ñ Kleinkind-pakkie.

Ek is nie regtig ñ dromer nie. Nie oor die lewe nie. Selfs op troues sal daar ñ oomblik van wonder in my gedagtes insluip. Werk dit nog..?

In my wêreld is daar bitter min huwelike wat kon byhou. Baie meer paaie het geskei, letterlik en figuurlik. Mense het aanbeweeg, in verskillende rigtings. Ek het ietwat sinies in my binnekant geraak. Teen dinge vasgekyk.

Tot ñ pakkie in my arms afgelewer is. Die eerste van ses.

Nadia_3

Saggies het die seer van die lewe begin wegvloei. Het nuwe liggies in my oë begin skyn.

Soos wat maande in jare begin oorgaan, kom nuwe drome uit kleine pruil mondjies na my toe aangehardloop. En keer kan ek nie. Myself meer beskerm deur nie veel te verwag nie, raak ñ onmoontlikheid.

Daar het ñ nuwe aanslag opgedaag. Die groei wat klein lyfies in my wêreld kom inlag. En inhuil.

Keuses is weg. Ek moet van vooraf droom. Droom oor ñ lewe wat plek het vir ses engel-mensies; ek moet glo dat ons Vader net die beste gedagtes oor en vir hulle gedink het, terwyl Hy besig was om te vorm. Daar is nie meer plek vir negatiwiteit in my denke nie, want dit word gevul deur kleinkind drome.

En oumie kan nie anders nie. Sy weet weer daar is ñ plek vir gelukkige tieners, gesonde jong mense, goeie verhoudings.

Sy weet.

Want sy kan weer droom.

 

 

En wat daarvan…ek het stokkies gedraai!

Jy lees reg, ek het opgestaan, mooi aangetrek, werk toe gery…en teruggekom. Wel ok, oppad terug het ek by DIE MALL gestop en goedjies gaan koop. Soos in mooimaak dinge vir ons buitenste gastekamer. Baie goedjies. Mmm. Dit val defnitief glad nie binne hierdie maand se “budget” nie. Maar ek het.

En dit was lekker.

Vinnig in ‘verf klere’ ingespring, en die gaste badkamer ‘ge-tekkel’. My woord.

Ons trek nou by half-elf vanoggend. Hier kom die skok.

Ja, ek is toe nie volmaak nie, ek weet dit lankal.

En ek is SO ok daarmee. My Marinda maatjie op die oomblik daar in Sjina, ek mis jou.

Ek besluit toe, witwyn, hier gaan ons. Baie ys.

Manlief het ñ JBL ding by sus present gekry…dit lyk soos ñ klein ‘alien-skippie’ ding. Jy sit hom aan, vat jou selfoon, en sowaar! Hulle praat met mekaar, en jy luister jou musiek! Kliphard. Net so hard soos jy lus het! En met dié dat Huishulp nie op ñ Dinsdag werk nie, is ek ALLEEN. Net ek met my eie TOP TIEN liedjies.

SO HARD AS WAT EK WIL.

Terug na die witwyn. Elf uur op ñ Dinsdag oggend. Die res van julle moet werk, en ek hou my eie, eie verf/badkamer mooimaak/ asemhaal “party”.

Hoop ek skok iemand.

1273ed752f6256821967324bba2f1d6d

Ek is glad nie volmaak nie. Ook glad nie een van die slimmes nie, Natasja.☺

Op die maat van MY musiek, het ek geverf. En spykers ingeslaan, en goedjies gehang. En gewyn.

Wat ñ heerlike “party”. Ek beveel dit vir alle mense bo vyf-en-vyftig aan. Want jy het bitter baie onthoue agter die rug. Mense in jou wêreld is al dood. Van natuurlike omstandighede. Flip, dit sê baie.

Daarom die witwyn. Jy kan NIE stokkies draai, jok oor hoekom jy jou winkel nie oopmaak nie, die straat tot stilstand bring met jou klipharde musiek, jou HELE gastekamer ronddans op JOU musiek, verlang na jou vriendin in die Kaap (Hannelie) en in Amerika(Edelgardt) en in Pretoria-Noord (Estelle en Riëtte), en my ander kleinsus Annerie nie, en dan jou man bel en sê ‘net dalk moet hy huis toe kom vir ñ sterk koppie koffie nie;’ sonder om  iets uit die wingerd ‘te neem’ nie. En let wel, ek is ñ rooiwyn drinker.

wp-1494337549944.jpg

Ek het hard gewerk. En hard ‘gespeel’. Op my eie. Sonder om enige reëls te verbreek.

Enige een wat hier lees, was so baie welkom om my te kom ‘join’. Ons het almal ñ wegbreek/uitbreek nodig.

Want ons is ‘net ons’.

 

 

 

My blok mense.

c421223772c8754eb47405205f12a1a6

Ek het ñ kamer in my hart. ñ Kleurvolle kamer gevul met ‘gedagtes sonder gesigte.’

Die patrone verskil. Die vorms is elkeen anders as die ander. Elk met ñ anderste naam; daaraan is my ‘weet’ gekoppel.

Ek koester my kamer. Soggens vat ek die sleutel, vroeg, en sluit oop. Laat die vars oggend lug inkom en volmaak. Die vars nuwe daglig op elke ‘gedagte’ skyn.

Niks hier binne is net ‘terloops’ nie. Daar was beplanning sonder aanwysings. Alles het sy plek.

My kamer.

Ek nooi nie sommer ANDER in nie. Want ANDER sal nie weet nie. Sal nie kan hoor sonder baie woorde en baie woorde nie. En steeds nie reg sien nie.

My kamer en my ‘gedagtes sonder gesigte’ kan ek nie oor sê nie. Want die sê is tussen my en hulle.

En so sal dit bly. Want hulle is kosbaar.

Vir my.

 

Ouma, ons is uitverkoop!

wp-1493974726502.jpg

Ag ek weet, hierdie is nou defnitief ñ ouma wat spog. En ja, ja, dalk is dinge bietjie onregverdig, want wat van die kindertjies wat nie winkel-oumas het nie.

Dit is so, baie kinders het nie geld om speelgoed te koop nie, hoe moet hulle nou voel.

Tog, ten spyte van enige kommentaar…

My hart jubel van blyheid. Nathan se winkeltjie het vanoggend by die skool binne minute uitverkoop! Ouma se baie, baie ‘cool’ agtjarige seuntjie-kind.

Sien…

Hy is MY kleinseun, het die eerste drie jaar van sy lewe by sy ouma in die winkel groot geword. ñ Winkel baba. Op amper drie het hy sy eie verkoopshoekie gehad. Ouma het wel die kliënte ‘omgekoop’ om by hom te koop,☺, maar die mannetjie het baie belangrik gevoel.

Wat ouma deesdae doen, is om ñ tas vol klein ‘goedjies’ in Bali aan te koop, vir die entrepreneurs-tafels. Kyk, daardie is nou ñ heerlikheid. Ek dwaal ure rond op soek na interessante items wat klein lyfies sal kan geniet. Vandag se seuntjie-tafel het houtkarretjies, ketties, bote, panfluitjies, pinnochio potlode en skilpadjies op gehad.

Net so opgewonde soos hy, het ek met ñ tafel onder die arm om nege-uur by die skool ingeklok. Met verstomming het ek dié petalje gade geslaan. Wanneer het hy so slim geword!! Sowaar self al die somme gedoen, en self kleingeld uitgedeel. Ander ouma Kaap is ñ bankbestuurder, so dit maak sin.☺

wp-1493978545506.jpg

Met ouma wat agterlangs staan en pronk en haar verlustig in die gesels wat uit so ñ seuns-mond kom.  Defnitief die mooiste en liefdevolste en slimste en dierbaarste kleinseun in die hele wêreld!

My hart se punt.

(gelukkig het my hart ses punte)

 

 

Sal mamma my vriendin net bietjie gaan vashou, asb.

Sy het ñ mamma-lyf nodig.

Só ñ vroegoggend oproep voor werk het gewoonlik nie verdere vrae nodig nie. Jy as ma-mens weet en verstaan. Sonder woorde.

b1c43a146d313a207c31c6fbb1707c6e

Baie hartseer en verlate tref ek haar in haar winkeltjie om die draai van myne af, aan. Hierdie pragtige vriendin van ons jongste dogter. Die lyfie val sommer so in my arms in, en sy klou vas.

Tannie Una, ek verlang só na haar. Maar sy is weg. Ek het weer na die huis toe gery, om seker te maak. Dalk het sy terug gekom.

Ek kon haar ruik.

Maar tannie, sy is weg.

So het ons toe net bly sit. Sy wat haar siel teen my bors uitsnik; ek wat maar net geluidjies kan maak en oor haar hare vryf.

Want hoe troos jy ook nou die seer van gate in ons harte. Die leeg wat ñ pa en ñ ma in ons binnekante los. Ons was mos hulle kind.

En sal dit altyd bly.

all-elite-scanned-0031

(Paintings:Google Images)

Is dit werklik mý stryd.

(skilderye:Google Images)8d4991b3a9a75dd255195a44158f5f78

Hierdie prentjie het my lank laat dink.

ñ Baie nou spasie, nie eintlik die ideale plek om so ñ “pirate” skip in te wurm nie. Die mannetjie is hard aan die oefen; dalk om gereed te maak vir ñ aanval. Of dalk om net fiks te bly.

Dalk verwag hy iets onbekends uit die donker woude. Dalk ‘hoor’ hy goed, of verbeel hom hy hoor.

Soms raak ons as mens te vinnig betrokke in situasies wat nie werklik op ons eie roete lê nie. Neem ons ñ houding in van selfverdediging, of selfs een van aanval. Bevind ons ons in ñ sekere posisie, en dit is nie die regte plek nie. Nie vir my nie.

Dit is ñ ander een se ‘hawe’.

As ma sukkel ek regtig hiermee. Kry selfs nagmerries en word bekommerd wakker.

Ek ken so baie feite. Van ‘wag eers en hou jou daaruit.’ Van “hands off. Let go and let God”. Tog, ek maneuver my seerower skip totdat ek vasgekeer is en wapens moet uitruk. Al is dit ook net in my eie kop.

Daar kom tye dat ek behoorlik wil aanlê en skiet. Sommer so in die lug op, sodat kinders net kan hoor. Weer kan sien. Verdomp, moet skrik.

Maar dan weet ek, ek moet terug tree, en bly vertrou. Al raak dit lank.

Totdat God self Sy werk voltooi het.

l.GoldenMoment_LG

 

 

 

Wat?

(fotos:Google Images)22 Friends Pllaying Skipping Rope Street Art Ipoh-34

ñ Pedofiel. ñ Verkragter. ñ  “Abuser”. ñ Gewone persoon…maar met selfhaat.

ñ Potensiële gesinsmoordenaar.

ñ Seksueel gemolesteerde. ñ Molesteerder. Net-net ok. ñ Verslaafde. ñ Verkragter. En nog twee gemolesteerdes.

ñ Groepie van twaalf vriende.

In hierdie laaste paar dae lees ek briewe van twee bloggers wat as kinders gemolesteer en verkrag is. Ek kuier saam met twee manne vasgevang in hul bitter gekompliseerde verhouding.

Ek onthou weer my eie disfunksionele kindertyd.

Wat.

Wat de hel makeer ons. Wanneer het ons opgehou om mekaar te respekteer. Of was dit net nooit daar nie.

Lieg ons vir onsself.

Besef ons regtig hoe siek sommige van ons is. Wat ons aan ander doen.

Die verwoesting wat ons in lewens saai.

En dan. Dan stap ons eendag weg as vrygespreektes.

Ek weet. Ek weet ons God is genadig. Ek weet Hy het reeds vir ons sondes gesterf; dié wat Hom aanneem en hul sondes bely, hulle is gered.

Maar net soms, soos nou, na ek briewe van gebrokenheid moes lees, en iets positiefs probeer sê het.

Net.

Soms.
 

 

ñ Houer vol stories.

(skildery:Google Images)9ac735927b406a6be33f817a2b1aae84

So baie verhale, saamgepak in een houer. Geseël.

Vandag sit daar so ñ verlatenheid in my binnekant. Nie regtig woorde om dit met iemand te deel nie. Net die weet van die paadjies wat ek geloop het voor die deure vanoggend finaal verseël is, en ek my foto kry.

Elke enkele van die tweehonderd-plus items is iewers uitgesoek. By ñ huisie of ñ winkel opgelaai. Iemand het ure lank, dae lank aan dit gewerk. Dalk gewonder oor die mens wat dit gaan raaksien en koop.

En vreemd genoeg, daardie mens voel vanoggend redelik alleen. Duisende kilometers van die hawe af, en ek wil grens.

Tweehonderd-plus stukkies van myself is in daardie container gelaai. ñ Boek vol aantekeninge lê hier op my skoot. Die laaste paar maande van my lewe.

Eers die beplanning en besluite, gelde bymekaar kry en som op som maak. Kliënte se prentjies probeer verstaan. Dan die oorvlieg, die soek na ander se drome. Kophou oor hoeveel artikels om aan te koop sodat niks agter bly nie. Die terugkom en wag. Probleme van hier af oplos, planne maak as dinge daar verkeerd loop.

My kop en emosies heen en weer laat swerf. Tot vanoggend.

(skildery:Google Images)b0e745ced4d11c99dd6677d3758383e4

Die vlegsel se rekkie is aangesit. Vasgedraai. Klaar.

En ek. Ek wil net grens.

Ai.

As ek na jou kyk.

20170720_113819

Jy lyk anders.

Jy is steeds my man met die onblusbare energie. Die projekte ou wat lééf terwyl hy sy ‘moet doen’ lysies nakom.

Maar jy lyk anders. Ek kyk in jou oë en ek weet. Jy het ons God gesien.

Die lamp van die liggaam is die oog. Jy vertel my van die naweek. Tog, nie soos altyd nie. ñ Stilte het in jou binneste gaan sit. Al praat jy.

En ek weet. Jou sms aan my, ‘daai gebeds oomblik…ek het rerig my Here aan die kruis sien hang en na my kyk, met geen woorde nie, maar met ñ volle verhaal van omgee en liefde en onbaatsugtigheid…en vergifnis vir ALLES en ALMAL.’

God moes Sy Hand voor Moses se oë hou sodat hy kon bly leef. Maar hier, nou, kyk ek in jóú oë en sien ek die brandende bos. Die lig van die vuur wat ingebrand is.

Jy het ons God gesien.

(ñ naweek in Bloemies saam met oom Angus…)

Uiteindelik.

wp-1493021450543.jpg

My deure is klaar!

Sulis het die fotos net na drie vanoggend deurgestuur, reeds agt uur by hulle. So toe my oë oopgaan, is my bestelde deure daar. Kan ñ mens se tone omkrul van lekkerte? Oor deure?

Defnitief. As jy deel was van die ontwerp, die beplanning. As jy ure lank in die boendoes moes rondry op soek na die regte kerwer. Gesien het hoe hulle daaraan begin werk. En vol spanning was of jy dit reg doen; hoog genoeg, breed genoeg.

Houtkerfwerk is ñ integrale deel van Indonesië. Muur panele, dakke, alles land onder die messie. En die eindresultaat…Jy wat skaars asem haal soos jy inneem en waardeer.

(fotos:Google Images)villa-citakara-sari-4d92f26d

Badtyd raak ñ “event” op sy eie. Gelukkig het die eiland nie ñ tekort aan water nie, want die uwe spandeer ure in só ñ prentjie plek.

martyn-lawrence-bullard-malibu-home-global-decor-interior-design-wood-carved-bathroom-ideas-copper-tub-lots-of-traditional-balinese-style_bali-style-interior-design_interior-design_kitch

Selfs die mees ver’afgeleë plekke bederf jou met ñ anderste bad-ondervinding. Dit raak ñ lafenis vir die siel.

IMG_1122

Ja, my deure is gereed. Die “container” word Donderdag gepak, en ñ maand later is dit in ons winkel. Lang skeepsreis; van die hawe in Semerang, Java, na Singapore. ñ “Stop-over” in Mauritius en Madagaskar, en dan Durban.

Op Durban hawe word só ñ besending omtrent deursoek. Net vir ingeval daar iets in is wat onwettig is. Dan die tog met ñ trok tot in Harties. Oppad hierheen kan die verkeerspolisie ook besluit om hul nuuskierigheid te bevredig, en die trok ‘tronk’ toe stuur vir verdere ondersoeke.

My arme Bali eende gaan hoeka getraumatiseerd by my aankom, ‘Welkom bordjie’ of te nie. As iemand so aanmekaar agterdogtig jeens jou is, voel jy mos op die ou end totaal skuldig…

WB14095b

 

O nee. Nie vandag nie.

(foto:Google Images)finger-4

Ek glo ons het almal ñ eie taal, en ek praat nou nie van ñ geestelike een nie.

ñ Taal waarmee jy kan saamleef, en wees wie jy is.

Ek verdra baie. Regtig. Ek vergewe vinnig, vergeet dalk bietjie moeiliker. Maak my seer, en ek probeer jou kant insien. Meestal.

Maar moenie. Moenie my laat voel of ek misbruik word nie. Sekere woorde, saamgestel op ñ sekere manier, en “that’s it. No more.”

Vanoggend is ek daar. Op daardie punt waar my mercy-mens plek maak vir ñ bloedige verergdheid. MOENIE MY SAGTHEID MISBRUIK NIE.

ñ Oulike kliënt. Ons kom al ñ lang pad saam.

Ek lees jou sms oor jou bestelling, en ek bereik die punt. Ek weet ek het die hef in die hande. Ek is ook baie ouer as jy. En ñ besigheids-vrou, al lankal.

So jy dink jy gaan my afpers? Jy dink jou sarkasme gaan enige iets met my uitrig.

O nee.

Jou elke boodskap be-antwoord ek met ñ stil bedonnerde, maar flymskerp brein. Ek weet jou huislike omstandighede het van jou gemaak wie jy is. Ek het begrip as jy ordentlik met my praat.

Maar vandag, vanoggend op my nugter maag, “you overstepped that line”.

Ek gaan wel nou hier buite rondstap en ñ paar klippe skop. Ja, sommer so met my fyn skoentjies aan. Vêr en hard skop. Dan op die swaai ry, hoog. Tot ek oor die dak kan sien. Daarna gaan ek ñ pak slapchips koop, en ALLES  op-eet.

…ag tog, daar begin hulle weer met Grease liedjies… Sal miskien liewer net gaan luister, en van jou crap vergeet.

Dalk weer oor die swart katpak wonder. Sou ek ooit in een gepas het???☺☺☺

 

Hoef ek meer te sê?

IMG-20170429-WA0014

“Welcome to my World”. Hoef ek enigsins iets meer te sê? Ek sing op die oomblik saam, praat saam, lag saam en dans selfs saam. Nou wel hier eenkant waar hulle my nie raaksien nie, maar dis mý tyd se musiek hierdie. Ons woorde. Ons danspassies.

Oor twee naweke is dit die Grease opvoering. Hier. Op ons dorpie en in ons kompleksie. Die dekor is gedoen; die baie “snazzy” kar tot op die verhoog gery. ‘Grease’ musiek weergalm van alle kante af. Hare is gekleur en gesny. Die opwinding is voelbaar. Oral oor.

Bring so baie herinneringe terug. Van ons in matriek, 1978, toe die fliek in Suid-Afrika begin wys het. Ons prefek groep is spesiaal Johannesburg toe aangery om te gaan kyk. ñ Groot stap vir ons BAIE streng Meisiesskool. En na die tyd, die BAIE kwaai juffrouens wat saam met ons ons eie passies in Hilbrow se strate uithaal.

Die musiekgroepie oefen hard; heeldag, soms tot laat in die nagte. Kitskos word afgelaai. Soms sien ek, is daar glasies wyn ook betrokke. Groot pret.

Gisternag droom ek ek is Sandy, maar ek pas nie in haar leer ‘katpak’ in nie! Tot Bertus my verergd moet wakker stamp, want die gekreun en gewoel! Net te erg. Hoe moet ñ man nou geslaap kry.

Goeie ou tye. Heerlike onthoue.

Wonder net hoe gaan ek oor nege dae van nou af voel. Moeg ge-‘Grease?’

IMG-20170429-WA0021

 

 

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg