
Ek begin die ure nou aftel. Maandag of Dinsdagoggend, en die langverwagte voorraad word afgelaai.
My lysie is reg, die pryse uitgewerk. Knyp ek oë toe, dan tuimel die een na die ander meubelstuk tot voor my voete.

Elke item het ñ effense storie. Soos presies in watter straat, in watter dorp, en by watter familie dit opgespoor is. Hoe is ons ontvang, watse verversings is aangebied. ñ Hele ritueel.
Die oomblik wat ons die seël breek, en die twee groot deure oopstoot, begin ñ holderstebolder tyd. Die stukke is meestal groot en swaar. Alles word so vinnig as moontlik afgepak, sodat die trok kan wegkom. Tyd is geld.
Dit neem so drie ure voor alles tot binne die winkel gedra is. Nou is dit oopmaak, papiere afsny, olie gee. Vyf weke op ñ skip is ñ lang tyd, en die olie is broodnodig.
Daarna is dit regskuif, ronddra. Kort-kort klink daar ñ gilletjie op as ñ klient iets gewaar wat spesiaal is. Of as die uwe op haar persoonlike gunstelinge afkom.
Ja, die lang wag is verby. Vir die volgende paar weke vat ek nie grond nie, en val saans uitgeput, maar baie in my noppies, in die bed.
Ek ruik tot na hout en meubelolie. Heerlik!
Dan, stadigaan begin die voorbereidings vir ñ volgende aankope van voor af. Dit behoort so in Augustus te gebeur.
Bali. My ander huis.





























Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.