies, bussies, taxis. Honde, katte, en af en toe ñ blitsvinnige reuse rot. Alles en almal probeer tegelykertyd jou oorhaal om hul ware te koop. Natuurlik ook in hul taal. So jou oor is ingestel vir net een ding…die bedrag. Selfs dít klink onherkenbaar, dus werk jou optelmasjientjie oortyd: “Show me…”

In hierdie chaos wil mevrou nou ñ ‘binne-stilte en mediteer-plek’ vind om te kan dink en besluit.

wp-1497527492931.jpg

Albei hierdie ‘Una se keuses’ is dáár voor my oë eers klaar geverf. Dit was die soek en vasbyt werd. Agter in ñ piepklein plekkie, weggesteek, het die verkoops ou hulle gaan opdiep. My een kyk gegee en geweet wat ek wil hê.

Ek moes myself op ñ lendelam stoel tuismaak terwyl hy die laaste paar kwistige hale gee.

In die laat negentien vyftigs het ñ jong Hollandse skilder ñ kunsrevolusie in Bali ontketen. Hy het verf en skilderdoeke vrylik onder die jonges uitgedeel, en hulle aangemoedig om met kleur te begin speel. Sterk, maar eenvoudig.

Met dít in gedagte, het ek my hart verloor op die twee ‘eg Bali prentjies’. Vroeër jare sou ek sowaar nie die moed gehad het om tekeninge van ñ vreemde kultuur in ons huis op te hang nie. Veertien jaar later, en ampertjies sewe-en-vyftig jaar oud, is my glimlag baie breed.

Kom julle drie, julle is baie welkom in my wêreld!  

 

Die plasenta.

(fotos:Google Images)14

Ek wonder soms oor hierdie liefde wat ek vir ñ klein, onbenullige eiland in die middel van nêrens het. Terwyl Hy my gevorm het, het die Here dalk geglimlag en toe hierdie ‘ietsie’ in my geplaas?

Hy moes toè al geweet het dat ek ñ onblusbare hunkering na dié plek gaan ervaar.

tham-lod-cave-thailand

Daar is net nooit genoeg dae om oral heen te gaan nie. Nie genoeg ure om in te neem en te ‘voel’ nie.

file

Glimlag God as Hy sien hoe ek voluit ervaar en verwerk terwyl ek daar is? Hy het met soveel aandag hierdie eiland ontwerp en beplan. Het Hy my toe al ‘in die oog’ gehad?

Vir die Bali-mense is ñ nuwe baba se nageboorte van die uiterste belang. Vir hulle is die plasenta die fisiese liggaam van die kind se “guardian angel”. Na die geboorte mag net die pa en die dokter die plasenta vashou. Dit word gewas en op ñ baie spesifieke plek by die nuweling se ouerhuis begrawe. Saam met dit plaas hulle items soos ñ kam, ñ dans-waaiertjie, ñ pen, ñ boek, of iets wat die ouerpaar wil hê hul kind moet ñ liefde voor ontwikkel, ook in die gat.

As Balinees wil jy nooit vér van jou nageboorte af wees nie. Daarom ook dat Bali kinders altyd terugkom huis toe. Hulle toer bitter min na ander lande, want dit is noodsaaklik om naby jou engel te bly.

Mý Jesus is altyd by my. Heilige Gees is in my, saam met my. Ek mag maar die vryheid as God se kind ervaar, en regoor die aarde beweeg. Ek gaan ook nooit weg van my beskerming af nie.

Ek ‘begrawe’ Hom nooit nie.

Dis lekker om Sy kind te wees. Om te weet wie ek is in Hom.

karang_dawa_nusa_penida_bali

En nooit te hoef te twyfel oor Sy nabyheid nie.

 

 

 

 

 

 

Ek salueer die jonges.

painel-castelo-g-frete-gratis-festa-de-crianca

Ek het ñ baie groot waardering vir die jong mammas en pappas van vandag.

Kleinste lief boetie en sussie verjaar so twaalf dae uit mekaar uit, en vandag was hul gesamentlike partytjie. Een is ñ jaar oud, die ander vier jaar oud.

Agtien jong ouer pare met elk twee kinders bymekaar. Net ñ handjievol van ons ouer garde. Tussen al die sing en kersies doodblaas deur, loop ek met die kamera rond en probeer hoogtepunte vasvang. Daarby saam hoor ek stukkies van gesprekke.

Hulle probeer werklik almal hard. Tussen werksverpligtinge en mamma en pappa wees deur, raak hulle sowaar ook by gemeenskaps projekte betrokke. En dan is daar ook die geselsies rondom hul geloof wat ek optel. Vir my as ñ ouma wel die trots in my hart op. Hierdie jongklomp probeer regtig hard.

Die laat twintigs tot dertigs is ñ moeilike tydperk vir die oorgrote meerderheid van ons. Sommige het dan reeds foute begaan; huwelike wat nie gehou het nie. Drome wat nie realiseer nie. En tog, daar is ñ wilskrag onder hulle. Om harder te probeer, om hulp te vra en te aanvaar.

Ek ken hul gesiggies; ek ken hul families. Meeste was saam met ons dogters op skool. Ek moet kort-kort aan die knop in my keel sluk as ek ñ volgende persoon deur die lens raaksien. Kollektief is hier ñ klomp hartseer reeds geleef. Ouers wat vroeg dood is, selfs ñ bloedjong eggenoot wat aan malaria gesterf het.

Ek verkyk my aan die behendige pappas wat doeke omruil, neusies afvee, feëtjie rokkies regtrek. Die mammas wat so op die maatjies ook fokus; seker maak dat almal lag en hulself geniet.

Hierdie is my generasie se volwasse kinders, en ten spyte van foute wat ons begaan het uit onkunde, is elkeen in sy eie reg ñ sukses verhaal.

Nie oor wat hy vermag het nie, maar oor die struikelblokke wat hy moes trotseer; die ‘jong’ lewenskennis wat sy moes toepas om te bly groei.

As ek kon, sou ek voor vandag se groepie gaan staan, en namens ons as ouers ons nederigheid wou ‘uitspreek.’

Nederigheid omdat ons in ons menslikheid net met God se hulp so ñ groepie lieflike jonges kon help grootmaak.

Giraffe-small-cub-parental-love-animals-of-Africa-HD-Wallpaper-2880x1800-1920x1080

 

 

Vir Bertus en Carien.

IMG-20170528-WA0021 (1)

Hierdie storie het ñ begin en ñ einde. Maar ook ñ tussen-in. Dis ñ Suid-Afrikaanse storie, oor ñ skrywer/bouer pappa en ñ huisvrou mamma, met hul twee kinders.

Soos almal weet, Bertus is my manlief. Carien is my skoonsus, my kleinsus. Ek skryf hierdie vir hulle twee, want hul verhaal is nooit ‘opgelos’ nie. Dis ñ storie wat vertel moet word, want dit is een vol wreedheid, hartseer. Maar meer; vol vergifnis en aanbeweeg.

IMG-20170528-WA0013

My skoonouers, Koot en Eileen Steenkamp, het in 1996 Harties toe verhuis en by ons op ons Bali Lodge kom huis bou. Vol verwagting na ñ welverdiende aftrede.

Die aand oppad na skoonpa se werksdinee, sy afskeidsfunksie op sestig, kry hulle ñ pap wiel. Twee manne kom aangestap om te help. Na die band omgeruil is, vra die een by skoonma se venster kosgeld, en met die aangee van die geldjies, skiet hy haar. Skoonpa was reeds in die motor, besig om aan te skakel. Sonder om te weet dat sy getref is, jaag hy weg.

En hoor in die ry dat sy vrou prewel…Boksie, ek is geskiet…

Hy jaag met haar Brits Medi Kliniek toe.

So begin twee pragtige mense hul aftrede. Ma permanent verlam.

IMG-20170528-WA0055

Ons klompie moes ons “new normal” maar uitwerk. Met hul huis so twintig tree van ons s’n af, het die lewe voortgegaan. Goeie tye, baie. Baie baie kuiers, want die Steenkamps is voor die voet almal mense mense.

Blakend gesonde skoonpa se hart kry letterlik ñ knou van die skok, en sy niere ‘pak-op’. Tussen die twee van hulle raak ons klomp bekend met Eugene Marais en Jakaranda hospitale, met skoonpa ñ volskaalse dialise pasiënt.

IMG-20170528-WA0038

Pa Koot sterf in Januarie 2004, Ma Eileen twee jaar later. Albei op die ouderdom van sewentig.

IMG-20170528-WA0018 (Bertus, Carien en die twee kleinseuns Neil en Lotz.)

Die saak is nooit opgelos nie; die polisie het die lêer verloor…

Maar, en hierdie is ñ groot ‘maar’. Daar was nooit haat en nydigheid nie, nooit het enige rassisme of bitterheid sy kop uitgesteek nie. Hierdie twee dierbare mense het by die voete van hul God bly sit. Met hul kinderlike geloof vasgeanker in Hom. ñ Absolute voorbeeld van vergifnis vir ons almal.

Hulle het twee wonderlike kinders agtergelaat, en twee pragtige kleinseuns. Elke persoon met wie Koot en Eileen in aanraking gekom het, het weggestap as ñ ryker mens. Hul harte was oop vir almal.

IMG-20170528-WA0012

Daarom dat ek hul verhaal vandag hier kom vasskryf. Vir die mense wat hulle was, en die gebeure wat hulle moes trotseer.

Maar hierdie is ook ñ groot deel van my manlief se lewensstorie, van sus Carien se geskiedenis. Onlosmaaklik deel van my, die drie dogters en die twee seuns se lewens.

So my liefste skoonma en skoonpa, daar waar julle twee nou by al jul boeties en sussies, en by jul Almagtige Vader is,

…ons sal altyd met ñ diepe liefde en eerbied aan julle terug dink.

wp-1496945435336.jpg

 

Mý maskerdag.

(fotos:Google Images)Masquerade-Feather-Sexy-font-b-Venetian-b-font-font-b-Mask-b-font-Women-For-Face

Normaalweg hou ek nie van maskers nie. Maar vandag wil ek met een rondloop. Ook nie net sommer hier anderkant by die Mall nie. Nee, met my masker op is ek terug in Venesië.

3937_venice

Gelukkig is hierdie mý blok, so ek kan wees net wie ek wil, en stap net waar ek wil.

ñ Masker-dag begin gewoonlik heel normaal. Soos om op te staan en werk toe te ry. Te vergeet van die hobbel om die draai naby die Slangpark, en dan ñ goeie ‘kopstamp’ te ervaar.

Niks baie vreemd nie, met ander woorde. Of ñ sekere liedjie oor die radio, ñ sekere sin wat die omroeper uiter. ñ Masker-dag daag net op.

So nou sit ek op my geliefkooste stoepie van die klein restaurantjie in Venesië.

Verby die afdraai werk toe gery, op ñ vliegtuig geklim, en hier is ek.

Gaan bietjie later rondstap, ñ glasie wyn op die plein drink. Deur die Basilica San Marco drentel. Vir my die mooiste gebou ter wêreld.

Daarna eers ñ nuwe masker opsit, een wat by my serpie pas.

red_black_masquerade_masks_smok0532_2

Venesië is klein, een dag en jy het redelik alles gesien. Net gesien, nog nie gevoel nie. Dit is ñ ‘voel’ plek. Nie regtig ñ werklike plek nie. En eens jy nie hier was nie, weet jy niks.

Hier kyk jy net, en dink nie. Jou kop en oë raak vol kunswerke in die vorm van geboue. Daarom is dit reg om ñ masker te dra, want dit voel soos ñ speel-speel plek.

Maar Venesië is werklik.

Net soos my maskerdag.

Wayan, hou verby…

(fotos:Google Images)105f06e9f91f2a8ba172e80fcbab7d7d

“I need to get to the mountains.”

Wyan gaan hierdie keer nie in Ubud afdraai nie. Nee, ons gaan verby hou, verby Tegalalang, en dan die pad berg-op vat.

1b165f4a72dada7ad8e277f2f10a435f

Deur die dorpies wat al hoe verder van mekaar af opduik. Daar waar toeriste nie meer kom rondstap nie; waar die allerdaagse lewe net rustig voortgaan.

Sekerlik stop vir fotos, veral die rysland prentjies teen die heuwels is iets wat jy nooit vergeet nie.

“I need to get to the mountains.” Ek en Bertus is albei see-mense, dammense, maar deesdae het ek ñ ‘verlang’ hier in my binnekant. Om of in die woestyn te gaan sit, vir ñ lang ruk; sommer daar iewers te oornag. Of om boontoe te beur, na waar jy afkyk na die wolke.

Gelukkig kan ek aankope met berge kombineer…alles is moontlik op ñ eiland. Bedags die werksbaadjie aantrek, en vroegmiddag terugkeer na ñ oerwoud leefstyl.

Tree-Spa-Resort

Ek gaan my dalk nie vasloop in Mowgli en Baloo nie…miskien vir Kaa…, maar die proe en ruik van ñ ouwêreldse wildernis ís nog moontlik.

Ja, hierdie keer gaan Wyan verby hou. En gaan ek met my stapskoene ‘op stap’.

Tot so hoog as wat ek kan.

Hoekom is ons so bang vir mekaar?

(fotos:Google Images)mas-village-ydc-bali-tour6

O, ek ken die antwoord. Ek is self ook bang vir jou.

Want ek het al baie seergekry.

Maar. Neem ek ñ tree terug; baie treë, dan sien ek jou dalk anders raak. Jou omgewing; jou wêreld.

Ek hoef seker nie. Ek kan my rug op jou keer en wegstap, besluit dat jy nie die ‘probeer’ werd is nie.

So die keuse lê by my. Die besluit om jou ñ kans te gee.

Nog ñ kans, dit is myne. Jy het my seergemaak; jy het ñ stukkie van my binnemens afgebreek.

Is jy nou ‘die wenner?’ Wie neem die besluit?

nuca95

Naaktheid is vir meeste van ons “scary”. Jy is blootgestel aan kritiek. Hoe ons van buite lyk, neem ons aan, beinvloed ander se opvatting van ons.

Is ek ernstig oorgewig, gaan ander dink ek het nie deursettings vermoë nie. Lyk ek nie té gelukkig met die lewe nie, gaan ander op my neerkyk. Is ek ñ mislukking.

So nee. Bly weg uit my lewe uit.

Jy gaan my net seermaak. En voor jy dit doen, draai ek weg.

images (5)

Ons hét ander nodig. Iemand wat ook kan luister, maar wat dalk anders as ek hoor. Wat my kan aanmoedig, raad gee, reg help. Dalk iemand soos ek, dalk iemand ‘van ñ ander spesie’. Steeds, iemand tasbaars.

Ek is bang vir jou, ja. Vir jou vlymskerp tong. Vir jou agterdog en jou bagasie en jou siening. Ek is bang vir jou jare van seerkry en ‘hard raak.’

Maar ek kies. Want ek wil.

Kan ek my trui oor jou naaktheid gooi?

 

 

 

 

 

 

 

Bly net beweeg…

(fotos:Google Images)christensen_treadlightly

Ek kan nie anders as om maar net vir myself te lag nie. Eers kerm ek omdat my voorraad so lank neem om by die winkel aan te kom, nou kry ek alweer nie al die ‘balle in die lug gehou nie.’ My naels breek, my lyf bly beswaar maak: ‘Kan ons net bietjie stilsit, asseblief.’

O nee. Beweeg moet ons bly beweeg. “I was born to do this”. Weet nie of daar so ñ liedjie is nie, maar presies nou, op hierdie stadium van die jaar, is ek in my element.

Al wil lyf nie heeltemal byhou nie.

Soms maak dit my bang, hierdie totale ‘in die wolke’ gevoel. Ek skuif hier, ek dra daar. Ek verf vinnig ñ merkie toe, ek plak ñ prys op. Dan…alleen, sit ek ñ uitgekerfde houtbed aanmekaar. Skroewe, als. En ek ‘purr’ soos ñ kat terwyl my beendere kreun en steun. Ek gee olie, hang skilderye op, skakel kliënte, loer vinnig op WordPress. “Like” my blok vrinne. Maak notas in die kop wanneer om by wie te gaan lees…en trek dan weer weg.

Haal wel asem tussendeur.

Siek manlief by die huis. ñ Dogter in die hospitaal.

My stoel, DIE stoel, in my winkel hoekie, is tans toegepak. So ek kan nie ñ oomblik “time out” nie…wil ook nie. Tussen my eende en katte wat welkom geheet moet word, deur. En die muskietnette wat gehang moet word, plus gekleurde “geccos” wat dreig om met hul skreeu geluide te begin, dans ek ñ dansie wat ñ Oscar verdien.

En dan saans, as ek onder die duvet inglip, gaan haal ek my ‘onthoue’ daar vér in Bali.

Dankie Here, vir die voorreg. Dankie vir my passie.

En dankie dat U my met my Bali wêreld vertrou.

transitional-paintings

 

As jou hart gesteel word…

wp-1495882460961.jpg

Dis dan dat jy kniediep in die moeilikheid land. Jou inhibisies val kaplaks op die grond.

Jy ontdek nuwe geluide wat jou stembande kan aanvang, op enige gegewe tyd. Jy sien vreemde voorwerpe raak en gee lewe en kleur daaraan.

ñ Perd kry sy eie grootse persoonlikheid, en die klein donkie agter hom praat mensetaal!

Die liggies in ñ paar donker ogies steek jou lafheid aan die brand. Werklik, jy is verlore. Selfs tussen ñ skare mense van jou eie dorp; (met ander woorde, ALMAL ken jou); op die kleuterskool atletiekbaan, raak jy ñ nar! Jy betree die arena met ñ vreesloosheid net sodat een klein aspatat vir jou bly kyk. Als net sodat die liggies nóg helderder kan skyn, die giggel spoeg-spoeg tot ñ skater lei.

Jou ‘perke’ verdwyn. Kortasem en blasend dans jy om ñ stootwaentjie rond, gee nie ñ duit om dat jy jou waardigheid verloor nie, en besef dan dat dit waarin jy verander vir jou heerlik is! Bevrydend. Grensloos.

Ja, dis moeilikheid soek as jy jou hart verloor.

Want nooit ooit kry jy hom weer terug nie.

wp-1495884956433.jpg

 

 

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg