Eendag nog…

fixedw_large_4x

O, ek weet. Ek het gesê ek wil nie onder die water rondvoeter nie. Tog, daar lê ñ wonderwêreld net onder die oppervlak…

So begin ons jongste kind twee jaar terug by my in die Bali winkel uithelp. Kom ons noem dit as deel van sy ‘gap’ jaar. En elke keer as sy Majuts, dis nou my naampie, Bali toe vlieg, is hy alleen baas. En hier, tussen al die meubels en skatte, met elk hul eie storie, doen hy die ‘snorkel ding.’ Ontdek die onbekende.

My hoop boeke word daagliks verorber, prentjies geteken, nuwe meubel-ontwerpe aan sy pa voorgelê. Hy eet Bali, proe Bali, leef Bali. Sonder dat hy nog ooit daar was.

Wel daaroor gevlieg ja, saam met Pa Nieu-Zealand ‘worldcup’ toe.

Ons twee sit ure lank en gesels oor die lewe buite ons land, die anderste kulture, gelowe. Ons stry, beplan, droom.

En so, met die vat van die snorkel, en die eerste duik, gaan ñ ánderkant vir hom oop. Sien hy breër en wyer as net sy rugbywêreld en tjomme.

Om saam met jou kinders om die aardbol te ‘loop’, is so ñ waardevolle voorreg. Al sit julle in Harties op die uitskopstoele, kan julle deur ryslande stap, en vreemde tale uitlê. Nuwe kossoorte proe en op die internet “booking.com” bestudeer.

So, volgende jaar sal ek ook snorkel…dalk net met ñ ‘bal’ gedoente op my kop…maar ñ nuwe ontdekking is nou op die “bucket list”.

Bali-Marine-Walk-Tour-at-Nusa-Lembongan-Island-Bali-Seawalker-Tours-Packages-Bali-Snorkeling-Tour

 

 

 

 

 

Oppas Ma…

Om enige nuwe land in die wêreld saam met jou volwasse kinders te ontdek, is ñ lekkerste lekker. Die bordjies word so ietwat verhang, en húlle loop voor, jy drentel agterna.

Rigting hou waai by die agterdeur uit. Nee wat, sy is mos nou groot en slim en ñ juffrou, sy sal weet. Jy raak verdwaal tussen nuwe wonders, in ñ ouwêreldse land. Jy giggel verspot saam met haar oor die anderse aantrek van ñ antieke kultuur. Jy flirt so ewe óók met die bitterlik mooie Italiaanse kelners, al is jy heelwat oor vyftig. Net om te kyk of jy nog kan.

Saam glip julle by kerkies in en word dan streng uitgestuur omdat die bo-arms nie toegegooi is nie. Ure lank staan julle in toue om by die Basilica of St.Mark in Venesië in te kom, en nog ure lank sit julle en kuier met ñ glas sjampanje in die hand. Laasgenoemde doen julle kort-kort, want dis goedkoper as koffie!

In Rome stap sy kilometers saam met jou omdat jy begeer om by Villa Borghese se museum die Renaissance skilderye te bekyk. En hand aan hand hardloop julle vinnig weg vir die skreeuende geestesversteurde vrou in die uitgestrekte park. Loer dan grootoog agter ñ boom uit as sy inhegtenis geneem word. Gaan sit daarna in ñ piazza en eet nog ñ pizza. En gesels dik stukke oor die lewe en die liefde.

Julle drentel in Rome se middestad rond, verwonderd oor die mooie mense wat uit lang, slap karre klim en deur portiere die winkels in begelei word. En in die aande kuier julle by Piazza Navona en luister na die straatkunstenaars se musiek.

In die oggende kry jy weer kans om haar met koffie en beskuit wakker te soen, en saans spoel jy sommer haar klere saam met joune uit.

Jy word ook vreeslik bederf, en jy geniet dit. Want jy onthou al die tye wat ñ klein dogtertjie belowe het…’eendag gaan ek vir mamma ñ mooi rok koop. ñ Pienke met blomme en vlerkies’.

Jy bekyk die wêreld deur haar jongvrou oë, en jy loop hààr ritme met ñ huppel in jou stap.

Want hierdie pragtige mensie is jóú meisiekind, jou bloedkind. En as sy effens voor jou inbeweeg met ñ ‘oppas mamma’, en die leiding neem van oor ñ besige straat loop, dan wikkel ñ verdwaalde traan teen jou wang af.

En jou hart voel warm en vol.

(opgedra aan ons oudste dogter)

Om saam met engele te dans…

08252014_MetYourAngels_4-300x300

Sy was twaalf jaar oud, aan die begin van ñ redelike moeilike tydperk van haar lewetjie. Baie vrae wat nie altyd beantwoord kon word nie, en binne-gevoelens wat ma glo nie altyd kon verstaan nie.

Maar daardie oggend het so anders begin, vir ons altwee. ñ Baie harde ‘MA!!!’ het my na haar kamer laat hardloop.

Wat? Hoekom klink sy so anders?

Daar was sy, voor haar kamervenster, met groot oë en salige verwondering op die gesiggie. ‘Kyk…’

Ek hét gekyk, want sy was anders, so asof ñ lig op haar val en sy innerlik skyn.

Sy het na die oop grasperk voor haar venster gewys. ‘Kyk, hulle dans.’

En in daardie oomblikke het my mamma hart net geweet, my kind sien wat ek nie gaan sien nie, maar dit is wel daar…

‘Kyk hoe dans die engele, ma. Kyk.’

Sonder om asem te haal, het ek omgespring en oor my skouer geroep.

‘Ons moet gaan saamdans, sê as ek reg is.’ Ek het die buitedeur oopgeruk, en so vinnig as menslik moontlik tot op die gras beweeg.

‘Sê as ek tussen hulle is, dan kom jy!’

Laggend en borrelend het die twee van ons vroegoggend, op die dounat gras, met uitgestrekte arms saam met die engele gedans… getiekiedraai tot ons bene wou meegee. Ek, met oë op my kind gerig en elke beweging van haar indrink, want sy dans nie net nie.

Sy dans saam met engele.

Na daardie dag het daar ñ ekstra iets tussen ons kom lê. Tussen die opgroei en grootword deur, was daar soms ñ oomblik, en dan het ek geweet. Sy onthou toe ma haar geglo het, en sonder enige twyfel saam met haar tussen engele gaan baljaar het.

(opgedra aan ons jongste meisiekind)

kids-praising-god

 

 

Met liefde…van jou pa.

woodcarver_ubud_coco_tv

Daar is ñ ou gesegde: “Give a man a fish, and you feed him for a day. Teach a man to fish, and you feed him for a lifetime”.

In Bali word baie kinders van kleins af die houtsnee-kuns geleer. As die pa, oupa en oupagrootjie almal houtsneewerkers is, kan jy maar weet. Die seuntjies word met ñ hamer en beitel groot, die dogtertjies leer weer die afrondings-proses aan.

Kry jy die kans om agter die winkel in te loer, wag ñ redelike verrassing op jou. Die Balinese “house compound”, of saamgestelde woning, sluit meestal ook ñ werksarea in. En hier, die rustigheid vanself, sal die oueres sit, met kinders ooral oor, besig om speel- speel te leer.

Ek sien nie sommer bedelaars langs die strate nie, wel af en toe ñ ma wat haar kind vorentoe stoot om die een of ander artikel aan jou te probeer verkoop. Maar dit gebeur bitter min. Die hout-artikels wat te koop aangebied word, oral oor, is so fenominaal mooi, en so gewild wêreldwyd, dat as jy iets kan skep, het jy ñ inkomste.

Terug in Suid-Afrika, in my eie winkel- wêreld, kan ek jou gewoonlik ñ storie vertel oor elke artikel, klein en groot. Waar ek dit raakgeloop het, hoe die gesinnetjie lyk  by wie se plek dit was. In my geestesoog sien ek dan weer die prentjie voor my afspeel: die liefde en kuns wat in elke aksie ingaan, die moeite, maar ook die trots as mens bereid is om bietjie te gesels. Al is dit met gebaretaal en komiese liggaamsbewegings. Hulle voel jou woorde aan, en hul oë raak sag van dankbaarheid.

Ja-nee, hulle gee genoeg om om hul kinders die geskenk van kundigheid te gee, maar hul skep ook ñ kindervriendelike omgewing in die proses. So… nee, ek stem nie saam dat hierdie kinderarbeid is nie.

Wel hartsarbeid as ñ geskenk aan ñ kind.

 

 

 

 

Aan watter deur om te klop…

doorstep-from-wood-front-door-itself-build-doors-samples

So sit ek nou al lank na hierdie prentjie en staar. As ek voor die die keuse te staan kom, aan watter een gaan ek klop? Waarvan gaan dit vir mý afhang?

Sal ek die keuse met my gevoel maak? Soos: ek kies ry een nommer een, dit lyk die meeste soos n tronkdeur, en vandag voel ek so vasgevang in omstandighede, dat ek toegesluit WIL wees. Maar ek sal die sleutel in my sak hou, wil self kan uitstap.

Gaan my brein liewer besluit…ry vier, tweede van links. Agter hierdie deur is sukses en gehalte. Hier moet ek in.

Deur een ry drie trek weer my verbeelding aan. Hier is ñ ‘aardse’ lewe aan die anderkant. Houtdeur wat net gepolitoer is, niks hoef toegeverf te word nie.

En die pienk deur met die wit pilaartjies, gaan daar huislikheid en gemak uitpeul as ek oopstoot?

Of moet ek liewer net omdraai en wegstap. Hoekom vreemde deure oopdruk. Hoekom so antwoorde op als soek. Hoekom nie net op die bankie oorkant die staat gaan stilsit en wag dat dit skemer word nie.

En as die bus dan stilhou, saam wegry.

My ou moeks…

 

P1030166

Vandag sou mamma 82 jaar oud geword het, en sekerlik steeds saam met my Bali toe wou oorhop. Ons het sulke pret gehad, my ma. So oneindig lekker saam gelag, die eiland wêreld deurkruis en ‘geproe’, met volle oorgawe… My moekie wat gevul was met drome en stories, wat kon gedigte skryf vol hartsliefde. My mensemens mams.

Ons meisiekinders se oumie.

Ek sit mamma vandag daar uit in die kuberruim, want ñ hart van goud moet vir die nageslag bewaar word.

En hier in my hoekie brand ek vir my mans ñ kers.

Wie kom saam…

Bali-Bambu-Indah-Sunset-View-bambu-indah-indonesia

Vandag, nou, wil ek hier sit. Die sit van die sitter doen. Sommer ook heeldag. Dit moenie ñ ‘kom ons gaan drink gou iets by die…’ wees nie. Nee, vandag moet hierdie stoepie my kamer se stoepie wees. In Ubud. Op Bali. Ook nie die gesamentlike kuier opsie van ñ hotel nie. MYNE.

Manlief moet defnitief in die prentjie sy stoel kry, tien teen een die lê-stoel met stel opsies. Ja, ek sien hom daar.

Ek weer sit regop, met my voete op die ottoman wat regs agter staan, jy kan hom net nie raaksien nie. Maar hy is daar. So nou is daar plek vir twee sitters oor, en nie net enige sitters nie, hoor. Daar is voorwaardes…onthou, ek is die baas in hierdie storie.

Jou hart moet pyn as jy na die prentjie kyk. Fisies pyn van die behoefte. Jy moet effe keelvol wees vir jou omstandighede, want anders het jy niks om te deel nie. Maar onthou, nie te diep raak nie. Ek verwys terug na ñ vorige post.

Jou probleme moet kan reageer op glasies wyn.

Jy moenie opgestoorde energie wil inpak nie, niemand gaan in ryslande rondhang nie. Vandag is net vir sitters.

Jy moet defnitief ook die vermoë hê om met jou self te kan spot, want ons gaan wil lag. Almal. Vir mekaar, maar veral vir onsself.

As jy politiek moet praat, hou dit kort. En ook net oor Clinton en Trump. En daar moet ñ punchline wees.

Sorry, maar jy moet ook al kleinkinders hê, want laataand gaan ons dalk oor iets wil trane wegpik, nostalgies raak.

Jy hoef nie te kan of wil blog nie, maar die onderwerp gaan defnitief opkom…ek verwys weereens terug na die baas van hierdie storie. Jy moet voor die tyd besluit of my gebrabbel jou gaan verveel, en of jy gaan kans sien om liewer pitkos met ons te deel.

Ek dink dis al. Die probleem is net, flippen al my beste vriendinne voldoen absoluut aan hierdie kriteria.

So, dan gaan dit maar weer net oor geld.

Kan jy die kaartjie bekostig?

Luister, luister wie daar fluister…

mount Agung

Vir die Bali mense is Mount Agung hul heiligste berg, en die hoogste punt op die eiland. So slaap hulle ook met hul koppe in sy rigting. En soms, in die diep stilte van die nag, voel jy die trillings vanuit hierdie steeds aktiewe vulkaan tot reg in jou kooi. As jy vinnig genoeg spring, is dit net-net moontlik om die rook en as te sien wat uitgespoeg word.

Waar jy jouself ook al in Bali bevind, sien jy hierdie majestieuse berg raak, maar gewoonlik is hy toegevou in ñ wolkkombers, 3142 meter die lug in.

Jy weet hy is daar, jy sien al die tekens om jou en jy glo dit. Onvoorwaardelik.

So ook glo ons klein Gabriella dat sy God in die kerk gaan sien. Met die onskuld van ñ driejarige, aangetrek in haar spierwitste rokkie, roep sy noudie Sondag kliphard uit toe die besoekende dominee die verhoog bestyg: Mamma!!!!… is DIT nou GOD!!!!

Net soms wens ek dit is so maklik; begeer ek dat Hy op die passasiers sitplek kan sit, en hardop met my gesels. Maar dan is ek weer net so dankbaar dat ek my bed nie elke aand moet ronddraai sodat my kop in ñ sekere rigting rus nie.

Midde in die anderse Bali kultuur, voel ek partykeer nog nader aan ons Vader. Ervaar ek regtig hoe Heilige Gees in my, saam met my rondstap. Tussen duisende vreemde gode is my eie God tasbaar werklik, en kan ek met ñ breë glimlag verby die honderde tempels loop.

En al glo die Balinese mense dat hul Mount Agung ñ replika is van die as van ons heelal, dat dit die woonplek van hul gode is, en dat uitbarstings die woede van hierdie gode uitbeeld, kan ek op my Bali eiland rondleef en diep teue aandlug inasem, en in my God se alomteenwoordigheid net rustig “dwell”.

 

 

 

 

 

 

Ouma, ouma, oumie hoor hier…

c3b76bf4b3ce19d247ebc12fa69a6495--art-pictures-grandmothers

Ek wonder. Ons as oumas, reageer ons regoor die wêreld dieselfde? In Chinees, Balinees, Tonganees. Neem die hart instinktief oraloor die brein in “captivity” en begin die ouma-geen luister? Luister na die tussen-in woordjies wat eintlik net nog in die hartjie gefluister word?

Hoor ons almal hierdie ‘gedagtes sonder grense’?

Selfs die woordjies ‘kyk ouma’ word vertolk as: oumie, WAT is daai? Vertel my. Wys my waar dit in my wêredjie moet inpas. Verduidelik vir my op jou prentjies manier hoe om dit  te verstaan. Leer my op jou sagte manier of daar gevaar in is, en of ek kan vat. En voel. En proe. Oumie, kan ek vertrou wat ek sien?

En ons oumas, ons ‘sien al daai vragies’ in die twee woordjies raak. En ons antwoord gestroop van alle selfsug en besoedeling. Want daardie klein lyfies maak ons weer rein; gee ons die kans om onsself vlekkeloos aan te bied.

En soos wat ons eendag voor ons Vader gaan staan, gestroop van onsself, gee ons ons kleinkinders pêrels. Pêrels gevorm deur trane en  jare van skaaf en beitel.

Eg.

Opreg.

Eerbiedig.

En vou ons hulle toe in ñ liefde wat grensloos is.

 

opgedra aan ons 6 kleinstes: Nathan, Talisa, Meghan, Logan, Gabriëlla en Xander

Wat as…

Humanesque-Yoda-Sculpture-03-634x680

(Ek plaas hierdie skrywe van 2016 weer op my blog, want nadat ek by Hester ingeloer het, het ek hiervan onthou.)

Een maal elke drie jaar moet my ore oopgepuit word. Ja, werklik. Want ek het ñ totale ingewikkelde oordrom, nie soos normale wesens nie.

Hierdie jaar, ewe skielik, besluit dok ek moet vir drie dae voor die tyd goed in my ore gooi. Gaan glo help met die proses wat hom môre moet afspeel.

En teen vanoggend is ek STIKDOOF!!!

Ek ry van Harties af Rustenburg toe in ñ bubble van nikshorendheid. My daaglikse gospel musiek is weg; nada. Met ander woorde, my diep tyd saam met die Here is “gone”, vasgevang in ñ gehoorleemte. Ek kry dit glad nie reg om binne die spoedgrens te bly nie, want ek kry nie my flippen spoed ‘gehoor’ nie. Wonder of die verkeerspolisie so ñ verklaring sal aanvaar.

Nietemin. Die dag in my winkel verloop…geluidloos. Ek hoor glad nie die deurklokkie nie, so heeldag word ek met my broek op my knieë betrap! Ek fokus op liplees soos ñ mal mens, maar dit werk nie.

So is daar ook geen verkope nie.

Terug by die huis wag ñ ander senario my in.

Staan en kosmaak, die tv glo so hard dat manlief dit alreeds by Kosmos se hek hoor… sit dalk bietjie aan? Hoogs geïrriteerd stap anderhelfde in, uiter woorde sonder klankgolwe, gee my dan daai soort kyk, en bly my die kyke gee.

En ek??? Vind dit skreeusnaaks. Na menigte jare van getroude lewe skrik ek vir niks. Sien ek die komiese in ELKE situasie raak. En is ek defnitief nie bang om uit te bars van die lag in ñ eggenoot se volle aangesig nie.

Ons roetine is as volg: ek stap by huis in, reguit yskas toe. Maak glas vol, kry ys. Besluit: op die stoep sit en oor die dam uitkyk, of Househunters International? Die swart “his & hers” uitskopstoel wen. Ja, ek kies tv bo die natuur. Af en toe.

Kos is aan die gang, manlief stap in. Gewoonlik kyk ons na ete saam na een van ons catch up stories, vanaand die nuwe reeks “Madame Secretary”. Maar met ñ verskil. Ek hoor f…. niks. En die kyke wat ek kry as ek dit op ñ fluistervolume, vir my, sit, is legio!

So daarom dat ek half- agt in die bed lê en blog. Verergd, want wat as ek oornag regtig doof raak! Wat dan! Ek weet die luidspreker het vanaand amper geblaas…ek weet jy kon die klank nie uithou nie…ek weet my skete raak nou bietjie te veel…

En dan wonder ek. As dit jy was wat toe-ore ontwikkel het, sou ek dit kon weglag en aanbeweeg? Of is ek ook nog nie reg vir permanente beproewings nie.

“Through sickness and in health???”

Môreaand is ek uitgesorteer, hoor ek weer ‘te goed’.

Maar ‘wat as…’

 

Die anderkant van die wêreld…

bali030-catchingfishjimbaran

ñ Vroegoggend wandeling langs Jimbaran se strand, is die toegang tot ñ ander wêreld. Jy dink nog jy gaan ñ alleen stiltetyd sessie inpas, maar o weë…kyk wat vind jy!

Tipiese hout vissersbote verwelkom jou in hul midde. Jy word voor gewaai, en vriendelik beplooide gesigte wink jou nader. Jong seuns duik in die nat sand rond om visse wat tydens die uitlaai proses op die grond val, op te tel. Die Bali mense noem hierdie ritueel ‘ngujur’; ‘the gathering of fish”. Die vissermanne glo dat die weggee van vis hulle sal beskerm teen gevaar.

Hier werk almal ook saam, sy teen sy. Altyd reg om ñ mede visserman hulp te bied. Op sommige bote sit groepies toeriste wat die “day in the life of a Balinese fisherman”ding doen. Ander bote is weer vol items wat na kleiner eilandjies toe vervoer word. Maar die meeste is vissersbote. En vir my wat nog nooit ñ vis uit water getrek het nie, is hierdie groot oomblikke.

My vrae steek in my keel vas, want in die deurmekaar gebrabbel om my, spreek niemand ñ woord Engels nie. My ‘sien’ vorm sy eie storie; my ‘hoor’ sy eie vertaling. Die uitgelatenheid van kleuters in die vlak water kielie my eie kinder- onthoue. Bring die sorgeloosheid  van kleintyd tot voor my voete.

En ja, sonder om verder te dink, probeer ek ook ñ gladde, nat, grillerige vis optel. Val ek plat op my sitvlak in die golfies en gooi ek nat sand in die lug op.

Sommer net, omdat ek kan.

En ook om myself te laat onthou dat daar wel ñ mate van net gewoon kind wees, iewers in my verre verlede gebeur het.

Maar dit was baie lank terug.

En vir ñ baie kort tydjie.

 

Kry my asseblief langs die pad…

Bali-Shopping-Guide

En ja, ek WIL opgedress voel. Met hakke wat ñ defnitiewe  volgende knie- besering gaan teweegbring. Met ñ haarstyl wat ander laat struikel en ñ donkerbril wat geld kos.

Ek WIL gekyk word en oor gefluister word. Bewonder my handsak en maak ñ opmerking oor my houding. Kry vir jou.

Want vandag is ek keelvol vir die werklikheid. So laat jou tong ñ ander wêreld optower, plaas my in die middel van jou agterdog en heiligheid.

Trek net my aandag af

want

die waarheid is vandag vir my net te eentonig. Die opgehoopte “invoices” net te eerlik.Die magteloosheid net te eg.

Kom laai my op en voer my weg na ñ ander eindbestemming. Net vir ñ rukkie.

Ek wil wel weer terugkom, hoor. Na my plat hakke, en 38 rok. Na my Dischem bril en vasgesteekte haardos. En die verd.mde rekenings.

Maar vir ñ rukkie, kan ek net iemand anders wees…

(opgedra aan niemand )

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg